Tuesday, March 16, 2004

Nooit hoef jou kinders

Brittanje se eerste burgerskap seremonie is vroeër vandeesmaand in Brent se stadsaal gehou. Die geskiedkundige oomblik is (oudergewoonte) gevier deur ‘n onnodige fuss van Haar Hoogheid te maak. Met ‘n groot portret van haar voor hulle, moes 16 volwassenes (waaronder vier Suid-Afrikaners) en drie kinders trou aan Elizabeth II sweer. Dit was ‘n heuglike dag, met ‘n uitgelese gehoor. En Prins Charles. Na die tyd het almal lekker saam God Save the Queen gesing. Gedurende die seremonie is daar glo positiewe tonele van Brent teen die muur vertoon en lekkerluisterliedjies in die agtergrond gespeel.
In die toekoms sal hierdie seremonie die laaste tree vir immigrante na die Boesem van Brittanje wees. Voor dit sal daar taallesse en ‘n Britsheid-toets wees.
Van die vrae in hierdie toets kan glo (regtig) wees:
1. Hoe betaal jy ‘n telefoonrekening?
2. Wat beteken dit om ‘n goeie buurman te wees?
3. Wanneer is Brittanje laas ingeval?
En ‘n tipiese Suid-Afrikaner sou as volg antwoord:
1. ‘n Selfoon s’n? Jy doen nie! Wel, nie as jy die rekening kry kort voor jy moet huistoe gaan nie.
2. Dit beteken as jy sy heining gebruik om vuur te maak, moet jy hom nooi vir die braai.
3. SAA220, 06h45, Heathrow.

Asda ‘n wil is

Brittanje het aan die einde van Februarie sy eerste supermark-troue gesien. Die bruid slaan till by Asda se York-tak, en haar man het haar glo vir maande lank daar uitgecheck(!)
Dis 'n mooi storie, want dit bewys dat sommige mense in die VK wel oogkontak maak. Of, soos mister Freeman dit stel, "Our eyes just sort of met at the checkout." Dis raar in dié land. Gewoonlik gebeur dit net as een van die twee oogkontakmakers ‘n uitlander is. Of as een van hulle dink die ander een kyk vir ‘n sekonde te lank na sy ‘woelige’, ‘effens oorgewig’ ‘kind’.
Die paartjie het nie juis beheer gehad oor waar hul ontmoeting sou plaasvind nie. Wie weet vir hoeveel uur op ‘n dag moet sy till slaan, en dan’t sy sekerlik nie tyd om aanmekaar braais te reël en vir al haar makkers te sê om los (en lus) mans saam te nooi nie.
Maar hulle het wel ‘n keuse gehad oor waar hulle gaan trou. So hoekom sou hulle Asda kies? As sy in Harrods gewerk het, dan was dit anders. Maar ASDA? Of is dit net ek wat nie lekker “die gelukkigste dag van jou lewe” en “Aisle 7, Coffee/Tea/Cereal” by mekaar kan uitbring nie? Dalk het hulle gratis drankies gekry. Of dalk het missus Piggott nie meer verlof gehad nie en moes sy tot ten minste 11-uur ingaan, en toe, om weg te kom, sê sy voel nie lekker nie. Almal sou haar glo!
Wie weet. Uit ‘n finansiële oogpunt is dit dalk ‘n goeie idee. As hulle vir al die gaste een of twee taamlik vullende 18p hoender-sosaties sou gee, kon hulle ongeveer 100 mense nooi, want hulle sou nie 34p se mixed cutlery hoef te gekoop het nie. As hulle ‘n bietjie meer wou uithang, kon hulle klein 84p bakkies pasta op die 68p-vir-20 papierborde voorsit. (As jy ooit voor so ‘n keuse staan, vat die prawn cocktail.) Asda het fênsie goed ook, soos olywe en chorizo, maar dan sou 100 mense regtig te veel wees.

Hallo?

London Underground is in onderhandeling met die vier grootste selfoon-maatskappye om ‘n klomp transmitters in stasies, en dalk tonnels, te installeer. ‘n Studie het glo getoon kliënte "welcomed the system as long as people were sensible and respected the space and privacy of other travellers”.
Die probleem is net dat niemand in hierdie stad (behalwe ek, soms) “sensible” is nie. Baie min respekteer ander se spasie. En privaatheid? Nie eens in die toilet van jou eie eenslaapkamerwoonstel, in ‘n verafgeleë dorpie lanks die weskus waarvan niemand nog ooit gehoor het nie. Behalwe dat jy hoor hoe almal met hulle imaginery friends gesels, sal jy nou ook moet luister na ammal wat “Ohmygawdyeah…” gisteraand na daai “’e’s a f***in’ w***er, innit?” op I’m a Celebrity moes kyk.
Know wha’ I mean?

Heaven knows I’m miserable now

Morrisey gaan vanjaar se Meltdown-fees by die South Bank organiseer. Die South Bank (dis basies die Royal Festival Hall kompleks) kies elke jaar ‘n kunstenaar wat vir twee weke ‘n paartie kan gooi met almal waarvan hy hou. Voorverlede jaar het David Bowie dit organiseer. Hy het Coldplay en Suede daar gehad. Maar wat op aarde sou Morrisey daar aanbring? Glo my, ek sien baie uit. As tiener was ek ‘n groot Morrisey fan. My broer het die plate en kasette gekoop, en ek het dit by hom afgetape. (Ek was, en is steeds, te suinig om my eie te koop.) In elk geval, om deur puberteit te gaan as ‘n Morrisey fan en ongeskonde anderkant uit te kom... dit wil ek nog sien. Nie dat depressiewe lirieke soos “see, the luck I've had can make a good man turn bad” hoegenaamd óóit meer skade kan aanrig as O, ek wil huistoe gaan, na mamma toe, en dit op ‘n techno-beat, nie!
(As ek reg gehoor het.)

Hy wou nog sit

Die World Cancer Research Fund het ‘n nuwe veldtog geloods om die verband tussen kanker en vetsug te toon. Die advertensies verskyn agterop busse, en wys ‘n man se XXXXXL-agterkant met die leuse Don't Look Like The Back End of a Bus.
Die skoktegniek moet mense glo oor hul eet- en oefengewoontes laat dink. “Dis vir ammal,” sê Prof Martin Wiseman, wat ‘n raadgewer vir die WCRF is. “Ook vir maer mense sodat hulle nie vet word nie.” Voorkoming is die sleutel, meen hy. Want, soos ons almal weet, dis hopeloos te moeilik om na die tyd die vetrolle af te skud. Daar’s toenemende kommer oor die onrusbarende vlakke van vetsug in die land. Onlangse syfers toon dat ag miljoen mense (dis een uit elke vyf Britte) oorgewig is of agterente soos busse het.
Dit voel net hoe meer hulle praat van kos, hoe hongerder word die mense. Chips, anybody?