Thursday, April 16, 2009

Zuma en die heuningkwas

Jacob Zuma het glo nou die dag gesê dat, van alle wit groepe in Suid-Afrika, Afrikaners die enigste "ware Suid-Afrikaners" is, omdat hulle nie twee paspoorte het nie en gevolglik nie sal (of kan!) weghol as daar probleme is nie.

Wie kan hoegenaamd teen sulke vleitaal immuun wees? Die ganse Afrikanerdom het sommer 'n nuwe blos op die wange. Ons koppe draai behoorlik van die manjifieke moontlikhede wat so 'n vlerkslepery inhou. Ek wil nie dinge vooruithardloop nie, maar verbeel jou net... Koebaai Mhlambanyatsi en Marapyane! Welkom terug Buffelspruit en Skilpadfontein!

Jy kan maar sê Afrikaners was die slagoffer van 'n politieke one night stand. En nou sit die volk by die foon en wag vir ons sjarmante held se volgende oproep. Die Souties (oftewel "twee-paspoort landsverraaiers!") sal sê ons is desperaat. Maar ons was net vir té lank afgeskeep. Ja, ons weet hy's 'n skollie, maar ons vergewe hom. Ons is immers mál oor mense wat van ons hou.

Ek sal maar nie vir Zuma die medalje wys wat ek onlangs tydens my Britse burgerskapseremonie gekry het nie. Wie weet hoe hy dan oor my ('n Vannermerwe - wat welliswaar nie meer Afrikaans kon wees al sou ek permanent 'n "100% Boer" T-hemp dra nie) sal voel! Ek sal ook verswyg dat al die witmense wat daardie dag saam met my in die "Britse familie" verwelkom is toevallig ook Afrikaners was.

Sommige van julle is natuurlik meer sinies en dink Zuma smeer ons so heuning om die mond, net om later 'n Dingaan op ons te trek. Hoogs onwaarskynlik, reken ek. Iemand wat so geneë is om almal tevrede te hou, sal mos álles in sy vermoë doen om nie die groot kanonne in wêreldpolitiek te ontstel nie. Dit sou waansinnig wees.

(SA Promo, Mei)

Saturday, April 11, 2009

Dag 87 - Put People First, G20 Rally

87/365 - Put People First, G20 Rally
Hierdie foto is by 'n G20 rally geneem - 'n paar dae voor 1 April se moles. Volgens wat ek kon sien, het die oorgrote meerderheid van die betogers SO gelyk: onskadelik. Daar was enkele aggressiewe opinies, maar ek twyfel of enigiemand wat daar was op enige stadium bedreig gevoel het.
Ek het talle verveelde polisiemanne sien rondsit - gereed vir 'n konfrontasie wat nooit plaasgevind het nie. Dis natuurlik beter om voorbereid te wees, so dis als goed en wel. Dit was net vir almal 'n bietjie van 'n anti-klimaks. Vir die polisie ook.

Die 1e April se betogings sou nie so rustig wees nie, daarvoor het 'n grootskaalse opswepery en bangpratery voor die tyd goed gesorg. Mense wat in die Stad werk is aangese om informeel aan te trek om te voorkom dat hulle teikens word. (Maar dit was net pienk hemde en ontwerpershandsakke oral waar jy kyk. Vir wie moes dit flous?)
Die polisie wou skade beperk en het 'n kordon rondom die betogers gevorm ('n 'kettle') en vir die volgende vyf ure niemand in of uit gelaat nie. Dit is iets wat die meeste mense aggressief en paniekerig sal maak. Baie mense is rondgestamp en onnodig hardhandig hanteer, maar die polisie het (en kon) nie onderskei tussen vredeliewende betogers, iemand wat oppad was na 'n vergadering, en 'n skollie wat spesiaal van Duitsland af gekom het om 'n paar bakstene te gooi nie. Tog - as Ian Tomlinson nie na so 'n onderonsie met die polisie aan 'n hartaanval dood is nie, sou niemand waarskynlik die polisie se metodes bevraagteken het nie.

Sunday, April 05, 2009

Dag 83 - Brits!

... maar nie sonder voorbehoud.



Dis 'n groot oomblik wat 'n behoorlike blog regverdig, maar vir nou sal ek eers volstaan met hierdie Steers-advertensie, wat 'n goeie opsomming is van hoe die meeste Suid-Afrikaners in Londen voel.