Friday, February 21, 2003

Waar is al die Engelse rose heen?

Ek wil nou nie snaaks of oneerbiedig wees nie, soos my vriendin Jomarié sou sê, maar as Koos Kombuis so baie hou van vroue wat na knoffel en Tabasco ruik, sou ek die egpaar Kombuis aanraai om met ompaaie verby Londen te hou. Dis jammer, want dit sou ’n groot okkasie wees as Koos weer ’n slag hierlangs kon kom. Maar, helaas, ’n besoek aan dié stad, waar mense knoffel soos peanuts eet, sou ’n té geweldige beproewing vir sy huwelik wees. Veral, seg maar, in die moeilike silwerbruilofjare as jong Simon en Mia hul ouers nooi om ’n week of wat in ’n deelhuis te kom bly (’n verhoudingstoets op sigself).

In Londen kry jy geen subtiele gisteraand-se-pizza-knoffelwalmpies nie. O, nee. Hier kan dit ’n paniekaanval van die reuksintuie aanbring. Al protesteer mond hoe, hy moet maar oop om ekstra lug te skep, want neus — met 30 000 sweetdruppels op — kry baie swaar. Op ’n stampvol trein, diep onder die grond, kan jy nie wegkom nie. Hierdie tube-terroriste plant hulleself soos die bomme in Minesweeper. Op ’n afstand sou jy nooit kon raai waar die gevaar skuil nie, maar sodra jy jou staan of sit kry, besef jy jy is omsingel. Hou maar ’n roombotteltjie voor jou neus en druk so nou en dan sy asem uit. Jy sal dit maak. Maar wat van iemand soos Koos wat van dié tipe van ding hou? Wee miskien diegene deur wie die struikelblokke kom, maar beskou hierdie as ’n waarskuwing, en hou Koos weg uit Londen.

Wel, ten minste uit die East End. Want dis hier waar jy laat op ’n Saterdagoggend wakkerskrik met ’n soet irritasie in die neus. As jy duik om jou venster toe te maak, is dit klaar te laat. Die reuk het ingetrek en sy lê gekry. Dis presies soos bobotie, daardie gewilde spyskaartkeuse, wat teen die mure en aan die dekens en tussen die vloerplanke van elke skoolkoshuis lê. Dit wag op die trappe na skool soos ’n bedreiging van ’n goeie dag wat nog baie tyd het om sleg te raak. Skemertyd trek dit by die vensters uit en steur jou soos ’n slegte asem voor dit op die gruis gaan lê en jy jou bord daarmee moet inkleur en maak of jy dit geëet het. Só ruik die kerries van Oos-Londen. Maar dit smaak baie beter. Om die waarheid te sê, die Engelse was so jaloers omdat Yorkshire pudding en Spotted Dick die mees eksotiese geregte op hul spyskaarte was, dat hulle — sedert die eerste pondteken op ’n Indiese spyskaart verskyn het — maak of hulle kerrie uitgedink het. Die pienk knieë kan miskien nie ’n vuur pak of ’n band omruil nie, maar hulle skrik nie sommer vir ’n warm vindaloo nie. Kruie en speserye word hier lankal nie meer in “huisies” en “knypies” gemeet nie.

Maar om terug te kom by Koos. Hy hou ook nie van vroue wat ure in badkamers spandeer nie. In Londen is daar vrouens wat vermoedelik nog nooit die binnekant van een gesien het nie. En dan is daar die wat dalk voorheen ure in badkamers spandeer het, maar nie meer sedert daar ’n nuwe sosiale gedrag geduld word nie. Almal frons daaroor, maar dis soos om vir iemand te sê hou op om jou rowe af te trek — jy hoop maar dis iets wat mense weet of behoort te weet. Oor ’n paar maande krap ’n klomp mense aan hulle rowe en dan’s dit te laat. Dan is dit aanvaarbaar. So is dit nou met vrouens wat hul grimering op die tube aansit. Ek het in Suid-Afrika ook gesien hoe mense oogpotlode in die vinnige baan gebruik, maar dít is ’n kuns. Om reg oorkant iemand te sit wat vir 15 minute gesig-gimnastiek doen, is bloot irriterend, veral as hulle niks beter lyk daarna nie. En dis nie net ’n vinnige lipstick voor iemand kyk nie. Dis potlode en borseltjies en buisies en salfies en tweezers en wax strips (regtig!) — en hulle bêre als in iets wat soos ’n Swiss Army knife vir grimering lyk.

Vrouens hier dra ook nie noodwendig groot handsakke om alles in te pas nie. As Posh Spice ’n koevertgrootte-handsak dra, sal hulle ook. (Maar sy’t lyfwagte met baie baadjiesakke.) Die res sleep plastieksakke van hul gunsteling ontwerperswinkels saam. (Baie ou tannies loop byvoorbeeld met uitgebleikte Harrods-sakke rond.) Die sakke is vir hulle kantoorskoene, sien, want almal dra wit tekkies by hul pakkies sodat hulle spitstye aan die resies vir Die Enigste Oop Sitplek kan deelneem.

Ek oordryf eintlik. Engelse meisies is nie regtig so onweerstaanbaar nie. Ten spyte van hul knoffelvoordeel, en die feit dat hulle minder ure as ons in ’n badkamer spandeer, en dat hulle handsakke nog kleiner is, kan meisies in Londen immers in slegs twee groepe verdeel word: die posh ingeteeldes (ook bekend as die “chinless wonders”) wat na hulself as “one” verwys (soos die Koningin); en meisies met oorbelle waardeur opgeskote Maltesers kan spring en platgelekte kuiwe, wat na elke sin “innit” en “know wo’ I mean?” sê (soos David Beckham).

Kannetjie kan maar ontspan.

(Litnet 2003)