Tuesday, June 17, 2008

Die spreekwoordelike druppende kraan is fris en gesond (en werk vir Transport for London)

Ek voel toenemend geïrriteerd met die magdom onnodige inligting waarmee ons daagliks op die openbare vervoerstelsel bombardeer word.

Dis nie dat ek 'n probleem daarmee het om al wat 'n gap is te mind nie, maar ek wil nie 120 keer daaraan herinner word voordat ek my bestemming bereik nie. Dalk is die waarskuwings vir blinde mense bedoel, maar is dit nie soos om elke paar minute Wolf! te skree nie? Die meeste blinde reisigers weet seker ook by die tyd dat weinig van die gaps enigsins noemenswaardig is, so dit kan 'n probleem afgee as hulle byvoorbeeld op 'n dag op 'n Central lyn trein sit, wat ooswaarts ry, en besluit om by Bank af te klim - onwetend dat daar 'n gapende afgrond tussen die trein en die platform is.

Staan links, moenie rook nie, hou jou kaartjie gereed… Dit hou nooit op nie. As die trein vir 'n paar minute tussen stasies staan, hoor ons elke 45 sekondes by Die Hulpvaardige Treindrywer hoe jammer hy vir ons ongerief is. Sy kamptig simpatieke rympie klink later asof hy dit aframmel terwyl hy tergelykertyd ook die oggend se blokkiesraaisel invul én in sy neus krap.

Sedert die begin van die maand word dit ook orals verkondig dat ons nie meer op openbare vervoer mag drink nie. Die doel van die nuwe beleid is waarskynlik om anti-sosiale gedrag te bekamp. Maar as Boris en sy trawante meer tyd ondergronds spandeer het, sou hulle besef die meeste mense met anti-sosiale gedrag kan inderdaad by 'n drankie of twee op die trein baat. Die nuwe reël mag dalk wel die teenoorgestelde uitwerking hê, en mense forseer om onderduims op te tree. Nou die dag op die trein sit ek oorkant 'n sakeman wat sy bier skelm uit 'n Threshers-sakkie drink, en dit dan onder sy stoel wegsteek. Toe hy my oog vang was dit asof hy effens uitdagend wou wees. "Ek's nie een van die kudde nie!" - dís wat hy sou sê as hy (Afrikaans) kon praat. Maar 'n mens mag mos net na 10nm op die trein praat – as jy eers 'n paar drankies in het.

Wat my die meeste grief is die eentonige afkondigings op die bogrondse treine. Elke minuut rammel Die Stem al die stasies op jou roete af. Whatever!, wil ek skree. Ek is siek en sat vir die gekerm. Hulle kan mos die bestemming aankondig sodra die trein begin briek?

Vermoedelik wil hulle mense genoeg tyd gee om seker te maak hulle vergeet niks op die trein nie, want daaraan word ons óók tot vervelens toe herinner. Maar het enigiemand al ooit iets onthou as hulle daardie boodskap hoor? Nee! Anders sou daar nie jaarliks 170,000 items by die kantoor vir verlore eiendom in Baker Street ingehandig word nie – insluitend: grassnyers, vals ledemate, 'n sak vol mens-skedels, £10,000 kontant, 'n boot, bors-implantings, dooie vlermuise, 'n doodskis en my Crunchy Nut Cornflakes.

Hoekom vergeet mense al hierdie goed? Want niemand luister na 'n nimmereindige geteem nie, dís hoekom!

Dit verklaar tog waarom regerings-amptenaar twee keer in een week konfidensiële dokumente op treine gelos het. Een was bestempel as "UK top secret" en elke bladsy was gemerk "For UK, US, Canadian and Australian eyes only".

Ek verstaan nie hoe iemand soiets op die trein kon uithaal nie. Ek's sekerlik nie die enigste mens wat oor ander mense se skouers lees nie? En omdat dit nie vir mý Suid-Afrikaanse oë bedoel was nie, sou ek dit juis lees. Die man het dalk probeer om huiswerk op die trein te doen, maar toe kan hy nie een van die gratis koerante weerstaan nie. (Wie kan!) Intussen het hy seker ook gesukkel om sy bier in 'n Threshers-sakkie onder sy stoel weg te steek. Gevolglik was hy nie by sy volle positiewe nie en vergeet toe sy werk op die trein.

Of dalk het hy na sy iPod geluister en nie die afkondiging gehoor nie. Want, sien, die alewige gekerm is direk vir iPods se gewildheid verantwoordelik. Dis die volwasse weergawe van dwarstrekkerige kinders wat hulle vingers in hulle ore druk en hulle koppe swaai en skree Na na na na naaaa, kan jou tog nie hoor nie...
(SA Times - Junie 2008)