Wednesday, June 13, 2007

Britain's Got Talent

... is 'n nuwe Simon Cowell/Pop Idol-rige produksie waarin mense (en 'n hele paar freaks) hulle toertjies voor die volk en drie beoordelaars doen. Die wenner kry £100,000, en die geleentheid om op die Royal Variety Performance (voor Her Maj) op te tree.

Hier's van die bestes sover:

  • 6-jarige Connie
  • Paul, wat by Carphone Warehouse werk
  • Damon en Michael Jackson se duet
  • Sunday, June 10, 2007

    London Naked Bike Ride 2007

    Ongeveer 700 mense het Saterdag aan Londen se vierde World Naked Bike Ride deelgeneem. Dis 'n jaarlikse protes teen olie-afhanklikheid, waartydens (oorwegend naak) fietsryers 'n roete van ongeveer 6km deur die stad volg, en in die proses 'n hele paar verboureerde toeskouers agterlaat.





    Die res van my foto's is hier...

    Wednesday, June 06, 2007

    2012

    Maandag is die nuwe logo van die Londen 2012 Olimpiese Spele bekendgestel:



    Natuurlik haat almal dit. Daar's reeds iewers 'n petisie met ongeveer 50,000 name op wat versoek dat 'n nuwe logo geskep word.

    Die volgende twee opmerkings (albei was in die Metro, dink ek) som basies op wat die meeste mense dink:

  • You can't polish a turd, but why not spend £400,000 trying

  • What's Lisa Simpson doing to that poor man?

    Die Londen 2012 organiseerders moes ook 'n video clip van hulle website verwyder, nadat 17 mense epileptiese aanvalle gekry het terwyl hulle daarna gekyk het.
  • The Zimmers



    The Zimmers was Maandag nr 26 in die UK Charts met hierdie song van The Who.

    Lees hier meer oor hulle.

    Tuesday, May 01, 2007

    Party Frouens het meer Issues as Ander

    Dis nie algemene kennis nie, maar ek het (lank gelede) een Saterdagmiddag hier in Engeland vir Dozi ge-stalk. Dit was nadat ek hom die eerste keer hoor sing het - spesifiek die Zoeloe-weergawe van Jantjie kom huis toe.
    Ek was geweldig homesick daai tyd, en ek dink hy het eenvoudig op daardie oomblik alles voorgestel wat ek van Suid-Afrika gemis het.
    Sedertdien dink ek nog altyd hy's cool. En niemand kon my anders oortuig nie.

    Dis nou tot ek hierdie berig gelees het. Ek weet nie hoe waar dit is nie, maar Dozi het glo die volgende vir een of ander flerrie op 'n plakaat geskryf: "Liewe, liewe, liewe Zonique. Jy mag maar my meisie wees, en dan later my Frou (sic)."

    En nét daar verander my opinie oor hom. Hoe absoluut ongelooflik teleurstellend. In hierdie twee sinne, doen hy net mooi NIKS reg nie.
    Dit het my laat dink aan my eerste verhouding wat gesneuwel het nog voor dit begin het.
    Een Dinsdag by Kinderkrans het 'n seuntjie 'n brief in my hand gestop en gesê dis van 'n ander seuntjie, wat toevallig al die vorige naweek by kleureatletiek laat weet het wat sy intensies is. So ek het geweet wat daarin staan, maar het gewag tot ons terug was by die koshuis voor ek die brief eenkant gaan lees het. Dit was baie opwindend, natuurlik. Alles was perfek. Die papier het hy vermoedelik uit 'n skryfblok van sy suster gesteel, en die spray by sy pa.
    Maar, ai. Die eerste sin. Waarin hy my vra om te 'case'.
    'Case'?!
    Hoekom ek? dag ek. Ek meen, hoekom moes dit SO met my gebeur? Hoe moeilik is dit om kys te spel? Of hoekom kon ek die relatief klein oortreding nie oorsien nie?
    Ag, dis beter so. As dit uitgewerk het, was ek dalk nou 'n enkelmoeder iewers op die platteland, wat moes spaar vir my eersteling se Matriekafskeidsrok.

    Maar, om terug te kom by Dozi. Ek (en die liewe, liewe, liewe Zonique) is nie die enigstes wat al agter hom aangeloop het nie.
    Ons vriend Kobus het ook een aand na 'n konsert in Bloemfontein vir Dozi by die bar opgesoek.
    Dozi, seg hy, ek laaik jou musiek baie. Kan ek in jou band speel?
    Watse instrument speel jy? vra Dozi.
    Blokfluit, sê Kobus.
    O, sê Dozi. En watse songs ken jy?
    Kom alle getroues, sê Kobus. En daai liedjie van die perd.

    Wednesday, April 18, 2007

    Jedzcie, pijcie i popuszczajcie pasa

    Oftewel: Eet, drink en maak los jou belt, soos die Pole sou seg, want deesdae het hulle selfs hul eie rak in al wat 'n supermark is.
    (En ons was opgewonde om rooibostee en Mrs Balls in 'n winkel te sien.)



    Met die kan niemand meer die massiewe Poolse immigrasie ontken nie. Toe die advertensies vir Poolse produkte 'n paar jaar gelede begin verskyn het, het mense (Britte, meen ek) dikwels die "Polish" verwysing op advertensieborde buite winkels met skoenpolitoer verwar. ("Wat bedoel hulle met Skoenpolitoer Kafee binne?") Lankal nie meer nie. Deesdae is die Pole amper soos die VK se vyfde nasie. Hulle is so gretig om te integreer, dat hulle selfs onlangs hulle eie tartan in Skotland gekry het. En dit sal seker ook nie lank wees voor die Britte gaan maak of hulle self beetsop uitgedink het nie.

    Ingelegde Poolse kos word al lankal in kafees verkoop, maar niemand (behalwe Pole) het 'n idee gehad wat dit is nie. Die worsies, ja. Die's ons al moeg voor. Maar ons het by die ingelegde bottels verbygehou. Die prentjies lyk meestal soos afval, sien. So jy kan nie daarop gaan nie. Maar nou dat dit in Sainsbury's te koop is, het alles vertalings by. Dit IS, blyk dit, meestal afval. Maar dit het mooi, aptytlike, name soos Hunter's stew, en so.

    Die Britte was aanvanklik bang vir al die immigrante. Nou, vermoed ek, weet hulle nie hoe hulle voorheen sonder hulle klaargekom het nie.

    120A

    Hier's (ongeveer 80% van) die mense saam met wie ons die afgelope paar jaar 'n huis gedeel het.
    Sommige was net daar vir twee weke. Ander vir twee jaar.



    Vlnr: Andre, Janine, Audrey, John, Christiaan, Conrad, John, Werner Z., Christiaan, Ella, Janine, Helen, Lauren, Greg, Lisette, Sarah, Jason, Steve, Michelle, Tania, ek, Werrie, Tamara, Werner Z., Yolandie, Flippie, Werner Z., Anne (wat nie daar gebly het nie, maar wel baie op die bank geslaap het), Alice, Greg, John, Wium, ek, Greg, Corey, Anne, Tamara, Steve, Michelle, Tim, ek, Werner, Stephan, Werrie, Andre, Audrey, Tamara, John, Greg, Shane, Helen, Brad, Nadine, Christiaan, Janine, ek, Andre, Stephan, Werrie.

    Ons boor vooruit

    Ons deelhuis-dae is mos nou uiteindelik iets van die verlede. Dit gaan baie goed in die nuwe plek. Ons het 'interessante' bure. En selfs 'n spit om goeters op te braai. Kyk:



    Monday, April 16, 2007

    Vat jou shots soos 'n prins

    Ek het 'n jaar of wat gelede een Saterdagmiddag vir 'n vriend van ons die restaurant gaan wys waar Werner werk. Ons was lekker flou, want ons het heeldag in die stad rondgeloop. (Ag, ek's eintlik permanent lewensmoeg. Maar mense wil altyd redes hê.) Elk geval, net voor ons weer daar weg is, het die barman vir ons sy signature drink, Crackshot Baby, gegee. Of Crack Baby shot. Ek kan nie die naam onthou nie. Ek onthou wel die nul-tot-honderd-in-30-sekondes effek daarvan. Want in plaas daarvan om huistoe te gaan en te gaan slaap, was ons dadelik ongelooflik lus vir 'n verskriklike partytjie.

    Die barman werk deesdae by Boujis, 'n klub waar die jong prinse graag uithang. Die dag waarop hierdie storie in al die koerante was, kry ons hom toevallig in die stad en, ja, dis hy wat vir die gemors verantwoordelik was.

    Die koerante was gaaf genoeg om die resep te publiseer. Probeer dit gerus by die huis, maats: vodka, passion fruit, Chambord en champagne.