Sunday, September 27, 2009

Herfs

Autumn

Herfs is my gunsteling tyd van die jaar. Daar's iets aan die seisoen wat draai wat baie opwindend is. Net jammer dit gaan altyd gepaard met 'n minder opwindende post nasal drip.

Tuesday, July 28, 2009

Budapest

Heroes' Square, Budapest

Die Hősök tere (Heroes' Square) in Pest is bedags baie bedrywig, so dit was (glo ek) 'n aansienlik aangenamer ervaring om dit net na middernag te sien. Behalwe vir 'n paar bergies, was dit net ek, Rudi, Jozsef, Viki en Bolazs wat daar rondgehang het. Die dansers het almal (onder ligte dwang) 'n paar toertjies voor die besienswaardighede gedoen, voordat Bolazs (wat die coolste naam in menseheugenis het) ons na die volgende bar gelei het, waar ons ons vyf-'n-dag in die vorm van kersie- en aarbei Palinkas ingekry het.

Immergroen

Immergroen festival

Ek weet nie of ek die fees of die bohaai daarvoor of daarna op die Internet meer geniet het nie. Ek dink tog die fees wen, maar net oor ek permanent 'n biltong in die een hand en 'n papsak in die ander gehad het.
Dit was eintlik ook soos 'n reunie van die ou Walthamstow crowd (spesifiek die Lorne-denaars), so die musiek was 'n bysaak. Dis ook nie asof ons so uitgehonger is vir boerewors of Afrikaanse musiek dat ons gebroke was toe daar nie chutney of kunstenaars was nie.
Maar dit verander nie die feit dat Immergroen 'n mislukking van epiese proporsies was nie.
Die organiseerder, Cr**g l* R**x ("Sy naam is nou 'n vloekwoord!"), bly seker nog nie lank genoeg in Engeland nie, want anders het hy nou al lankal herhaaldelik Sorry! gese. Dis nou as hy nog kan praat. Want as 'n paar van die mense wat gedreig het om hom te verwurg hom wel bygekom het, is hy nie meer van hierdie wêreld nie.
As die kunstenaars ook maar net soos die res van ons hulle diensplig in Engeland gedoen het, kon hulle ook al Britse paspoorte gehad het, en was dit nie nodig dat die derduisende honderde feesgangers troos in die naaste bottel moes soek om hulself te geniet nie. Martin moes maar aan 'n paar NikNaks suig en met 'n tartrazine kick tevrede wees. (Hy was nie.)

Wednesday, July 08, 2009

Karen en Bill

Karen & Bill


Die blog-koma duur voort. Intussen...

Hier is 'n slideshow van 'n paar van Karen & Bill se troufoto's. Click op HQ, regs onder. (Musiek deur Moby.)

Dit was die tweede troue waar ek fotograaf gespeel het. Stresvol, maar groot pret. Dis waansinnig om soiets as 'n amateur aan te pak (en dit met 'n gehuurde lens wat enige tyd kan oppak, en 'n kamera wat jy nog net een keer gebruik het), maar ek dink tog mens leer die gouste as jy by die diep kant ingegooi word. En, asof een cliché nie genoeg is nie, onkunde is salig.
Al is ek oor die algemeen heel tevrede met die foto's, kan ek ook nie help om daarna te kyk en alles raak te sien wat ek anders/beter kon doen nie. Maar ek het dit immers met 'n mangelontsteking-koors gedoen, so daarvoor kan ek myself heelwat vergewe!

Tuesday, May 12, 2009

Jou sente jou drome, jou toekoms vol gate

Ek's 'n groot aanhanger van The Secret Millionaire. Hierin besoek suksesvolle entrepreneurs 'n minder gegoede buurt en gee voor asof hulle 'n dokumentêr oor liefdadigheidswerk verfilm. 'n Week later bieg hulle dat hulle eintlik rol in die geld, en dan deel hulle vet tjeks uit vir mense wat hulle beïndruk het. Hier begin almal gewoonlik grens: die miljoenêr, die oorblufte ontvanger van sy barmhartigheid, en ek.

Mense knak soos tandestokkies as hulle besef hoe die wiel onverwags vir hulle gedraai het. Vir kykers is dit emosioneel, want jy kry so lekker oor een ou se goedheid, en oor 'n ander se voortreflike lot. Dikwels is die mense wat die meeste van hulle tyd of geld vir ander gee, self nie so goed daaraan toe nie. So mens kry skaam as jy sien hoe gulhartig hulle is. Vir die miljoenêrs is dit dikwels só bevredigend om ander te help, dat hulle plegtig belowe om meer gereeld aalmoese uit te deel.

Mens moet gee waarvan jy baie het, dink ek. Of dit nou tyd is, of geld. Of empatie. Of aandag. Of wortels. Watookal! Ek gee self gereeld verniet en gratis my (ongevraagde) raad. Mense staan behoorlik tou vir die opinies wat ek so kwistig uitdeel.

Dis bemoedigend om te sien hoe mense in Suid-Afrika met hulle talente woeker. Ek het onlangs gelees hoe musikante (o.a. Gian Groen en Roof Bezuidenhout) 'n Spore op die Maan-konsert vir die aarde gehou het. 'n Ander groep kunstenaars het weer 'n CD opgeneem om mense hoop te gee. Die opbrengs gaan veral vir kinderslagoffers van geweld aangewend word. Sielsgebed, wat deur Mel Botes geskryf is, is die eerste liedjie wat vrygestel is. Met 12 bekendes (o.a. Dozi, Rina Hugo, Anna Davel, Piet Botha en Mathys Roets) wat saam in die “gebed van hoop” sing, is dit amper soos 'n Suid-Afrikaanse weergawe van Do They Know It's Christmas?.

Wat 'n begeesterde idee! Ek dink die CD is die ideale geskenk vir, seg maar, my Ouma se suster wat Sondagmiddag, toe sy ná haar middagslapie wakker word, sien hoe 'n skollie met haar geliefde tjor wegry.

(SA Promo, Junie)

Thursday, April 16, 2009

Zuma en die heuningkwas

Jacob Zuma het glo nou die dag gesê dat, van alle wit groepe in Suid-Afrika, Afrikaners die enigste "ware Suid-Afrikaners" is, omdat hulle nie twee paspoorte het nie en gevolglik nie sal (of kan!) weghol as daar probleme is nie.

Wie kan hoegenaamd teen sulke vleitaal immuun wees? Die ganse Afrikanerdom het sommer 'n nuwe blos op die wange. Ons koppe draai behoorlik van die manjifieke moontlikhede wat so 'n vlerkslepery inhou. Ek wil nie dinge vooruithardloop nie, maar verbeel jou net... Koebaai Mhlambanyatsi en Marapyane! Welkom terug Buffelspruit en Skilpadfontein!

Jy kan maar sê Afrikaners was die slagoffer van 'n politieke one night stand. En nou sit die volk by die foon en wag vir ons sjarmante held se volgende oproep. Die Souties (oftewel "twee-paspoort landsverraaiers!") sal sê ons is desperaat. Maar ons was net vir té lank afgeskeep. Ja, ons weet hy's 'n skollie, maar ons vergewe hom. Ons is immers mál oor mense wat van ons hou.

Ek sal maar nie vir Zuma die medalje wys wat ek onlangs tydens my Britse burgerskapseremonie gekry het nie. Wie weet hoe hy dan oor my ('n Vannermerwe - wat welliswaar nie meer Afrikaans kon wees al sou ek permanent 'n "100% Boer" T-hemp dra nie) sal voel! Ek sal ook verswyg dat al die witmense wat daardie dag saam met my in die "Britse familie" verwelkom is toevallig ook Afrikaners was.

Sommige van julle is natuurlik meer sinies en dink Zuma smeer ons so heuning om die mond, net om later 'n Dingaan op ons te trek. Hoogs onwaarskynlik, reken ek. Iemand wat so geneë is om almal tevrede te hou, sal mos álles in sy vermoë doen om nie die groot kanonne in wêreldpolitiek te ontstel nie. Dit sou waansinnig wees.

(SA Promo, Mei)

Saturday, April 11, 2009

Dag 87 - Put People First, G20 Rally

87/365 - Put People First, G20 Rally
Hierdie foto is by 'n G20 rally geneem - 'n paar dae voor 1 April se moles. Volgens wat ek kon sien, het die oorgrote meerderheid van die betogers SO gelyk: onskadelik. Daar was enkele aggressiewe opinies, maar ek twyfel of enigiemand wat daar was op enige stadium bedreig gevoel het.
Ek het talle verveelde polisiemanne sien rondsit - gereed vir 'n konfrontasie wat nooit plaasgevind het nie. Dis natuurlik beter om voorbereid te wees, so dis als goed en wel. Dit was net vir almal 'n bietjie van 'n anti-klimaks. Vir die polisie ook.

Die 1e April se betogings sou nie so rustig wees nie, daarvoor het 'n grootskaalse opswepery en bangpratery voor die tyd goed gesorg. Mense wat in die Stad werk is aangese om informeel aan te trek om te voorkom dat hulle teikens word. (Maar dit was net pienk hemde en ontwerpershandsakke oral waar jy kyk. Vir wie moes dit flous?)
Die polisie wou skade beperk en het 'n kordon rondom die betogers gevorm ('n 'kettle') en vir die volgende vyf ure niemand in of uit gelaat nie. Dit is iets wat die meeste mense aggressief en paniekerig sal maak. Baie mense is rondgestamp en onnodig hardhandig hanteer, maar die polisie het (en kon) nie onderskei tussen vredeliewende betogers, iemand wat oppad was na 'n vergadering, en 'n skollie wat spesiaal van Duitsland af gekom het om 'n paar bakstene te gooi nie. Tog - as Ian Tomlinson nie na so 'n onderonsie met die polisie aan 'n hartaanval dood is nie, sou niemand waarskynlik die polisie se metodes bevraagteken het nie.

Sunday, April 05, 2009

Dag 83 - Brits!

... maar nie sonder voorbehoud.



Dis 'n groot oomblik wat 'n behoorlike blog regverdig, maar vir nou sal ek eers volstaan met hierdie Steers-advertensie, wat 'n goeie opsomming is van hoe die meeste Suid-Afrikaners in Londen voel.


Tuesday, March 24, 2009

Dag 80 - 491 Gallery

Was Saterdagaand by 'n verjaardagpartytjie in 'n klub in die stad. Nie iets wat ek normaalweg nugter wil aanpak nie. Dis net t**te en elmboë waar jy kyk. Toe loop ons twee Spaanse vriende raak wat se hulle gaan later na squat party in Leytonstone, en wil ons saamgaan. Ek het nog daaroor gedink, toe's ons al oppad. Die squat is eintlik 'n uiters goed georganiseerde kunsgallery (of iets), wat ook aan musikante uitverhuur word. Ons het ongelukkig net een band gesien, maar dit was nie die enigste vermaak nie (lag-gas, enigiemand?). Die hele atmosfeer was soos 'n Glastonbury in E17.
Ek sal nie beweer dat ek alles kan onthou nie, maar hoop om weer daar 'n draai te maak. Dis lekker (en raar) om sulke plekke in Londen te ontdek. Of dalk moet ek net meer uitkom.

Dag 79 - eerste dag van die Lente


Het nou die dag 'n baie interessante onderhoud met Eric Carle gelees, en toevallig het hy kort daarna Google se Lente-dag ontwerp gedoen.

Ander cool Google ontwerpe was hierdie een vir Earth Hour, en hierdie een toe die Koningin hulle kantore besoek het.