Showing posts with label litnet. Show all posts
Showing posts with label litnet. Show all posts

Wednesday, August 17, 2005

Hulle stem so, want hulle braai so

Ek kan nie beskryf hoe opwindend die afgelope verkiesing hier in Londen was nie. Ek kan nie, want dit was nie. Dit was sieldodend. En om daaroor te praat is nét so eentonig – terwyl ek hierdie paragraaf tik het ek al drie keer gegaap. Nee, vier!

Dis seker maar hoe 'n verkiesing in een van die oudste demokrasieë in die wêreld veronderstel is om te wees, maar in vergelyking met verkiesings in Suid-Afrika is dit erg oninspirerend. Waar's die drama? Die histerie? Die stilstuipes? Die enigste ding waaroor ek mense 'n bietjie opgewonde hoor raak het, was om na die verkiesingsuitslae op TV te kyk.
In Suid-Afrika is die hele aanloop tot die verkiesing interessant, selfs vermaaklik. Die uitslag is vanselfsprekend; 'n bysaak. Maar hier, hoor ek toe, kyk mense van 10-uur die aand na die verkiesingsuitslae op TV – aangebied deur die Dimbleby-broers op BBC1 en ITV - en vat Vrydag verlof. En dis dan die somtotaal van die avontuur. Ek dog toe, as dít is waaroor dit gaan mág ek dit nie mis nie. When in Rome, en als. En so tref Werner my een-uur die oggend toe hy van die werk af kom, in 'n koma op die ongemaklikste bank in die huis aan. Glo my gerus – as die verkiesing 'n mens was, sou hy 'n martelaar wees en mense geleidelik dood verveel.
Ek het wel bietjie gekroek en oorgeskakel na ‘n ander kanaal tydens die martelsessie. Daar het hulle ‘n klomp mense gekry wat kommerwekkend baie soos die politieke hoofrolspelers lyk, en dan ‘n kamtige dokumentêr gemaak van wat agter die skerms gebeur. Byvoorbeeld David Blunkett wat met 'n perverse grynslag staan en vroetel met sy gidshond se leiband, terwyl dié met 'n skrapsgeklede Kimberly Quinn (die vrou met wie hy 'n verhouding gehad het) op die grond rondrol.

Om te stem, lyk dit my, is soos om te braai. Vir ons beteken dit om vir ure rondom die vuur te staan en met stokke daarin te krap, dronk te word, en laataand eers te braai. Maar as Britte na 'n braai toe gaan, moet die patties reeds gebrand wees as hulle daar aankom. So, blyk dit, is die aanloop tot die verkiesing hier glad nie belangrik nie. Hulle sal net by aanhoor van die uitslag sug, en sê: Right. Jolly good. Tea? En wieookal aan bewind is blameer vir die treine wat laat is.

Dis ook vreemd dat iemand hier kan sê hy's 'n Tory en sy meisie ‘n lid van die Arbeidersparty, maar dan leef hulle nog in vrede saam nie. Dis so ongelooflik belaglik beleefd! En wêrelde verwyder van Suid-Afrika waar - soos Ronel vertel - hulle (NPs) altyd kortpad deur die buurman ('n KP) se erf kon loop, behalwe in verkiesingstye. Dan span hy 'n draad tussen hulle erwe en laat sy Rottweiler die grens patrolleer.
Weinig Britte (behalwe die Dimbleby-broers en hulle onderskeie ateljeegaste) het iets oor die verkiesing te sê gehad. Maar toe ek Saterdag, twee dae ná die verkiesing, by ‘n klomp Suid-Afrikaners gaan kuier, toe’s dit nie lank voor een (‘n vurige Liberaal Demokraat-ondersteuner) sê: Ek hoop nie julle het Labour gestem nie!? En ‘n ander sê: Ek het!
En eersgenoemde sê Jy’s mal! En: Hoekom gaan slaap jy nie sommer by Tony nie? En die ander sê Miskien sál ek! Dan kom twee ander in en ontken nie dat hulle nie vir die Tories gestem het nie. En die res insinueer dis net oor hulle dalk in die hoë inkomstegroep val en nie so baie belasting wil betaal nie. ‘n Ander sê: Ek wóú vir die Liberaal Demokrate stem, maar toe stem ek eerder vir die Arbeidersparty, téén die Konserwatiewes. En: Die Arbeidersparty het in elk geval beter kraamvoordele. En dan kyk die vurige Lib Dem ondersteuner haar aan asof hy wonder hoekom vrouens hoegenaamd stemreg gekry het.

Hier in Brittanje is die mense ook maar lui om te gaan stem. Veral vir diegene wat meen die uitslag gaan nie veel aan hulle lot verander nie. (Want al die partye se basiese beleide is mos basies dieselfde.) In Liverpool, byvoorbeeld, stem baie min mense – vir hulle was die belangrikste uitslag daardie week die een tussen hulle span en Manchester United.
Vir my is om te kan stem meer 'n voorreg as 'n plig. Ek dink dis omdat 1994 ook die eerste jaar was waarin ek kon stem. Ons was eerstejaars, toe, en 100% oortuig van die opwindende toekoms wat voorlê. Vir ons, dink ek, sal verkiesings ook altyd ‘n feestelike konnotasie hê. Die eerste kwartaal het hoofsaaklik om die verkiesing gedraai. Ag, dit was goeie tye. Ten minste een kaas-en-wyn geleenthied per week soos die party-kandidate probeer stemme werf het. Ons het nie diskrimineer nie, ons het na almal gaan luister. Maar die NP het die meeste freebies uitgedeel. FW-borsspelde, plakkers, plakkate. En perm-kamme.

In elk geval, hier het daar vanjaar toe op die ou end meer mense gaan stem as in die vorige verkiesing. Een nuusleser sê hy stem al vir die afgelope 30 jaar by dieselfde plek, en dit was die eerste keer wat daar 'n ry was. Maar besef die mense dan nie – dít is die geheim om meer mense by die stemlokale te kry. As jy in hierdie land (en julle kan dit gerus probeer!) iewers gaan stilstaan en iemand dalk agter jou, sal daar binne sewe minute 'n redelike lang en gedweë tou agter jou vorm.
Die mense by die werk hang aan my lippe as ek hulle vertel van die rye tydens verkiesings in Suid-Afrika. En dan kry hulle daai ons-wil-op-safari-gaan kyk in hul oë.

Christine van der Merwe kon nie kies tussen die Vote for Yourself Rainbow Dream Ticket Party of die Monster Raving Loony Party nie. (Litnet Aug 2005)


[Stemdag is (glo) op Donderdae, want (in die dae voor vrouens kon stem) het mans op Vrydae begin drink sodra hulle betaal is. Saterdae het hulle by die huis rondgelê en Sondae was hulle in die kerk. So, om te keer dat drank, die pantoffel of die kerk hul keuse beïnvloed is vasgelê dat verkiesings altyd op Donderdae sou wees.]

Friday, March 21, 2003

Laat hulle koek eet

Die wêreld is bietjie vreemd, sê hulle, as die beste rapper wit is en die beste gholfspeler swart. As Duitsland traag is om oorlog te maak en die Franse die Britte beskuldig van arrogansie.

Min Britte regverdig die stelling dalk soveel as die Koningin. Eers spandeer sy derduisende belastingbetalersponde op ’n totaal onnodige “panic room” in die paleis; nou is daar gerugte dat sy die oorlog teen Irak in Skotland wil deurbring. Dis soos om ’n hamburger voor Rik “Groter as die lewe self” Waller neer te sit! As die Skotte van haar Hoogheid praat, is hul sinne besmet met ’n ander woord vir hond-met-tepels. Hulle sal haar verskeur.

Mens moet ook wonder hoekom sy (of Charles, wat Nr 10 gereeld met briefies bombardeer) nog geen opinie oor die oorlog gelug het nie. Ja, sy praat soldate moed in en korrespondeer met klein dogtertjies sodat die volgende generasie ook haar foto bo die kaggel kan hang. Ja, sy het as staatshoof eintlik net ’n simboliese rol. Maar volgens die koninklike webblad is haar hoofrol as ’n fokus van nasionale eenheid. En natuurlik mag sy iets sê.

Dalk hou sy net té veel van Bush. Sy’s immers met iemand van sy presiese intellektuele kaliber getroud. Verder is Bush is ook nie regtig verkies nie, maar beide glo dat hulle en hul makkers die uitverkorenes van hul onderskeie koninkryke is. In Bush se geval (want aardrykskunde is nie sy sterk punt nie) sommer van die wêreld.

Of dalk meen sy die oorlog hou die potensiaal vir die grootste oomblik van haar termyn in. Na ’n enkele besoek aan die East End tydens die Blitz het die volk immers geglo haar moeder kon op water loop.

Maar genoeg oor haar.

Ék voel uiters gegrief dat ons almal so in hierdie oorlog geboelie word, en dit net omdat Alfred E Neuman toe tog president geword het. Dom mense wat dink hulle is slim — het ’n wyse klasdroster eendag gesê — is ’n baie gevaarlike groep mense.

Blair is nog ordentlik genoeg om te lyk of hy empatie met ander se oortuigings het. Dis asof hy sê: Jy vra waarom moet jy groente eet? Dis ’n baie goeie vraag en een waaroor ek … ons … al baie gepraat het. Jy hou nie van groente nie. Ek weet! Glo my, ek weet. Maar, maar … jy moet verstaan. Dis góéd vir jou. Dit is!

Bush is egter soos ’n bedorwe brok wie se speletjie jy volgens sy reëls moet speel as jy in die somer na sy huis met die swembad genooi wil word. Sy reëls verander heeltyd op grond van sy prestasie. Party sal later langlip skree: “DUS! ON!REG!VER!DIG!” Maar hy hoor nie. Die res sê verraaierig: Ag, dis net ’n speletjie. Maar hulle weet dit is nie.

As jy in een mens se oë kyk wie se lewe vir ewig deur oorlog geraak is, sukkel jy om redes te kry wat sulke drastiese aksie regverdig.

Soos Matthew. Ek het op ’n stadium by die Royal Festival Hall gewerk wat tydens die 1951 Festival of Britain as ’n na-oorlogse “Tonic to the Nation” opgerig is. Onder in die koffiewinkel naby die kaartjieskantoor het Matthew heeldag, elke dag gewag vir ’n vriend wat nooit opgedaag het nie. Elke uur of twee het hy nog geld gaan trek, nog ’n kaartjie bespreek. Saans het sy jong Chinese vrou by hom aangesluit. En die volgende dag was hy weer daar.

“Daai man is drek,” beduie hy.

“Ekskuus?” sê ek, versigtig om enigiets te beaam voor my salaris inbetaal is.

“Ek sê daai man is ’n direkteur. Hy sê ek mag nie heeldag in die koffiewinkel sit nie. Waarvoor het ons miskien geveg?”

Of: “Hoor wat speel hulle daar,” sal hy kwaad tydens een van die gratis middaguurkonserte sê.

“Jazz?”

“Ja, Jazz! Hulle moet klassieke musiek speel! Waarvoor dink jy het ons geveg!”

En dan vertel hy weer van sy reargunner-dae en wys hy weer sy littekens.

Hy behoort steeds aan ’n reargunner-vereniging. “Maar,” sê hy afwesig, “baie van hulle is dood. Die meeste van hulle is regtig dood … Ek gaan gou kyk wat daar buite aangaan.”

Hy sal van ’n wonderlike loopbaan vertel van meer as ’n dekade in die Ooste en daarna in Amerika. Dan onthou hy weer “daardie vyf jaar … “ En iets skuif oor sy gesig wat jou koue rillings gee.

Daar’s ook Omar, ’n Bosniër, wat vir sewe weke Londen toe sou kom om Engels te leer. Teen die tyd wat hy moes huis toe gaan, was daar oorlog en moes hy politieke asiel verkry. Hy’t vir ’n jaar geen kontak met sy familie gehad nie. Na sewe jaar het hy skaars sy tingerige ouers herken. Hulle het alles verloor, maar ten minste was hul enigste kind veilig elders. Nie, soos baie van sy klasmaats, in ’n begraafplaas in Sarajevo nie.

“Hulle maak elke jaar ’n film van die oorlog sodat niemand vergeet nie,” sê hy intens. “Niemand mag vergeet nie.”

Gestel die oorlog tref die Eiland ...

Ek kan my nie uitlaat oor “haglike” oorlogsomstandighede nie, maar ek’s bevrees as ek in ’n klein vertrek saam met ’n klomp Heinz Baked Beans-eters vasgekeer gaan wees, gaan dit nie mooi wees nie. Ek het vinnig deur die koskaste van ons deelhuis gekyk en gelukkig is daar net een geblikte sjokolade-sponskoek.

Ons gaar nie kos op nie en ons koop nie gasmaskers nie. Maar nie omdat ons dit probeer ignoreer nie. Om die waarheid te sê, nog voor die WB-finaal (beter bekend as die krieket-&*%$£$), kyk almal al 24 uur ’n dag Big Brother-staail oorlog. Ons sit vasgenael voor hierdie ultimate realiteit-show deur die grootste jackass van almal.

Ons kan nie meer die oorlog keer nie. Ons kan net aanpas as die omstandighede dit vereis. Soos my Kanadese kollega met haar whatif-paranoias. Een oomblik kondig sy beslis aan sy gaan ophou rook want sy’t keelseer; 45 minute later gaan koop sy sigarette, want “I’m dying of oesophagus cancer anyway.”

Ns: Wil iemand nie asseblief vir Bush ’n Playstation koop vir Kersfees nie?

(Litnet 2003)

Die Prins, ’n paar Bacardi Breezers en ’n nat hond

As Suid-Afrikaners van die Engelse (en spesifiek Londenaars) praat, is dit nooit baie vleiend nie. Hierdie is immers ’n nasie wat kweel “Lekker lekker barbie woohoo” en dan binne staan en kyk hoe ’n enkele Suid-Afrikaner teen ’n poolwind stoei om klam charcoal aan die brand te kry. Maar my moeder seg altyd, as jy niks goeds oor iemand te sê het nie, bly liewer stil.

Stilbly is egter ook nie ’n opsie nie. So na twaalf en ’n half minute se kwaliteit-dinkwerk moet ek erken dat Britte darem drie bewonderenswaardige eienskappe het. Boaan die lys is hulle geweldige kapasiteit vir tee. Die tweede is hulle ongeëwenaarde gawe om, behalwe tydens voetbalwedstryde, hoegenaamd geen emosie te toon nie; en die derde is hulle absolute blinde geloof in hul eie vermoëns.

Die koninklikes verskaf oudergewoonte ’n paar ooglopende voorbeelde, maar ek sal volstaan by prins Charles. Hy glo hy’s die groot filosoof, kunstenaar, sportman en Don Juan van sy generasie. Omdat hy met bome gesels (die ooreenkoms met sommige van sy familielede kan enigeen ontsenu), reken hy hy’s die grootste natuurman sedert Rolf Harris kangaroes nageboots het. Hy maak gereeld onsamehangende filosofiese uitsprake waaroor sommige mense oooeee en aaah, en omdat hy niks minder verwag nie, moedig dit hom net verder aan. Dis jammer, veral omdat hy eintlik ’n ondergemiddelde skepsel is. Sy universiteitspunte is immers beskryf as iets wat slegs die “terminally lazy or the very stupid indeed” kry. (Myne ook, terloops, maar ék dink nie ek’s die volgende Laurens van der Post nie.) Die man wat moet koning word, het ook al die wens uitgespreek om as ’n sanitêre produk gereïnkarneer te word, en glo gebieg dat hy soms wonder “if two thirds of the globe is covered in red carpet”. Kommerwekkend. Veral omdat daar agter sy peinsende uiterlike geen realistiese waddehelnou-selfbeeld skuil nie. O, nee. Hierdie man se grootste verleentheid is dat hy daagliks sy pêrels voor swyne soos Tony Blair moet gooi.

En dan die plebs. Omdat almal se Bacardi Breezer-geïnspireerde vriende elke Donderdagaand hulle karaoke-pogings encore, glo 97 persent van die bevolking hulle kan sing. Iedereen dink hy’s ’n Pop Idol. Mense het ’n obsessie om op realiteitsprogramme te wees, want almal dink hulle het ’n persoonlikheid wat hulle eenvoudig met die wêreld moet deel. Dis ook hoekom groepe soos S Club 7 dit kon regkry om vir jare sonder skaamte ’n hoëprofiel-bestaan te voer.

Kyk ook byvoorbeeld na die volgende onvergeetlike lirieke van die Spice Girls:

La la la la la la la la la
La la la la la la la
La la la la la la la la la
La la la la la la la.

Mens wil jou verbeel dat terwyl hulle “Spice up your life” geskryf het, iemand sou voorstel: “Hie hie, kom ons sing net la la la vir, like, ewig en kyk of mense daarvoor val.” En hoe hulle sou dink dis histeries. Maar nee, hulle glo opreg dis lirieke wat iemand se lewe gaan raak.

En dit het! Na alle waarskynlikheid is die Spice Girls nie uitmekaar oor hulle gedink het die grap gaan nou te ver nie, maar eerder omdat elkeen onderskeidelik gevoel het hulle kan nie langer hul besonderse talente langer laat onderdruk deur die ander wat dalk goed is, maar nie geniaal nie.

Dit bring my by die Olimpiese Spele. Toe Suid-Afrika destyds die Spele wou aanbied, het derduisende Suid-Afrikaners begin verskoning maak. (Behalwe natuurlik daardie beminde spotprent-bergie met sy “Athens se ma”-plakkaat). Die skade! Die skande! Vervoer, vuil, sê nou dit reën …

Die Britte, daarenteen, is vol selfvertroue vir hul bod om die Olimpiese Stadion in Hackney te bou. En ek het nog bittermin mense hoor sê “Jy’s nie ernstig nie.” Dis seker mooi, die ideaal van oplewing in ’n area wat slegter lyk en meer stink as ’n nat hond. Maar dis regtig ’n vergesogte idee. Daar’s min treine en baie moorde. Daar bly soveel nasionaliteite, jy sal sukkel om iemand te kry wat in Engels kan verduidelik waar die derde uitdunronde van die gesinchroniseerde swem plaasvind. Hackney het “karakter”, seg hulle, maar dis net ’n ander woord vir “lewensgevaarlik en vol mense wat heeldag met hul imaginary friends baklei”.

Tog, hierdie ingesteldheid van die Engelse is iets wat ons nie het nie. As ons vir, seg maar, ’n sekretariële pos aansoek doen, sal ons nog sê ja, ek tik 75 woorde ’n minuut. En dan, al probeer keer ons hoe, daar glip altyd nog ’n “maar” uit. Maar … dit … was … lank terug. Jammer om te hoor, sê die onderhoudvoerder, en gee die werk vir ’n blasé Brit wat 14 woorde ’n minuut tik, met 100 persent spelfoute.

En dit bring my by die eintlike punt van die storie, liewe leser: dít is die rede waarom duisende jong Suid-Afrikaners in Londen sekuriteitswagte is. (Dink ek.)

(Litnet - 2003)

Friday, February 21, 2003

Waar is al die Engelse rose heen?

Ek wil nou nie snaaks of oneerbiedig wees nie, soos my vriendin Jomarié sou sê, maar as Koos Kombuis so baie hou van vroue wat na knoffel en Tabasco ruik, sou ek die egpaar Kombuis aanraai om met ompaaie verby Londen te hou. Dis jammer, want dit sou ’n groot okkasie wees as Koos weer ’n slag hierlangs kon kom. Maar, helaas, ’n besoek aan dié stad, waar mense knoffel soos peanuts eet, sou ’n té geweldige beproewing vir sy huwelik wees. Veral, seg maar, in die moeilike silwerbruilofjare as jong Simon en Mia hul ouers nooi om ’n week of wat in ’n deelhuis te kom bly (’n verhoudingstoets op sigself).

In Londen kry jy geen subtiele gisteraand-se-pizza-knoffelwalmpies nie. O, nee. Hier kan dit ’n paniekaanval van die reuksintuie aanbring. Al protesteer mond hoe, hy moet maar oop om ekstra lug te skep, want neus — met 30 000 sweetdruppels op — kry baie swaar. Op ’n stampvol trein, diep onder die grond, kan jy nie wegkom nie. Hierdie tube-terroriste plant hulleself soos die bomme in Minesweeper. Op ’n afstand sou jy nooit kon raai waar die gevaar skuil nie, maar sodra jy jou staan of sit kry, besef jy jy is omsingel. Hou maar ’n roombotteltjie voor jou neus en druk so nou en dan sy asem uit. Jy sal dit maak. Maar wat van iemand soos Koos wat van dié tipe van ding hou? Wee miskien diegene deur wie die struikelblokke kom, maar beskou hierdie as ’n waarskuwing, en hou Koos weg uit Londen.

Wel, ten minste uit die East End. Want dis hier waar jy laat op ’n Saterdagoggend wakkerskrik met ’n soet irritasie in die neus. As jy duik om jou venster toe te maak, is dit klaar te laat. Die reuk het ingetrek en sy lê gekry. Dis presies soos bobotie, daardie gewilde spyskaartkeuse, wat teen die mure en aan die dekens en tussen die vloerplanke van elke skoolkoshuis lê. Dit wag op die trappe na skool soos ’n bedreiging van ’n goeie dag wat nog baie tyd het om sleg te raak. Skemertyd trek dit by die vensters uit en steur jou soos ’n slegte asem voor dit op die gruis gaan lê en jy jou bord daarmee moet inkleur en maak of jy dit geëet het. Só ruik die kerries van Oos-Londen. Maar dit smaak baie beter. Om die waarheid te sê, die Engelse was so jaloers omdat Yorkshire pudding en Spotted Dick die mees eksotiese geregte op hul spyskaarte was, dat hulle — sedert die eerste pondteken op ’n Indiese spyskaart verskyn het — maak of hulle kerrie uitgedink het. Die pienk knieë kan miskien nie ’n vuur pak of ’n band omruil nie, maar hulle skrik nie sommer vir ’n warm vindaloo nie. Kruie en speserye word hier lankal nie meer in “huisies” en “knypies” gemeet nie.

Maar om terug te kom by Koos. Hy hou ook nie van vroue wat ure in badkamers spandeer nie. In Londen is daar vrouens wat vermoedelik nog nooit die binnekant van een gesien het nie. En dan is daar die wat dalk voorheen ure in badkamers spandeer het, maar nie meer sedert daar ’n nuwe sosiale gedrag geduld word nie. Almal frons daaroor, maar dis soos om vir iemand te sê hou op om jou rowe af te trek — jy hoop maar dis iets wat mense weet of behoort te weet. Oor ’n paar maande krap ’n klomp mense aan hulle rowe en dan’s dit te laat. Dan is dit aanvaarbaar. So is dit nou met vrouens wat hul grimering op die tube aansit. Ek het in Suid-Afrika ook gesien hoe mense oogpotlode in die vinnige baan gebruik, maar dít is ’n kuns. Om reg oorkant iemand te sit wat vir 15 minute gesig-gimnastiek doen, is bloot irriterend, veral as hulle niks beter lyk daarna nie. En dis nie net ’n vinnige lipstick voor iemand kyk nie. Dis potlode en borseltjies en buisies en salfies en tweezers en wax strips (regtig!) — en hulle bêre als in iets wat soos ’n Swiss Army knife vir grimering lyk.

Vrouens hier dra ook nie noodwendig groot handsakke om alles in te pas nie. As Posh Spice ’n koevertgrootte-handsak dra, sal hulle ook. (Maar sy’t lyfwagte met baie baadjiesakke.) Die res sleep plastieksakke van hul gunsteling ontwerperswinkels saam. (Baie ou tannies loop byvoorbeeld met uitgebleikte Harrods-sakke rond.) Die sakke is vir hulle kantoorskoene, sien, want almal dra wit tekkies by hul pakkies sodat hulle spitstye aan die resies vir Die Enigste Oop Sitplek kan deelneem.

Ek oordryf eintlik. Engelse meisies is nie regtig so onweerstaanbaar nie. Ten spyte van hul knoffelvoordeel, en die feit dat hulle minder ure as ons in ’n badkamer spandeer, en dat hulle handsakke nog kleiner is, kan meisies in Londen immers in slegs twee groepe verdeel word: die posh ingeteeldes (ook bekend as die “chinless wonders”) wat na hulself as “one” verwys (soos die Koningin); en meisies met oorbelle waardeur opgeskote Maltesers kan spring en platgelekte kuiwe, wat na elke sin “innit” en “know wo’ I mean?” sê (soos David Beckham).

Kannetjie kan maar ontspan.

(Litnet 2003)