Friday, May 14, 2004

Witamy naszych polskich przyjaciól w europejskiej rodzinie

(Welcome into the warm family of European nations, my esteemed Polish comrade)

Op 1 Mei het 10 nuwe lande by die EU aangesluit. Daai dag het dit 'n bietjie soos met SA se eerste demokratiese verkiesing gevoel. Die groepies blas Oos-Europeërs wat deur die strate loop en sing, en die groepies wittes wat met onsekerheid en 'n ligte paniek na hulle staar. Vroeg in Mei reeds was daar aansienlik meer Oos-Europeërs op die busse en treine. Hulle lyk merkwaardig baie soos Suid-Afrikaners. En reageer ook nogal dieselfde. Partykeer as een op die telefoon praat, sien jy op 'n ander plek in die bus twee ander wat vinnig vir mekaar kyk, en glimlag en probeer hoor wat daardie een sê. Net soos wat die Suid-Afrikaners doen. En as die foon lui en hulle voel nog nie so vertroud met die Engels nie, bloos hulle ook diep rooi, gryp met hul hande in die lug na woorde, en sug uitasem as die gesprek verby is.

Ek wonder net - as die Engelse sukkel om Lalla of Ronel te sê, hoe gaan hulle maak met Ksawery Duhacek of Alojzy Djindjic?

(Klets - Mei 2004)

No comments: