Showing posts with label satimes. Show all posts
Showing posts with label satimes. Show all posts

Tuesday, June 17, 2008

Die spreekwoordelike druppende kraan is fris en gesond (en werk vir Transport for London)

Ek voel toenemend geïrriteerd met die magdom onnodige inligting waarmee ons daagliks op die openbare vervoerstelsel bombardeer word.

Dis nie dat ek 'n probleem daarmee het om al wat 'n gap is te mind nie, maar ek wil nie 120 keer daaraan herinner word voordat ek my bestemming bereik nie. Dalk is die waarskuwings vir blinde mense bedoel, maar is dit nie soos om elke paar minute Wolf! te skree nie? Die meeste blinde reisigers weet seker ook by die tyd dat weinig van die gaps enigsins noemenswaardig is, so dit kan 'n probleem afgee as hulle byvoorbeeld op 'n dag op 'n Central lyn trein sit, wat ooswaarts ry, en besluit om by Bank af te klim - onwetend dat daar 'n gapende afgrond tussen die trein en die platform is.

Staan links, moenie rook nie, hou jou kaartjie gereed… Dit hou nooit op nie. As die trein vir 'n paar minute tussen stasies staan, hoor ons elke 45 sekondes by Die Hulpvaardige Treindrywer hoe jammer hy vir ons ongerief is. Sy kamptig simpatieke rympie klink later asof hy dit aframmel terwyl hy tergelykertyd ook die oggend se blokkiesraaisel invul én in sy neus krap.

Sedert die begin van die maand word dit ook orals verkondig dat ons nie meer op openbare vervoer mag drink nie. Die doel van die nuwe beleid is waarskynlik om anti-sosiale gedrag te bekamp. Maar as Boris en sy trawante meer tyd ondergronds spandeer het, sou hulle besef die meeste mense met anti-sosiale gedrag kan inderdaad by 'n drankie of twee op die trein baat. Die nuwe reël mag dalk wel die teenoorgestelde uitwerking hê, en mense forseer om onderduims op te tree. Nou die dag op die trein sit ek oorkant 'n sakeman wat sy bier skelm uit 'n Threshers-sakkie drink, en dit dan onder sy stoel wegsteek. Toe hy my oog vang was dit asof hy effens uitdagend wou wees. "Ek's nie een van die kudde nie!" - dís wat hy sou sê as hy (Afrikaans) kon praat. Maar 'n mens mag mos net na 10nm op die trein praat – as jy eers 'n paar drankies in het.

Wat my die meeste grief is die eentonige afkondigings op die bogrondse treine. Elke minuut rammel Die Stem al die stasies op jou roete af. Whatever!, wil ek skree. Ek is siek en sat vir die gekerm. Hulle kan mos die bestemming aankondig sodra die trein begin briek?

Vermoedelik wil hulle mense genoeg tyd gee om seker te maak hulle vergeet niks op die trein nie, want daaraan word ons óók tot vervelens toe herinner. Maar het enigiemand al ooit iets onthou as hulle daardie boodskap hoor? Nee! Anders sou daar nie jaarliks 170,000 items by die kantoor vir verlore eiendom in Baker Street ingehandig word nie – insluitend: grassnyers, vals ledemate, 'n sak vol mens-skedels, £10,000 kontant, 'n boot, bors-implantings, dooie vlermuise, 'n doodskis en my Crunchy Nut Cornflakes.

Hoekom vergeet mense al hierdie goed? Want niemand luister na 'n nimmereindige geteem nie, dís hoekom!

Dit verklaar tog waarom regerings-amptenaar twee keer in een week konfidensiële dokumente op treine gelos het. Een was bestempel as "UK top secret" en elke bladsy was gemerk "For UK, US, Canadian and Australian eyes only".

Ek verstaan nie hoe iemand soiets op die trein kon uithaal nie. Ek's sekerlik nie die enigste mens wat oor ander mense se skouers lees nie? En omdat dit nie vir mý Suid-Afrikaanse oë bedoel was nie, sou ek dit juis lees. Die man het dalk probeer om huiswerk op die trein te doen, maar toe kan hy nie een van die gratis koerante weerstaan nie. (Wie kan!) Intussen het hy seker ook gesukkel om sy bier in 'n Threshers-sakkie onder sy stoel weg te steek. Gevolglik was hy nie by sy volle positiewe nie en vergeet toe sy werk op die trein.

Of dalk het hy na sy iPod geluister en nie die afkondiging gehoor nie. Want, sien, die alewige gekerm is direk vir iPods se gewildheid verantwoordelik. Dis die volwasse weergawe van dwarstrekkerige kinders wat hulle vingers in hulle ore druk en hulle koppe swaai en skree Na na na na naaaa, kan jou tog nie hoor nie...
(SA Times - Junie 2008)

Tuesday, January 15, 2008

Om krank te bly

Ek dink nie een van julle het 'n idee hoe dit voel om 'n rubriek uit jou duim te suig terwyl jy die Ebola-virus onder lede het nie.

Ek, daarenteen, weet baie goed, want dit is presies waarmee ek op hierdie oomblik besig is. Teen die tyd dat julle hierdie storie lees, het my koors hopelik al gebreek. Mens kan net hoop.

En hoe weet ek wat ek makeer? Wel, ek moes navorsing doen vir 'n onderwerp om oor te skryf, maar toe tik ek eers in Google: "eyeballs hurt". Want vanoggend toe ek opstaan kon ek nie my oge draai sonder om te vergaan van die pyn nie. Niemand sal na my gekerm luister nie (want my ma het ons geleer: huil en jy huil alleen), so toe wend ek my maar oudergewoonte na Dr Google vir empatie.

Die diagnose was binne sekondes beskikbaar – 0.16 sekondes, om presies te wees – en daar was 'n hele paar opsies om uit te kies.

Een resultaat was: "Courtney Love makes my eyeballs hurt."
Ek weet vir 'n feit dis nie my probleem nie, want ek het Courtney in geen tye gesien nie. 'n Ander resultaat was dat ek dalk te veel rekenaarspeletjies gespeel het. Ook onmoontlik
Iemand se raad was: "if your eyeballs hurt when you move them, then you are paying the price of not resting and enjoying yourself enough".
Dis die mees absurde opsie van almal. Ek doen vir die afgelope paar maande, nee, jare niks behalwe om te rus en myself te geniet nie.
Die oorblywende opsie is dat ek die Ebola-virus onder lede het – al het ek net vyf uit die twaalf simptome.

As jy hierdie storie op die tube lees, is jou gesig vermoedelik nou vertrek van angs vir my onthalwe. Toemaar, ek sal OK wees. Ek weet ek moet eerder rus. Maar ek het gedink ander mense kan dalk hieruit leer. Ag, en moenie bang wees dat jy dit kan kry nie. Die kans is glo goed dat Ebola jou van kant maak voordat jy iemand kan aansteek. Maar ek glo ek sal dit oorleef. Ek het immers 'n paar jaar gelede (sonder enige dokter) deur 'n slegte aanval van Legionnaires disease geworstel. En voor dit het ek ook al (met Google se hulp) my breinvliesontsteking en malkoeisiekte betyds gediagnoseer.

Maar dankie vir julle onferming! Ek's diep geraak. Sommige mense het net nie soveel simpatie nie. Vanoggend sê my man (wat skielik baie rustelose energie het sedert hy ophou rook het): "Wat gaan ons vandag doen?"
Ek: "Niks?"
Hy: "Kom ons gaan bowling alley toe."
Ek: "Ek's SIEK!"
Hy: "So? Kom ons gaan. Dis my enigste af dag."
Ek: "Nee."
Hy: "Kom ons gan eet dan iets?"
Ek: "(Sug.) Ek moet seker eet."
En terwyl ons deur 'n Pool-wind langs die Teems loop, kon ek hom darem uiteindelik (in 'n huilstemmetjie) oortuig dat eet genoeg van 'n aktiwiteit is vir iemand in my toestand.

Dit het my aan die volgende insident herinner: 'n Paar jaar terug het ek bosluiskoors gehad (regtig!). Dit was 'n verskriklik affêre. Ek kon vir dae nie my ledemate beweeg nie. En verder het die medikasie my naar gemaak en die angswekkendste nagmerries gegee. Die ou met wie ek toe nog uitgegaan het, sê een middag: "Kom ons gaan stap bietjie met die honde. Die vars lug sal jou goed doen."
Ek was nie oortuig nie, maar dag ek sal probeer. Hy't 'n geweer saamgevat. (Ons het op 'n plaas gebly.) Ek vermoed dit was 'n haelgeweer, want nie 50 meter van die huis af nie toe stop hy my 'n leë blik in die hand en skree: "GOOI!"
"Wat?" sê ek. "Is jy mal! Ek het bosluiskoors! Ek kan enige oomblik in 'n koma gaan!"
"Toe, gooi nou", sê hy terwyl hy korrel. "Gooi!"
Toe gooi ek maar, so swak soos wat ek is.
"Uhm, kan jy probeer om dit meer in die lug in te gooi", vra hy. "Hoe anders gaan ek dit skiet?"
"Ek dink ek is besig om te hallusineer", sê ek. "Jy's nie ernstig nie!"
"OK, gooi net drie keer ordentlik, dan kan ons weer huistoe gaan."
Ongelooflik! Veral dat ek hóm nie met 'n blik gegooi het nie. Maar hy het vermoedelik iets in die vorm van aandete belowe wat ek nie kon weier nie.

Nou wonder julle seker hoekom ek na Google hardloop met my probleme en nie na 'n regte dokter nie?

Soos ek vroeër genoem het, mens kry net nie die nodige simpatie by hulle nie. Ek het eenkeer dokter toe gegaan met 'n mangelontsteking reg uit die hel. "Gorrel met sout," seg die dokter toe vir my. "En drink vitamine C en selenium. Jy sal dit maak."
"Kan jy nie sien ek het drugs nodig nie!" het my oë gepleit. Maar nee, sy kon nie. Kwak!

'n Ander keer het ek kwaai pyne net bo my regterboud gekry terwyl ons in een of ander kroeg rondgestaan het. Toe ons by die huis kom, het almal aangekuier. Maar ek het myself verskoon, en grootoog in die donker gaan lê en gewonder of ek ook soos my oumagrootjie (wat 97 geword het) voluit met een nier sou kon lewe.
Toe ek die dokter gaan sien, sug ek vreeslik en sê: "Dis my nier. Ek's bevrees daar's 'n familiegeskiedenis."
"Wys weer waar dit pyn" sê sy. En ek wys.
"Het jy onlangs oefening gedoen?"
"Ja." (Ek't vir die bus gehardloop.)
"Het jy lank iewers rondgestaan?"
"Ja." (Die kroeg.)
"Wel, jy't 'n spier seergemaak," sê sy. "Jou nier sit nie daar nie."
Ek wou nog iets sê van "daar's altyd 'n uitsondering, jy weet" maar loop toe maar eerder.

Monday, November 26, 2007

Oor Eng Mense (en Heilige Koeie)

Ek het 'n vriendin wat ly aan koumpounofobie: 'n vrees vir knope. Sy sal byvoorbeeld nie 'n hemp met knope dra tensy sy dit oor haar kop kan aantrek nie. Haar ergste nagmerrie, so het sy altyd gesê, is 'n glasbak vol los knope op 'n basaartafel. (Wag tot sy in 'n nou stegie in die Pearly King of Queen vasloop!)

In die pre-Google dae het ons nie geweet daar is iets soos koumpounofobie nie. Ons het net gedink ons vriendin is effens eksentriek en het haar, nadat sy ons daarvan vertel het, vir ten minste 'n maand aanhoudend daaroor geterg.

Eenkeer wou sy R5 by my leen. Toe sit ek dit onder 'n los knoop net om haar reaksie te toets. "F*k jou", sê sy toe, en stamp die knoop met haar elmboog af. "F*k jou gerus!" Sy was beslis nie geammuseerd met my gedrag nie. En nadat ek klaar gegiggel het, het ek self besef my kanse om die Nobelprys vir Vrede te wen is lelik beduiwel.

Al was my vriendin oortuig knope is euwel, moes sy eenvoudig aanvaar dat weinig ander mense 'n probleem daarmee het. Gevolglik, as 'n sekere meisie met 'n trui wat versier was met enorme helderkleurige plastiekknope voor haar in die klas gaan sit het, kon sy nie veel doen nie. Sy kon daarin vaskyk en vir veertig minute tot in haar tone gril. Of sy moes skuif.

So is daar baie ander fobies waarmee mense daagliks agter die skerms worstel. Maar lyk my diegene wat ly aan hexakosioihexekontahexafobie ('n vrees vir die getal 666), dra nie graag hul kruis in stilte nie.

Bykans 'n maand gelede, het Deon Maas in 'n rubriek in Rapport ("Die Deon Maas Blad: 666 is net ‘n syfer") geskryf dat "Satanisme ’n godsdiens is en dat ons Grondwet bepaal dat almal die vryheid het om die godsdiens van hul keuse te beoefen".
'n Week nadat die rubriek verskyn het, het Rapport ongeveer 450 georkestreerde, gedupliseerde briewe ontvang. Uit protes teen die rubriek, het godsdientige groepe (wat gemeen het Maas propageer Satanisme) 'n kuberveldtog begin, waarin gevra is dat die koerant geboikot word. Hulle het ook gedreig om supermarkte wat Rapport verkoop te boikot, en daar was sprake dat hulle ’n afleweringsvoertuig sou kaap en verbrand.

Om die volk se kollektiewe maagwerk onder bedwang te bring, het Rapport se redakteur, Tim du Plessis, besluit om Maas se kort aanstelling by die koerant te beëindig. Volgens Du Plessis was dit in die koerant se kommersiële belang om onder die druk te swig en die rubriek op te skort.

Daardie groep lesers (wat nie eens almal die rubriek gelees het nie) is natuurlik hoogs in hulle noppies, want hulle het gesien wat hulle kan vermag as hulle 'n bietjie hulle kouse optrek en hul stem dikmaak. In die proses het Tim du Plessis baie respek verloor - hoofsaaklik omdat hy aanvanklik die rubriek goedgekeur het, en hom toe nie later by die skrywer geskaar het nie.

Ek begryp dat Tim dalk nie 'n keuse gehad het nie. Sy Naspers-aandele is seker meer werd as sy joernalistieke integriteit. Maar ek kan steeds nie die lesers se absurde reaksie verstaan nie. Hoekom het hulle so oorreageer? Is dit 'n onnatuurlike Vrees vir God?

Indien wel, sou ek dit verstaan – want dit het my aan 'n voorval in my Sub. A-jaar laat dink. Ek het altyd 'n formidabele respek vir gesag gehad. Eendag het die Juffrou ons klas vir 'n kwartier alleen gelos. Almal het eers gefluister, en toe begin rondloop, en uiteindelik begin skree om gehoor te word. Alle hel sou losbars as sy trugkom – dit was gewis.
Toe hoor ek die Juffrou se voetstappe, en seg met perfekte tydsberekening "Bly nou stil, julle!" net toe sy by die klas instap.
Almal het gelag, want hulle het deur my slinkse gatkruiper-plannetjies gesien. Toe roep sy almal om voor die bord te gaan staan, sodat sy elkeen 'n hou met die liniaal kon gee. "Nie jy nie", sê sy toe vir my, "ek het gehoor hoe jy hulle probeer stilmaak het". Ek was nog nooit so spyt om 'n pak slae vry te spring nie. Ek het wel punte gewen by die gesag, maar ek kry nou nog skaam as ek daaraan dink.

Die storie is nie regtig relevant nie, maar ek wonder of dit verklaar hoe hierdie mense oor God voel: dat hulle as Christene voorgetrek gaan word as hulle mense wat anders dink op só 'n manier aanvat?

As hul reaksie nie deur 'n ontsaglike vrees vir God se toorn gedryf is nie, was dit dalk brandgestoot deur 'n heilige vrees vir die hel self (hadefobie)? Want, soos die bergies se kinders (en my vriendin met koumpounofobie) altyd skemeraand gesing het: "Soe, soe dis warm da' – dis warm innie hel."

Dis jammer die rubriek kon nie bloot 'n gesonde debat oor die onderwerp aan die gang kry nie. Dit is tog net iemand se opinie, waarmee niemand hoef saam te stem nie. Wat lesers ook nie besef nie, is dat dit geen maklike taak is om week na week 'n oorspronklike rubriek van 1000 woorde te skryf nie. Veral wat ons weet het Maas 'n paar uur voor sy deadline nog nie 'n idee gehad waaroor om te skryf nie, toe gryp hy sommer 'n nuusberig wat sy oog gevang het, en probeer daarop voortborduur. Sy storie het heel grappig begin. Maar toe het hy nog 850 woorde oor waarin hy 'n oorspronklike-rige idee, op 'n uitdagende manier moet aanbied - want dit is hoekom Rapport hom aangestel het. Op geen stadium het hy Satanisme na 'n aanloklike alternatief laat lyk nie. Maar om 'n punt te maak, gaan 'n rubriek soms iemand omkrap. (Verkieslik nie iemand wat in sy vrye tyd 'n professionele jagter is nie!)

Daar was nog altyd 'n paar taboe-onderwerpe tussen mense wat wil vriende bly: politiek, rugby en godsdiens – hierdie drie; maar die grootste hiervan, blyk dit, is die godsdiens.
En in Maas se geval was dit dalk 'n kwessie van "Niemand vat aan ons godsdiens nie – maar veral nie jý nie!".

So wat sê Maas oor die bohaai?
"Ek kan nie goedkeur wat Tim gedoen het nie, maar ek verstaan dit."
Hoe edel! Dalk omdat hy intussen opgeraap is deur 'n ander Media24-koerant, Sondag, wat "gemik is op 'n groep lesers wat nie deur die bestaande Sondagkoerant Rapport bereik word nie".

En Rapport se reaksie? Hulle gaan vir al hulle lesers What Would Jesus Do-armbandjies vir Kersfees stuur.

(SA Times, Nov. 07)

Saturday, November 17, 2007

Nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer

More4 het verlede week 'n omstrede dokumentêr oor misdaad in Suid-Afrika uitgesaai. Die program, getiteld Murder Most Foul, is aangebied deur die Suid-Afrikaans gebore akteur Antony Sher, en bevat glo (want ek het dit nie self gesien nie) ontstellende tonele wat die geweld in Suid-Afrika uitbeeld. Dit ondersoek ook spesifiek die moord op 'n jong Suid-Afrikaanse akteur, Brett Goldin.
Sher het van Goldin bewus geraak toe laasgenoemde in 2006 in Stratford-upon-Avon in 'n Baxter Teater-produksie sou optree, maar nooit opgedaag het nie, omdat hy kort voor die geselskap se vertrek na Engeland vermoor is. Hy en 'n vriend is ontvoer kort nadat hulle 'n partytjie verlaat het. Hulle lyke is die volgende oggend in Mowbray ontdek: beide was kaal, vasgebind en in die agterkop geskiet.
Sher skryf die afgelope naweek in die Guardian dat Goldin se moord hom diep geraak het, omdat dit netsowel hy kon wees, 40 jaar gelede: 'n jong, ambisieuse Suid-Afrikaanse akteur, oppad na Engeland.
Dit het later 'n obsessie by Sher geraak om agter die motief van die moorde te kom. En hy's saam met sy vriend, Jon Blair, Suid-Afrika toe om dit te gaan ondersoek. (Dit blyk Goldin was bloot op die verkeerde tyd op die verkeerde plek.) Hulle moes uiteindelik vroeër na SA reis as wat hulle beplan het, want daar was sprake dat Denise Goldin, Brett se ma, so erg getraumatiseer was deur sy dood, dat sy dit nie sou oorleef nie. Sher het ook haar man Peter en dogter Samantha ontmoet, en skryf: "They both had the same look in their eyes as Denise: a particular, dark tiredness."
Beide Blair en Sher was destyds aktief betrokke in die stryd teen apartheid, maar albei het gevoel dis nou tyd om iets te sê oor die misdaad-statistiek – soos dat daar 18,500 moorde was in 2006, in vergelyking met 750 in England en Wallis.
Ek het self nie die dokumentêr gesien nie, maar het in 'n hele paar Suid-Afrikaanse blogs daarvan gelees. Die meerderheid van die bloggers se reaksie was iets in die lyn van: ons hou nie van wat ons sien nie, en sou ook nie wou hê ons oorsese vriende moet dit sien nie; tog, ons het afgestomp geraak oor misdaad en, ja, miskien sal so iets ons weer laat wakker skrik.
Ek's verstom dat mense sê hulle is afgestomp. Ek kan regtig nie gewoond raak aan die stories wat ek daagliks lees nie. Lees mense dalk bo-oor dit, omdat hulle andersins sou mal raak as hulle empatie moes toon met elke enkele slagoffer in die koerante? Is mense afgestomp want hulle vermoed hulle beurt kom nog, en dat hulle dán daarmee sal deal?
Dalk. Daardie "particular, dark tiredness" wat Sher in Denise Goldin en haar gesin se oë gesien het, is presies die gevoel wat ek ook kry as ek Suid-Afrikaanse koerante lees. Miskien lees ander mense dit eenvoudig nie meer nie.
Maar as gewone mense afgestomp raak oor die misdaad, hoe kan ons die regering kwalik neem as hulle die probleem ontken?
'n Ander stelling wat 'n hele paar van die bloggers maak, is: ons almal moet/wil iets doen. In die verlede het ons gewag en gepleit en gehoop. Maar mense is gatvol. Almal voel brandgestoot om self iets te doen.
Die dokumentêr was Blair en Sher se "iets". Sal dit 'n verskil maak? Wie weet. Maar ten minste laat dit mense oor die probleem praat.
Die probleem is dat die meeste van ons nie weet waar om te begin of wat om te doen nie. Dalk het ons inspirerende leiers nodig – soos 'n jong Steve Biko – om die regering aan te vat. Of mense wat vir ons kan sê hoe en waar om 'n verskil te maak. Maar is daar genoeg van 'n motivering om vir iets te veg? Of moet ons eerder nog van ons "vryheid" verloor?
In die Guardian skryf 'n 39-jarige Burmese man na die afgelope week se optogte in Rangoon: "I woke up feeling more depressed and less optimistic than I have all week, but I felt it was my duty to carry on protesting. I was frightened, but aren't we all? If everybody hid indoors, nothing will ever change, and we will never be able to draw attention to the hopeless situation our country is facing. I need to stand and be counted."
Ongeveer 3000 mense is tydens die laaste groot optog in Burma in 1988 deur regeringstroepe vermoor toe hulle 'n verandering in die regering geëis het. Wat keer ons?
Baie van ons wat oorsee is sou dalk minder ongeërg wees as ons nie kon staatmaak op 'n alternatiewe paspoort nie. En die mense in Suid-Afrika wat so handjies gevou sit? Dink hulle dis maar net nog 'n gevolg van apartheid wat hulle moet verduur? Dit is dalk, maar dit skeld nie die regering vry van hulle plig om na hulle mense om te sien nie.
Ek was 'n paar weke gelede by die optog wat Act4SA gereël het. Almal wat daardie dag daar was, het begeesterd daar weggegaan. Dit sou lekker wees, maar onprakties, om elke Saterdag in die Strand af te stap. (Zimbabwiërs hou al vir vyf jaar lank op Saterdae 'n vigil buite Zimbabwe House.) Maar daar's derduisende ander projekte om by betrokke te raak, byvoorbeeld Starfish, Habitat for Humanity, ens. – en ek moet tot my skaamte erken ek het eers regtig na die optog begin notisie neem.
Persoonlik voel ek geïnteresseerd om betrokke te raak by Nicro se werk in tronke en met die jeug. Want soos my ma altyd gesê het: as jy al die energie wat jy gebruik om kreatiewe verskonings uit te dink om jou verpligtinge te vermy, in jou skoolwerk sou aanwend, wie weet wat jy kon vermag!
Na Brett Goldin se dood, het die Royal Shakespeare Company (RSC) en die Baxter 'n beurs gestig, sodat 'n jong Suid-Afrikaanse akteur jaarliks Brett se droom kan volg, en na Engeland kan reis vir opleiding by die RSC.
Die eerste ontvanger, Omphile Molusi, het onlangs sy tyd in Stratford voltooi. Sher skryf in die Guardian dat toe Molusi die dokumentêr by die RSC sien, het hy heeltyd sy oë toegehou. Toe Sher hom vra of hy identifiseer met die slagoffers, sê hy: "Nee, nee, met die gangsters. Ek was vir 'n rukkie een van hulle – tot ek die teater ontdek het."

(SA Times, 1 Oct 07)

Thursday, August 09, 2007

Oor klippe en glashuise

[Hierdie is n bogstorie van epiese proporsies. Ek pleit sonsteek.]

Ek wil ’n waarskuwing wat Voetstoots van Tonder vroeër vanjaar in hierdie koerant geopper het herhaal: moet op prinse nie vertrou nie. As jy ’n held wil hê, laat dit verkieslik ’n fiktiewe een wees, soos (in Voetstoots se geval) Fritz Deelman of (in myne) Pippie Langkous.

Die ding is, almal probeer jou om elke hoek en draai bevark. Die een oomblik ry jy nog sewe dae te perd, met vier ham-en-kaas toebies en ’n paar hardgekookte eiers, agter jou gunsteling span of speler aan; die volgende oomblik hoor jy die ware verhaal en moet jy druipstert huis toe ry met die wete dat jou kosbare belegging van tyd en emosies minder werd is as ’n Zimbabwiese dollar.

Vir die meeste Suid-Afrikaners is die voorbeeld wat uitstaan bo alle ander die dag toe Hansie sy "oë van Jesus afgehaal" het. Maar die afgelope week alleen was daar die storie met die tennis, waarin dit uit ongereelde weddenskapspatrone geblyk het asof sekere inligting oor ’n tennisspeler se mediese toestand, en gevolglik die waarskynlike uitslag van die wedstryd, voor die tyd versprei is.
Die speler was vermoedelik nie self betrokke nie, maar – en dis die belangrike deel – dis 'n moontlikheid. En iewers in die land moet ’n jong seuntjie nou sy Huisgenoot-plakate van Davydenko van die mure afruk.

Die verneukspul is natuurlik nie beperk tot sport nie. In Julie het ons gehoor hoe mense deur die BBC, ITV, Channel 4 en Five se radio en TV-inbelprogramme mislei is. Dan was daar die dokumentêre programme waarin sekere insidente vir dramatiese effek omgedraai is, of selfs opgemaak is.

Die waarheid het natuurlik nog nooit in die pad van ’n goeie storie gestaan nie. In ’n dokumentêr wat destyds oor Suid-Afrikaners in Londen gemaak is, is Elzabet gevra of sy al dagga gerook het.
"Moenie hierdie uitsaai nie," seg sy toe, "maar ja, ek het al dagga gerook. Een keer in Amsterdam."
Dit is geredigeer tot: "Ek het al dagga gerook."
Die effek was baie beter, natuurlik. Maar die skokgolwe wat deur haar klein tuisdorpie getrek het is legendaries – en die dominee se kinders het ook nog nie weer aangebied om vir haar ’n pakkie van haar ma te bring nie.

Geen van die bogenoemde insidente het my werklik in my siel geruk nie. Maar ek moet erken dat dit wat jaarliks in die Tour de France ontbloot word altyd ’n bietjie van ’n gatslag is.

Ek sal nooit ophou om die Tour te kyk nie. Solank as wat ek Sky+ het en die mense vir wie ek skree (Juan Mauricio en Robbie Hunter) "skoon" is, is dit die beste, skou-spelagtigste, eksentriekste sport op aarde.

Maar as jy vir ’n dag lank saam met derduisende mense vir iemand soos Vinokourov skree omdat hy met knieë wat aan steke hang soos ’n stoomtrein (geborg deur Kazakhstan Railway) verby sy opponente storm en ’n skof wen, in die geloof dat jy een van die ongelooflikste voorbeelde van vasberadenheid aanskou het, net om later te hoor hy’s kort daarna gediskwalifiseer is vir die gebruik van opkikkers, dan voel ’n mens tydelik ontnugter.

Ek is nie Vino se grootste aanhanger nie – hy sal immers nooit die podium haal in die Meneer Joviaal-kompetisie nie – maar mens moet respek hê vir sy vermoëns. Nou (as ons dramaties wil wees), hang daar deur sy eie waansin ’n wolk van suspisie oor sy hele loopbaan.

Ons almal vat kanse, dis net of jy daarmee kan wegkom wat saakmaak – as die hulpmiddels wat jy gebruik ’n stappie voor die toetse is. Wie, inderdaad, het nog nie vir ’n ander ’n vuilstreep getrek om self voor te kom nie?
Ek het in Standard 2 my beste vriendin se breipen gevat, want die kwaaiste juffrou in die skool sou my sweerlik onthoof as ek sou bieg dat ek een van myne verloor het. Maar toe, in my plek, rol my vriendin se kop.
Ek sal nooit die kyk in haar verwarde blou oë vergeet terwyl sy na my twee breipenne staar wat glad nie bymekaar pas nie.

Daar geld natuurlik verskillende toetse vir verskillende mense. Dis goed en wel dat JK Rowling vir Star Wars en Lord of the Rings naboots, en sy mag espressos drink tot die son opkom om haar volgende deadline te haal, maar kaffeine is eers sedert onlangs ’n wettige hulpmiddel in fietsry.

In sekere sporte mag jy ook meer hulpmiddels gebruik as in ander. En in die meeste is daar nie naastenby soveel toetse soos in fietsry nie. Gevolglik is dit dalk een van die skoner sporte – wie weet.

Die gebruik van opkikkers in die Tour de France bestaan al ongeveer sedert die begin van die resies ’n eeu gelede.
Vroeër was dit vermoedelik meer om die pyn te verdoof as enigiets anders, want destyds moes hulle dikwels langer roetes (ongeveer 2500km) oor ’n korter periode (in ses skofte, sommige deur die nag) in een rat aandurf.
In die vroeë 1900's was die hele resies soos iets uit ’n Wile E Cayote en Road Runner cartoon: die bewonderaars het spykers gelos in die pad van hul gunstelinge se teenstanders; baie van die deelnemers het vir ’n deel van die roete op ’n trein gespring of geryloop; en teenstanders het mekaar probeer vergiftig.

Toe dinge te erg raak, wou die organiseerders die resies kanselleer, maar hulle besluit toe eerder om die reëls strenger te maak.

Die roete was later 5 500km lank, met talle nagskofte. Ryers mag nie hulp ontvang het om wiele om te ruil of fietse reg te maak nie. Hulle moes so te sê met drade en stokke wat hulle in die veld opgetel het hulle eie fietse regmaak. Hulle kon eers in die laat 30's fietse met ratte begin gebruik. Stel jouself bietjie voor hoe jy by die Alpe opry met ’n plaasfiets.

Die eise wat aan die ryers gestel is, was geweldig – nie net deur die roete nie, maar ook deur borge en bestuurders. En dit het indirek daartoe gelei dat die Britse ryer, Tom Simpson, in 1967 op Mont Ventoux beswyk het. Deels aan hitte-uitputting, maar ook aan ’n dodelik kombinasie van amfetamines en alkohol.

Dit is toe wat die toetsery in fietsry begin het. En sedertdien word daar onverpoosd vir ’n skoner Tour de France baklei.

So, vir enigeen van julle (belastingontduikers, roofkopie-besitters of straatnaamdiewe) wat iets te sê het oor die sogenaamde "Tour de Farce" – speak to the hand.

(SA Times, 8 Aug.)

Monday, July 09, 2007

Allez Tour de France!

You would have had a hard time deciding what to do this past weekend, what with Wimbledon, Live Earth, the British Grand Prix, Henley Regatta and the Tour de France all happening in or near London.
Being spoilt for choice is, of course, what makes this city great. And even though it can take me an hour to decide which cereal to buy, the choice for me this weekend was an easy one. It couldn’t have been anything but the Tour de France. I’ve been watching it on TV for years and, as some of you may know, once you’ve watched a Tour on TV, you’re hooked. It’s probably a good way of learning what it’s all about, but to then experience it in real life, on our doorstep, was a rare opportunity.
It’s a great honour to host the Grand Départ of the Tour de France and London truly pulled it off. The whole weekend was spectacular – helped greatly, perhaps, by the fact that Summer 2007 also fell over those two days.
Watching the Tour in real life usually means hanging around for hours, only to see the cyclists whizz by in two seconds (or less). So the main thing is really to soak up the atmosphere – and, with well over a million spectators travelling to the event, there was plenty.
I was fortunate enough to be let into the village départ (begging will get you everywhere!), which is where you can watch the cyclists as they’re warming up.
Even watching them do all the work can be quite exhausting, so I wandered over to where the VIPs hang out and where the corporate entertaining takes place. Scoffing muffins and slush puppies to recuperate, I caught a contortionist act by two dead ringers for the Cheeky Girls. It would be fair to say I could probably ride the 7.9km time trial prologue route in under nine minutes before I could ever do what they did. It looked positively excruciating.
I never dreamt that I would see the Tour in real life (kidding – of course I did!). Or that, when I finally did, a South African rider (Robbie Hunter) would be leading one of the teams (Team Barloworld). And so, last week, I wrote in a column for this paper that it would be a crying shame if there were no South African flags along the prologue route. But I needn’t have worried. I met a group of Saffas, with a flag, who told me the Union Jacks were far outnumbered by our flag.
Robbie, the first South African to ride and finish the Tour, also mentions this in his online diary, saying: "The other thing that was great was the amount of SA flags flying around the roads.
I heard London was half South African, but now I really believe it.
Let’s hope the support carries on throughout the Tour all the way to Paris."

You can read Robbie’s Tour diary at www.robbiehunter.net.

(SA Times, 9 July 2007)

Wednesday, July 04, 2007

Laat wiel

As jy my toevallig sou sien terwyl ek tydens, seg maar, die Cape Argus-fietstoer op my Bianchi-resiesfiets verby jou jaag, sal jy dink: híér het ons te doen met ‘n formidabele fietsryer. ‘n Toonbeeld van onstuitbare krag en (bykans) ongelooflike long-kapasiteit. ‘n Inspirasie vir enigeen wat hoop om eendag van hul sywieletjies ontslae te raak.

Ag, ek jok sommer. Jy sal (ongelukkig) presies die teenoorgestelde dink. Wat dalk verklaar hoekom - as ek deesdae my mond oopmaak om te praat - mense kriewelrig raak en flouweg begin beduie, asof hulle wil sê: hoor jy daai kar-alarm wat daar afgaan? Dis myne! En hulle dan uit die voete maak.

Jy sien, vir die afgelope maand of wat het ek net een ding op die brein – die Tour de France wat Londen toe kom. Dis ál waaroor ek praat. Soms dwing ek myself om oor iets anders te gesels, soos die weer (wat my terloops binnekort gaan breek, so swak is ek van die vitamien D-tekort), maar hoofsaaklik is dit net Vive La Tour De France! van die oggend tot die aand. Mense verstaan nie. Hulle kan dit eenvoudig nie bymekaar bring nie. Dis soos as Mike Schutte obsessief sou begin praat oor Swan Lake wat vir die eerste keer in Pretoria opgevoer gaan word.

Ek begryp die reaksie. Ek kon byvoorbeeld nooit verstaan hoekom Kobus Burger, wat jare gelede in die WP-span was, laslappiewerk doen nie. Ek verstaan dit nou nog nie. Ek weet nie eens of dit waar is nie! Laslappiewerk!? Dit kan mos nie ‘reg’ wees nie? Die man is dan ‘n rugbyspeler! Ons verhouding, of die een wat sou kon wees, was dadelik gedoem.

Nou bly ek eerder stil en deel my entoesiasme met mense wat belangstel. (Hallo? Waar ís julle?) Met dié stilswye, het ek skielik ongelooflik baie tyd om te dink. Ek wens ek kon dit produktief gebruik, maar nou dink ek net aan een ding. Wel, twee. Die fantastiese feit dat die Tour de France Londen toe kom (hoera!). En dan: dat die reën dit gaan ruïneer.

Maar ek het tog ook bietjie probeer vasstel waar dit vandaan kom - hierdie obsessie wat kamtig nie by my pas nie. En ek sou verkies as ons dit nie 'n obsessie noem nie, maar eerder 'n onwaarskynlike belangstelling.

Vir my gaan dit glad nie oor die tegniese aspek van fietsry nie. Almal wat Tour de France aanhangers is (en nie noodwendig fietsryers nie) sal dit beaam. Al weet Ouma Stienie (92) byvoorbeeld wie die afgelope paar jaar in die geel trui (of soos sy sou seg "maillot jaune") in Parys (Frankryk) geeïndig het, is dit nie waarom sy saans vasgenael voor die hoogtepunte sit nie. Nee, die meeste van ons volg die Tour as gevolg van Phil Liggett. Hy was jare gelede, en is seker steeds, die aanbieder van die hoogtepunte wat ons saans op M-Net kon sien. Hy't fietsry toeganklik en vermaaklik gemaak vir die leek. Die program was 'n mengsel tussen 'n reisjoernaal en 'n sport-uitsending. Daar was eweveel eksentrieke humor as intense drama.

Phil het deur die jare 'n kultus-figuur geword. Ek kan byvoorbeeld nie aan die Tour dink sonder om sy stem te 'hoor' nie. En as jy kyk hoeveel webbladsye vol "Liggetisms" daar is, is ek nie alleen nie:
  • "To wear the yellow jersey is to mingle with the gods of cycling."
  • "He's dancing on his pedals in a most immodest way!"
  • "... his legs have turned to rubber and his effort reduced to mere survival."
  • "It's rather like holding back the flood with a little finger."
  • "He's sitting at the back of the peleton nursing an injury. No word on the specifics of the injury but rumor is he has a boil on the you-know-what."
  • "Ullrich is pumping those two pistons he calls legs."
  • "Marco Pantani has crashed and Alex Zulle has followed him in sympathy."
  • "You can see the fire in Pantani's eyes... If it weren't for the sunglasses you could see the fire in his eyes."

    Deur Phil het ons vertroud geraak met hierdie veeleisendste sport in die wêreld. Met 'n roete van 3,000-4,000km, is dit gelykstaande daaraan om verskeie dae 'n week 'n marathon te hardloop, vir drie weke aaneen. Die vertikale afstand wat hulle oor die Alpe en Pirenees klim, is soos om drie keer Everest te klim. Ons het terloops geleer van die etiket binne so 'n resies. En antwoorde vir essensiële vrae gekry soos hoe eet hulle, hoe verlig hulle 'n nood, en so aan.

    Dis nie asof ek 'n fietsry-sluiper is wat al die statistiek van die ryers uit my kop ken nie. Wat ek wel weet is dat dit 'n groot jaar vir Suid-Afrika is. Dis die eerste keer dat 'n Suid-Afrikaans-geborgde span, Team Barloworld, deelneem, met Robbie Hunter (verjaardag: 22/04/1977; lengte: 179cm; gewig: 72kg; rustende harttempo: 38-42bpm; maksimum harttempo: 192bpm; gunsteling kar: Porsche 911 Carrera), een van die wêreld se beste sprinters, as kaptein. Behalwe Robbie, sal daar moontlik ook 'n tweede Suid-Afrikaner – John Lee Augustyn – in die span wees.

    Robbie was verlede jaar in die span wat Floyd Landis gehelp het om die algehele oorwinning te behaal. (Die oorwinning is terloops hangende, aangesien Landis steeds veg om sy naam skoon te kry na verlede jaar se dwelmskandaal - 'n boek waarin hy sy onskuld aanvoer het pas op die rakke verskyn.)
    Hy was ook die eerste Suid-Afrikaner om aan die Tour deel te neem en dit te voltooi. En hopelik word hy vanjaar die eerste een om 'n skof te wen.

    Die Tour de France is die grootste toeskouersport in die wêreld. Een van die redes, sekerlik, is omdat honderde publisiteits-voertuie (die "caravan") daagliks 'n uur of wat voor die peloton uitry, en bykans 15 miljoen freebies langs die pad uitdeel.

    Londen spandeer baie geld om die openings-naweek (wat bestaan uit 'n kort Prologue, en die eerste skof tussen Londen en Canterbury) die beste ooit te maak – hoofsaaklik as advertensie vir die 2012 Olimpiese Spele. As daar op Saterdag, 7 Julie, minder as 2 miljoen mense langs die Prologue-roete is (waartydens jy elke ryer individueel sal kan sien), sal Ken Livingston dit as 'n mislukking beskou. As ek nie een Suid-Afrikaanse vlag daar sien nie, sal ek dit as 'n godskreiende skande beskou.

    (SA Times, 2 July 2007)
  • Monday, February 26, 2007

    Moenie vra nie

    Daar's 'n groot moontlikheid dat julle gaan begin dink ek's die SA Times se deelhuis-korrespondent as ek nog een storie oor die onderwerp skryf. Maar ek is al erger dinge genoem, so ek gebruik graag die geleentheid om vir oulaas iets daaroor te sê.

    Ek en Werner het albei vir minstens ses jaar in deelhuise gebly. Ons het selfs op verskillende tye in dieselfde huis gebly, en uiteindelik ook daar ontmoet. As alles volgens plan verloop gaan ons binnekort uittrek, wat beteken die einde van 'n era het aangebreek. Noodwendig dink ek nou oor wat, indien enigiets, ek in die tydperk geleer het – soos wat 'n mens maar doen voor die volgende fase aanbreek. Ek het dit gedoen toe ek my Mary Jane-skoene en bobby socks vir oulaas uitgetrek het aan die einde van my kleuterskool-loopbaan. Weer op my laaste dag in die laerskool. Aan die einde van matriek. Na my laaste her op universiteit. En nou.

    Een ding wat 'n mens gou in deelhuise agterkom, en seker ewe vinnig vergeet as jy eers daar uit is, is dat ons op 'n sekere, eienaardige manier met mekaar kommunikeer en dat retoriese vrae spesifiek 'n groot rol daarin speel. Dis nie iets wat 'n geweldige indruk op enigiemand hoef te maak nie, en iets wat my sekerlik sou ontgaan as die volgende insident my nie daaroor laat dink het nie:

    In my vorige rubriek (SA Times, 7 Februarie) het ek reageer op 'n berig wat uitsluitlik oor die slegte gedrag van jong Suid-Afrikaners gehandel het. Ek het onder andere gewonder: "… wie is hierdie Charl Vinger-op-die-Pols van Rooyen wat hom met soveel gesag oor die jong Suid-Afrikaners uitlaat?"

    Dit was, volgens my, eintlik 'n retoriese vraag. Maar toe kontak Charl my nou die dag, en sê: "Ék is Charl van Rooyen. Maar wie is jy?" Hy het glo vir Valentynsdag 'n uitknipsel van die rubriek, tesame met die boodskap "Iemand hou van jou" in die pos gekry.

    Nadat ons toe 'n bietjie familie uitgelê het, vra hy of die kwetsende aanmerkings wat ek oor hom gemaak het regtig nodig was. Dít was natuurlik ook 'n retoriese vraag, want ons weet mos dit was, streng gesproke, onnodig. En dit is presies wat ek toe erken. "Dit was onnodig", sê ek. "Ek erken dit." Want ek het mos eintlik 'n probleem met die eensydige beriggewing gehad. Ek is jammer dit het aanstoot gegee, sê ek toe, maar dis 'n rubriek – mense kan seerkry.

    Dis ongeveer toe (dink ek) wat ek begin wonder oor die rol wat retoriese vrae in ons lewens speel. Enigiemand wat al deur hulle werk op 'n Persoonlike Ontwikkeling Deel 1 (Kommunikasievaardighede) kursus gestuur is, behoort te weet dis nie altyd goeie kommunikasie om retoriese vrae te vra nie. Natuurlik wil jy nie altyd 'n antwoord hê nie, maar retoriese vrae beteken dikwels jy insinueer goed wat mense verkeerd kan opvryf - selfs, of veral, as dit waar is. Dis beter om vrae te vra wat antwoorde verg. Dis die volwasse ding om te doen.

    Deelhuis-gesprekke floreer op retoriese vrae. In ander omstandighede gebruik mense soms post-it notes om hul griewe te lug. Maar retoriese vrae is meer subtiel. Ek bespreek graag 'n paar van die gewildstes, asook die antwoorde wat mense daarop sou kon gee (as dit nie implisiet was nie):
    • Wie se skottelgoed is die?

    Ek weet dat jy nie regtig omgee wie s'n dit is nie. Jy wil net duidelik maak dat dit nie joune is nie. Wel, ek het die pan gebruik, maar dit behoort nie aan my nie. Dis tog óns pan. En ek sou dit gewas het, maar iemand het 'n vuil mes daarin gesit, en ek kan fisies nie die pan was voordat die mes nie verdwyn nie.
    • Kan ek van jou melk leen?

    Jy't klaar die prop afgehaal - verwag jy regtig 'n nee vir 'n antwoord? As ek nie hier gesit het nie, sou jy dit in elk geval gebruik het. En dis nie asof jy dit gaan truggee nie, so hoekom wil jy daarvan "leen". Hoekom vra jy nie of jy daarvan kan "kry" nie? Whatever. Help jouself. Ek gebruik in elk geval altyd jou melk vir my Weet-Bix.
    • Moet ons die heeltyd Scrubs kyk?

    Natuurlik nie. Maar niemand anders stel belang in 'n storie waarin moordlustige tamaties die wêreld probeer oorneem nie.
    • Sal een van julle 'n slag die vullissakke uitdra?

    Een van ons? Jy bedoel seker een van hulle? Ek's seker een van hulle sal, eendag. En daarna is dit weer jou beurt.
    • Het iemand daai bier gesien wat in die yskas was?

    Watter bier? Na die sesde een kan ek regtig nie meer onthou wát ek gesien het nie.
    • Is dit soveel moeite om 'n leë toiletrol in die drom te gooi?

    Dis minder moeite (en aangenamer) om 'n dubbeldekkerbus wat 370 kilometer op 'n stofpad gery het skoon te lek as om 'n toiletrol om te ruil. Hoekom vra jy?

    Ten spyte van al die blootstelling wat deelhuis-bewoners daaraan kry, is dit soms steeds verwarrend om tussen regte en retoriese vrae te onderskei.

    Ons het saam met 'n ou gebly wat nooit 'n moordkuil van sy hart gemaak het nie. Hy't verplig gevoel om al sy begeertes en (tot ons spyt) behoeftes met die wêreld te deel. As hy die toilet wou gebruik, moes dit onmiddellik beskikbaar wees – en die hele E17 het gewoonlik geweet wat hy binne die volgende vyf minute móés doen. Dit kan natuurlik 'n probleem afgee as daar net een toilet in die huis is. Eendag het hy weer 'n dringende behoefte gekry terwyl die badkamer beset was. Hy't op en af met die trappe loop en swets, en gesug, en gesweet, en elke paar minute met sy vuis teen die badkamerdeur gehamer.
    Hoe lank nog? het hy gebulder. En: Waddehel maak jy daarbinne? En toe, desperaat: Wank jy?
    Waarop die seun in die badkamer (gedagtig aan sy meisie se toorn) benoud geantwoord het: Moenie vir Sandra sê nie!

    Die vraag waarmee ek steeds sukkel, is menige Brit se gunsteling: You alright?
    Waar sal ek begin? dink ek altyd. Maar voor ek kan antwoord, is hulle klaar om die draai, besig om na iemand anders se welstand te verneem. Hoe lank, wonder ek dan, gaan ek nog daarvoor val?

    (SA Times, Feb 2007)

    Monday, February 05, 2007

    Hulle is nie almal so nie

    Julle het dalk twee weke gelede 'n storie in Beeld of Die Burger gelees oor hoe jong Suid-Afrikaners hier uithaak. In die berig, "Jonges uit SA laat Londen gril", haal die joernalis, Joylene van Wyk, deurgaans vir Charl van Rooyen aan wat beweer "ons kultuur van Christene" is vervang met 'n "losbandige suiplapkultuur waar daar gekyk word met hoeveel skelmstreke weggekom kan word".

    Jong Suid-Afrikaners, meen hy, het hul naam "so sleg hier gemaak met hul growwe gedrag, arrogansie en roekeloosheid dat baie Britse maatskappye nie meer kans sien om hulle aan te stel nie". Poolse werkers word glo eerder verkies.

    Ag, so hoor ons jaar na jaar dieselfde ou storie. Vervang net "Poolse" met Australiese, Brasiliaanse, Hongaarse, of Romeense.

    Ek vermoed Joylene van Wyk is Media24 se nuutste Londen-korrespondent, maar wie is hierdie Charl Vinger-op-die-Pols van Rooyen wat hom met soveel gesag oor die jong Suid-Afrikaners uitlaat? Volgens die berig het hy 'n agentskap genaamd Infinito Travel besit, waardeur jongmense werkvakansies in Londen kon reël. Maar hy's glo so ontnugter deur die jong Suid-Afrikaners se gedrag, dat hy voortaan sy heil as professionele jagter in Suid-Afrika gaan soek. 'n Vinnige Google-soektog sal jou leer hy is (waarskynlik) deesdae die bestuurder van Infinito Safaris, wat jag-uitstappies vir buitelanders reël. En daar, duskant Pretoria, doen hy glo elke aand 'n krygsdans rondom 'n kampvuur nadat hy dawerend Bok van Blerk se song De la Rey gesing het.
    Nie? O, jammer. Ek het maar net aangeneem dis wat al die ontnugterde boere deesdae in Pretoria doen.

    'n Dag nadat Joylene van Wyk se berig in Die Burger verskyn het, het Van Rooyen ook aan geselsprogramme op Cape Talk en RSG deelgeneem. Ek weet nie of dit oorspronklik 'n Sapa-storie was waarop almal toevallig afgekom het nie, en of die radiostasies Charl se telefoonnommer by Joylene gekry het nie. Dalk het hy sommer self die storie begin om terloops publisiteit vir sy nuwe besigheid te doen. Wie weet.

    Wat ek wel wil weet is hoe is dit moontlik dat hy net afskuwelike jong mense hier ontmoet het? Het al die bedagsame en hardwerkende skoolverlaters dan van 1st Contact se dienste gebruik gemaak?
    En hoekom is dit vir hom so 'n issue? As dit ek was, sou hulle gedrag my alleenlik gepla het as ek byvoorbeeld (onwettig) kamers aan hulle onderverhuur het, en hulle nie hulle huur betaal het nie, wat gevolglik dan my planne om, seg maar, 'n Safari-besigheid op die been te bring sou beduiwel het. Of soiets.

    Dalk dra hy maar net normaalweg die wêreld se probleme op sy skouers, en daarom kan 'n mens hom seker sy stellings vergewe. Waarvoor ek my eintlik vererg het, is Joylene van Wyk se eensydige beriggewing.

    Sy haal slegs twee bronne aan. Charl was een. Die ander is 'n naamlose onderwyseres wat reken jongmense maak ons land se naam sleg, want op die moltrein gebruik hulle "die f-woord en spoeg op die platform".

    Verder verwys sy ook na 'n jong man wat anoniem wil bly (daar's altyd een!), wat sê groepsdruk in ’n vreemde land is erger as in jou eie land. “Jy drink maar en rook dagga om in te pas.”

    Ek wil weet waar kry die joernaliste altyd hierdie Mej. Tiener-tipe persoonlikhede? By Heathrow, oppad huistoe? Of gebruik hulle eenvoudig 'n random quote generator vir stories soos dié? Ek oordryf nie veel as ek sê ek sien hierdie aanhaling elke jaar sedert die ontstaan van News24 op News24 nie. F**, jy hoor dit selfs op KykNet.

    Maar ek is self mal daaroor om allerhande wilde stellings te maak. So al dink ek eensydige joernalistiek is onprofessioneel en onverantwoordelik, dink ek tog dit sal gewoon regverdig wees as alle Suid-Afrikaanse koerante voortaan jaarliks 'n variasie op die volgende storie plaas:

    LONDEN. Die afgelope vyf jaar het gesoute Suid-Afrikaanse joernaliste hul naam glo so sleg hier gemaak met hul onredelike gedrag en roekelose beriggewing, dat Media24 almal wat hier was bevorder het.

    Nadat sy uiteindelik nugter geword het, het 'n jong Suid-Afrikaner gesê sy dink baie joernaliste kom nie net hierheen om te werk nie, maar ook om lewenservaring op te doen. "Maar dink jy hulle leer enigiets? Nee, hulle word te gou deur die lekker lewe ingesluk."

    Sy vertel stories wat ’n mens se hare laat regop staan. "Die joernaliste kry gewoonlik 'n drieslaapkamerwoonstel in 'n gegoede buurt soos South Kensington. Maar hulle kan glad nie die vryheid hanteer nie. Hulle kry 'n massiewe toelae om allerhande funksies by te woon, maar mens lees nooit daarvan nie. Hulle verlaat hulle woonstelle alleenlik om Wimbledon-tennis of die Chelsea Blommeskou by te woon. Bewalwe vir die Suid-Afrikaanse sekuriteitswagte met wie hulle noodwendig by hierdie funksies onderhoude voer, beweeg hulle nooit tussen die plebs rond nie."

    'n Onderwyseres (of was dit 'n rekenmeester?) wat nie haar naam wou noem nie, sê: "Nie een van hierdie joernaliste betaal huur nie. Gevolglik kan hulle al hulle geld op drank en dwelms blaas."

    "Verder", sê sy "is luiheid en onnetheid 'n groot probleem. Hulle stories is beslis wat 'n mens morsige joernalistiek sou noem. Boonop is weinig daarvan oorspronklik. Hulle vertaal net artikels wat in Britse koerante verskyn het, of kry 'n paar aanhalings op die BBC!"

    Sy gaan voort: "Ek het nooit gedink ek sal so oor Suid-Afrikaanse joernaliste voel nie. Deesdae sal ek eerder Britse koerante lees in plaas van die k** (jammer, ek kan nie ophou vloek nie!) wat Suid-Afrikaners uit hulle duime suig."

    Sy wil graag hulle base by Media24 waarsku: "Julle dink julle doen joernaliste ’n guns, maar eintlik mors julle net geld. Hulle is nie gereed vir die vryheid nie, en het dit waarskynlik ook nie nodig nie."

    Haar raad is: "Gee liewer vir hulle 'n woonstel in Seepunt en 'n broadband-konneksie. Dan kan hulle sommer daar die Daily Mail op die Internet lees. Dit sou beter wees as wat hulle vir dae aaneen in ontwerper-sokkies deur 'n massiewe woonstel in South Kensington ronddwaal, terwyl hulle hulle oor die lot van jong Suid-Afrikaners in Londen kwel."

    ’n Joernalis wat nie haar naam kon noem nie al wou sy (dis moeilik met twee cocktail-worsies in jou kies), sê groepsdruk in ’n vreemde land is erger as in jou eie land. "Daar's soveel funksies om by te woon. En oral kry jy gratis kos en drank. Mens kan nie help om jouself te vergryp nie. Die lewe hier is een groot partytjie. Oester?"

    (SA Times, Feb 2007)

    Monday, January 22, 2007

    Die Rough Guide oor reisgidse

    Ek het onlangs 'n reisgids gekoop. Maar dit sal nie weer gebeur nie.

    Reisgidse is dalk goed vir agtergrondinligting of toevallige wenke oor gebruike en tradisies, maar nadat ek deur die gids vir Thailand gewerk het, was ek so paranoïes oor alles wat verkeerd kon loop, dat ek eers op dag drie van my vakansie (ná 'n paar Singha-biere) behoorlik ontspan het.

    Ek was oortuig elke tweede Europeër wat naby ons verbygeskuur het wou dwelms in ons rugsakke druk, en dat ons moontlik ons laaste dae saam met kindersmokkelaars en ander torre in 'n Thai-tronk sou deurbring. Dit sou my ook nie verbaas as 'n tuk-tuk (drie-wiel taxi), met 'n I love Farang-plakker op sy truspieëltjie, ons wou ontvoer nie. Dis geen aangename gedagte nie, maar beslis verkieslik bo die ander scenario waarin ek met 'n kombinasie van dengue-koors en maaggriep die vakansie oorwegend op my hurke op 'n Thai-styl toilet deurbring. Ek kon ook voorstel hoe ek hondsdol-troeteldiere met 'n stok van my sou moes weghou, terwyl ek bloedsuiers tussen my tone soek en probeer om nie op pylsterte of giftige slange te trap nie. Dat ek 'n paar ernstige beserings in motorfietsongelukke sou opdoen was 'n gegewe.

    My paranoia is aanvanklik verder aangehelp deur die feit dat almal in Thailand só vriendelik is dat dit amper verdag is nie. Toe besef ek dis Londen wat my so maak. Alles word hier vir jou voorgesê. Staan links. Kyk regs. Hier moet jy gedurig jou handsak vasklou (tensy jy 'n terrie is), en word jy konstant deur een van duisende kameras dopgehou. Jy kan niemand vertrou nie en gevolglik nie vir 'n oomblik ontspan nie. (Of is dit net ek?)

    Reisgidse is seker spesifiek vir mense wat van sulke plekke af kom, want hulle wil álles weet. Ek het besef ek wil nie. Dit maak my net gespanne. Jy sal dit tog weldra uitvind as dit belangrik is. Gevolglik het ek amper my eerste en enigste reisgids vir die spul jong Amerikaners gee wat, die oomblik toe hulle by ons blyplek aankom, alles by die personeel wou weet. Wat's die nooddiensnommer? Waar kan ons petrol ingooi? Hoe lank vat dit om die wasgoed te laat doen?

    'n Groot hoeveelheid inligting in reisgidse (selfs die nuutste uitgawes) is boonop verouderd en irrelevant. Verouderde inligting is vergeefbaar, meestal – die produksie-proses is immers te blameer. Maar dan kry jy byvoorbeeld die volgende onder Algemene Woorde en Frases: "What is this called in Thai?"
    Hoekom sou mens iets in Thai wou vra as jy in elk geval nie die antwoord sou verstaan nie?
    Hulle moes eerder goed insit soos: "Watter deel van die hoender is dit?" Of: "Waar kan ek toiletpapier kry, want ek wil nie my boude met 'n tuinslang skoonspuit en heeldag met 'n nat broek rondloop nie?"

    Die een wenk wat ons lewens sou vergemaklik, was nie in die boek nie: "Laat weet vooraf jou bank jy gaan op vakansie, anders raak hulle paniekerig oor 'n bedrogspul en blok enige verdere onttrekkings." Dis 'n taamlike gesukkel as jy jouself in die middel van die bos, 50 kilometer van die naaste kitsbank, in 'n plek bevind waar kontant koning is.

    Dit sou dalk ook help as daar inligting was oor wat jy op reënerige dae kan doen. Ek praat van emmers reën – nie ligte buie nie. Maar dit sal jy ook tog uitvind as jy daar is en dit vir drie dae aaneen reën. Die antwoord is: daar's nie veel wat jy kan doen nie (behalwe om te kla oor die onregverdigheid). Jy sal gelukkig nooit ver van 'n kroeg af wees nie. En die meeste blyplekke het 'n versameling boeke wat ander reisigers daar gelos het, so jy kan vir ure en dae in jou hangmat lê en lees. Dis gewoonlik dan wanneer tyd se rol onbelangrik raak, en jy vergeet watter dag dit is. (Wat verklaar hoekom soveel mense vir maande of jare daar vashaak.)
    As jy deur die karige biblioteek gewerk het, kan jy altyd na die naaste groterige dorp toe trek, en elke dag (roof-kopieë van) die nuutste films by een van die talle restaurante kyk, terwyl die mozzies jou voete onder die tafel vreet. As jy hardhorend is, of andersins op die onderskrifte staatmaak, gaan dit 'n onbevredigende ervaring wees. Ek weet nie wie vir die onderskrifte verantwoordelik is nie, maar ek wil weet wat hulle rook. Rocky sal byvoorbeeld kla: "I'm so tired." Dan lees die onderskrif: "I'm constipated."

    Hoe langer ons in Thailand was, hoe meer het die reisgids my irriteer, want ek het besef hoe agterdogtig en versigtig dit my maak. Op die ou end was al my verbeeldingrykste vrese (soos gewoonlik) ongegrond. Die enigste wonde wat ek opgedoen het was tydens Thai-massering-sessies.
    Ek wens wel hulle het my teen die legendariese Buckets, wat jy vir ongeveer £2 kan koop, gewaarsku – dis 'n sandkasteelemmer waarin hulle, byvoorbeeld, 'n bottel Thai whisky, Coke en Red Bull met ys meng. Ek weet nie of daar iets in die ys was nie, maar ek vermoed ek sou beter voel na 'n motorfietsongeluk, as wat ek die volgende oggend gevoel het toe ons op 'n rowwe see met 'n boot na die buur-eiland moes ry. Nie. Lekker. Nie.

    Ek reken die beste reisgids oor Thailand is een waarin jy slegs wenke plaas van mense wat 20 jaar gelede Thailand toe is vir vakansie, en steeds daar bly.
    Andersins kan jy alles wat jy wil weet op boodskapborde op die internet kry. Of jy nou wil weet hoe om van Surat Thani tot by Koh Tao te kom, of wil sien wat mense van 'n spesifieke blyplek dink. Al is jou planne hóé ambisieus, daar's altyd mense wat voor jou daar was en dieselfde gedoen het, en pryslose raad soos die volgende kan gee: "Ladies, the dreads you will be tempted to get upon arrival at Khao San Road make you look butt. White girls cannot pull this off, no matter what they think, so please don't try. Of course this is just my opinion, but I know I am not alone. Really, really bugs me."

    Reisgidse is dus vir die voëls. (En mense wat nie ure by die werk op die internet kan spandeer nie.)

    (SA Times, 24 Januarie 2007)

    Tuesday, December 12, 2006

    2000 Dae in ‘n Deelhuis

    In die afgelope vyf jaar het ek saam met ongeveer 60 mense, by sewe adresse, gebly. Dis seker nie ‘n rekord nie, maar ek dink tog ek verdien ‘n medalje vir uithouvermoë.

    Sommige mense vind dalk die blote idee van ‘n deelhuis traumaties, maar glo my, dit was lekker tye. Van die beste. Nie altyd sonder insident nie, maar beslis nooit vervelig nie.

    Maar nou voel dit of die einde van hierdie era binnekort gaan aanbreek. Hoofsaaklik omdat ek dit so wíl, maar ook omdat daar sedert April vanjaar nuwe wette op HMO's (Houses in Multiple Occupation) van toepassing is, wat beteken dat baie mense se deelhuis-dae dalk getel is. (Veral die’s wat ‘n bietjie sku is vir konfrontasie met die gereg.)

    ‘n HMO is wanneer drie of meer mense, wat minstens twee huishoudings vorm, 'n eiendom deel. Die nuwe reëls stel sekere vereistes daar ten opsigte van die aantal badkamers, toilette en wasbakke relatief tot die aantal mense per eiendom. In die vervolg moet groter HMO's - van drie of meer vloere, met vyf of meer mense - 'n lisensie by die plaaslike owerheid kry. Indien eienaars versuim om vir een aansoek te doen, kan hulle 'n boete van tot £20,000 opgelê word, en gedwing word om huur terug te betaal.

    Die doel van HMO lisensies is om verblyf-standaarde in gehuurde eiendomme te verbeter. Dit kan dus net voordelig wees vir mense wat uitgebuit word en in haglike omstandighede moet bly, want voortaan sal jy vir ‘n feit kan weet dat die plek wat jy wil huur geskikte geriewe bied.
    Die probleem met die nuwe reëls is egter dat minder eienaars bereid gaan wees om aan 'n groep van vier of meer mense 'n huis te huur. Baie eienaars gaan van sulke huise ontslae raak. So bekostigbare behuising gaan dalk al hoe skaarser word, of deelhuise al hoe duurder.

    Maar: dan jy kry die deelhuise wat óns ken. Waar een of twee mense die huurkontrak teken, en dan weer onderverhuur aan ses tot ag ander. Hierdie tipe huis is ‘n essensiële deel van die meeste jong Suid-Afrikaners se Londen-ontgroening. Die meeste begin immers daar. Sommige bly so tot hulle visas opraak, of totdat hulle - wilde oë en al - "‘n sekere punt" bereik. Ander trek weer uit kort nadat hulle vierde frankfurter gesteel is. Party mense kán net nie so bly nie. Soos die Siamese paartjie wat saans langs mekaar op die bank, in hul bypassende Cape Union Mart sweetpakbaadjies, móét TV kyk. En dan, as hulle pogings futiel is (want die res voel mos 'n phok), omdraai en dikbek in hulle kamer gaan sit, of vir Mamma gaan bel en vertel hoe aaaaak-lig! dit hier is.

    As jy van 'n deelhuis praat, sien die meeste mense in hul geestesoog ‘n 19-jarige laaitie wat in die sitkamer uitgepass het. Ek kan jou verseker dis ‘n belaglike stereotiep!
    Dis bloot toevallig dat ons twee nuutste huismaats 19 is. En dat, toe ons Saterdagaand by die huis kom, een van hulle vriende op sy maag voor die TV, met sy kop onder die verwarmer gelê en rus het. (Gelukkig nie in die superglue-muisval nie!)
    Maar regtig, mens kry iets van alles in 'n deelhuis. Of dit nou 'n wannabe aktrise is wat 'n ekstra in Holby City is, of 'n skaam Kiwi wat lang rompe dra, verslaaf is aan Nicorettes en 'n online gaming kampioen is.

    Sommige Suid-Afrikaners maak 'n lewe uit die onderverhuring van tot 20 huise. Die meeste het ‘n uitstekende verhouding met die mense by wie hulle huur. Die eienaar weet die huis word onderverhuur, maar gee nie regtig om nie want volgens die kontrak bly daar maksimum vier mense – wat tog aanvaarbaar is. Almal word bevoordeel deur hierdie oogklap-metode: die eienaar se verband word afbetaal; die onderverhuurder maak 'n klein ekstra inkomste; en huurders hoef hulself nie vir maande vas te teken nie, plus hulle kry allerhande ekstras wat mense wat, byvoorbeeld, in 'n eenslaapkamer woonstel in Clapham bly nie kan bekostig nie (soos dubbellaag toiletpapier).

    Daar’s ook eienaars wat totaal onbewus is van wat in hul huis aangaan, en steeds nie omgee nie. Solank die huur net betaal word. Van ons housemates gaan kuier soms by 'n chaotiese (Australiese) deelhuis in Shepherd's Bush. Die persoon op wie se naam die huur is, het jare gelede uitgetrek. Niemand het ‘n deposito betaal nie, die voordeur kan net op 'n spesiale manier oopmaak, en hulle het 'n Steve Irwin memorial-muur in die sitkamer geverf.

    Ek dink die meeste deelhuise (soos ons dit ken) gaan maar net so aanploeter. Die eienaar moet in elk geval eers 'n waarskuwing kry, voor hy beboet kan word. Totdat iemand seerkry of kla, gaan die nuwe reëls seker nie 'n verskil maak nie. En die eerste en enigste reël in ‘n deelhuis is mos om nie te kla nie.

    My lewe sou aansienlik armer gewees het, as ek nie in deelhuise tyd gedoen het nie. Jy leer wonderlike mense ken wat nooit andersins jou pad sou kruis nie. Jy leer ook bowenal, deur beproewing, om te chill.
    Maar ek dink tog die einde het aangebreek. Ek sê dit elke Desember as ons vriende uittrek om terug te gaan huistoe, maar ons móét nou aanbeweeg. Nie omdat ons nie meer kan nie, maar omdat dit tyd is. Dis soos ek voel na ek ‘n hele gaar Sainsbury’s hoender geëet het: dit was lekker, maar dis verby, en ek hoop om nie gou weer een te sien nie.

    So hopelik teen dié tyd volgende jaar bly ons in ons eie huis – een wat ons, bygesê, nie sou kon koop as ons nie tot onlangs gedeel het nie. Dit sal ook nie 'n oomblik te gou wees nie. Ek het gister 'n mushroom agter die toilet gepluk. En, kyk, iets wat dwarsdeur Dettol se Mould and Mildew Remover groei, is iets wat nie sommer gaan tou opgooi nie. Ek weet nie of dit 'n geveg is waarvoor ek kans sien nie.

    (SA Times, Desember 2006)

    Monday, November 27, 2006

    'Sop vir jou, man!

    Een van my gunsteling Seinfeld-episodes is die een waarin 'n kwaai immigrant, met welige snor en swaar aksent, die eienaar van 'n uiters gewilde sop-winkel is. Hy stel soveel irrasionele eise aan sy kliënte, dat hulle hom die "Soup Nazi" noem. Wieookal iets doen wat hom nie geval nie, word dadelik uit sy winkel verban met 'n wysvinger-saluut, en "No soup for you!"

    Jerry se raad aan sy vriende was eenvoudig: Bestel net. Moenie uitbrei nie. Moenie kommentaar lewer nie. Moenie vrae vra nie. Moenie komplimente gee nie.

    Maar toe vind Elaine dit tog nodig om vir die Soup Nazi te vra of hy weet hoe baie hy na Al Pacino lyk.

    "Soos in Scent of a Woman!" sê sy. "Hoo-haaa! Hoo-haaa!"

    Dis nice, glimlag die eienaar. "Maar weet jy wat? No soup for you! Come back – one year!"

    George maak weer die fout om vir brood te vra.

    "Brood is $2 ekstra", sê die eienaar

    "$2?" vra George. "Maar almal voor my het verniet brood gekry!"

    "Wil jy brood hê? Dis $3!"

    "Wat…!?"

    "No soup for you!"

    As George dan Jerry se sop wil deel, sê Jerry: "Nee. Dis jou eie skuld jy't die reëls ignoreer. Jy kan nie van my verwag om my sop met jou te deel nie."
    "Luister na jouself!" sê George histeries.
    "Jammer", sê Jerry. "Maar dis hoe dit werk onder 'n Nazi-regime."

    En so, voel dit vir my, werk dit as jy 'n Britse paspoort wil hê.

    Nie dat ek wil insinueer ons bly onder 'n Nazi-regime nie. Maar dis wel 'n geval van: Bly stil. Staan links. Kry waarvoor jy gekom het. En beweeg aan.

    Ek het eintlik glad nie 'n probleem met die sisteem nie. Ek speel graag volgens die reëls (selfs al verander dit die heeltyd). Brittanje is immers steeds veel meer toeganklik as die res van Europa, en ons sou in elk geval nog 'n paar jaar hier rondgehang het. Maar soms, terwyl ek so gedweë vir my sop wag, kan ek nie help om 'n bietjie bitter te raak en die reëls te bevraagteken nie.

    Vroeër vanjaar is die immigrasie-wetgewing gewysig sodat dit in die toekoms 'n jaar langer gaan vat voor jy vir Indefinite Leave to Remain kwalifiseer. En gister hoor ek dat jy dalk binnekort twee jaar op 'n permanente verblyfpermit sal moet wees voordat jy vir Britse burgerskap kan kwalifiseer. Dit is dalk net 'n gerug, maar in die afgelope paar jaar het al hierdie tipe gerugte tog realiseer. So, waar die hele proses tot onlangs slegs vyf jaar geduur het, gaan dit voortaan ses jaar vat. En as die nuwe gerugte waar is, kan dit binnekort tot sewe jaar duur.
    Die Regering het boonop aangekondig, soos ek verstaan, dat 'n punte-sisteem vanaf volgende jaar gaan geld, en dat die huidige werkspermit-stelsel afgeskaf gaan word. Wat hopelik nie beteken dat almal op werkspermitte na 'n ander stelsel sal moet oorskakel nie. Dit klink baie soos: Nóg 500 pondjies asseblief. Of No soup for you!

    Gestel die nuwe gerugte is waar - dan sal Werner teen die tyd wat ons vir Britse burgerskap kwalifiseer reeds 10 jaar in die land wees. (Omdat hy in sy eerste drie jaar nie op 'n werkspermit was nie, tel dit nie. En toe mis ons die afsnypunt vroeër vanjaar met 'n paar maande.)
    Wyle Alexander Litvinenko, aan die ander kant, het in 2000 as asielsoeker in Engeland aangekom, en met sy dood was hy alreeds in besit van 'n Britse paspoort. Nie dat ek hóm hoegenaamd beny nie! Dat hy sy laaste maal saam met 'n skollie by Itsu moes geniet - sjym. As hy maar net voor die tyd die plek ge-Google het, sou hy op hierdie resensie van 'n gas afgekom het: "They don't serve real sushi! What a dissapointment! I am Japanese, and trust me this is very far from being a good place to have real Japanese food. Very fancy and modern but it was the worst food I have ever tried!"

    Maar om terug te kom by ons lot: Ons kon in die afgelope drie plaaslike verkiesings stem, en Werner is al opgeroep vir Jury duty (wat hy baie geniet het, toegegee). Maar dit tel vir niks. Omdat ons die afsnydatum met 'n paar maande gemis het, het ons weer die maandelange drama gehad om die werkspermit verleng te kry. Dit behels nie net 'n klomp ekstra onkostes nie, dit fnuik ook enige reis-reëlings (met die dat jy tot drie maande voor die werkspermit verval nie 'n Schengen-visa kan kry nie).

    Toe lees ek van 'n website (www.vbsi.org.uk) waar hulle mense (veral die wat net-net die afsnydatum gemis het) aanmoedig om petisies te teken en hul Parlementslid te kontak. Ek doen dit toe, net om te sien wat gebeur. En toe skryf hy trug - binne twee dae. Nou wel nie met goeie nuus nie, maar ek was verstom dat mens so vinnig 'n antwoord uit 'n Parlementslid kan kry.

    "This is a matter I have already just taken up with the Home Office on behalf of another constituent, and I enclose a copy of the response I received…" skryf hy. "As you can see, the Minister explains the background to this change which I appreciate you will find disappointing."

    Talle ander mense het hul harte op die VBSI-webblad uitgestort, waarna Andrew Dismore, 'n Arbeidersparty LP, hulle gesamentlike griewe in die Parlement gelug het. Een 'slagoffer' is ene Nirvani, 'n onderwyser van Suid-Afrika. Sy het ook die afsnydatum vir Indefinite Leave to Remain gemis. Toe sê haar skool dis te laat om weer vir 'n werkspermit aansoek te doen en vir goedkeuring te wag, want hulle wil vooraf weet wie in die nuwe skooljaar op die personeel gaan wees. "Nirvani and her husband left good jobs in South Africa and their children were uprooted. Her husband resigned as a captain in the police force and is now working as a security guard because he cannot join the police here. He would have been able to do so in September when the four years were up."
    Sover ek weet mag jy wel werk terwyl jou aansoek hangende is. So ek weet nie eintlik wat die probleem is nie. Klink my haar man is suur omdat hy (uit eie keuse) as 'n sekuriteitswag moet werk.

    Die Immigrasie-Minister was nie oortuig deur al die sob-stories nie. En wie kan hom kwalik neem. Dis immers sy turf. Hy kan maak wat hy wil.

    (SA Times)

    Tuesday, November 14, 2006

    Die Groot Laer-trek

    Verlede week het die SA Times berig oor twee Suid-Afrikaanse ondernemings wat beveel is om hul webwerwe te wysig aangesien dit, volgens die Kommissie van Rassegelykheid, diskriminerend is (UK-based SA housing companies accused of racism, 8 November 2006).

    Die kommissie meen die Afrikaanse teks op Ultimate Housing en Homes Africa se webwerwe diskrimineer teen mense wat nie Afrikaans verstaan nie. Volgens hulle kan 'n tweetalige webblad nie regverdig word nie, omdat enige Afrikaanse persoon wat Engeland toe kom 'n goeie verstandhouding van Engels behoort te hê. 'n Afrikaanse vertaling dui gevolglik op die bedoeling om te diskrimineer. En volgens die wet op rasseverhoudings is enigiets wat jy publiseer, of wat deur jou toedoen publiseer word, onwettig as dit dui op 'n bedoeling (uit 'n ander se oogpunt gesien) om te diskrimineer.

    Ek wonder wie't gaan kla?

    Daar's soveel webwerwe en koerante waarin jy blyplek kan soek – as iets jou nie aanstaan nie, kan jy mos elders gaan soek. As daar gestaan het "Slegs Blank!" of "Geen Gays!" kan ek verstaan dat dit 'n probleem is. Maar volgens my beteken die feit dat hulle noem dis vir jong Suid-Afrikaners dat voornemende huurders 'n aanduiding kan kry van die tipe mense waarmee hulle 'n huis moet deel. 'n 57-jarige Britse makelaar kan raai dis 'n kinders wat elke tweede aand partytjie hou. Tensy hy daarmee kan saamleef, sal hy nie tyd mors om aansoek te doen nie.

    Moet Gumtree, as 'n publiseerder, dan ook aangekla word van diskriminasie? Gaan kyk 'n bietjie hoe baie advertensies is nie in Engels nie, en andersins diskriminerend. Meeste advertensies sê byvoorbeeld iets soos: ons is twee Australiërs op soek na 'n like-minded huismaat. Ek weet ek sal met hulle kan deel, want ons het vermoedelik soortgelyke prioriteite, maar 'n middeljarige Bulgaar met twee kinders sal sukkel. Almal sal oor die weg kom, maar dis nie die ideale saambly-situasie nie.

    Ons adverteer self gereeld kamers op die Gumtree. Dis nie soos om van iets, soos 'n tweedehandse motor, ontslae te probeer raak nie. Dis blyplek in 'n huis waarin ons wil hê almal moet oor die weg kom, en so min as moontlik moan. Ons noem gewoonlik dat dit (tans) 'n Suid-Afrikaanse/Antipodean huis is, en dat dit ideaal sou wees vir mense wat geld wil spaar om te travel. Daarmee wil ek hoofsaaklik 'n groot persentasie huurders ontmoedig om hul tyd te mors.

    Ons gee almal 'n kans (behalwe mense wat vra "Wat beteken Antipodean?", of versoek dat ek hulle meer van "die ou plekkie" vertel, en dit nodig vind om hulle akademiese kwalifikasies te lys), en ons kry navrae van 'n wye verskeidenheid mense. Byvoorbeeld twee 18-jarige studente. Ek sal noem dat daar nie juis 'n studie-atmosfeer in die huis heers nie, of dat almal bo 27 is. As hulle steeds belangstel, moet hulle kom kyk. En dan kan hulle (en ons) besluit of hulle sal inpas.
    'n Ander navraag was van 'n 36-jarige programmeerder:
    "My name is X, my wife, a lovely lady, name is Y, we have bought plane tickets, if not delay, it will arrive Heathrow Airport at 3pm on london time. We are from china, my wife is house wife, we are very friendly, good manners, no smoking, easy going, serious and responsible people. I'm a HSMP work permit Visa holder, I will find a new job in london and begin our new life in UK. We are very interesting to your adverts, we want to find a true home in london, Could my wife and I join your, thanks!"
    Ek het vermoed ons huis is nie wat hulle in gedagte gehad het nie, al was die huisvrou-deel aanloklik ('n vorige advertensie waarin Werner gevra het vir twee blonde Sweedse meisies wat hou van skoonmaak, het niks opgelewer nie). Ek het gesê hulle moet kom kyk as hulle land, tensy dit reeds gevat is, en hulle gevra hoe hulle voel oor die feit dat daar net een badkamer is? Ek het nie weer van hulle gehoor nie. En dit is een ding wat Suid-Afrikaners - asook Australiërs, Nieu-Seelanders en (teen die tyd) Oos-Europeërs weet: goedkoperige huur beteken sekere opofferinge.

    Mens moet tog wonder wat sommige Afrikaanse advertensies op Gumtree impliseer. Byvoorbeeld: "Sorry, but this is a 'South African' home only". (Die res van die advertensie is in Afrikaans.) Wat bedoel hulle met 'South African'? Vir my laat voel die aanhalingstekens dit so "wink nudge, jy weet wat ons bedoel". Asof ek welkom sou wees, maar nie my kêrel as hy van Ghana was nie.

    Of: "Ons is 7 'stabiele', net lekker, gemaklike, skoon en Christelike Suid-Afrikaners wat saam bly." Wat beteken stabiel as dit tussen aanhalingstekens staan - dat hulle eintlik 'n klomp weirdos is? Of dat ander uitlanders meestal onstabiel is?

    Daar's altyd een wat eis dat "Geen Kansvatters!" aansoek doen nie. Wat's kansvatters? ProNutro-diewe? (Die kamer is seker nou nog leeg.)

    'n Ander advertensie op Gumtree bied kamers aan "in Suid-Afrikaanse deelhuise wat jou ma sal laat lekker slaap". Maar hulle soek nie "swernote of skerminkels" nie.
    Die grootste skerminkels waarvan ek al gehoor het, is die Afrikaanse ouens wat vir Ronel weke se huur geskuld het, en toe "soos diewe in die nag" met die selfoon verdwyn het wat sy hulle geleen het om met die werksoekery te help.

    Daar's ook heelwat advertensies wat kamers het om te deel met 'n "oulike Suid-Afrikaner". In die dae toe ek 'n kamer met 'n oulike Suid-Afrikaner moes deel, kon jy permanent 'n kloppende aar op my voorkop sien. Ek kan nie daarmee deal nie.
    Sy was geweldig nice, maar net té. Elke sin het begin met Jammer. "Jammer dat ek so hoes!", "Jammer vir die geraas!" Haar eerste woord in die oggend was "Jammer!" Gevolg deur 'n onophoudelike geklets as sy my gekreun as 'n teken sien dat ek luister.
    "Het ek jou wakker gemaak? Het jy lekker geslaap? Jis, acks niks lus vir werk nie. Acks vodde. Dink jy ek moet 'n sambreel vat? Hmmm…? Dink jy dit gaan reën?"
    "Hoe lyk dit buite?"
    "Na reën."
    "So, wat dink jy?"
    "Ek sal maar 'n sambreel vat."
    "Goed."

    Ek weet ook nie hoekom Suid-Afrikaners soms so bloedskanderig eksklusief wil wees nie. Ons het al saam met wonderlike mense van ander lande gebly. Waar in die wêreld sal jy byvoorbeeld die geleentheid kry om met die nasionale dambord-kampioen van Tsjeggo-Slowakye 'n huis te deel (soos wat Ronel en Faan doen)? Daarenteen was van die grootste losers met wie ek al gebly het, van die Slegs Afrikaans-tipe Afrikaners. Mense wat elke Vrydagaand huil want "hier's darem nie 'n plek soos Shooters nie".

    (SA Times, 15 November 2006)

    Friday, November 10, 2006

    Toe die Hamster Dance nog cool was

    'n Paar weke gelede is 'n man skuldig bevind aan Brittanje se eerste sogenaamde webwoede-aanval. (En ek bedoel nie die soort waartydens jy jou eie voorkop teen jou rekenaar kap nie. Dit mag jy na hartelus doen.)

    Paul Gibbons het ná 'n rusie in 'n Yahoo!-kletskamer, wat Islam as fokus het, na John Jones se huis gegaan en hom herhaaldelik met 'n byl-steel geslaan. Jones het homself met 'n mes probeer beskerm, maar Gibbons het dit gegryp en amper Jones se keel met sy eie mes afgesny.

    Nou waarsku die polisie internet-gebruikers om hul identiteit te beskerm, aangesien Gibbons maklik Jones se adres kon opspoor met behulp van persoonlike inligting wat hy op die internet geplaas het.

    Ek is oor die algemeen onnodig paranoïes, maar ek kan nie verstaan hoekom mense dink dis 'n goeie idee, of hoegenaamd nodig, om al hulle persoonlike inligting op die internet te sit nie. 'n Paar jaar terug kon jy nog mense hul onkunde vergewe. Maar met alles wat jy deesdae weet en hoor, is dit mos lekker stoopit om jou details orals te los. Soveel temeer as jy mense gaan beledig op 'n forum met 'n godsdienstige tema. Maar daar sal seker altyd sulke suckers wees. Nie dat dit noodwendig 'n slegte ding is nie – 'n mens kan mos lekker 'n ander se naïwiteit vir jou eie vermaak uitbuit...

    My eerste werk, sewe jaar gelede, was by 24.com, wat op daardie stadium Naspers se nuwe inligtingsportaal was. (Die't met die draai van die eeu gesneuwel, maar intussen weer uit sy virtuele graf herrys.)

    Soos enige behoorlike portaal betaam, het 24.com het ook sy eie chat server gehad. Dit was natuurlik 'n wonderlike speelplek vir almal in Naspers wat nie lus was vir werk nie, maar besig wou lyk. 'n Minder opsigtelike smoke break, kan jy maar sê. Mense van buite die maatskappy kon ook daar gesels, maar dit was oorwegend Naspers-werknemers wat daarvan geweet het. So het ek, Jomarié wat haar internskap by Insig oorkant die pad gedoen het, en Chris, wat saam met my by 24.com was, mekaar gereeld aanlyn ontmoet. Gewoonlik vyf minute nadat ons mekaar gegroet het (want ons het saam gery van Stellenbosch af), en totdat ons mekaar weer 'n paar uur later vir middagete sou sien.

    Elke dag het dieselfde mense aangemeld met Hallo julle!! Amper naweek!! Sandraaaa!! ((hugs)) of iets dergeliks.

    Op daardie stadium het ek al baie gechat, so ek het 'n ordentlike bynaam gehad. Iets soos, seg maar, Stoomboot. Maar die meerderheid het name gehad soos Johan, Karen of Tania. Ek en my vriende het meestal met mekaar gepraat, maar ook gevolg wat in die channels aangaan. Ons is ryklik beloon. Want terwyl almal so gretig hulle biografiese inligting uitruil, kon ons vir toekomstige verwysing hul profiele bou. Dan sal ons byvoorbeeld uitgaan, en inlog as iemand van wie hulle pas gepraat het (byvoorbeeld Annatjie Louw saam met wie hulle by Sanlam in Bonnievale gewerk het). Met genoeg agtergrondinligting, kon mens hulle lekker uitfreak.

    Een vrou (kom ons noem haar Leonie, want dit was haar naam) het in Die Burger se argief-afdeling gewerk. Toe log ek eendag in as Ebbe Domisse, Die Burger se hoofredakteur. Leonie klets nog so lekker met haar maters in Pretoria, toe sê ek "Haai, Leonie, kan jy gou vir my 'n foto bring van Milo ('n Jack Russell wat die koerant gehaal het oor hy 'n opehartoperasie ondergaan het)? En Leopold Scholtz soek 'n foto van die régte Jan van Riebeeck." (Want daar was 'n storie dat die standbeeld in Kaapstad dalk nie van onze Jan was nie.) Dan sou my vriendin inlog as Leopold Scholtz, gesoute koerantman en historikus. En ons sou oor die sake van die dag klets.

    Leonie ignoreer my eers. Ek sê: "Leonie? Kom jy reg?"

    Stilte.

    "Leonie?"

    "Meneer…"

    "Maak maar gou, jong. Ons het nie heeldag tyd nie. Leopold moet nog Stellenbosch toe ry."

    "Meneer, iemand sê dis nie regtig Meneer nie."

    "Leonie, Ons almal moet die nuwe tegnologie omhels. Dit help nie ek sit net heeldag in my kantoor en beproef nie die nuwe komminikasiekanale wat so geredelik beskikbaar is nie. Nou maak nou gou, toe. Ons wag."

    "Goed Meneer, ja Meneer."

    En daar log sy af. Ons wou iemand biblioteek toe stuur om te kyk of sy rondhol op soek na foto's. En ons het gebars om te weet hoe Ebbe sou reageer as sy by sy kantoor sou instorm en sê Jammer Meneer, ek kry nie 'n foto van die regte Jan van Riebeeck nie.

    Ag, dit was pret. (Ek het nog nie iemand met 'n byl-steel geslaan nie, so weet nie of mens dit kan vergelyk nie.)

    En terwyl ek nou nostalgies raak oor die ou dae van die nuwe media – daar't het destyds ook 'n paar emails die rondte gedoen waarmee eenvoudige tuisblaaie binne enkele dae kult-status bereik het. Een daarvan was die Hamster Dance, waarvan jy 'n weergawe kan sien by www.webhamster.com. (Probeer gerus om daai tune uit jou kop te kry.)

    Die ander was Mahir Cagri, die Borat van die 90's. Ek het al vergeet van hom, totdat iemand opgemerk het hoe baie Sacha Baron Cohen se karakter en Mahir in gemeen het.
    Op Mahir se webblad word mens begroet met "Welcome to my Home Page!!!!!!! I Kiss You!!!!!"

    Dan deel hy sy belangstellings: "I like music, I have many many music enstrumans my home I can play." Asook: "I like sex."

    Volgens Mahir het 'n hacker hierdie stukkie bygelas as 'n grap, en is dit waarskynlik die rede hoekom hy binne 'n week miljoene hits gekry het, en jy die gelag vir drie maande daarna nog kon hoor.

    Daar's ook 'n aksie-foto van Mahir wat tafeltennis speel. En een waar hy met 'n piepklein rooi Speedo op die rotse lê. Maar dis nie net heeltyd speeltyd nie. "My profession jurnalist, music and sport teacher. I like to take foto-camera (amimals, towns, nice nude models and peoples)."

    En as jy nog nie voor sy sjarme geswig het nie: "I live alone!!!!!! Who is want to come Turkey I can invitate… She can stay my home."

    Wat 'n man!

    So gewild was hy, dat 'n jong internet-maatskappy hom betaal het om vir promosie-doeleindes deur Amerika te toer. Mense oral oor die wêreld het foto's van hulself geneem met die slagspreuk I Kiss You! en dit vir Mahir gestuur. (Toe een van my kollegas die maatskappy verlaat, het hy dit onderaan sy afskeids-email geskryf.)
    Sacha Baron Cohen het glo gesê hy ontwikkel die Borat-karakter (wat by die MTV Europe Music Awards geskree het: I like sex!) al sedert 1995 – vier jaar voor Mahir bekend geraak het. Wie gee om. Borat is briljant in eie reg. En wie weet, dalk is Mahir ook die vrug van iemand se verbeelding. Maar hy was wel een van die eerste, onverwagse sterre van die internet – 'n ster wat mense self geskep het, nie een wat aan hulle verkoop is nie.
    (Kyk na 'n kopie van die oorspronklike Mahir-blad by www.istanbul.tc/mahir/mahir/.)

    (SA Times, 1 November 2006)

    Thursday, October 12, 2006

    Niemand’s nog dood van harde werk. Van vervelige werk wel

    Verlede week het 'n berig in die Metro ons versoek om vir 'n wyle aan Keith Jackson te dink. As jy dink jou werk is vervelig, het dit beweer, het jy nie 'n benul deur watse hel Jackson daagliks gaan nie - die arme drommel word betaal om te kyk hoe verf droogword.
    Jackson dink self sy werk is taamlik opwindend, veral die deel waar hy met sy vinger teen die verf moet druk om dit te toets. Mens is geneig om hardop te wonder of hy nie te veel dampe ingeasem het nie (en wie sou hom kwalik neem!), maar ek stem saam – dis glad nie so erg nie.
    Is daar énigiets meer bevredigend as om te wag tot verf droog is om te sien of dit onslae geraak het van hardnekkige blou wondergomvlekke en mufkolle...? Goed, daar is seker. Maar al is dit nie die wêreld se gewildste adrenalien-sport nie, kan ek sien dat daar 'n mate van satisfaksie betrokke is. Omdat Jackson se maatskappy verf vir die London Underground vervaardig, moet dit wonderlik wees om te sien hoe mense 5vm vir die laaste oop sitplek kan resies hardloop, bo-oor iets wat 3vm geverf is.
    Die Metro lys 'n paar ander mense wat kamtig sieldodende werk het, o.a. soldate op die Groot Muur van China, wagte by Buckingham Paleis, en ski-lift operateurs.
    In die Middeleeue, moes offisiere glo elke minuut van hul lewens op die Groot Muur van China spandeer, met 'n kort breuk om in 'n grot te gaan slaap. Hoe sleg kan dit wees? Die muur is amper 6,500km lank – genoeg ruimte vir 'n leeftyd se vermaak. Party mense betaal om daar te wees!
    Buckingham Paleis wagte sal dink: Hulle is gelukkig! Ons moet - selfs tydens die warmste Julie in menseheugenis – emosieloos rondstaan met hoedens van (bykans uitgeroeide) Kanadese bruinbere se basvelle, en dit terwyl toeriste ons koggel. Dis 'n geweldige uitdaging - hoe kan hulle verveeld wees?
    Ski-lift operateurs het ook glad nie 'n slegte lewe nie. Hulle kan (en sal) aan die onderkant lekker lag vir die losers wat voor 'n aankomende lift val en dan vir die vale moet koes vir die volgende een. En aan die bokant kry hulle ongeëwenaarde werksbevrediging as hulle iemand - wat in die eerste plek nie op die lift wou klim nie en gevolglik onwaardig afrol en hul wind uitval (sjym) - uit die pad skop sodat die volgende mense grasieus kan afskaats.
    In teenstelling met die Metro se idee van die verveligste werke, het die regering se Training and Development Agency vroeër vanjaar 'n behoorlike opname onder 2,100 gegradueerdes gedoen. Daarvolgens blyk dit asof sekretaresses die wêreld se verveligste werk het. Dis glo meer vervelig as om op 'n produksie-lyn in 'n fabriek te werk. Kyk, ek weet nie wie aan die studie deelgeneem het nie, maar 'n mens wat in 'n produksielyn werk en sê sy werk is nie só vervelig nie, is natuurlik reeds in 'n koma en kan nie verantwoordelik gehou word vir sy uitlatings nie.
    Van die minder ondraaglike werk is glo in gesondheidsdiense en in die gasvryheids- en toerisme-industrie.
    Ek kan dit beaam. Ons ken iemand wat 'n op-en-wakker ou tannie oppas wat in haar laaste jare die indrukwekkende vrug van haar arbeid (of erfporsie) wil geniet. So moet Estelle gereeld vir maande op 'n keer in vyf-ster hotelle op die Amalfi-kus gaan bly, in die naam van werk.
    Werner, wat 'n sjef is, werk weer lang, antisosiale ure. Dis 'n stresvolle beroep, maar 'n hoogs bevredigende een. Niemand sal byvoorbeeld ooit so blinkogig na my kyk as ek klaar iets vir hulle afgerol het, as na hom nadat hy hulle gevoer het nie.
    Die gevolgtrekking van die studie was dat onderwysers die mees stimulerende werk het, dat beroepe met die grootste werksbevrediging nie die bes betaalde is nie, en dat mens moet onthou dis nooit te laat vir 'n loopbaan-verandering nie. 'Toevallig' het Engeland 'n tekort aan onnies en lei die agentskap wat die navorsing gedoen het hulle op. So die studie is moontlik uit 'n PR-duim gesuig.
    Vir my sou die verveligste werk wees om in 'n kunsgallery rond te staan en om met mense te raas as hulle selfone lui. Sien (en dit skok altyd my vriende wat dink ek's 'n formidabele intelektueel), sodra ek by ‘n kunsgallery instap, voel ek koorsig en onstabiel. Ek dink dis 'n eksistensiele krisis oor ek heeltyd dink What the?, in plaas van om die kuns te waardeer. Die hele proses van baklei om die miniskule inligtingsbordjie te lees, en dan om vir twee sekondes 'n ononderbroke uitsig op die werk te hê, maak my net bitter. En lewensmoeg.

    Ook maar goed ek doen dit nie, want blykbaar is die verveligste werk op aarde ook een van die gevaarlikstes - jy kan jou letterlik dood verveel.
    'n Men's Health-artikel het al beweer vervelige werk is geweldig nadelig vir mans se gesondheid. (Vrouens kan mos swanger raak om te ontsnap.) Volgens die Universiteit van Londen se navorsing, is mans met repeterende, onuitdagende werk meer geneig om hartaanvalle te kry.
    Die ding is, party mense kan dit doen. Hulle gee nie om vir die repetisie en die roetine nie Ek was byvoorbeeld eendag in 'n hardeware-winkel in die noordelike voorstede van Kaapstad, en terwyl my vriend na 'n tappet gesoek het (daar's baie in die noordelike voorstede), het ek gehoor hoe die vrou agter die till vrolik sê sy werk al 17 jaar daar. SEWENTIEN! Ek was hoogs ontsteld. Mens kan mos nie? Ek dag sy’s verseker van haar trollie af.
    Sedertdien het ek al saam met baie mense soos sy gewerk. Hulle kom elke dag dieselfde tyd by die werk aan. Maak 10-uur en 3:30nm tee. Eet 1nm hul M&S toebroodjie. En 'n appel. Stap 'n draai om die blok. Sit 5nm hul rekenaars af. Eet aandete na Eastenders. Kla oor die regering en die bure. En gaan slaap 10-uur. Nag, Mammie. Môre doen ons dit weer. Dieselfde.
    Die waarheid is, hulle is die gelukkiges. Ek gaan die res van my lewe suffer. Die roetine waarop hulle so floreer, dryf my teen die mure uit. Sodra als bekend begin voel, wil ek laat spaander. Ek versamel werksadvertensies soos wat ander mense coupons versamel. Dis 'n helse foltering.
    So, ek dink wel aan Keith Jackson wat vir 'n lewe lank verf snuif en kyk hoe dit droog word. Ek lag ook vir hom, soos wat van my verwag word. Maar ek beny hom. Hy is tevrede.

    (SA Times, 10 Oktober 2006)

    Tuesday, October 03, 2006

    Just do it! (Nadat jy alle opsies oorweeg het en drie aande daaroor geslaap het)

    Wat word van die wêreld? Ons ikone sneuwel een na die ander. Eers Steve Irwin, toe Zandberg Jansen... Wie’s volgende? The Hoff?

    Op die oog af het die Krokodiljagter van Australië en die mees omstrede rugby-kommentator in SA se geskiedenis dalk weinig in gemeen, maar hulle was – volgens my – albei helde: Steve Irwin wat altyd met sy waansinnige entoesiasme tussen allerhande daaaangerous animals rondgespring het, en Zandberg Jansen wat hulle konstant met sy voorspellings en uitlatings beledig het.

    Gewone sterflinge kan maar net wonder wat mense soos dié besiel, maar ten spyte van die potensiële gevaar wat hul in die gesig staar, hits ons hulle onbewustelik verder aan. Jy kan eenvoudig nie glo hoe hulle die noodlot so doelbewus kan tart nie.

    Wel, ék kan nie. Hulle het die tipe guts wat ek nooit sal hê nie. Ek het vroeër vanjaar na 'n weeklange ski-vakansie besef dat ek nie daardie spesifieke doen-voor-jy-dink geen in my DNA-samestelling het nie.

    Ek meen as Irwin vir 'n oomblik kón stilstaan, sou die realiteit van sy sterflikheid dalk insink. En as Jansen sy gedagtes laat gaan het voor hy sy mond oopgemaak het, sou hy dalk in ag neem hoe massief rugbyspelers is en hoe hard hul kan slaan, en besef het dis nie so ‘n goeie idee om enigiemand name te noem nie. Maar hulle doen wat hulle moet, en hulle dra die gevolge. Ek, daarenteen, dink in onnodig veelkleurige detail oor die moontlike gevolge van my dade, en kry gevolglik niks uitgerig nie.

    My gebrek aan ‘n vreesloosheidsfaktor was tot en met die ski-vakansie eintlik nie so opvallend nie. Maar toe sou ek vir sewe dae daarmee gekonfronteer word.
    Drie van ons geselskap was ingeskryf by ‘n ski-skool vir beginners. Teen die einde van dag een is my twee vriende in die gevorderde beginnersklas geplaas, en ek in die spesiale klas - saam met die pensioenarisse, en die ma's wat nie hul tieners alleen op vakansie wou stuur nie. Teen die einde van dag twee, het die res van die beginners al op die red slopes (vir bo-gemiddelde skieërs) baljaar, terwyl die spesiale klas weer moes doen wat hulle op dag een gedoen het - leer briek. Dit het my geesdrif en selfvertroue aanvanklik ‘n bietjie van ‘n knou gegee, maar toe ek die hellings (met die klem op hel) sien waarteen Stephan en Elisna moes ski, toe's ek uiters verlig ek is ‘teruggehou’.

    Aan die einde van elke dag se klas, het hulle my probeer weglok van die nursery slopes af – sodat ek myself “‘n bietjie kan push”.
    Geniet jy dit darem? sal hulle besorg vra. Is jy bly jy't gekom?
    Dan sukkel ek vir die res van die dag om hulle te oortuig dat ek nie ‘n behoefte het om myself by ‘n krans af te gooi nie. Ek kan mos in elk geval huis toe gaan en sê ek het by ‘n black slope (vir gevorderde skieërs en ander malles) afgeski, maar ek gee regtig nie om nie. Ek kan aan min onaangenamer dinge dink as om bo-op 'n berg te staan en te wonder hoe de hel ek onder gaan kom.
    Die verskil tussen mense wat so afneuk teen ‘n berg en mense soos ek, sou ek verduidelik, is dat dapper mense nie 'n goeie verbeelding het nie. Ek, aan die ander kant, kan bo-op 'n berg staan en sien hoe ek en sewe stukke onder aankom. Ek het selfs voor die vakansie my hare gekleur sodat, wanneer (nie as!) ek my polse sou breek, ek nie oor my grys wortels hoef te kommer nie.
    Ek geniet dit op die nursery slopes. Wat miskien vir ander soos gelyk-grond voel, is vir my semi-vreesaanjaend. So, hoekom kan ek nie daar bly nie?
    Maar hoekom wil jy nie net probeer nie? hou hulle aan.
    Omdat ek realisties is, seg ek. Dís hoekom.
    O, sê Stephan, maar wat help dit jy's realisties, en jy't nie balls nie?

    Nou ja. Niemand wil graag hoor, of erken, dat hulle nie balls het nie. Maar dis nie altyd 'n slegte ding om nie daai tipe balls te hê nie. Ter illustrasie: op die bus vanaf die lughawe na die hotel, het daar twee ouens agter ons gesit. Hulle het so van black slopes en off piste en Kanadese ski-vakansies gepraat, dat ek my verbeel het Chuck Norris is op die bus, maar toe ek omdraai, kyk ek vas in David Brent en sy identiese makker. 'n Week later, oppad huistoe - terwyl ons vir ag ure in die Bye Bye Café (ja, regtig) by Toulouse se lughawe gestrand was - het ek weer een van hulle gesien. Toe hoor ek iemand vra hom of hy dan alleen kom ski het.
    Nee, seg hy, my vriend lê in intensiewe sorg, met ten minste vier gebreekte ribbes.
    Sien!

    Ek besef nou ek was nog altyd so versigtig (of lamsakkig, as jy wil). Die gevaarlikste ding wat ek nog gedoen het (behalwe om my broer te tart terwyl hy 'n krieketkolf in die hand het) is om twee-twee by trappe af te hol. Dit verduidelik ook my onindrukwekkende sport-loopbaan. As ek byvoorbeeld deur 'n boelie (van Vredendal) op die netbalbaan gepootjie is, sou ek nie die teer-klippe in my oop wond ignoreer, en die noodhulp en reserwes uit die pad vee en deur my saamgeknersde tande sê Ek's fine! nie. Nee, ek sou hartverskeurend huil en die oomblik melk vir elke moontlike greintjie aandag en simpatie.

    Toe ek leer bestuur het, was dit ook duidelik dat ek iets skort wat, seg maar, 'n minibusbestuurder het. Ek was byvoorbeeld vir lank vreesbevange om in spitsverkeer op die N1 van baan te verwissel. Ek sou vir tye teen 20km/h agter ‘n vragmotor sit. As ek dit uiteindelik swetsend verbygesteek het, sou ek in die vinnige baan bly sit met my flikker wat wys ek wil oorgaan stadige baan toe, maar te versigtig om dit te doen. 'Mense' sou hulle brights agter my flits en dan uiteindelik met gebalde vuiste aan my linkerkant verbysteek. My Baan! sal ek dan trugskree. En eers oorsteek wanneer die pad agter my heeltemal skoon is.

    En so leer ‘n mens maar oor jouself. Ek weet byvoorbeeld nou hoekom ek nooit in Johannesburg sal gaan bly nie. Ek het nie die guts nie.

    (SA Times - 09/06)

    Monday, August 18, 2003

    Glastonbury is een boerse paartie

    Joe Strummer, oorlede hoofsanger van The Clash – een van Brittanje se suksesvolste groepe ooit, het dit glo gehaat om by die Glastonbury Festival op te tree. Hy wou eerder tussen die mense rondhang. En sedert die musiekfees (die grootste in Europa) se ontstaan in die ‘70s, sou jy hom glo jaar na jaar iewers op die Lost Vagueness veld - waar daar nou vir hom ‘n groot gedenksteen opgerig is - kry.

    Waar hý was, sê hulle, was die paartie. Maar meer as dit, hy’t met al wat ‘n karakter is gesels en hom ontferm oor almal wat koud of nat of sonder drank is. Hy’t glo eenkeer vir amper twee dae geluister na iemand se geteem oor sy horlosie. Uiteindelik vra hy toe om gou na die horlosie te kyk. Dié gooi hy toe terstond in die vuur en sê vir die ou “Fokkof nou!” En dit som vir my nie net die die karakter van die man op nie, maar ook die van die fees. Meestal onvoorspelbaar, maar altyd onweerstaanbaar.

    As een van die sogenaamde Glastonbury virgins was ek maar skrikkerig vir wat sou voorlê. Die hele bus het stil geraak toe ons reeds ‘n ent van die plaas die massiewe £1 miljoen omheining sien wat diegene sonder kaartjies moet uithou. (In 2000, het derduisende mense ingestroom. En weens die gevolglike chaos het die fees amper sy lisensie verloor.)

    Dit voel behoorlik of jy op ‘n weermagkamp gaan – so met die vooruitsig van afsondering en gebrek aan fassiliteite. Die longdrops is boonop legendaries. En, ja, dit wat ek hierdie naweek gesien het behoort niemand op ‘n leë of vol maag te sien nie. Wat dalk verklaar waarom die meeste feesgangers deurentyd op een of ander manier hulle sinne benewel.

    Iemand wat nog nooit daar was nie, weet nie wat om te verwag nie. Almal wat gereeld gaan kyk jou net met ‘n as-jy-maar-geweet-het glimlag aan en sê “Dis regtig moeilik om te beskryf”. Maar as jy vroeg Vrydagoggend jou uitgewerkte program saam met jou vooropgestelde idees opfrommel en begin om dit te vat soos dit kom, dan verstaan jy, man. Jy gee sonder enige protes aan die Glastonbury spirit - wat iets tussen ‘n Bybelse ideaal en Fear and Loathing in Lost Vagueness is - oor. En, ek is bevrees, dit ís regtig moeilik om te beskryf.

    Hierdie naweek aan die einde van Junie op melkboer Michael Eavis se Worthy Farm is moontlik die weirdste en wonderlikste wat enigiemand ooit kan hê. Daar’s ‘n oneindige verskeidenheid goed om te beleef. Maar dis asof almal so min as moontlik doen en nie regtig kan onthou of hulle gesien het wat hulle dink hulle het nie. Soos die ou wat angstig op ‘n boodskapbord vra of iemand anders ook laasjaar ‘n Spaanse skip sien verbydryf het. (Iemand het gelukkig).

    Alles is so absurd jy kan later nie onderskei tussen wat ‘regtig’ is en wat nie.

    Daar’s die Healing Fields waar mense heeldag besig is met meditasie en massering, shiatsu of aromaterapie. En iemand wat wil weet hoekom jy nog nie jou tone name gegee het nie.

    Op die Lost Field is daar ‘n Casino wat van middernag tot 5vm ‘n kabaret aanbied, waarvoor jy ‘n uitrusting moet huur. Maar as jy byvoorbeeld nie hiervan weet nie, en jy stap een oggend 6-uur slaapbeneweld daar verby en jy sien 30 mense in die eienaardigste uitrustings wat lyk of hulle dit elke dag doen, dan voel dit of jy per ongeluk soos Alice in die rabbit hole geval het.

    Die hart van die fees lê in die Sacred fields rondom die Stone(d) circle. Daar’s dag en nag iemand wat tromme speel en begeesterde crusties wat in kringe dans. Sommige wat lyk of hulle al sedert die ‘70s daar kamp. Heelnag deur sit groepies mense om fakkels en kerse en gesels of slaap of staar in die niet – en as die son opkom is daar ‘n oorverdowende gejuig.

    En dan die musiek: Ongeveer 200 groepe om uit te kies. R.E.M, Radiohead, Moby, Manic Street Preachers, David Gray en Suede op die Pyramid Stage alleen. Ook Fat Boy Slim, Röyksopp, Chemical Brothers, Doves… Die meeste mense loop maar doelloos van een veld na die volgende. As jy byvoorbeeld afkom op Har Mar Superstar met sy blink bokserbaadjie en manjifieke mullet en dis jou tipe ding, dan vergeet jy maar vir eers van die Inspiral Carpets.

    Na afloop van hierdie mal naweek kry almal glo ‘n bietjie van die gevreesde Glastonbury down - elke doodgewone aktiwiteit verg skielik bonatuurlike inspanning, totdat jy genoegsaam herstel om vir die volgende fees te begin beplan. Want een ding is vir seker – jy gaan weer.

    Dis nie net die wannabe-hippies van hierdie wêreld wat deur die gogga gebyt word nie: Daar’s so ‘n ongelooflike energie in ‘n Glastonbury-gehoor dat supersterre soos Michael Stipe en Paul McCartney baie mooi vra om daar te speel en dit boonop vir peanuts sal doen. As die energie positief is, kan ‘n optrede hier glo tot ‘n relatief onbekende groep se uiteindelike sterstatus lei – wat wel die geval was vir o.a. Pulp, Oasis en Robbie Williams (na sy breuk met Take That).

    Dit blyk egter nou Robbie Williams se ‘sterstatus’ was maar net ‘n mite. Terloops, dieselfde Glastonbury-mites duik jaarliks op, soos dat iemand wat in ‘n toilet geval het net betyds gered is, of dat Cliff Richard tragies gesterf het.

    Maar die vreemdste van alles is dalk dat party mense kies om eerder Wimbledon toe te gaan.

    (SA Times 2003)