Sunday, July 18, 2010

Lysies van 'n Londenaar

Die grootste fout wat mens as groentjie in Engeland kan maak, is om heeltyd jou lewe hier met die een wat jy in Suid-Afrika sou hê te vergelyk. Dis futiel. Wat nie beteken ek het nie 'n lysie nie.

Wat ek die meeste van SA mis:
  1. Mense

    Die talle troues, reunies, verjaardae en geboortes wat ek graag sou wou meemaak. Ek mis ook die gewone mense van Suid-Afrika wat altyd wil weet hoe dit gaan, en ongevraagde persoonlike aanmerkings oor jou inkopies maak as hulle dit oplui.

  2. Die totale aanslag op my sintuie

    In SA is al 'n mens se sintuie permanent in aksie. Hier nie. Dit skok jou as jy na 'n lang ruk truggaan en dit jou tref die oomblik wat die vliegtuig se deure oopgaan. Hier is alles gedemp. Ek kan amper niks ruik nie. Nie eens die see nie. (Op die trein ruik alles wel soms na knoffel en krip.) Die supermark-vrugte en -groente smaak na niks. G'n wonder almal is verslaaf aan gebraaide hoender nie.

  3. Lig en lug

    In Suid-Afrika kan ek my verkyk aan die wolke en die sterre. Hier kerm ek gereeld oor die lug wat vir tot drie maande aaneen dieselfde skakering as die grys kantoor-blindings is.
     
  4. My tandarts

    Ek het nog nooit ná 'n standaard-ondersoek by my tandarts in SA weggeloop met my hele gesig vol bloed nie.
     
  5. Kos

    Ek kan hier vir 'n maand lank elke dag kos van 'n ander land eet. Maar soms is ek net lus vir my ma se kos.
Voordele van Engeland:
  1. Media

    Ons kry soggens (Metro) en saans (Evening Standard) gratis koerante op die trein. En dwarsdeur die week gratis tydskrifte. As ek naweek-koerante koop, hou dit my die ganse week besig. Ek koop selfde tydskrifte, tensy daar 'n freebie in is. (Gereeld.) Naellak, DVDs, t-hemde, plakkies, sonbrille ... enigiets. Ek kan dit nie weerstaan nie.
     
  2. Geleenthede

    Hier hoef jy nie jou lewe lank te spaar vir 'n oorsese reis nie. Dis bv très magnifique om binne vier uur in Parys (Frankryk) te kan wees. As jy sou wou. Dis 'n voorreg om mense van regoor die wêreld te ontmoet, of mense van jou eie land te leer ken wat dalk nooit in jou kringe in SA sou beweeg nie. Dis wonderlik om nuwe bands te ontdek, of na konserte te gaan van al die groepe waarop ek grootgeword het - Morrissey, Echo and the Bunnymen, U2 of James. In laasgenoemde se geval het ek selfs een keer akkreditasie gekry om hulle af te neem.
     
  3. Keuses 

    'n Magdom keuses vir watookal jy wil eet, doen, sien, leer. Ek het een of twee keer die Time Out gekoop en nooit weer nie, want ek was so oorweldig dat ek net op die bank inmekaargesak het van opsie-verlamming.
     
  4. Openbare vervoer

    Jy sal my nooit oor die treine en busse hoor kla nie. Ek's 'n baie beter mens vandat ek nie hoef te bestuur nie. Hier kan ek lekker op die tube sit en op my hoesmedisyne hallusineer, met niemand wat hulle ligte agter my flits omdat ek te stadig ry in die vinnige baan nie.
     
  5. Geld

    Ek verdien dieselfde, indien nie minder nie, as mense wat 'n soortgelyke werk as ek in SA doen. Ek kan verseker nie reis, spaar én lekker lewe nie. So nou spaar ek nie. Maar, as jy bereid is om opofferings te maak met hoe en waar jy bly, is dit nie duur om lekker te lewe nie. In SA was ek so besig om heeltyd my sente om te draai, dat ek fisies vir niks anders tyd gehad het nie.
(vir Kammanuus, Julie 2010)

Sunday, May 30, 2010

Wednesday, December 23, 2009

Son sak in die Weste

Ons is tans geweldig besig by die werk. Daar's nie 'n ledige oomblik nie, en beslis geen tyd vir speel nie. (Of is dit andersom?)

Ek kon gelukkig darem 'n tydjie afknyp om kerskaartjies vir my mater Erum se besigheid te maak.

Die boonste foto is vroeër vanjaar in Morden geneem, en die tweede een in Primrose Hill, nadat ons werk die kantoor vir die dag toegemaak het.

Christmas card for kudus-copy.com




Dit was groot pret, maar nogals 'n stryd om foto's te neem, want die die laptop wat ek gekry het om van die huis af te werk het nie 'n strap gehad nie, so ek moes dit heeltyd in die sneeu neersit. Dit het gelukkig die uitstappie oorleef.

Friday, December 11, 2009

NuL

Ek was destyds nogals opgewonde toe ek NuL ontdek het. Net nadat ek hierdie storie geskryf het het Hanlie, 'n oud klasmaat, my gemail:

molo sisi,
lekker gelees aan die blog, en sommer weer opgehook met my vriende van nul - thanks vir die wenk, het kommune gedeel in pta en touch verloor

Cool toeval :-)
Elk geval, toe't ek weer 'n bietjie van NuL vergeet. Maar ek sien nou hulle het sedertdien 'n paar nuwe songs vrygestel (wat jy alles gratis kan download).

Saturday, November 28, 2009

'n Fotojoernalistiek-erige workshop

Ed Terakopian workshop

Ek het Ed Terakopian se blog begin volg nadat ek vroeer vanjaar 'n foto van hom by 'n persfotografie-uitstalling gesien. Toe ek sien hy bied 'n workshop vir 15 pond aan, het ek dadelik 'n plek bespreek. Dit was die eerste workshop wat hy aangebied het, en die eerste een wat ek bygewoon het, so niemand het regtig geweet wat om te verwag nie. Sy volgende een sal waarskynlik meer gefokus wees, maar ook aansienlik duurder.
Dit was baie interessant om te hoor hoe hy werk en so, maar ek kan nie juis se ek het waardevolle nuwe tegnieke geleer nie. (O, behalwe die volgende: moenie trainspotter grappies maak waar 'n groot groep fotograwe bymekaarkom nie!)
Dis natuurlik altyd handig om mense in die industrie te ontmoet (veral sulkes soos hy, wat gretig is om hulle kennis te deel), en om bietjie uit jou gemaksone te beweeg. Ook om weereens te besef dat mense met goeie tegniese kennis nie noodwendig goeie fotograwe is nie, of andersom.
Tussen 1 en 3 moes ons rondloop en 'n paar foto's neem. Ek was heeltyd onder die indruk die tema was 'street photography', maar blykbaar het ek dit gedroom, en was daar geen tema nie. Ons kon eintlik afneem wat ons wou. Dit sou geen verskil gemaak het aan wat ek afgeneem het nie, maar dit sou dalk beter wees (uit meeste van die ander kursus-gangers se oogpunt) as daar wel 'n tema was. Ek sukkel oor die algemeen met opdragte wat te vaag is. (Wat ook verduidelik hoekom my bloggery so 'n gesukkel is.)
Ek en Johnny het eers in Soho ingevaar, en uiteindelik by die South Bank gaan draai. Ons moes toe almal een foto kies wat dan bespreek sou word. Op die ou end was Johnny se foto onder die top vyf. Maar ek dink hy's van die eerste prys beroof!

Tuesday, November 10, 2009

Dit kon erger wees

As jy weer deur 'n dal van doodskaduwee gaan, hier's iets om jou op te beur.

(Dit mag natuurlik ook die teenoorgestelde uitwerking hê. Indien wel, jammer!)

Sunday, November 08, 2009

Lekker kommin. (Met die klem op lekker.)

Die Joost- en Minki-tipe stories laat my koud. Ek gee nie om oor enigiemand se gomsnuif-gewoontes nie. Maar ek moet bieg, as ek sien Rapport het 'n storie oor een van die kamtige "glans-" "persoonlikhede" se doen en late, scroll ek reg deur die storie sodat ek die kommentaar kan lees wat die mense los. Dis uiters vermaaklik. (Dankie, Web 2.0!) Hier's ons volkie se indrukke oor Minki en Constant (nee, ek ook nie):

"Haastige hond verbrand sy mond,ek dink alle mans moet biekie spreuke 31 gaan lees voor hulle trou;constand dis jou eie skuld,ne!!! Want jy was gulsig en het seker net een iets in gedagte gehad haar lyf en sy jou geld, ook maar leke stupid julle bekendes; ek dink mense in die plakkerskampe dink beter as julle."
"Dude, jy moet self maar slegte oordeel he om te trou met daai brein-skenker wannabe bimbo. Sy's nog 'n goeie kandidaat vir 'n McDonalds job. En sy SUCK as n presenter, moerse irriterend."
"Minki is 'n geldwolf, en 'n aansitterige een! Sy praat hoe die Here haar loopbaan seen terwyl sy kaal pronk op manstydskrifte... Minki die Here seen nie vroue om WELLUS in mans wakker te maak nie. Jy is skynheilig, en ek is bly jou maksers val af. Dit is 'n skande dat PASELLA jou as aanbieder aangestel het, en dit is juis daarom waarom ons hele gesin al vir 'n jaar nie meer PASELLA kyk nie. Jy lei jong meisies in die verkeerde rigting deur hul te verwar en hull te laat dink meisies kan maar met die bybel onder die arm en die kaal borste op die tydskrif pronk. SIES Minki, ek het nog nooit van jou gehou nie! Conrad alle sterkte, ek kan glo jy het baie stories oor haar, ek sal elke woord glo."
"Minki het nou vir Joost en Steve verby GESTEEK.!!"
"Minki lyk soos 'n suigstokkie. Verstaan nie waaroor die bohaai gaan nie, sy was nog nooit vir my mooi nie, dit lyk of sy 'n donuts in haar kieste vergader net soos 'n hamster"
"Wys jou maar net...'n mens kan jouself nie laat kaal afneem en dink dit maak jou verhouding sterker nie. Dinge werk eenvoudig net nie so nie...Dankie vir nog 'n paartjie wat die huwelik goedkoop gemaak het,julle kan julle prys saam met Joost en Steve gaan af haal by Brad Pitt en Angalina Jolie. Oi!! Dit is om van naar te word!"
"Julle ken daai gesegde van hoeveel treine al deur Johannesburg stasie was - Dis nou Minkie"
 En so voel ons oor Joost:
"Gaan die Joost stront vir ewig aanhou? Sit dit in die BB koerante ons stel nie belang in wie hy pomp, gepomp het en nog wil pomp nie. Oook nie Amor se ou hartseer k@k nie en hul bybel bol strooi nie. Joost....f...net aan asb!"
"Ek dink daar is n probleem met albei - dalk hoor ons een van die dae hulle is op DRUGS, maar hulle sal dit ook seker ontken!!!!!!!"
Ek's so ontsteld, ek gebruik sommer sewentig uitroeptekens!!!!!!!!!!!!!!!!!!!
"Joost Van Der W en sy siek aanhangers is tiperend van hierdie siek land en sy vrotasem selferkende hoerjaers."
"Joost jy maak my siek.....jy maak my regtig fisies naar....jy verneuk jou vrou en jy verdien wat jou toekom......Hoe kry jy dit reg om Amor so om jou pinkie te draai? Miskien moet dit die inhoud van jou volgende boek wees."
"Hoe kommin om 'n keps binneshuis te dra. Is jy nou op pad om 'n Rapper te word, nadat jy met die Stripper deurmekaar was."
Ha! Dis OK dat hy 'n portret van homself bo sy bed hang (sidder), maar om 'n keps binneshuis te dra is klaarblyklik onvergeeflik.

Vertigo

U2 (2005)
Het in die argiewe gekrap en op 'n paar ou U2 foto's afgekom. Ons kon destyds (2005) nie kaartjies vir die Londen konsert kry nie, toe besluit ons om dit in Dublin te gaan kyk. Ons het vergeet om vroegtydig blyplek te boek en moes 'n halfuur buite die stad, op 'n sopnat veld, kamp. Maar die ontberings was 'n klein prys om te betaal, want die konsert was die beste konsert van ALLE TYE. Croke Park is oor die algemeen 'n aansienlik aangenamer ervaring as Wembley. En, al het ons nie juis baie vroeg opgedaag nie, kon ons steeds heel voor, langs een van die ramps staan. Ons het nie doelbewus aan die linkerkant gaan staan nie, maar ek's bly ons het, want The Edge het heeltyd daar op en af geloop. As ek reg onthou, het ek amper opgegooi van opgewondenheid. (En toe hulle hierdie ou kry om saam met hulle te speel, het ek amper namens hom ook opgegooi van opgewondenheid. Maar hy't gelukkig die groot oomblik beter hanteer as wat ek sou.)
Het die foto's met ons eerste digitale kamera - 'n 4mp Casio - geneem. Die kamera het uiteindelik in 2007 in 'n rivier in Thailand gesneuwel, en toe't ek na 'n SLR opgradeer. Maar die compact was, sonder twyfel, meer pret.

Sunday, October 11, 2009

The best of times

Enigiets is natuurlik moontlik. Maar as 'n mens hier grootgeword het, dink jy nooit dat jy eendag 'n email van die kitaarspeler van een van jou gunsteling bands sal kry nie.
So, vir die enkelinge wat nog nie weet nie - ek het inderdaad onlangs 'n email van die kitaarspeler van een van my gunsteling bands (James) gekry! Check:

dear christine, i was very impressed by your photos on flickr of me with my new white guitar. As you may imagine as its so new i have no good shots of me using it yet.

Would you be so kind as to let me have a copy of the 4 photos on there. If i ever use them for my own purposes i will of course credit you and will never profit from them without consulting you first.

regards

Larry Gott

Nodeloos om te se, ons is nou beste vriende :-)

Gister kry ek nog 'n cool verrassing op die tube.

Net nadat ek in Augustus my Big Chill foto's op Flickr gesit het, het ek hierdie email van Fink se hoofsanger gekry:

...how awesome -it's rare i see live shots that i like but you captured a moment in Black And White of me, and i want it in my life big time...my girl would love it- it's fin in kinda concentration mode...

can i get a copy from you?

i would really love it...

fin

Ek het vir hom die foto (toevallig ook my gunsteling) gestuur, en gesê hy kan dit gebruik waarvoor hy wil - as hy my sal erkenning gee.

Fink, Big Chill Festival

Gister lees ek toevallig The Guide (van die Saterdag Guardian) op die tube, en sien toe dié:



Dis vir professionele fotograwe 'n groot irritasie dat amateurs soos ek gratis foto's uitdeel, want mense raak gewoond daaraan dat hulle alles verniet kan kry en dit maak dit al moeiliker vir pros om hulle pryse te kry. Maar as ek geld gevra het, sou ek nooit hierdie tipe kicks gekry het nie. Elke man vir homself, en so aan. Ek's natuurlik self geirriteerd dat hy toe wel die foto gebruik het sonder om my erkenning daarvoor te gee, maar hulle weet dat ek bewus is daarvan.

En dit alles deur die wonder van Twitter.

Sunday, September 27, 2009

Herfs

Autumn

Herfs is my gunsteling tyd van die jaar. Daar's iets aan die seisoen wat draai wat baie opwindend is. Net jammer dit gaan altyd gepaard met 'n minder opwindende post nasal drip.

Tuesday, July 28, 2009

Budapest

Heroes' Square, Budapest

Die Hősök tere (Heroes' Square) in Pest is bedags baie bedrywig, so dit was (glo ek) 'n aansienlik aangenamer ervaring om dit net na middernag te sien. Behalwe vir 'n paar bergies, was dit net ek, Rudi, Jozsef, Viki en Bolazs wat daar rondgehang het. Die dansers het almal (onder ligte dwang) 'n paar toertjies voor die besienswaardighede gedoen, voordat Bolazs (wat die coolste naam in menseheugenis het) ons na die volgende bar gelei het, waar ons ons vyf-'n-dag in die vorm van kersie- en aarbei Palinkas ingekry het.

Immergroen

Immergroen festival

Ek weet nie of ek die fees of die bohaai daarvoor of daarna op die Internet meer geniet het nie. Ek dink tog die fees wen, maar net oor ek permanent 'n biltong in die een hand en 'n papsak in die ander gehad het.
Dit was eintlik ook soos 'n reunie van die ou Walthamstow crowd (spesifiek die Lorne-denaars), so die musiek was 'n bysaak. Dis ook nie asof ons so uitgehonger is vir boerewors of Afrikaanse musiek dat ons gebroke was toe daar nie chutney of kunstenaars was nie.
Maar dit verander nie die feit dat Immergroen 'n mislukking van epiese proporsies was nie.
Die organiseerder, Cr**g l* R**x ("Sy naam is nou 'n vloekwoord!"), bly seker nog nie lank genoeg in Engeland nie, want anders het hy nou al lankal herhaaldelik Sorry! gese. Dis nou as hy nog kan praat. Want as 'n paar van die mense wat gedreig het om hom te verwurg hom wel bygekom het, is hy nie meer van hierdie wêreld nie.
As die kunstenaars ook maar net soos die res van ons hulle diensplig in Engeland gedoen het, kon hulle ook al Britse paspoorte gehad het, en was dit nie nodig dat die derduisende honderde feesgangers troos in die naaste bottel moes soek om hulself te geniet nie. Martin moes maar aan 'n paar NikNaks suig en met 'n tartrazine kick tevrede wees. (Hy was nie.)

Wednesday, July 08, 2009

Karen en Bill

Karen & Bill


Die blog-koma duur voort. Intussen...

Hier is 'n slideshow van 'n paar van Karen & Bill se troufoto's. Click op HQ, regs onder. (Musiek deur Moby.)

Dit was die tweede troue waar ek fotograaf gespeel het. Stresvol, maar groot pret. Dis waansinnig om soiets as 'n amateur aan te pak (en dit met 'n gehuurde lens wat enige tyd kan oppak, en 'n kamera wat jy nog net een keer gebruik het), maar ek dink tog mens leer die gouste as jy by die diep kant ingegooi word. En, asof een cliché nie genoeg is nie, onkunde is salig.
Al is ek oor die algemeen heel tevrede met die foto's, kan ek ook nie help om daarna te kyk en alles raak te sien wat ek anders/beter kon doen nie. Maar ek het dit immers met 'n mangelontsteking-koors gedoen, so daarvoor kan ek myself heelwat vergewe!

Tuesday, May 12, 2009

Jou sente jou drome, jou toekoms vol gate

Ek's 'n groot aanhanger van The Secret Millionaire. Hierin besoek suksesvolle entrepreneurs 'n minder gegoede buurt en gee voor asof hulle 'n dokumentêr oor liefdadigheidswerk verfilm. 'n Week later bieg hulle dat hulle eintlik rol in die geld, en dan deel hulle vet tjeks uit vir mense wat hulle beïndruk het. Hier begin almal gewoonlik grens: die miljoenêr, die oorblufte ontvanger van sy barmhartigheid, en ek.

Mense knak soos tandestokkies as hulle besef hoe die wiel onverwags vir hulle gedraai het. Vir kykers is dit emosioneel, want jy kry so lekker oor een ou se goedheid, en oor 'n ander se voortreflike lot. Dikwels is die mense wat die meeste van hulle tyd of geld vir ander gee, self nie so goed daaraan toe nie. So mens kry skaam as jy sien hoe gulhartig hulle is. Vir die miljoenêrs is dit dikwels só bevredigend om ander te help, dat hulle plegtig belowe om meer gereeld aalmoese uit te deel.

Mens moet gee waarvan jy baie het, dink ek. Of dit nou tyd is, of geld. Of empatie. Of aandag. Of wortels. Watookal! Ek gee self gereeld verniet en gratis my (ongevraagde) raad. Mense staan behoorlik tou vir die opinies wat ek so kwistig uitdeel.

Dis bemoedigend om te sien hoe mense in Suid-Afrika met hulle talente woeker. Ek het onlangs gelees hoe musikante (o.a. Gian Groen en Roof Bezuidenhout) 'n Spore op die Maan-konsert vir die aarde gehou het. 'n Ander groep kunstenaars het weer 'n CD opgeneem om mense hoop te gee. Die opbrengs gaan veral vir kinderslagoffers van geweld aangewend word. Sielsgebed, wat deur Mel Botes geskryf is, is die eerste liedjie wat vrygestel is. Met 12 bekendes (o.a. Dozi, Rina Hugo, Anna Davel, Piet Botha en Mathys Roets) wat saam in die “gebed van hoop” sing, is dit amper soos 'n Suid-Afrikaanse weergawe van Do They Know It's Christmas?.

Wat 'n begeesterde idee! Ek dink die CD is die ideale geskenk vir, seg maar, my Ouma se suster wat Sondagmiddag, toe sy ná haar middagslapie wakker word, sien hoe 'n skollie met haar geliefde tjor wegry.

(SA Promo, Junie)

Thursday, April 16, 2009

Zuma en die heuningkwas

Jacob Zuma het glo nou die dag gesê dat, van alle wit groepe in Suid-Afrika, Afrikaners die enigste "ware Suid-Afrikaners" is, omdat hulle nie twee paspoorte het nie en gevolglik nie sal (of kan!) weghol as daar probleme is nie.

Wie kan hoegenaamd teen sulke vleitaal immuun wees? Die ganse Afrikanerdom het sommer 'n nuwe blos op die wange. Ons koppe draai behoorlik van die manjifieke moontlikhede wat so 'n vlerkslepery inhou. Ek wil nie dinge vooruithardloop nie, maar verbeel jou net... Koebaai Mhlambanyatsi en Marapyane! Welkom terug Buffelspruit en Skilpadfontein!

Jy kan maar sê Afrikaners was die slagoffer van 'n politieke one night stand. En nou sit die volk by die foon en wag vir ons sjarmante held se volgende oproep. Die Souties (oftewel "twee-paspoort landsverraaiers!") sal sê ons is desperaat. Maar ons was net vir té lank afgeskeep. Ja, ons weet hy's 'n skollie, maar ons vergewe hom. Ons is immers mál oor mense wat van ons hou.

Ek sal maar nie vir Zuma die medalje wys wat ek onlangs tydens my Britse burgerskapseremonie gekry het nie. Wie weet hoe hy dan oor my ('n Vannermerwe - wat welliswaar nie meer Afrikaans kon wees al sou ek permanent 'n "100% Boer" T-hemp dra nie) sal voel! Ek sal ook verswyg dat al die witmense wat daardie dag saam met my in die "Britse familie" verwelkom is toevallig ook Afrikaners was.

Sommige van julle is natuurlik meer sinies en dink Zuma smeer ons so heuning om die mond, net om later 'n Dingaan op ons te trek. Hoogs onwaarskynlik, reken ek. Iemand wat so geneë is om almal tevrede te hou, sal mos álles in sy vermoë doen om nie die groot kanonne in wêreldpolitiek te ontstel nie. Dit sou waansinnig wees.

(SA Promo, Mei)

Saturday, April 11, 2009

Dag 87 - Put People First, G20 Rally

87/365 - Put People First, G20 Rally
Hierdie foto is by 'n G20 rally geneem - 'n paar dae voor 1 April se moles. Volgens wat ek kon sien, het die oorgrote meerderheid van die betogers SO gelyk: onskadelik. Daar was enkele aggressiewe opinies, maar ek twyfel of enigiemand wat daar was op enige stadium bedreig gevoel het.
Ek het talle verveelde polisiemanne sien rondsit - gereed vir 'n konfrontasie wat nooit plaasgevind het nie. Dis natuurlik beter om voorbereid te wees, so dis als goed en wel. Dit was net vir almal 'n bietjie van 'n anti-klimaks. Vir die polisie ook.

Die 1e April se betogings sou nie so rustig wees nie, daarvoor het 'n grootskaalse opswepery en bangpratery voor die tyd goed gesorg. Mense wat in die Stad werk is aangese om informeel aan te trek om te voorkom dat hulle teikens word. (Maar dit was net pienk hemde en ontwerpershandsakke oral waar jy kyk. Vir wie moes dit flous?)
Die polisie wou skade beperk en het 'n kordon rondom die betogers gevorm ('n 'kettle') en vir die volgende vyf ure niemand in of uit gelaat nie. Dit is iets wat die meeste mense aggressief en paniekerig sal maak. Baie mense is rondgestamp en onnodig hardhandig hanteer, maar die polisie het (en kon) nie onderskei tussen vredeliewende betogers, iemand wat oppad was na 'n vergadering, en 'n skollie wat spesiaal van Duitsland af gekom het om 'n paar bakstene te gooi nie. Tog - as Ian Tomlinson nie na so 'n onderonsie met die polisie aan 'n hartaanval dood is nie, sou niemand waarskynlik die polisie se metodes bevraagteken het nie.

Sunday, April 05, 2009

Dag 83 - Brits!

... maar nie sonder voorbehoud.



Dis 'n groot oomblik wat 'n behoorlike blog regverdig, maar vir nou sal ek eers volstaan met hierdie Steers-advertensie, wat 'n goeie opsomming is van hoe die meeste Suid-Afrikaners in Londen voel.


Tuesday, March 24, 2009

Dag 80 - 491 Gallery

Was Saterdagaand by 'n verjaardagpartytjie in 'n klub in die stad. Nie iets wat ek normaalweg nugter wil aanpak nie. Dis net t**te en elmboë waar jy kyk. Toe loop ons twee Spaanse vriende raak wat se hulle gaan later na squat party in Leytonstone, en wil ons saamgaan. Ek het nog daaroor gedink, toe's ons al oppad. Die squat is eintlik 'n uiters goed georganiseerde kunsgallery (of iets), wat ook aan musikante uitverhuur word. Ons het ongelukkig net een band gesien, maar dit was nie die enigste vermaak nie (lag-gas, enigiemand?). Die hele atmosfeer was soos 'n Glastonbury in E17.
Ek sal nie beweer dat ek alles kan onthou nie, maar hoop om weer daar 'n draai te maak. Dis lekker (en raar) om sulke plekke in Londen te ontdek. Of dalk moet ek net meer uitkom.

Dag 79 - eerste dag van die Lente


Het nou die dag 'n baie interessante onderhoud met Eric Carle gelees, en toevallig het hy kort daarna Google se Lente-dag ontwerp gedoen.

Ander cool Google ontwerpe was hierdie een vir Earth Hour, en hierdie een toe die Koningin hulle kantore besoek het.

Dag 77 - Mislukte selfmoordpoging

Darem nie myne nie! 'n Siel wat voor 'n trein ingespring het. Dis 'n aaklige manier om selfmoord te pleeg (nie net vir die slagoffer nie), en sekerlik een wat jy nie regtig wil oorleef nie.

Deesdae blameer hulle so baie tube-oponthoude op "passenger action", dat ek al begin wonder het of dit nog 'n gevolg van die credit crunch is, en of dit net 'n beter verskoning as "signal failure" is: dat passasiers meer verdraagsaam sal wees as hulle dink iemand het selfmoord gepleeg, as wanneer daar 'n ander tegniese fout is. (Hulle IS meer verdraagsaam, maar net effens.)

Ons het een middag laasweek weer gehoor iemand het onder 'n trein beland, maar die keer was daar geen twyfel dat dit werklik die geval was nie - die hele pad rondom die stasie (langs my werk) was afgesper en slegs brandweerwaens, ambulanse, ens is ingelaat.
Toe die helikopter land toe besef ons die persoon lewe nog. (Ek sidder om te dink in watse toestand.) Mens lees nooit van mense wat so gesterf het of so 'n ongeluk oorleef het nie (tensy hulle gestamp is - en dit het al gebeur), so ons sal nooit weet wat van die persoon geword het nie. Ek kan my dit nie indink nie.