Tuesday, March 16, 2004
Brittanje se eerste burgerskap seremonie is vroeër vandeesmaand in Brent se stadsaal gehou. Die geskiedkundige oomblik is (oudergewoonte) gevier deur ‘n onnodige fuss van Haar Hoogheid te maak. Met ‘n groot portret van haar voor hulle, moes 16 volwassenes (waaronder vier Suid-Afrikaners) en drie kinders trou aan Elizabeth II sweer. Dit was ‘n heuglike dag, met ‘n uitgelese gehoor. En Prins Charles. Na die tyd het almal lekker saam God Save the Queen gesing. Gedurende die seremonie is daar glo positiewe tonele van Brent teen die muur vertoon en lekkerluisterliedjies in die agtergrond gespeel.
In die toekoms sal hierdie seremonie die laaste tree vir immigrante na die Boesem van Brittanje wees. Voor dit sal daar taallesse en ‘n Britsheid-toets wees.
Van die vrae in hierdie toets kan glo (regtig) wees:
1. Hoe betaal jy ‘n telefoonrekening?
2. Wat beteken dit om ‘n goeie buurman te wees?
3. Wanneer is Brittanje laas ingeval?
En ‘n tipiese Suid-Afrikaner sou as volg antwoord:
1. ‘n Selfoon s’n? Jy doen nie! Wel, nie as jy die rekening kry kort voor jy moet huistoe gaan nie.
2. Dit beteken as jy sy heining gebruik om vuur te maak, moet jy hom nooi vir die braai.
3. SAA220, 06h45, Heathrow.
Asda ‘n wil is
Brittanje het aan die einde van Februarie sy eerste supermark-troue gesien. Die bruid slaan till by Asda se York-tak, en haar man het haar glo vir maande lank daar uitgecheck(!)
Dis 'n mooi storie, want dit bewys dat sommige mense in die VK wel oogkontak maak. Of, soos mister Freeman dit stel, "Our eyes just sort of met at the checkout." Dis raar in dié land. Gewoonlik gebeur dit net as een van die twee oogkontakmakers ‘n uitlander is. Of as een van hulle dink die ander een kyk vir ‘n sekonde te lank na sy ‘woelige’, ‘effens oorgewig’ ‘kind’.
Die paartjie het nie juis beheer gehad oor waar hul ontmoeting sou plaasvind nie. Wie weet vir hoeveel uur op ‘n dag moet sy till slaan, en dan’t sy sekerlik nie tyd om aanmekaar braais te reël en vir al haar makkers te sê om los (en lus) mans saam te nooi nie.
Maar hulle het wel ‘n keuse gehad oor waar hulle gaan trou. So hoekom sou hulle Asda kies? As sy in Harrods gewerk het, dan was dit anders. Maar ASDA? Of is dit net ek wat nie lekker “die gelukkigste dag van jou lewe” en “Aisle 7, Coffee/Tea/Cereal” by mekaar kan uitbring nie? Dalk het hulle gratis drankies gekry. Of dalk het missus Piggott nie meer verlof gehad nie en moes sy tot ten minste 11-uur ingaan, en toe, om weg te kom, sê sy voel nie lekker nie. Almal sou haar glo!
Wie weet. Uit ‘n finansiële oogpunt is dit dalk ‘n goeie idee. As hulle vir al die gaste een of twee taamlik vullende 18p hoender-sosaties sou gee, kon hulle ongeveer 100 mense nooi, want hulle sou nie 34p se mixed cutlery hoef te gekoop het nie. As hulle ‘n bietjie meer wou uithang, kon hulle klein 84p bakkies pasta op die 68p-vir-20 papierborde voorsit. (As jy ooit voor so ‘n keuse staan, vat die prawn cocktail.) Asda het fênsie goed ook, soos olywe en chorizo, maar dan sou 100 mense regtig te veel wees.
Hallo?
London Underground is in onderhandeling met die vier grootste selfoon-maatskappye om ‘n klomp transmitters in stasies, en dalk tonnels, te installeer. ‘n Studie het glo getoon kliënte "welcomed the system as long as people were sensible and respected the space and privacy of other travellers”.
Die probleem is net dat niemand in hierdie stad (behalwe ek, soms) “sensible” is nie. Baie min respekteer ander se spasie. En privaatheid? Nie eens in die toilet van jou eie eenslaapkamerwoonstel, in ‘n verafgeleë dorpie lanks die weskus waarvan niemand nog ooit gehoor het nie. Behalwe dat jy hoor hoe almal met hulle imaginery friends gesels, sal jy nou ook moet luister na ammal wat “Ohmygawdyeah…” gisteraand na daai “’e’s a f***in’ w***er, innit?” op I’m a Celebrity moes kyk.
Know wha’ I mean?
Heaven knows I’m miserable now
Morrisey gaan vanjaar se Meltdown-fees by die South Bank organiseer. Die South Bank (dis basies die Royal Festival Hall kompleks) kies elke jaar ‘n kunstenaar wat vir twee weke ‘n paartie kan gooi met almal waarvan hy hou. Voorverlede jaar het David Bowie dit organiseer. Hy het Coldplay en Suede daar gehad. Maar wat op aarde sou Morrisey daar aanbring? Glo my, ek sien baie uit. As tiener was ek ‘n groot Morrisey fan. My broer het die plate en kasette gekoop, en ek het dit by hom afgetape. (Ek was, en is steeds, te suinig om my eie te koop.) In elk geval, om deur puberteit te gaan as ‘n Morrisey fan en ongeskonde anderkant uit te kom... dit wil ek nog sien. Nie dat depressiewe lirieke soos “see, the luck I've had can make a good man turn bad” hoegenaamd óóit meer skade kan aanrig as O, ek wil huistoe gaan, na mamma toe, en dit op ‘n techno-beat, nie!
(As ek reg gehoor het.)
Hy wou nog sit
Die World Cancer Research Fund het ‘n nuwe veldtog geloods om die verband tussen kanker en vetsug te toon. Die advertensies verskyn agterop busse, en wys ‘n man se XXXXXL-agterkant met die leuse Don't Look Like The Back End of a Bus.
Die skoktegniek moet mense glo oor hul eet- en oefengewoontes laat dink. “Dis vir ammal,” sê Prof Martin Wiseman, wat ‘n raadgewer vir die WCRF is. “Ook vir maer mense sodat hulle nie vet word nie.” Voorkoming is die sleutel, meen hy. Want, soos ons almal weet, dis hopeloos te moeilik om na die tyd die vetrolle af te skud. Daar’s toenemende kommer oor die onrusbarende vlakke van vetsug in die land. Onlangse syfers toon dat ag miljoen mense (dis een uit elke vyf Britte) oorgewig is of agterente soos busse het.
Dit voel net hoe meer hulle praat van kos, hoe hongerder word die mense. Chips, anybody?
Friday, October 17, 2003
Blaine onnosel
Selfs al beplan jy dit nie, vat maar ‘n gooiding saam. Die teiken is regtig uitlokkend as jy eers daar is. Hou in gedagte dat hy, toe hy aan die einde van sy eerste week ‘n vuil doek in ‘n sak tussen die mense laat val het, een van die eerstes was om goed te begin gooi. Onthou ook, as jy beplan om dit met verfbomme of gholfballe of eiers te doen, jy nie die eerste sal wees nie. O, en moet hom nie gaan soek “onder” die Tower Bridge, “bo-oor” die Teems, soos daar wyd en syd geadverteer is nie. Soek so ‘n entjie anderkant die brug, weg van die rivier – hy hang daar iewers aan ‘n hyskraan.
As jy gaan, moenie eetgoed vergeet nie. Mens raak onbeskryflik honger as jy so kyk na die man. Dit kan dalk wees omdat daar so baie hotdog toeriste-trollies geparkeer is. En daar is immers min dinge so onweerstaanbaar soos die reuk van gebraaide uie.
Hulle het ‘n opname onder Londenaars gemaak oor tien goed wat jy eenvoudig hier moet doen. Een daarvan was glo om – al weet jy van beter – ‘n hotdog by so ‘n trollie te koop. Daarna nooit weer nie – dis een van daardie lesse wat jy op ‘n onaangename manier na ‘n lang aand in jou toilet se teenwoordigheid leer. Maar, die reuk van gebraaide uie is onweerstaanbaar, en toeriste weet natuurlik nie van beter nie. Hulle sien nie hoe die eienaars van daardie trollies dit soggens vroeg onder ‘n brug of afdak uitsleep, vlugtig die duifstront met ‘n vuil lap afvee en dan begin uie braai om ‘n strik vir almal met reuksintuie te stel nie.
“Let’s go watch him DIE” sê ‘n pokkel voor my, en prop twee derdes van die euwel in haar kieste.
Dit is "the most extreme exercise in isolation and physical deprivation ever attempted" seg die man na wie daar ook as ‘n hedendaagse Houdini verwys word van sy eie toertjie.
Dis duidelik dat hy nog nooit in lieflike Desember-weer alleen in ‘n koshuis wat na sonbrandolie en draairoomys ruik moes agterbly om ‘n her te skryf nie.
Dis ook nie asof ander mense nie werklik deur hierdie proses gaan nie. Hulle kies dit net nie. En hulle word nie (‘n beweerde) £4 miljoen daarvoor betaal nie. Dit lyk ook aansienlik minder traumaties in sy geval, soos hy daar flouweg vir die mense lê en wuif.
As ek ooit die begeerte kry om my liggaam en gees tot die uiterste te beproef, sal uithongering die laaste manier wees.
Ek en my maters Estelle en Sonika het immers tydens een eksamen tot die besef gekom, en terstond ‘n eed gesweer, dat ons nooit honger of dors sou wees nie. Ongeag die omstandighede. As die taak dan laat moet in wees, dan moet dit. Dat jy in daardie 20 minute ‘n ekstra langvraag sou kon leer, is nie ter sake nie.
En so was dit dan dat ons in eksamentye 10-uur sou opstaan – goed uitgerus vir ‘n produktiewe dag. Teen 10.30 staan ons voor in die ry vir doughnuts en tee, sodat ons teen 11.30 kan gaan stort om reg te wees vir die middagete om 12.30. Daarna pak ons ons boeke reg, en doen als wat bevorderlik sou wees vir die studieproses, soos om kaste reg te pak, vloere te vee, ‘n 200 000-stuk legkaart te pak en notas te bedel. Dié moet ons dan in die biblioteek gaan afrol. Maar die druk is groot, want ons moet 4-uur terug wees as die snoepie oopmaak. En sodra jy dan jou sit voor jou boeke kry lui die 5.30 aandete-klok. Teen die tyd is mens al so suf gedink, dat Egoli ‘n essensiele breuk is. Deur die loop van die aand ondersteun ons nog twee keer die snoepie. En (as dit toevallig die aand voor ‘n eksamen is) word die wekkers vroegaand al vir 3vm gestel, rol die eerste trane om 0.30 en ontwikkel jy om 1.15vm ‘n dodelike koors waarteen jy dapper probeer veg (met ‘n bietjie boerbeskuit en rooibostee).
As Blaine nie glukose saam met sy water inkry of cereal bars tussen sy doeke wegsteek nie, beteken dit eenvoudig hy weet nie hóé nodig ‘n mens wat daagliks strawwe intellektuele inspanning moet verduur ‘n ou stukkie kos het nie. So, hy’s of dom of hy’s ‘n cheat. En so ‘n mens stel ek nie aan een van my enkellopende vriendinne voor nie.
(Nota aan my ouers: ek oordryf gewoonlik vir dramatiese effek.)
(Klets 2003)
Wednesday, September 17, 2003
Niemand hou ‘n horlosie dop soos ‘n temp nie
Vir sekretariele- of ontvangswerk kan jy enigiets tussen £6.50 en £9 per uur verdien, en as jy ‘n opgeleide regs- of mediese sekretaresse is, enigiets bo £12 per uur. Sommige mense temp net omdat hulle hou van die vryheid wat dit bied. Jy kan elke paar dae of weke by ‘n verskillende plek werk. Jy hoef ook net ‘n week kennis te gee, so as jy vir ‘n maand wil werk en dan vir ‘n maand wil vakansie hou, kan niemand jou keer nie. Nog ‘n bonus is dat jy elke week betaal word, so dis ideaal vir mense wat pas hier aangekom het of wat na maande se vakansie weer terugkeer.
Voor jy kan begin werk, moet jy eers registreer. Daar’s talle agentskappe om uit te kies en publikasies vir Australiers, Kiwis en Suid-Afrikaners is propvol advertensies van agentskappe met die mees fantastiese werksgeleenthede. Natuurlik is daardie werk nie meer beskikbaar as jy opdaag vir jou afspraak nie. Maar jy registreer in elk geval, en wag ‘n week vir hul oproep. Intussen toer jy maar bietjie in die stad rond, jy’t mos nou jou deel gedoen. Na ‘n ruk begin die werklikheid insink. Daar’t seker ‘n fout gekom, dink jy, en bel hoopvol. Wie? O. Hmm. Nee ons het niks beskikbaar nie. Mooi bly! Dan moet jy maar by ander plekke gaan registreer. Jy ken later die toetse, wat ongeveer twee uur lank duur, uit jou kop. Kort voor lank tik jy konstant 80wpm tik en kry jy niks onder 98% vir jou Word, Excel en PowerPoint toetse nie. Dan is jy skielik ‘n top-kandidaat, en almal wil weet waar jy die heeltyd was. Jy kry sommer vinnig ‘n ‘wonderlike’ geleentheid in Oxford straat, waar jy ‘baie gelukkig’ sal wees. Geluk is, in my geval, nie om ses dae ‘n week data entry te doen, met ‘n superteef van Durban, kom ons noem haar maar Ingrid, as ‘n baas nie.
In die beroep is tyd definitief geld. Daarom vat jy net 20 minute middagetes (die minimum wat jy verplig word om te vat). Sien, as jy 40min ‘n dag ekstra werk, is dit omtrent £70 ‘n maand na belasing. ‘n Week se huur.
Mense soos ‘Ingrid’ sal weet van elke minuut wat jy bylieg. Maar ander plekke, soos, seg maar, Inland Revenue verloor weer duisende ponde elke jaar aan gedokterde timesheets. As elke temp wat vir hulle werk ‘n halfuur per week aanlas, en gestel daar’s 20 temps, dan verloor hulle ongeveer £1,200 (sonder agenskapfooie) per maand. Daarvan kry hulle darem ook ‘n bietjie belasting! So, almal wen. Dan loop almal ook nog daar weg met ‘n paar notaboeke, penne en printouts van lekker vakansieplekke. As hulle in ‘n hoëkop se kantoor werk, eet hulle boonop gate in die koekieblik. Vir elke koekie wat ‘n gas kry, kry hulle ook. Dis nou die gevolge van ‘n een-vir-jou-een-vir-my opvoeding.
Elke Vrydag moet jy jou timesheet deur jou baas laat teken, en dit dan pos vir die agentskap. Ek het met my eie oë gesien hoe ‘n meisie wat 1.45pm sou huistoe gaan na die tyd ‘n ses langs die een ingevul het. Ek was stomgeslaan. En naar. Ek kon nie glo ek het nog nooit daaraan gedink nie. Maar ek’s eintlik ‘n bietjie lig in die broek vir soiets, al was ek glo ‘n bietjie van 'n klep in die Kleuterskool. Maar derduisende ander is nie. Hier oorleef die uitgeslepenes. Beter as die res ten minste. Maar mens gun dit vir ander, soos jy dit gun vir mense wat belasting ontduik. Dit raak jou mos nie.
Temping is vol uitdagings, waarvan die grootste is om papercuts te vermy. Jy is so onmisbaar soos ‘n faksmasjien. Maar die faksmasjien word beter behandel. Verder, met ons vreemde aksente, is dit soms moeilik vir temps en die mense by wie hul werk om te kommunikeer. As jy praat, kyk mense jou dikwels uitdrukkingloos aan. En as jy stilbly en wag dat hulle hul skeur vir jou briljante grappie, kyk hulle jou steeds uitdrukkingloos aan. Of na die horlosie en dan, na ‘n halfminuut, Yeees, riiiigh, okiedoke, take care. Suid-Afrikaners, vermoed ek, is minder subtiel. En met veral Noord Iere, Skotte, Waliesers, Scousers (‘n spesie van Liverpool) en mense van Yorkshire bestaan ‘n Suid-Afrikaner se bydrae meestal uit Huh? Jy vrees telefoongesprekke. Hier’s ‘n algemene voorbeeld: Hello uhm (naarstigtelike gesoek na jou baas se naam) so and so se office?
Jibbidie jibbidie jibbidie jibbidie jibbidie jibbidie, sê die stem.
Huh? Sê jy.
Jibbidie! JIBBIDIE!?? Hulle is haastig. Uhm.
Riiight, sê jy vrolik, okiedoke, take care! En skryf maar vir die baas ‘n klink-soos boodskap.
(Klets 2003)
Monday, August 18, 2003
Glastonbury is een boerse paartie
Joe Strummer, oorlede hoofsanger van The Clash – een van Brittanje se suksesvolste groepe ooit, het dit glo gehaat om by die Glastonbury Festival op te tree. Hy wou eerder tussen die mense rondhang. En sedert die musiekfees (die grootste in Europa) se ontstaan in die ‘70s, sou jy hom glo jaar na jaar iewers op die Lost Vagueness veld - waar daar nou vir hom ‘n groot gedenksteen opgerig is - kry.
Waar hý was, sê hulle, was die paartie. Maar meer as dit, hy’t met al wat ‘n karakter is gesels en hom ontferm oor almal wat koud of nat of sonder drank is. Hy’t glo eenkeer vir amper twee dae geluister na iemand se geteem oor sy horlosie. Uiteindelik vra hy toe om gou na die horlosie te kyk. Dié gooi hy toe terstond in die vuur en sê vir die ou “Fokkof nou!” En dit som vir my nie net die die karakter van die man op nie, maar ook die van die fees. Meestal onvoorspelbaar, maar altyd onweerstaanbaar.
As een van die sogenaamde Glastonbury virgins was ek maar skrikkerig vir wat sou voorlê. Die hele bus het stil geraak toe ons reeds ‘n ent van die plaas die massiewe £1 miljoen omheining sien wat diegene sonder kaartjies moet uithou. (In 2000, het derduisende mense ingestroom. En weens die gevolglike chaos het die fees amper sy lisensie verloor.)
Dit voel behoorlik of jy op ‘n weermagkamp gaan – so met die vooruitsig van afsondering en gebrek aan fassiliteite. Die longdrops is boonop legendaries. En, ja, dit wat ek hierdie naweek gesien het behoort niemand op ‘n leë of vol maag te sien nie. Wat dalk verklaar waarom die meeste feesgangers deurentyd op een of ander manier hulle sinne benewel.
Iemand wat nog nooit daar was nie, weet nie wat om te verwag nie. Almal wat gereeld gaan kyk jou net met ‘n as-jy-maar-geweet-het glimlag aan en sê “Dis regtig moeilik om te beskryf”. Maar as jy vroeg Vrydagoggend jou uitgewerkte program saam met jou vooropgestelde idees opfrommel en begin om dit te vat soos dit kom, dan verstaan jy, man. Jy gee sonder enige protes aan die Glastonbury spirit - wat iets tussen ‘n Bybelse ideaal en Fear and Loathing in Lost Vagueness is - oor. En, ek is bevrees, dit ís regtig moeilik om te beskryf.
Hierdie naweek aan die einde van Junie op melkboer Michael Eavis se Worthy Farm is moontlik die weirdste en wonderlikste wat enigiemand ooit kan hê. Daar’s ‘n oneindige verskeidenheid goed om te beleef. Maar dis asof almal so min as moontlik doen en nie regtig kan onthou of hulle gesien het wat hulle dink hulle het nie. Soos die ou wat angstig op ‘n boodskapbord vra of iemand anders ook laasjaar ‘n Spaanse skip sien verbydryf het. (Iemand het gelukkig).
Alles is so absurd jy kan later nie onderskei tussen wat ‘regtig’ is en wat nie.
Daar’s die Healing Fields waar mense heeldag besig is met meditasie en massering, shiatsu of aromaterapie. En iemand wat wil weet hoekom jy nog nie jou tone name gegee het nie.
Op die Lost Field is daar ‘n Casino wat van middernag tot 5vm ‘n kabaret aanbied, waarvoor jy ‘n uitrusting moet huur. Maar as jy byvoorbeeld nie hiervan weet nie, en jy stap een oggend 6-uur slaapbeneweld daar verby en jy sien 30 mense in die eienaardigste uitrustings wat lyk of hulle dit elke dag doen, dan voel dit of jy per ongeluk soos Alice in die rabbit hole geval het.
Die hart van die fees lê in die Sacred fields rondom die Stone(d) circle. Daar’s dag en nag iemand wat tromme speel en begeesterde crusties wat in kringe dans. Sommige wat lyk of hulle al sedert die ‘70s daar kamp. Heelnag deur sit groepies mense om fakkels en kerse en gesels of slaap of staar in die niet – en as die son opkom is daar ‘n oorverdowende gejuig.
En dan die musiek: Ongeveer 200 groepe om uit te kies. R.E.M, Radiohead, Moby, Manic Street Preachers, David Gray en Suede op die Pyramid Stage alleen. Ook Fat Boy Slim, Röyksopp, Chemical Brothers, Doves… Die meeste mense loop maar doelloos van een veld na die volgende. As jy byvoorbeeld afkom op Har Mar Superstar met sy blink bokserbaadjie en manjifieke mullet en dis jou tipe ding, dan vergeet jy maar vir eers van die Inspiral Carpets.
Na afloop van hierdie mal naweek kry almal glo ‘n bietjie van die gevreesde Glastonbury down - elke doodgewone aktiwiteit verg skielik bonatuurlike inspanning, totdat jy genoegsaam herstel om vir die volgende fees te begin beplan. Want een ding is vir seker – jy gaan weer.
Dis nie net die wannabe-hippies van hierdie wêreld wat deur die gogga gebyt word nie: Daar’s so ‘n ongelooflike energie in ‘n Glastonbury-gehoor dat supersterre soos Michael Stipe en Paul McCartney baie mooi vra om daar te speel en dit boonop vir peanuts sal doen. As die energie positief is, kan ‘n optrede hier glo tot ‘n relatief onbekende groep se uiteindelike sterstatus lei – wat wel die geval was vir o.a. Pulp, Oasis en Robbie Williams (na sy breuk met Take That).
Dit blyk egter nou Robbie Williams se ‘sterstatus’ was maar net ‘n mite. Terloops, dieselfde Glastonbury-mites duik jaarliks op, soos dat iemand wat in ‘n toilet geval het net betyds gered is, of dat Cliff Richard tragies gesterf het.
(SA Times 2003)
Saturday, August 16, 2003
Pamplona
As een van die grootste byeenkomste in die wereld, behoort Pamplona se bulwedloop in elke dapper reisiger se dagboek te wees. Maar ek het in elk geval gegaan.
Dit was die laaste dag van die bulwedloop - die groot aantrekkingskrag van Pamplona se eeue-oue, jaarlikse San Fermin fees.
Met sonsopkoms reeds het mense begin plekke inneem op die roete waarlangs die bulle (en dalk hulle) enkele ure later sou hardloop - vanaf die kraal waarin die diere oornag aangehou word en die arena (Plaza de Toros), waar hulle almal uiteindelik sou sneuwel.
Ek het vir meer as 'n dag 'n slegte voorgevoel gehad. Teen 7vm het ek paniekerig begin word, en teen 7.45vm was ek totaal vreesbevange. Hierdie dag is my laaste, het ek gedink terwyl ek my naels in my man se arm geslaan het. En ek was maar net 'n toeskouer.
Die Spanjaarde hou nie eintlik daarvan dat vrouens deelneem nie, maar dis nie die rede waarom ek eerder verkies het om vanaf die 6-voet hoe houtreelings, wat elke dag langs die grootste deel van die 800m-roete opgerig word, te kyk nie. Ek raak eenvoudig nie opgewonde by die vooruitsig van 'n kwaai 600kg bul op steroiede wat in my rigting storm nie. Sien, ek het op 'n plaas grootgeword en is deur baie goed gejaag - volstruise, tarentale, donkies, bokke... En al was net my broers werklik 'n bedreiging, kan ek steeds die vrees van 'n potensiele slagoffer onthou. Verder onthou ek ook hoe ek tweede laaste in die 100m naellope gekom het toe skoolatletiek nog verpligtend was.
Behalwe vir vrouens, kinders en dronkies wil baie inwoners van Pamplona ook nie he uitlanders mag deelneem nie. En dit weet ek, omdat dit presies is wat een van hulle vir ons gese het. "Wat's julle?" het hy geskree. "Frans? Duits? Engels? Wat soek julle hier? Hoekom kyk julle dit nie op TV nie?" En hy was huilerig oor die ongeregtigheid totdat almal uiteindelik huis toe is.
Kort voor hulle die bulle loslaat (om 8vm) wil dit lyk of die vroeere sangria-geinspireerde brawade van baie hardlopers vir ernstige besinning begin plek maak. Daar's ongelooflike spanning in die lug, dan raak die hordes toeskouers vir 'n wyle stil in afwagting, en die skoot (wat die loslaat van die bulle aandui) gaan af. Vir bykans vyf minute is dit elke man en elke bul vir homself.
Ons was op die 'pylvak', net voor die Plaza de Toros, so ons moes nog 'n paar angstige minute wag. Baie gou kom die eerste golf hardlopers om die draai - almal tradisioneel aangetrek in wit, met rooi nekdoeke en rooi serpe om hul middellywe. Toe kom daar nog 'n groep mense, wat so te se agteruit loop en resepte uitruil. Want toe die eerste paar bulle om die draai kom met sulke klang-klang-klang klokke om hulle nekke, kon mens hulle verwar met 'n klomp koeie. Hulle het meer soos Ferdinand, daardie storieboekbul wat net rondgesit en blomme geruik het, gelyk as soos die aggressiewe, moordlustige monsters waarvoor ons gewag het. Ek het my naels baie teleurgesteld uit my man se arm getrek. Die mense rondom ons was ewe verdwaas. Ons wou bloed sien! Natuurlik moes ons naby die begin van die resies gewees het toe die bulle nog vars en vinnig wees - ons weet dit nou. Maar toe moes ons, soos die res van die wereld, agterna op 'n kroeg se TV na die hoogtepunte kyk en wonder hoe dit sou voel om daar te wees.
Diegene wat kaartjies gekry het vir die Plaza de Toros kan na die stiervegte kyk, waarin al die bulle wat aan die wedloop deelgeneem het in drie stadiums (tercios) doodgemaak word. Sommige reken dis 'n ongelooflike skouspel en 'n kuns, en beslis iets om te sien. Ander raak histeries oor die sinnelose gemartel van diere. Stierveg-entoesiaste meen 'n geveg met 'n goeie matador is die mees edel manier vir hierdie manjifieke bulle om te sterf.
Ons het nie kaartjies gehad nie, en op daardie oomblik het ons ook nie belanggestel nie. Ons wou net iewers 'n bietjie gaan le. Soos derduisende ander. Ons sien nooit soveel aksie voor nege in die oggend nie, en dit was boonop 'n baie, baie lang nag.
Daardie San Fermin Feesnagte is berug. Hulle hou nooit op nie. Dit begin alles op 6 Julie om 12-uur die middag wanneer almal seremonieel hulle rooi nekserpe opsit. En dit eindig eers die nag van die 14e met 'n optog. Tussenin word die hele ou deel van die stad in een groot straatpartytjie omskep. Sover jy loop is daar 'n aansteeklike karnaval-gees (baie lekker musiek en baie dronk mense), asook 'n onaangenaame dreinreuk, wat mens laat besef die spanning (of die tapas) moet iets verskrikliks wees. Teen 6-uur die oggend hou die partytjies tydelik op as die adrennaliensoekers na die roete waarlangs die bulle gaan hardloop begin beweeg . (Jy moet vroeg gaan as jy 'n goeie staanplek wil he.) Na die wedloop begin die gefuif weer van voor af. Maar op die laaste dag maak alles so vinnig toe, dit voel eintlik onwerklik. Binne 'n paar uur ondergaan die stad 'n totale gedaanteverwisseling. Almal het min of meer genoeg gehad.
Behalwe vir die groepie wat vroegoggend op die 15e terugkeer na die wegspringplek en wag vir die eerste voertuig wat verbykom en dan hardloop hulle maar weer.
(Klets Augustus 2003)
Tuesday, June 17, 2003
Die kuns van dos
Maar dit het niks met die storie te doen nie. Ek wou eintlik net sê dat in die drie weke wat Kobus hier gekuier het, het ons besef: hy’s die een! In ‘n wêreld vol opportuniste, is hý die perfekte dosser. Hier’s nou ‘n man wat (onwetend) die essensie van dos verstaan.
Almal wat in deelhuise bly kry op een of ander stadium dossers. Dit kan iemand se ouers wees wat vir ‘n naweek daar bly, mense wat pas hier geland het, werkloses, of selfs (o, wee) professionele dossers. Hulle het nooit baie geld nie, en julle wil altyd meer hê. Niemand sê nee vir ‘n dosser nie. Ons help tog mekaar. Maar, ja, dis soos om ‘n vreemdeling wat in Desember aan jou strandhuis se deur klop in te laat en te verwag dat jy hom nooit gaan sien of hoor nie, behalwe as hy jou roep vir aandete of vra dat jy jou voete oplig terwyl hy stofsuig.
Verwagtinge oor dossers is dalk effens onredelik, toegegee, maar dis deel van die pakket. Ons het ook berus by die gedagte dat ons altyd net sal wens en skimp oor die deugde van ‘n ordentlike dosser. Maar toe kom Kobus…
So, wat is dit - hierdie skaars spesie, die ideale dosser?
Die woordeboekdefinisie – soos die mense lief is om te sê – is:
Dos
snw.
1. Om te slaap waar daar plek is. Voorbeelde: bank (met/sonder gat); grond (met/sonder matras); gang
2. Om vroegoggend reeds al jou besittings (beter bekend as “jou k*k”) uit die pad te skuif om minimum ongerief vir ander huisbewoners te veroorsaak
Dosser
Snw.
1. Iemand wat begryp dat hy geen regte het nie en daarin berus – ongeag hoeveel dosgeld hy betaal.
Dis regtig nie so moeilik nie. Ek meen, die eerste reël van dos is die dosser mag mag nie kla nie. Die tweede reël van dos is die dosser mag nie kla nie. Die derde reël van dos is die dosser mag nie eens lyk of hy wil kla nie.
Dis al. Maar dit blyk die grootste probleem te wees. Mense is nog bereid om enige plek te slaap, maar dan wil hulle skielik hulle terrein afbaken en sekere verwagtinge koester. Die punt is - waar dit dossers raak, kom bedagsaamheid net van een kant af.
Die perfekte dosser, kan mens maar sê, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie.
Gestel daar kom ‘n paar jongmense Londen toe tydens hul Universiteitsvakansie. Vanuit die staanspoor is ons supervriendelik. Dis mos onse mense en ons weet dis nie maklik nie. Maar gestel een van hulle vra vir water en hou die glas teen die lig en trek baie beslis ‘n bolip op en ‘n ander kreukel ‘n wenkbrou oor daar nie plek is om hul klere op te hang nie – dan verdwyn die gemoedelikheid. Niks meer glimlaggies en gunsies nie. As die mense half skrikkerig is, sal hulle probeer om konfrontasie te vermy. Wat wys is. Byvoorbeeld, as een van hulle die volgende oggend 5vm moet opstaan om te gaan werk, en een van die huismense sit 1.30vm die lig aan om TV te kyk – op ‘n kanaal wat uit hysbak-musiek en dierse geluide bestaan – is dit beter om grootoog te lê en luister, want om rond te rol en te sug sal net die lewe vir jou en al jou vriende moeiliker maak. Vir ewig.
Beginner-dossers sal hul nog daaraan steur as hul berispe word. Hulle sal ten minste probeer. Vir hulle is daar hoop (en dalk oorskietkos).
Dan kry jy die’s wat dink hulle mag ‘hulle’ kamer (die sitkamer) se deur sluit of versoek dat niemand na 11 daar mag in nie. Maar dit werk nie so nie. As die huisbewoners hulle dan nie daaraan steur nie, en die dossers dink dis wys om al hul swaar bagasie teen die deur te pak, dan moet hulle nie skrik as daar ‘n byl of ‘n stoel deur die deur kom en hulle in die middel van die nag in die hoofstraat moet wag vir ‘n nagbus na wie weet (oftewel ons gee nie ‘n f** om) waar nie.
Die mees skaamtelose van dossers is egter die familie van ‘n sekere “Elizabeth”. Sy wou vir haar neef en sy vrou, Prins en Prinses Michael van Kent, die grootste, beste trougeskenk gee (verkieslik een waarvoor sy nie self hoef op te dok nie) – en sê toe hulle kan by Kensington Paleis intrek. Toe vind iemand uit hulle betaal slegs (ongeveer) £69 per week om daar te bly. (Dit is wat mense sou betaal om ‘n kamer te deel, in ‘n huis met ag mense en een badkamer).
O, maar soms moet hulle ‘n lint knip en ‘n lekker paartie bywoon, seg die Paleis toe die volk bietjie begin brom. Nou - hoe edel - gaan die koningin vir die volgende ses of sewe jaar hul huur uit haar eie sak (vol belastingbetalersponde) betaal, voor hulle iewers elders gaan aftree.
En soos die storie loop, is dit glo die ware oorsprong van die woord ‘tossers’.
(Klets 2003)
Sunday, June 15, 2003
Die politiek van pakkies
Die ding betrap jou onverhoeds. Jy besef eers alles het te ver gegaan as jy jouself met bollende kieste in die spieël betrap. En dis nie mooi nie.
Gewoonlik gebeur dit net met koshuiskinders en mense oorsee. (Minderbevoorregtes, kan jy maar sê). Jou ma dink sy doen jou ‘n guns en stuur vir jou ‘n “pakkie” saam met iemand wat jou kleinniggie ken wat jy vier jaar laas gesien het en wat ‘n dagreis uit Londen bly.
Groot opgewondenheid in jou huis - weke voor die tyd. Iemand kry ‘n pakkie! Later kry “ons” sommer ‘n pakkie.
Die ongeskrewe reëls van pakkies is baie ingewikkeld. Die verwagtings wat te groot is en die aannames wat ongegrond is. Party mense kry baie pakkies, en grotes daarby. Sommige mense kry bykans nooit iets nie, en dan’s dit eerder ‘n pakkietjietjietjie. Van hulle kan nie verwag word om te deel nie (maar slegs as jý ‘hulle’ is).
Eintlik is daar net een reel: Almal moet deel, behalwe jy. Synde ‘n ingewikkelde reël veroorsaak dit ‘n magdom komplikasies.
Jou huis is nooit voltallig nie, behalwe as daar ‘n “pakkie” oppad is. Teen die tyd wat jy met die ding by die huis aankom is almal daar, plus ‘n paar hol wangeriges wat jy nog nooit gesien het nie.
En wat, vra die aasvoëls (het die mense geen skaamte nie?), het jou mammie vir jou gestuur? Ag, sommer net ‘n paar sakdoeke. En? En drie beskuite.
Wys maar! kwyl hulle. Natuurlik weet hulle van die biltong, dink jy gespanne. Jy’s oortuig daarvan. Daar bestaan nie iets soos ‘n pakkie sonder biltong nie. Jy hou hulle met meer as net die nodige suspisie dop. En hulle vir jou.
Dan haal jy gou ‘n paar pienk fizzers uit, gooi dit in die middel van die vloer. Sien hoe hulle mekaar duik, en met vingers in die oë en lang naels in skouerblaaie daarop toesak. Jy glip gou op kamer toe. Gooi met een beweging die deur oop en die biltong tussen jou vuil onderklere. Storm weer ondertoe, net betyds om te sien hoe almal in verskillende hoeke van die vertrek lê en die aas verskeur.
Siestog, dink jy in ‘n oomblik van swakheid. Hulle is ook mos lus. Die tweestryd in jou gemoed is soos die laaste, groot morele dilemma. Ja, siestog, maar mens moet in ag neem dat nie een van hulle al ooit vir jou biltong aangebied het nie.
Daai aand gaan slaap jy vroeg. En elke ander aand tot dit op is. Jy kan niks in die yskas bêre nie. Want daar behoort alles aan almal. En iets wat in drie sakke en koerantpapier toegedraai word, vra vir inspeksie. So kruip jy maar weg in jou kamer. En eet flentertjies op ‘n slag. Omdat ‘n toe deur nog niemand gekeer het nie, luister jy met die grootste inspanning na elke geluid. As ‘n vloerplank kraak verdwyn alle bewyse onder matrasse en bo-op kaste en in broeksakke. Na ‘n ruk begin jy meer waaghalsig wees. Tot iemand die dag jou deur oopruk en jou halflyf in ‘n donker hoek in jou kas aantref. Wat maak jy? Ek pak my kas reg, sou die verkeerde ding wees om te sê. Dis te vergesog. Bly net kalm en seg liewer ek soek skoon sokkies. Dit kan hul tydelik flous.
As iemand die deur oopmaak en jou met enigiets in jou kieste betrap wat groter as ‘n gemiddelde kougom sou wees, nou ja, dan kan jy begin lieg. Maar hulle sal weet, en ongeag wat jy gaan sê jou daad sal onvergeefbaar wees, en jou vriendekring ‘n knou kry. Jy kan netsowel bieg en jou kosbare met die enkeling deel. Dis immers in sy eie voordeel om ook stil te bly.
As jy in ‘n verhouding is, móét jy deel en daardie persoon deel van die komplot maak. Behalwe as jy daardie vrotterige asem andersins kan verduidelik.
Al is daar baie lesse te leer, moet iets wat so ‘n ondergrondse gekolk afgee euwel wees. Vreemd, veral as jy in ag neem dat waar die boertjies saamtrek, hou elke slaghuis ‘n magdom biltong aan.
(Klets 2003)
Monday, June 09, 2003
Sal die een wat laaste die gallery verlaat asseblief die ligte afsit
Hoe lank nog voor ek kan huistoe gaan en sê ja, ek was daar, maar ek’s nou OK.
Dis nie dat ek nie kuns kan waardeer nie. Ek het ook al op my dag Klimt en Warhol prente teen my muur gehad. Selfs Picasso (of was dit Matisse?). Ek kan na ‘n program oor kuns op TV kyk, selfs ‘n boek daaroor lees. Wel… deurblaai. As dit prentjies inhet.
Maar as ek byvoorbeeld ‘n dag in Parys gaan spandeer, is die Louvre nie my eerste stop nie. Toevallig was die museum wel op my pad, en na ‘n groot gestoei deur omtrent 45 Japanese met hul arsenaal kameras het ek die Mona Lisa gesien. Ook net genoeg om gegrief te wonder of dit werklik dít is?
Ek was ook al in die massiewe National Gallery. En nie net om weg te kom van die kamakazi-duiwe op Trafalgar Square nie. Ek en twee maters wou Die Sonneblomme sien. Estelle, kunskenner en informasieplakkerleser van formaat, moes die voortou neem. Sy was ook die selfaangestelde houer van die heilige gallerykaart.
Na sowat 20 minute het ek en Yolanda koorsig op die sagte besigtigingsbankies lê en giggel. Ek het gewonder of ons simptome aansteeklik was en wat my laaste onsterflike woorde sou wees. My arme moeder sou haarself verkwalik omdat sy altyd volhou mens moet als beproef.
Daar was egter geen rus. Vir die volgende paar uur moes ons, onder opdrag, van die een gallery-uithoek na die ander draf. Die vleuel met die sonneblomme sou 5pm oopmaak. Intussen moes ons voor 4pm Da Vinci en Raphael sien. Daarna sou ons ‘n uur vir Michaelangelo hê. Ek en Yolanda was so swak, ons kon nie die absurde uitleg en logika bevraagteken nie.
En toe, skielik, nadat Estelle ons ewige stilswye laat sweer het, bely sy verleë sy’t die jaartalle op die inligtingpamflet verwar met openingstye. Die vleuel met die sonneblomme is dus nie slegs van 5pm tot 7pm oop nie, dit bevat bloot kuns van 1700 tot 1900.
Ons het vir ‘n respektabele aantal sekondes by die sonneblomme getalm, gegrief gewonder of dit werklik dít is en gehoop daar’s iewers ‘n Happy Hour.
Groot kuns stel dikwels teleur. En moderne kuns?
In Londen begin die simpel seisoen met die Turner-uitstalling in die Tate Britain. Dis ‘n
kompetisie met ‘n £20,000 prysgeld vir kunstenaars onder 50 wat die afgelope jaar ‘n indrukwekkende uitstalling gehou het. Dit word beskou as een van die mees gesogte pryse vir visuele kunste. Verlede jaar se wenner, Martin Creed, se uitstalling het onder meer bestaan uit ‘n leë kamer met ‘n lig wat aan en af gaan. Hy was natuurlik nooit in ‘n koshuis waar jy vir die soort ding gelooi is nie. Die man het bekend geword deur papier in bondeltjies te frommel. En om stukkies wondergom op gallerymure te plak. Creed was nie ‘n gewilde wenner nie. Een vrou het selfs eiers teen die vertrek se mure gaan gooi. Sy’t dit dalk gedoen namens almal wat nie die potensiaal in hul frommels gesien het nie.
Die finaliste se uitstallings vanjaar sluit onder meer in deurlopende kommentaar oor ‘n bloufilm, ‘n maagdraaier-voëlvlug geneem deur ‘n kamera gemonteer op ‘n afstandbeheer helikopter en ‘n installasie van Plexiglas, aluminium en hout (lees: ‘n interessante plafon wat jy sal sien as jou oë eventueel boontoe rol). My gunsteling uitstalling sluit Die Denker, ‘n rekenaar, in. Die kunstenaar voer ‘n klomp data in die rekenaar. Dié stel dan blindelings ‘n kombinasie saam as opdrag vir die kunstenaar. Byvoorbeeld, gaan heen en verf 366 broodborde.
Die enkele uitsondering ten spyt, was ek taamlik broos toe ek die gallery verlaat.
Is dit werklik dít? het ek bekommerd gewonder. Is dit die toekoms van kuns? Selfs die Kultuur-minister, Kim Howells, wat kuns studeer het, het op die kennisgewingbord by die uitstalling gal gebraak: "It is cold, mechanical, conceptual bullshit.” Wie’s ek om te stry.
Dalk het mense verward geraak tussen wat kuns is en wat ‘n kuns is. Dis nie kuns om ‘n lig aan en af te sit nie. Maar dis dalk ‘n kuns om jou lag te hou as jy sien hoe mense daarvoor val.
(Klets 2003)
Sunday, June 08, 2003
Dissie vir sissies nie
Maar soms tart jy eerder die voorsienigheid as jou landlord.
Suid-Afrikaners, spesifiek diegene wat in jou opvoeding belê het, toon gewoonlik reaksies van skok en ontkenning as hul hoor waarmee jy jou langlewe-brood verdien. Suid-Afrikaners in Londen is meer simpatiek. Dié uniform hang om 'n geraamte in baie se kas.
Almal wat sekuriteit doen het 'n goeie verskoning. Niemand stel belang in jou redes nie, maar jy wil dit nogtans regverdig. Mens kan nie bekostig om te trots te wees nie. As jy kon, sou jy tog eerder heeldag Kubaanse sigare rook. Die beroep is ondankbaar en vernederend. Mense kyk na jou soos hulle maar altyd na die werkersklas kyk. Langs die neus af. Of glad nie.
Soggens vroeg en saans laat sien jy baie grys broeke en wit hemde op die treine. Jy knik maar in erkenning met mekaar se lot. Dis nou as moegheid jou nie oorval en jy myle anderkant jou bestemming, met 'n kwylkol op jou bors, by die see wakker skrik nie.
As sekuriteitswagte hulle op 'n partytjie in dieselfde geselskap bevind, kompeteer hul noodwendig oor wie dit nou eintlik die ergste het:
'Ek staan heeldag op dieselfde plek! Elke dag! Vir sewentien maande al!'
'Aaaag, dis niks!' sal iemand snork. 'Ek moet 12 uur 'n dag ses geboue met 43 verdiepings elk patrolleer … met ingroei-toonnaels.'
'Jy's gelukkig!' kom die troef: 'Ek deel 'n piepklein kantoortjie met 'n tipiese geezer.' En asof dit nie genoeg is nie… 'Hy bad glo een keer in ses maande. Maar ek dink hy oordryf.'
'Oooooo' sê almal grootoog en effens aangedaan, drink hul biere klaar en gaan slaap op die hoogtepunt van die gefuif. Môreoggend moet hulle weer vyfuur opstaan.
Jy voel so skuldig dat jy maar nog 'n Stella drink en almal se halwes leegmaak. Jy's régtig gelukkig en dit kan mos nie! Jou kollegas is nie stereotiep nie. Hulle dra net een ring aan elke hand, is intelligent en snaaks. Walglik soms, maar die dae raak lank en daar kom baie boeings oor.
Jy kyk elke aand wêreldklas konserte na werk. Van Buddy Guy tot die Royal Philharmonic Orchestra. Jy's nooit moeg of verveeld nie. Joanna Lumley sal onverwags langs jou stop en sê 'Hallo, ek's Joanna Lumley.' (Jy sal agterna nie onthou of sy ooit fabulous darling gesê het nie. Maar dit was.) Jy het die Koningin van té naby gesien, teësinnig met Prins Charles skouers geskuur, Emma Thompson deur die gange begelei, en met 'n (baie) oud-Eerste Minister oor die weer gesels.
Daar kom hordes gemoedelike toeriste na jou gebou wat dink jy's 'n rigtingwysers vir die toilet, die stasie, ditse gallery en datse brug. Jy ontmoet talle van die energieke en eksentrieke pensioenarisse wat Londen soveel karakter gee.
Soos Matthew wat heeldag in die grondvloer restaurant sit, mense kyk en wag vir 'n vriend wat nooit opdaag nie. 'Moenie van die grondboontjies eet nie,' waarsku hy 'n oorgewig Amerikaanse toeris ongevraagd. 'Dit gaan jou net nog vetter maak!'
Oppad om vir nog 'n konsert te bespreek, beduie hy onbeskaamd 'Daai man is drek.'
Ekskuus?
'Daai man is 'n direkteur.'
Um, hoe dan so?' vra jy besorgd.
'Hy sê ek mag nie heeldag in sy restaurant sit nie! Waarvoor het ek miskien geveg?'
Dan sal hy weer van sy vyf jaar in die RAF vertel. Hoe sy been gewond en sy oog uitgeskiet is. En terloops noem dat jy heelwat beter sou lyk as jy net 'n slag ordentlike klere sou aantrek.
Daar's die 80-jarige Amerikaner wat vir jou Sarie Marais sing, soos hy dit jare gelede in Londen gehoor het. En die groepie wat dikwels die eintlike vermaak tydens etensuurkonserte verskaf. Die lywe werk nie meer so lekker saam nie, maar dis pers hare en bont rokke wat doer draai dat jy net (ekstra ekstra groot) onderklere sien.
Jy staan soggens langs 'n massiewe borsbeeld van Madiba (met die aanhaling 'The struggle is my life') en besin. Jy tuur saam met hom na die manjifieke wiel wat voor julle in die pienk oggendlug troon, regs oor die Teems na Big Ben en Westminster, en links na Waterloo-stasie waaruit die kwaai korporatiewes begin stroom. Almal wil 'n huisie by die see hê. Almal hoop die struggle is verby… Ongetwyfeld. Maar jy het dit glad nie te sleg nie, en dit sal wys wees as jy by partytjies liewer stilbly as om, in stryd met tradisie, nie oor die trauma van die beroep te kompeteer nie. Jý is immers net gelukkig.
(Klets 2003)
Thursday, April 17, 2003
Lysies
Kan jy dit glo? seg ek vir my een vriend.
Nee, sê hy en probeer my ontsteltenis ewenaar, hoe kon sy vergeet om na my indrukwekkende bates te verwys?
Uhm, ja-wel, sê ek. Maar die punt is, sy waag dit om te sê as haar vriende by die huis haar leedvermakerig vertel van etes in die wynlande en pieknieks op die strand, sy (verbeel jou!) dit sou kon troef met 'n lysie van kamtige Londen-lekkertes. Die sluit o.m. die salige gevoel van 'n pond in jou hand in. Of ‘n cappuccino van Prêt a Manger. Of Harvey & Nichols se vertoonvensters vol verrassings.
Wie dink sy fool sy? braak ek gal. Ons was mos almal daar. Daar is nét móói níks op hierdie aarde wat beter as dit is nie!
Wat presies het hierdie tirade ontlok? vra my vriend versigtig (want hy ken sy plek).
Ek wonder met 'n dodelike uitdrukking op my gesig, hoekom ons hoegenaamd vriende is. Maar ek dink tog vir 'n sekond daaroor - nee, dit is nie PMS nie, en ja, ek verlang 'n bietjie huis toe.
Jy verstaan nie! probeer ek met hernude aggressie. AS jy hoegenaamd kan vergelyk, is daar dan niks beter in Londen nie?
Goeie vraag, dag ek. Ook maar goed ek het dit eerste gevra, want as dit aan my gerig was, sou dit my bietjie van stryk gebring het.
Ek meen, daar moet tog beter goed wees, want as daardie 'n tipiese lys is, wat soek ek hier? Ek kan mos nie hier bly vir daardie oppervlakkige redes nie? Sy noem wel dat almal hul eie lysies moet maak, maar hare het my ontstel, vermoed ek, omdat ek doodbang was ek kan nie 'n beter een saamstel nie. En dan hang daar 'n groot vraagteken oor my lewe hier.
Ek stem saam met haar dat 'n mens as jy daar op vakansie is, snaaks genoeg, terug verlang na die plek. Dis dan ook die rede hoekom sy haar lysie opgestel het - sy kon nie verstaan hoekom sy Londen so mis nie. Ek het self so uitgesien na my vakansie by die huis, ek’t vermoed ek sou glad nie weer wil terugkom nie. Tog, na ‘n paar weke daar, begin jy wel goed mis. Klein dingetjies en roetines wat deel van jou lewe geword het. En jou lewe is, hetsy tydelik of nie, hier. En jy mis dit.
Londen is aaklig aan die begin veral as jy alleen hier is, en boonop werkloos. Die konstante gril en stres is uitstekende materiaal vir erge trauma. Dis nie dat dit op ‘n dag skielik beter raak nie. ‘n Mens raak net gewoond daaraan. Die groen snot en slymballe lê nog steeds die wêreld vol, elke tweede mense loop jou nog steeds uit die grond uit, die lug is nog steeds grys, mense glimlag nog steeds net twee keer ‘n jaar as die son uitkom … maar dit is soos dit is en jy aanvaar dit so. Die oomblik wat jy ophou baklei en ophou vergelyk en ophou trugwens, het jy reeds wortel geskiet. Jou huis het saam met jou grense geskuif.
Party mense hier se gesprekke is besmet met Ja, maar by die huis….
Daardie alewige absurde kompetisie. Dis tog uiters dwaas om te vergelyk. Dit geld nie net vir die wisselkoers nie - alles is anders. Maar dis in ons natuur, want ons voel ons moet heeltyd die redes waarom ons hier is regverdig. ‘n Mens sukkel soms om te verduidelik wat jou hier hou. Baie is amper verskonend daaroor, maar jy wil konkrete redes gee, want jy voel (of eerder, word laat voel) soos 'n verraaier.
Ek weier om ‘n lysie met London-pluspunte te maak. Ek skaar my net eerder by Samuel Johnson wat meen When a man is tired of London, he is tired of life, as by die snuiter wat eendag gese het Aaaag nee wat, hierie plek het niks wat ekkie by die huis kan kry nie. Daar’s ‘ammie ‘n plek soos Shooters hier nie.
Maar gestel iemand druk nou ‘n weapon of mass destruction teen my kop en seg Wys My Jou Lys! dan sal ek baie vinnig ‘n boerseun se naam op die naaste stukkie papier skryf.
(Klets 2003)