Wednesday, August 17, 2005
Hulle stem so, want hulle braai so
Dis seker maar hoe 'n verkiesing in een van die oudste demokrasieë in die wêreld veronderstel is om te wees, maar in vergelyking met verkiesings in Suid-Afrika is dit erg oninspirerend. Waar's die drama? Die histerie? Die stilstuipes? Die enigste ding waaroor ek mense 'n bietjie opgewonde hoor raak het, was om na die verkiesingsuitslae op TV te kyk.
In Suid-Afrika is die hele aanloop tot die verkiesing interessant, selfs vermaaklik. Die uitslag is vanselfsprekend; 'n bysaak. Maar hier, hoor ek toe, kyk mense van 10-uur die aand na die verkiesingsuitslae op TV – aangebied deur die Dimbleby-broers op BBC1 en ITV - en vat Vrydag verlof. En dis dan die somtotaal van die avontuur. Ek dog toe, as dít is waaroor dit gaan mág ek dit nie mis nie. When in Rome, en als. En so tref Werner my een-uur die oggend toe hy van die werk af kom, in 'n koma op die ongemaklikste bank in die huis aan. Glo my gerus – as die verkiesing 'n mens was, sou hy 'n martelaar wees en mense geleidelik dood verveel.
Ek het wel bietjie gekroek en oorgeskakel na ‘n ander kanaal tydens die martelsessie. Daar het hulle ‘n klomp mense gekry wat kommerwekkend baie soos die politieke hoofrolspelers lyk, en dan ‘n kamtige dokumentêr gemaak van wat agter die skerms gebeur. Byvoorbeeld David Blunkett wat met 'n perverse grynslag staan en vroetel met sy gidshond se leiband, terwyl dié met 'n skrapsgeklede Kimberly Quinn (die vrou met wie hy 'n verhouding gehad het) op die grond rondrol.
Om te stem, lyk dit my, is soos om te braai. Vir ons beteken dit om vir ure rondom die vuur te staan en met stokke daarin te krap, dronk te word, en laataand eers te braai. Maar as Britte na 'n braai toe gaan, moet die patties reeds gebrand wees as hulle daar aankom. So, blyk dit, is die aanloop tot die verkiesing hier glad nie belangrik nie. Hulle sal net by aanhoor van die uitslag sug, en sê: Right. Jolly good. Tea? En wieookal aan bewind is blameer vir die treine wat laat is.
Dis ook vreemd dat iemand hier kan sê hy's 'n Tory en sy meisie ‘n lid van die Arbeidersparty, maar dan leef hulle nog in vrede saam nie. Dis so ongelooflik belaglik beleefd! En wêrelde verwyder van Suid-Afrika waar - soos Ronel vertel - hulle (NPs) altyd kortpad deur die buurman ('n KP) se erf kon loop, behalwe in verkiesingstye. Dan span hy 'n draad tussen hulle erwe en laat sy Rottweiler die grens patrolleer.
Weinig Britte (behalwe die Dimbleby-broers en hulle onderskeie ateljeegaste) het iets oor die verkiesing te sê gehad. Maar toe ek Saterdag, twee dae ná die verkiesing, by ‘n klomp Suid-Afrikaners gaan kuier, toe’s dit nie lank voor een (‘n vurige Liberaal Demokraat-ondersteuner) sê: Ek hoop nie julle het Labour gestem nie!? En ‘n ander sê: Ek het!
En eersgenoemde sê Jy’s mal! En: Hoekom gaan slaap jy nie sommer by Tony nie? En die ander sê Miskien sál ek! Dan kom twee ander in en ontken nie dat hulle nie vir die Tories gestem het nie. En die res insinueer dis net oor hulle dalk in die hoë inkomstegroep val en nie so baie belasting wil betaal nie. ‘n Ander sê: Ek wóú vir die Liberaal Demokrate stem, maar toe stem ek eerder vir die Arbeidersparty, téén die Konserwatiewes. En: Die Arbeidersparty het in elk geval beter kraamvoordele. En dan kyk die vurige Lib Dem ondersteuner haar aan asof hy wonder hoekom vrouens hoegenaamd stemreg gekry het.
Hier in Brittanje is die mense ook maar lui om te gaan stem. Veral vir diegene wat meen die uitslag gaan nie veel aan hulle lot verander nie. (Want al die partye se basiese beleide is mos basies dieselfde.) In Liverpool, byvoorbeeld, stem baie min mense – vir hulle was die belangrikste uitslag daardie week die een tussen hulle span en Manchester United.
Vir my is om te kan stem meer 'n voorreg as 'n plig. Ek dink dis omdat 1994 ook die eerste jaar was waarin ek kon stem. Ons was eerstejaars, toe, en 100% oortuig van die opwindende toekoms wat voorlê. Vir ons, dink ek, sal verkiesings ook altyd ‘n feestelike konnotasie hê. Die eerste kwartaal het hoofsaaklik om die verkiesing gedraai. Ag, dit was goeie tye. Ten minste een kaas-en-wyn geleenthied per week soos die party-kandidate probeer stemme werf het. Ons het nie diskrimineer nie, ons het na almal gaan luister. Maar die NP het die meeste freebies uitgedeel. FW-borsspelde, plakkers, plakkate. En perm-kamme.
In elk geval, hier het daar vanjaar toe op die ou end meer mense gaan stem as in die vorige verkiesing. Een nuusleser sê hy stem al vir die afgelope 30 jaar by dieselfde plek, en dit was die eerste keer wat daar 'n ry was. Maar besef die mense dan nie – dít is die geheim om meer mense by die stemlokale te kry. As jy in hierdie land (en julle kan dit gerus probeer!) iewers gaan stilstaan en iemand dalk agter jou, sal daar binne sewe minute 'n redelike lang en gedweë tou agter jou vorm.
Die mense by die werk hang aan my lippe as ek hulle vertel van die rye tydens verkiesings in Suid-Afrika. En dan kry hulle daai ons-wil-op-safari-gaan kyk in hul oë.
Christine van der Merwe kon nie kies tussen die Vote for Yourself Rainbow Dream Ticket Party of die Monster Raving Loony Party nie. (Litnet Aug 2005)
[Stemdag is (glo) op Donderdae, want (in die dae voor vrouens kon stem) het mans op Vrydae begin drink sodra hulle betaal is. Saterdae het hulle by die huis rondgelê en Sondae was hulle in die kerk. So, om te keer dat drank, die pantoffel of die kerk hul keuse beïnvloed is vasgelê dat verkiesings altyd op Donderdae sou wees.]
Monday, October 18, 2004
Fluit fluit
(Klets - Okt 2004)
Vreemder as fiksie (alweer)
Ek kyk graag (How Clean is Your House) hoe hulle die vullis in ander mense se sitkamers laat ontleed en dan vir hulle vertel van al die houtwurms en luise en vleisvretende goeters wat een van die dae die baba gaan wegdra as daar nie dadelik skoongemaak word nie.
Ek stel altyd belang om te hoor (Too Posh To Wash) dat sekere ryk mense se kinders in hul neuse krap, dit in hul broeksakke bêre en nooit hul broeke was nie. Ek stel hoofsaaklik belang omdat ek elke keer verstom is dat hierdie mense hulself vrywillig laat afneem. Dat hierdie walgworse van die samelewing bereid is om hul vuil onderklere vir die wêreld te wys.
Van die beter programme was Faking It waar hulle byvoorbeeld 'n koekerige rekenmeester vat en hy binne drie weke moet leer om branderplank te ry. Na drie weke neem hy dan deel aan 'n kompetisie saam met twee ander met jaaaare se ondervinding. En dan moet 'n paneel die faker uitwys.
Dan was daar die hoogs suksesvolle en emosionele Wife Swap (wat verban is in Frankryk), waar twee uiteenlopende gesinne se moeders vir twee weke moet plekke ruil. Daar's al 'n opvolgreeks gemaak van How Wife Swap Changed My Life, en tereg ook. Want as een vrou wie se man heeldag lank rekenaarspeletjies doenig is en nooit met die kinders nie, by 'n huis intrek waar die man na die kinders kyk en oor die algemeen weet hoe om haar ogies weer te laat blink, dan's daar oorlog as sy by die huis kom.
Daar's ook What Not To Wear waar twee supertewe vir 'n klomp trolle vertel hoe lelik is en hoe walglik hul smaak (as hul enige het). Dan probeer hulle om vir Suzie te vertel dat sy regtig nie 'n T-hemp met horisontale strepe by 'n stywe broek met kolle op moet dra nie. Na 'n maand gaan kuier hulle onverwags by Suzie, en dan dra sy maar weer haar standaarduitrusting. Dis vernederend en aaklig en wonderlik.
Toe kry die polisie in Hampshire nou die dag 'n blink idee. Hulle skryf briewe vir 'n klomp mense met uitstaande boetes, of mense wat hofbevele ignoreer. Ons maak 'n nuwe TV-storie seg hulle. Wil jy deelneem? Jy kan 'n groot prys wen. Op TV!
Hulle kies toe 20 vir die finaal. Groot opgewondenheid. Die deelnemers word deur 'n bekende en beminde paartjie verwelkom. Agter die gordyn hoor hulle ('n opname van) 'n histeriese gehoor en die aankondigings van 'n histeriese aanbieder, Dan word hulle een vir een deur die gordyne gelei deur die rook en ongelooflike ligte, en hoor die mense! En dan word hulle in hegtenis geneem. Sewentien van hulle. Altesaam 144 mense (wat sekerlik baie ontsteld is oor hulle nie ook op TV kon verskyn nie) het vir die polisie genoeg inligting gegee sodat hulle ook vervolg kan word.
Is dit nou nie baie interessanter as die nuus nie?
(Klets - Okt 2004)
Saturday, October 16, 2004
'n Jammerlike affêre
Jammer, hoe laat is dit? Jammer, weet jy waar's die stasie?
As die bus op jou voet stil hou, sê jy jammer. As iemand jou uit die grond uit loop, is jy jammer.
Niks vreems vir Suid-Afrikaners nie. Ons is immers ook lief vir Jammer. Jammer dat ek leef, en so. Dis te blameer op die ingebore Calvinistiese skuldgevoelens, maar natuurlik ook op Antjie "Jammer mamma dat ek nie is wat ek so graag vir jou wil wees nie" Krog.
As ek of Rudi ons oudste broer se verkeerde knoppies gedruk het (soos deur hom te spot omdat hy 'n sekere reël uit 'n Antjie Krog gedig in 'n Moedersdagkaartjie gebruik om punte te wen), het hy gewoonlik gesê: Ooo, jy gaan jammer wees! En gewoonlik was ons. Maar al het ons vir tien minute lank ekisjammerekisjammerekisjammer geskree, het die houe wat op ons gereën het nie minder simpatiek geword nie. So, soms beteken jammer net mooi niks.
Tog, in die groter wêreld kan jammer wel 'n impak hê. Die meeste mense kan 'n verskoning baie effektief gebruik om hulself te verontskuldig.
Die Nazi's het probeer. Die Britte, die Afrikaners... Hierdie week het Beckham dit gedoen omdat hy aspris 'n geel kaart gekry het. Maar, o wee, Tony Blair het volstrek geweier om die J-woord te sê. Hy't om verskoning gevra, ja. Maar nie jammer gesê nie. (Nee ek weet ook nie wat die verskil is nie.)
Maar hoekom moet hy jammer sê as hy nie is nie? 'n Mens moet tog sê wat jy dink en nie wat jy dink jy moet nie. Dit verstom my ook dat die Britte skielik nie die reëls van hul eie etiket ken nie. Ek meen as iemand sy drank oor jou mors moet JY sê jy's jammer. Dus, as jy die Irakis gaan bom, is dit mos hulle wat moet jammer sê? Ek's seker Saddam sit vanaand iewers dikbek in 'n kamer terwyl iemand 'n skerp wit lig in sy gesig skyn en sê: Sê jy's jammer! En bedoel dit!
(Klets Oct 2004)
Monday, August 16, 2004
Daar was 'n Portu-geezer
Elf jaar gelede besluit Conceicao Amada skielik genoeg is genoeg. "Jorge! Duarte! Agostinho! Luis! Miguel! Andre!" roep sy haar ses seuns, "Pak julle goed. Ons trek terug Madeira toe. Nou!"
Vir Pretoria sien sy nie 'n dag langer kans nie.
Adeus, Jose Luis Corte Leodoro, groet sy haar man. Dit was sý idee om vier jaar tevore na hierdie geweldadige uithoek van die wereld te trek, om sy heil as elektrisiën te kom soek. Maar sy kan nie aanpas nie, en hy wil nie teruggaan Portugal toe nie. So: Adeus, Jose Luis Corte Leodoro, roep sy vir oulaas oor haar skouer.
En sedertdien het hulle nog nie weer gepraat nie.
"Ek weet nie waar hy is nie" sê Conceicao. "En ek gee ook nie om nie!"
Maar ons gee om! Want ons wil die uitdrukking op sy gesig sien as ons hom vertel dat sy seun Jorge, wat 16 was toe hy hom laas gesien het, se naam nou Nadia is. En dat Nadia, inderdaad, 100% volledig vrou is. Dat sy met haar DD-borste (wat sy graag vir almal wys), haar FF-persoonlikheid, haar glamorous uitrustings, haar obsessiewe rookgewoontes en haar skril-histeriese lag ses miljoen Britse televisiekykers oorrompel het - want dít is hoeveel mense vir haar gestem het om die afgelope week loshande, as die gewildste deelnemer ooit, die vyfde Big Brother-reeks te wen.
"Juffrou" sê Jose Luis Corte Leodoro waar ons hom opspoor in 'n klein dorpie op die grens van Botswana, waar hy rakke pak vir 'n lewe, "ons sal verkies as jy die tydskrif koop vóór jy dit lees."
Maar kyk dan hier!
Hy kyk weer na die foto, en weer, en sê uiteindelik trots "Sy's baie mooi. Nadia. Die mooiste vrou in ons familie!"
Hy maak 'n bottel sjampanje oop. "Ons wou altyd 'n dogter gehad het."
Tog, ten spyte daarvan dat 'n herontmoeting topklas tabloid-voer sou wees, is dit nie vir Nadia 'n gegewe nie. Luis was immers nie altyd No. 1 Pa Van Die Jaar nie.
Oor haar oorwinning is sy verheug. Nie soseer oor die prysgeld nie, maar oor die nasie haar aanvaar. As 'n vrou. En nou hoop sy om haar droomman te ontmoet, sodat sy 'n groot wit troue kan hou.
Haar elf huismaats was deurgaans onbewus van haar geheim. Victor was wel skepties oor haar vierkantige ken. "Daar's twee goed wat jy van die maan kan sien," het hy gesê, "die Groot Muur van China. En Nadia se kakebeen."
(Klets - Augustus 2004)
Stink Salami?
Behalwe dit - as iemand met 'n moerse parma ham voor my gaan sit, gaan ek emmersvol kwyl van die lus. Salamis en hamme stink nie. Ook nie noodwendig mense wat dit eet nie. Dis die kerrie-eters wat pong. Van al die chilli en garlic en die wie-weet-wat wat so skerp ruik dat jy self in 'n oranje vetterige sweet wil uitslaan. Miskien lyk 'n tradisionele salami-eter net meer polities korrek op 'n plakkaat as 'n tradisionele kerrie-eter.
Stink kos is in elk geval nie die grootste probleem op die tube nie. Op London Underground se webblad kon mense stem vir wat hulle beskou as die mees irriterende gewoontes van mede-passasiers. Om op die trein te klim voor ander passasiers afgeklim het, het verreweg die meeste stemme gekry. Mense wat op die linkerkant staan (waar hulle veronderstel is om geweldadig te loop) was ook hoog op die lys. En, vreemd genoeg, mense wat lyk of hulle 'n trekklavier by die huis het, het dubbeld soveel stemme gekry as mense wat stink kos eet.
Julle het dit nog lekker hier in Londen, sê hulle elders op die blad. Julle dink byvoorbeeld die tubes is vol, maar in Tokyo word party mense betaal om meer passasiers op die treine te druk.
Seker nie lank voor dit hier die werk van die minimum-loners gaan wees nie. Ek meen, ons eet klaar almal rou vis.
(Klets - Augustus 2004)
Die reen in Londen val meestal op my
Nou het ons mos die langste winter in menseheugenis gehad. In hierdie mens se heugenis, in elk geval. Ons het darem vier dae sonskyn gehad. (Waarop almal wat nog hulle tone kan sien, gedink het dis verpligtend om hulle deurskynende, drillerige lywe vir die wereld te wys.)
En tussendeur het dit gebliksem en gedonder vir die vale. Dit stormreën so, dit lyk of iemand die badwater oor ons uittap. En in 'n stad wat tot stilstand kom in temperature hoër as 30 en laer as vyf, kan jy jou die chaos voorstel.
Wel, nie al die chaos nie. Want hoeveel van julle sou byvoorbeeld raai dat die oorwerkte Victoriaanse dreine nie onder sulke druk kan presteer nie, en dat meer as 'n miljoen ton onbehandelde rioolwater in die Teems geloop het. Derduisende visse het gesneuwel. Wat 'n nare, aaklige dood. Dis soos om jou kop in 'n verstopte toilet te druk en dit daar te hou. (Kry visse konvulsies?)
Die Teems was reeds nie so vars nie. My neef Dirk moes eenkeer 'n hond behandel wat met 'n klein seerplekkie in die Teems gaan speel het, en met 'n etterige wond op die operasietafel geëindig het.
Maar daar is meer as net 'n paar allemintige groot drolle in die drinkwater.
Ek's die afgelope tyd besonder vrolik, en dag toe dis oor die vier son-dae. Of oor ek bedank het. Nee, seg die omgewingsguru's. Dis oor jy so baie water drink as gevolg van jou alewige en allemintige na-dors. Sien, Prozac word deesdae vir so baie mense voorgeskryf dat tekens daarvan in die (behandelde) drinkwater bespeur word.
Maar, lag hulle emosieloos, hulle dink nie dit hou enige nadele in nie.
Friday, July 30, 2004
Afrikaanse Proms se geboortepyne
Ek hou van mense wat groot dink. Hulle het passie en guts. En Suid-Afrika het meer van hulle nodig. Mense wat byvoorbeeld eers op 85 uit openbare diens tree, of op 100 atletiekrekords slaan. Mense wat sê "Vandag Benoni, môre Hollywood!"
Of mense wat droom van 'n Afrikaanse Proms in die manjifieke Royal Albert Hall - en dit laat gebeur.
'n Paar maande gelede het die meeste mense wat van dié plan vir Ukkasie gehoor het, seker gedink: "No Way!" Maar Saterdagaand het die Taal, soos Stephan agterna gesê het, inderdaad weergalm in die Ingelse bastion van kuns en kultuur.
Vanjaar se hoofkonsert het definitief die potensiaal om 'n skouspelagtige jaarlikse produksie te wees. Ja, dit was nie sonder haakplekke nie, maar neem gerus in ag dat die BBC Proms (wat dié Ukkasie geïnspireer het) vir ongeveer 40 uit sy 110-jarige bestaan finansieel gesukkel het (!).
Die idee met Ukkasie was, raai ek, om (soos met die Proms) vir 'n groot gehoor 'n wye spektrum van musiek aan te bied in 'n produksie van hoogstaande gehalte. Die program sou in die eerste helfte ernstig wees, en geleidelik opbou na 'n uitbundige klimaks. Tydens die Britse Proms verseker die volkslied en "Auld Lang Syne" normaalweg maksimum baldadigheid. En tydens Ukkasie sou dit die volkslied en, vermoedelik, "Her Time Has Come" wees.
Op papier lyk alles dus goed. Maar al was daar genoeg groot geeste wat die vertoning absoluut die moeite werd gemaak het, het ons in realiteit net kort duskant euforie gedraai.
In die toekoms sal iemand betrokke moet wees wat die produksie se leisels heelwat stywer vashou. Want sien, net soos dié perd spoed gekry het, het hy in die verkeerde rigting geneuk. Iemand moes met 'n sweep agter die hele storie gestaan het en dit van agter gelooi het sodat die gehoor behoorlik tot 'n sportbyeenkoms-histerie opgewerk kon word. Totdat selfs die teësinnigste lekker-ligteliedjie-saamsinger (ek) met oorgawe sou begin deelneem.
Ironies genoeg was die persoon wat (klaarblyklik) in beheer van alles was, ook verantwoordelik vir die program se tekortkominge. Francois le Roux was seremoniemeester, samesteller, verwerker van oa Sarie Marais (soos briljant uitgevoer deur Zanta Hofmeyr), en multi-instrumentalis. Baie indrukwekkend en baie begaafd. Nou weet ek nie of hy oor die algemeen dink ons moet hóm vir ons daaglikse brood bedank, en of hy dalk net te begeesterd was nie. Maar ongelukkig was hy konstant (behalwe as hy stilgebly en agter sy tjello bly sit het) 'n taamlike irriterende teenwoordigheid op die verhoog. Dis eintlik so maklik om Suid-Afrikaners in die buiteland op te sweep. Ons kry gou daai bars-van-trots-gaan-nóú-my-tasse-pak-gevoel. Ons was byvoorbeeld almal hoogs begeesterd na Pieter-Dirk Uys se skitterende Elections and Erections. Maar Francois het dit probeer forseer. Ek glo ook hy's baie stimulerende geselskap, maar hy't nie die persoonlikheid gehad om iets van so 'n skaal aan te bied nie. Hiervoor het ons 'n Soli of Nataniël nodig!
Vir my was die laagtepunt van die aand die rap-liedjie (wat nogals na 'n rip-off van Fat Boy Slim se "Right About Now" / The Funk Soul Brother, "Check It Out Now", ens geklink het). Die't gelui: "Nogge vyf jaar! Vat hom SA nogge vyf jaar!" En toe nogge 10 jaar, 20 jaar, 30, 40, 50 tot by 100. En dis tóé dat ek gewens het daar was 'n Wilgenhoffer in die gehoor wat kon skree: "Haal hom af, Menere! Hy maak dit nie!"
In hierdie fantasie het Dozi (wat 'n man!) net ná hy vir John Jacobs (die mimiekmeester) grappenderwys oor sy skouer gegooi en uitgedra het, teruggekom om vir Francois le Roux ook te kom haal.
Oor John Jacobs … dis moeilik om iemand wat 'n baksteen hoog is, behoorlik van ver agter in die saal te sien. Sy toertjies het deurgaans die spoed gebreek, en het veral tydens DNA Strings se vertoning gesteur.
Die George Mannekoor was oor die algemeen lekker flou. Ek sien in die SA Times skryf iemand dit het gelyk of hulle "jet lag" het. Daar was ook probleme met al die kore se klank. En in so 'n groot saal kan 'n mens verskriklik alleen voel as jy nie lekker kan hoor nie. Maar dit was steeds hoogs vermaaklik om te hoor hoe die Britse Fishpond-koor "sy roer haar koffie met haar groottoon om" sing.
Dit was baie jammer dat van die Anglo Gold-manne se items gesny moes word, want soos julle seker reeds weet, het die konsert vrek lank aangehou. Die meeste van ons sou vier en 'n half uur lank na Laurika Rauch alleen kon luister, maar in Londen vergeet mens van etiket as dit laaste tube-tyd raak. So, toe die "hoogtepunt" van die aand aanbreek, toe stroom die mense uit. Want as daar nou een ding is wat nugter mense wil vermy, is dit die nagbus (sidder). Soos een vrou - wat haar tubekaart net buite die saal uitgepluk en stasie toe begin nael het - gesê het: "Hulle kon al die goeie goed in twee uur ingedruk het. Maar toe moet mens deur nog twee uur worstel!" En in die verbygaan hoor ek nog hoe sy vir Heinz Winkler 'n lelike p-woord noem. "Jaaa!" beaam 'n meisie agter haar dit. "Hy IS 'n pampoen! Hy is!" Arme Heinz. Die mees entoesiastiese reaksie wat sy "Kom Suid-Afrika!" en "Groet gou vyf mense langs jou!" ontlok het, was 'n moedelose "Ag, fok, ou!"
Die res van die kunstenaars was uiters professioneel en van hoogstaande gehalte.
As Dozi sy Zoeloe "Jantjie" sing, voel ek soos daai meisie in Pulp Fiction nadat hulle die adrenaliennaald in haar hart gedruk het.
Nianell, wat tot onlangs relatief onbekend was hier, gee wêreldklas koue rillings.
Laurika en Lucas is die beste vir die heimwee. Iemand het tereg agter uit die saal ná hulle duet gegil: "Julle is sterre!"
Ek het my voorgeneem om heeltemal objektief na Laurika te luister om te sien of sy elke jaar se bohaai regverdig. Maar dis tevergeefs. As sy haar mond oopmaak, is dit soos 'n Pavlov-eksperiment vir onthou's. Mense wat normaalweg alles saamsing, doen dit nie met haar nie. Dis moeilik met 'n knop in die keel.
Ook Steve Hofmeyr is deurgaans met oorverdowende gejuig begroet. Jy kan sê van sy skoene wat jy wil, maar daai ou kan met 'n gehoor werk!
Die gehoor verdien self 'n pluimpie. Ek sou enige dag weer saam met daardie 3 000 mense paartie. Ek's seker die meeste van hulle maak klaar wenslysies vir volgende jaar se show, want een ding is vir seker: hierdie was nie die laaste een nie - dit was hopelik net die eerste een.
(Klets - Julie 2004)
Monday, July 19, 2004
Allersoorte dossers
Toe't ons onlangs 'n tydelike kamer beskikbaar, en toevallig bel iemand wat vir haar en 'n vriendin blyplek soek vir drie weke. Ons kies baie selektief mense wat intrek, en vra die res wat hulle dink. Maar jy weet nooit. Die twee het egter baie goed ingepas. Hard werk gesoek. Nie heeltemal so hard gekuier nie. Brood gesteel. Weer vir almal gekoop. Die een was die onverskrokke-tipe wat al vir haar tweede jaar onwettig hier werk (nadat sy twee jaar onwettig in Israel was). Die ander was meer onseker, want dit was haar eerste keer. Sy was ook, soos ons aan die begin, bang en onseker oor die werksoekery en alles wat anders is. Sy't ook maar gesukkel met die wit leuens in onderhoude - soos om nié te sê sy gaan al weer oor drie maande huistoe nie. Hulle het uitstekend met almal oor die weg gekom. Hulle was, om die waarheid te sê, presies soos die ander. Net, die een se dogter trou binnekort, en die ander is amper 'n ouma.
Kom kyk, sê die ander in die huis, die stoof het nog nooit so geblink nie.
(Klets - Julie 2004)
Friday, July 16, 2004
Tennis the Menace
Ronel en Faan sou hul vriende daar kry, en hulle moes ook dié se tente saamvat. Hulle twee het self nie 'n tent gehad nie, maar het geglo hulle vriende sou hulle ontferm. Almal het lekker gekuier, maar toe dit slaaptyd word is almal se tente 'vol'.
Ronel vertel:
"Nou stap ons oor die rugbyveld. Die tent-ry loop so zig zag oor die veld. Toe gaan staan Faan in die middel van die veld en skree: Dis f****n lekker hier in Wimbledon, né!
En dis tjoepstil. Ek sê Uhm, Faan, jissie jong, ko’s stap nog ‘n bietjie aan.
Nee, die d***, sê hy, ons bring vir hulle tente, en nou't ons nie 'n tent om in te slaap nie. As ons nie kan slaap nie, slaap niemand nie!
"Die mense raak baie kwaad. Almal wat hom ken ook. Ek sê, ko's loop nog 'n bietjie aan. Toe sit daar 'n klomp Australiërs wat bier drink, en kitaar speel, en alles. Ons sit toe 'n rukkie daar. Maar Faan sê hy gaan terug. Hy gaan die Suid-Afrikaners almal wakker hou - de laaste f***** een!
"Hy't nog so 'n lang reënjas van sy oom aangehad. Toe gaan sit ons op 'n bankie. En nou's dit net glad nie meer so lekker nie.
Later is hy stormdronk. Hy't heelaand whiskey gedrink. Ek dink hy't 'n bottel whiskey skoon uitgedrink. En so raak dit oggend. Hulle sê Ok, wakker word, wakker word.
Almal word wakker, lekker uitgerus. So queue ons weer, seker vir 'n uur. Maar ek sien hierdie bottel whiskey is besig om sy tol te eis. En ek's baie kwaad want ek wil baie graag Wimbledon kyk.
Daar loop 'n klomp Suid-Afrikaners verby ons. Maar hy vloek hulle. Hy vloek vir hulle laag. Ek sê Luister maat, jy't my laat wakker bly. Jy sál hierdie tennis kyk.
Kyk, dit was 'n pragtige dag, maar daai son steek vir jou stukkend. Ons het nie 'n hoed nie. Niks nie.
"So stap ons maar aan met die tou. Die ding is, die eerste honderd of wat kry 'n kaartjie vir Centre Court. En oral waar ons gaan, hoor ons net: As ek daai bliksemse ou met daai jas kry, maak ek hom vrek! Faan sê net Ja, ek ook.
Ons stap so – dis baie militaristies – kom by die hoofhekke. Al die sekuriteitswagte is Suid-Afrikaners. Ons stap deur. Maar hierso skei ons paaie toe. Ek sê jy sál wag!
Toe skree'n sekuriteitswag Iemand het sy bandjie verloor!
Ons was van die gelukkiges om 'n Centre Court kaartjie te kry. Ek draai om en sê Huh-uh, ek weet wie s'n is dit. Roep sommer daar uit Fransoa Fourie.
Toe't hy sy bandjie afgeruk, want as jy nie 'n bandjie het nie kan jy nie ingaan nie. Maar hy wou nie ingaan nie. Hy was babelaas. Die son was verskriklik warm. En hy’t ‘n bottel whiskey gedown. Daar's nie 'n manier wat hy dit van 8vm tot 5nm sou maak nie.
Hulle roep toe sy naam. En almal ken hom, en hulle skree Hier's hy, hier's hy!
Toe't dit nou nie gewerk nie. Daar sit ons toe op die Centre Court. Dis die eerste jaar wat Venus gewen het. Ons sien hoe sy deurdring na die semi-finale. Of finale. Ons het vir Tim Henman ook gekyk. Elk geval, die mense skree! Jy raak verskriklik opgewonde. Ek sou nooit vir Tim Henman skree nie, maar die Britte is so agter hom, jy skree later net so hard. Dan slaap Faan. Ek sê Word wakker - ék moes die hele nag wakker bly. Dan skree almal hom wakker. Almal is op hulle voete. Maar hy sit net só. Sjym, ons het eers sewe-uur daai aand geloop."
(Klets - Julie 2004)