Sunday, April 18, 2004

Vreemder as fiksie

Die volgende was alles April-gek stories in die koerante:

  • Een van die poniekoerante het 'n foto geplaas van die Koningin met 'n Racing Post onder die arm en vier corgis om haar hakke, besig om op 'n perd in die Grand National te wed. Sedert haar hulp in 1969 op die verkeerde perd gewed het, dring sy glo daarop aan om dit self te doen.
  • ‘n Advertensie in die Guardian het beweer dat BMW-bestuurders met behulp van nuwe tegnologie (soos ‘n oond webkamera) nou hul aandetes kan begin kook terwyl hulle huistoe bestuur.
  • Die Sun het berig dat die Thames Valley polisie spoedkameras aan arende gaan vasmaak en hulle leer om op motoriste wat die spoedgrens in Oxfordshire oortree af te pyl.
  • Die Times het storie gehad met inligting wat hul van die nasionale argiewe gekry het oor Britse planne om hoender-aangedrewe kernbomme tydens die Koue Oorlog te gebruik.

Ha ha. Ek jok! Die laaste storie is die reine waarheid. Dit lyk miskien soos ‘n grap, sê Tom O'Leary, hoof van opvoedkunde en interpretasie by die argiewe, "but it most certainly is not. The civil service does not do jokes."

Brittanje se gunsteling April-gek grappie is die 1957 Panorama-program waarin kykers vertel is dat Switsers boere weens gunstige weersomstandighede ‘n uitmundende spaghetti oes sou hê. Hordes mense het ingebel en wou weet hoe hulle hul eie spaghetti kon plant.

(Klets - April 2004)

No comments: