Wednesday, June 16, 2004
Kyk hoe kyk hy vir my
Vanjaar se groep is gekies vir optimale konfrontasie. Daar’s ‘n biseksuele haarkapper, ‘n lesbiese aktivis, ‘n meisie wat op bladsy drie wil pronk, ‘n posh kunsstudent, ‘n voormalige Mr Best Buttocks South Lanarkshire, ‘n Somaliër wat as vlugteling Engeland toe gekom het, ‘n gay man wat homself as die “biggest bitch on the planet” beskryf, ‘n hoofseun-tipe, ‘n uitbundige Portugees wat ‘n geslagsverandering ondergaan het, en ook (soos die Mirror na hulle verwys) die “pig-like squealing Emma and Michelle … two sophisticated products of the underclass”, “thick-as-a-plank Victor” wat van ‘n council estate kom, “supremely idiotic Emma”, en so aan. Niks, dus, wat mens nie elke dag op die bus sien nie. Maar hierdie mense moet vir ‘n paar maande in ‘n redelike klein huis saambly. Bloot toevallig hou die “biggest (en mees histeriese) bitch on the planet” nie van asielsoekers of mense wat van council estates kom nie, en is die asielsoeker en Mr Best Buttocks beide homofobies.
Die spul het nou die aand so baklei dat die polisie en sielkundiges ingeroep is. Dis die drank, het almal besluit. Die posh een was so ontsteld oor die geweld en beledigings, dat sy fisies naar geword het. (Ek het dit baie op Stellenbosch gesien – studente wat kniel voor die groot wit telefoon en skree Dis die geweeeeld! Ek gaan nooit weer TV kyk nieee!)
Dis altyd (erken dit maar) interessant om te wonder wie dit na die tyd gaan maak. Die eerste een wie se potensiaal raakgesien is, is Michelle wat graag vir almal haar “baps” wys. Haar droom om ‘n voorbladmeisie te word kan glo waar word. Die boerdery-tydskrif Practical Poultry wil haar gebruik, as gevolg van haar obsessie om almal “chicken” te noem.
Daar is ook natuurlik ‘n eienaardige satisfaksie daarin om hulle almal vir als wat dom en sleg is af te maak. (As jy gaaf is.) Maar, soos die Mirror sê, mens moet onthou “the unfortunate contestants whose emotions are being so blatantly played with are, loosely speaking, human beings”.
(Klets - Junie 2004)
Monday, June 14, 2004
MIELIES!! VISAS!!
Die polisie keer mos elke nou en dan so ‘n paar mense aan vir immigrasie-oortredings. Dan was dit só ‘n groot operasie, en sóveel duisende ponde daarby betrokke. En almal kan nou ontspan want nou kan julle sien (want tydens die operasie was daar “toevallig” ‘n paar fotograwe en joernaliste van die voorste dagblaaie by) ons is in beheer van die situasie. Vir die res: Watchit!
Daardie 20, en daardie 1000 is seker nie eens ‘n druppel in die dodgy visa emmer nie. Volgens die polisie is die 1000 Suid-Afrikaners onbewustelik in die lokval gelei, en “sal hulle asseblief vorentoe kom as getuies?”
‘n Paar is dalk onskuldig, maar definitief nie almal nie. Wie sal uit Suid-Afrika aansoek doen om by ‘n onbekende kampus in Suid-Londen te swot? Uit ‘n 1000 - ek sou sê 100%. Maar dan alleenlik omdat dit ‘n (taamlik maklike) manier is om in die land te kom. Eintlik wil ek waag om te sê nie een van daardie 1000 wou regtig hier kom swot nie. Nie dat ek dink daar’s iets daarmee verkeerd nie! As ek 34 was en ‘n bietjie die Pomme se skottelgoed wou was of hul verstopte dreine wou regmaak sou ek dit ook oorweeg. Ek meen net hulle is baie gelukkig dat die polisie hulle die voordeel van die twyfel gee.
Sien, om te kwalifiseer vir ‘n studentevisa moet jy ten minste 15 uur gedurende die week op die kampus deurbring, en kan jy dus nie meer as 20 uur per week werk nie. En teen die minimum loon, sou jy daarvoor ‘n hool van ‘n kamer met drie ander (gesinne) moes deel. Dit is hopeloos te min vir mense wat gewoonlik tussen 48 en 84 uur ‘n week werk. Sodra ‘n jaar om is, en hulle nie eksamens geskryf of punte gekry het en gevolglik nie weer vir ‘n studentevisa aansoek kan doen nie, is hulle basies gestrand op die Eiland, maar vir baie is dit nie so ‘n slegte vooruitsig nie. Hulle bly tot hulle nie meer wil nie, en dan gaan hulle terug waar hulle vandaan kom. Of hulle koop nog ‘n visa, waarvan die prys gewoonlik ook ‘n uitslagadvies en ‘n sertifikaat insluit!
Tog, ek sien die polisie se punt in. Een outjie met ‘n “vals” visa is nie naastenby so ‘n probleem soos, seg maar, ‘n opportunis van Suid-Afrika wat al vir ten minste drie jaar lank studievisums vir £1000 en ancestral visas of werkspermitte vir tot £4000 verkoop nie. En, al slaap hulle nie meer so lekker nie, loop daar nog baie van hulle daarbuite in hulle Prada-skoene rond.
(Klets - Junie 2004)
Tuesday, May 18, 2004
Op 'n Eiland
Toevallig moes ek ook in die week my Yahoo! mailbox skoonmaak, want hulle gee my heeltyd histeriese waarskuwings dat dit 113% vol is. Met dié kry ek toe ‘n paar ou e-posse van mense in SA, met my oorspronklike e-pos onderaan. Presies drie jaar gelede, blyk dit, het ek gedink alles is suf en stink en ruik na kerrie en motballe. Ek kon vir maande nie marmite eet nie, want alles wat verwaarloos gelyk het, het daarna geruik.
Ten minste drie Italianers het my in een week voorgekeer en met my begin Italiaans praat. (Na 'n lang somer in SA het ek seker soos Sophia Loren gelyk! Of soos 'n dwelmhandelaar.)
Huh? Sê ek dan.
> En hy sê: Ek dog jy’s van Italië?
> Ek sê nee, ek issie. Wat's jou f****n probleem? (Die laaste stukkie is 'n leuen.)
> En hy sê: You wanna walk together?
> (Kan jy dit glo? Dis die tweede ou, dieselfde gesprek!)
> Toe sê ek: NO. Actually, I DON'T!
> En toe hardloop ek weg, en hy mompel iets obskuurs in my rigting.
> Gelukkig was dit naby al daai guards.
> Maar dink jy hulle sou 'n aks beweeg het as daai pastabreath my wou lem?
Ek was toe nog geweldig opgewonde oor al die gratis presente (soos U2 CDs) wat jy binne in 50p koerante kon kry. (Ek is steeds, maar nie meer so geweldig nie.) En ek het gedink EastEnders is beter as Egoli. "Seker omdat ons hier meer kan relate met die skom van Noord-Oos Londen, as met die yuppies van Gauteng."
En ek onthou die desperaatheid nadat ek aanvanklik vir drie weke werkloos was.
> Ammal hier is so sad en depressief. Ek's bang dis aansteeklik.
> Die stad is vuil en grillerig. Ek twyfel of ek die winter nog hier gaan wees.
> Ek sal sterf van verdriet.
> Dis regtig nie altyd so lekker nie. Goddank vir nice mense en mooi parke
> en mooi geboue en mooi kuns.
> Dalk gaan ek sommer Ooste toe.
> Of dalk raak ek so lief vir die plek dat ek nie meer maaind nie.
> Of liewerster, comfortably numb. Of skizo soos die res.
> Ek sal 100% meer positief wees as ek ponde maak.
En ek was. 100% meer positief én comfortably numb. En toe ontmoet ek vir Werner, saam met wie die hele lewe soos 'n kinderpartytjie is.
(Klets - Mei 2004)
Hoe lykkit my bra
Maar die absurdheid raak alledaags. Die man met sy vertikale strepe broek en horisontale strepe baadjie verdien nie eens ‘n tweede kyk. Ook nie die bejaarde vrou in Hari Krishna‑gewaad wat elke dag in Sloane Street (die een met al die ontwerperswinkels) afry met ‘n skopfiets nie.
Dalk nog die man met 'n hoed gemaak uit die onderste helfte van ‘n bruin A4‑koevert vol algebra‑probleme, en papierkabels om sy ore. Maar eintlik meer omdat hy stukkies gemors by jou voete wil optel.
En so kom ek noudie aand laat by die huis. Trek uit, gooi my klere oor die stoel. Werner kom later by die huis, trek uit, gooi sy klere oor die stoel. Volgende dag waai ek vroeg, los my klere van gister net so op die stoel. (Nee, ek’s nie so grootgemaak nie.) Werner waai ‘n bietjie later, gryp sy baadjie van die stoel, kry ‘n bus van Colliers Wood na South Wimbledon, en stap nog ‘n ent in die besige hoofstraat na die bank. ‘n Meisie loop na hom toe. Hy dog sy wil rigtings vra. Sy sê jy gan nou baie embarrassed wees, mar ek moet jou net sê – daar hang 'n bra onder by jou baadjie uit.
(Klets - Mei 2004)
Friday, May 14, 2004
Witamy naszych polskich przyjaciól w europejskiej rodzinie
Op 1 Mei het 10 nuwe lande by die EU aangesluit. Daai dag het dit 'n bietjie soos met SA se eerste demokratiese verkiesing gevoel. Die groepies blas Oos-Europeërs wat deur die strate loop en sing, en die groepies wittes wat met onsekerheid en 'n ligte paniek na hulle staar. Vroeg in Mei reeds was daar aansienlik meer Oos-Europeërs op die busse en treine. Hulle lyk merkwaardig baie soos Suid-Afrikaners. En reageer ook nogal dieselfde. Partykeer as een op die telefoon praat, sien jy op 'n ander plek in die bus twee ander wat vinnig vir mekaar kyk, en glimlag en probeer hoor wat daardie een sê. Net soos wat die Suid-Afrikaners doen. En as die foon lui en hulle voel nog nie so vertroud met die Engels nie, bloos hulle ook diep rooi, gryp met hul hande in die lug na woorde, en sug uitasem as die gesprek verby is.
Ek wonder net - as die Engelse sukkel om Lalla of Ronel te sê, hoe gaan hulle maak met Ksawery Duhacek of Alojzy Djindjic?
(Klets - Mei 2004)
Pommies vir beginners
Britsheid, sê Martin Bell (verslaggewer en UNICEF ambassadeur), is die ordentlikheid om by elke moontlike geleentheid oor die weer te praat. Dis ook ‘n neiging om, wanneer ‘n vreemdeling op jou voet staan, om verskoning te vra.
Dit sit nie in enigeen se Burberry-broek om die Britte in 'n paar sinne op te som nie, maar ek sou dit self nie beter kon sê nie!
Sien, dis moeilik om ‘n nasie te beskryf as jy skaars ‘n handvol van hulle baie goed ken. Aanvanklik het ek gedog die mense vermy my oor my biltongasem, maar die feit is, daar’s nooit genoeg tyd om hegte bande met enige van hulle te smee nie. As hulle nie besig is om iemand met vuil kyke te vernietig en te pletter te loop nie, kyk hulle EastEnders, hou vakansie by die Costa del Sol of wag hulle geduldig vir 'n bus of in 'n tou by MacDonalds, of vir 'n afspraak by die NHS. Die ongelooflike talentvolle, gasvrye en snaakse mense wat my vriende sou kon wees maak voltyds musiek of programme soos Bo Selecta en Phoenix Nights. Die res van die volk drink iewers tee.
Die meeste Suid-Afrikaners wat ek ken het ook nie juis Britte op hulle verjaardagkalenders nie. Waarskynlik sou dit makliker wees om vriende buite Londen te maak, maar in die stad is dit elke man met sy vooroordele vir homself. Hulle dink ons is hier vir die paartie en ons help hulle miskien nie reg nie. Dan is daar nog goed soos beginselsake. Vir Ronel, ‘n selferkende worsfanatikus byvoorbeeld, is dit maar ‘n gesukkel. Hulle wors suck, se sy. Én dis ‘n toonbeeld van Engelse mans – bleek, kort en sonder smaak!
Dis asof ons hulle (Londenaars) verdeel in dié wat orraait is, maar hulle afstand hou; die chinless wonders wat in een sin kan sê okiedoke, jolly good, cheerio, en dink als wat vreemd is, is dom en ‘n bedreiging; of die trainer- en tracksuit tappets (soos Amelia sê), wat 15cm-radius goue hoepels deur hul ore werk en na elke derde woord yeah sê.
Pogings om Britsheid te definieer het veral vanjaar baie aandag in die media geniet. Dit het als begin toe David Blunkett verlede jaar voorgestel het dat almal wat Britse burgers wil word 'n Britsheid-toets moet skryf waarin hulle moet toon dat hul ‘n goeie begrip van die VK se taal, wette en waardes het.
Maar jy kán tog nie Britsheid definieer nie? het almal oorbluf gesê, en onmiddellik gekyk wie dit die beste kan doen.
Linda Colley, ‘n geskiedkundige, het soortvan impliseer dat die volk 'n identiteitskrisis het deur te sê die gesprek is juis daar omdat Britte nie meer verenig is in ‘n behoefte om oorlog te maak nie. Hulle is ook nie meer almal Protestante nie, en daar’s nie meer die self-belang om aan ‘n massiewe globale koninkryk te behoort nie.
Die skrywer en regisseur Richard Eyre het 'n baie raak beskrywing van die Brit-psige gegee, en ek sal weereens sukkel om dit beter te stel. Volgens hom hou hulle daarvan om as ‘n bron van kreatiewe energie in mode, musiek en TV komedies gesien te word. Hulle is soms trots op (en dikwels skaam vir) hul sporthelde. Hulle hou nie daarvan om slegs vir HP sauce, Marmite, rooi busse en posbusse, vrot tande, en Cool Britannia lof te kry nie. Hulle hou van hul reputasie as ‘n ietwat eksentrieke volk, met eeue-oue tradisies, wat glo in vryheid en demokrasie. Hulle sien hulleself as prakties, ordentlik en regverdig. Tog, voeg hy by, hierdie kwaliteite sou 100 jaar gelede op die eiland erken word, maar nie deur die Boere of Zulus of die meeste Indiërs op die sub-kontinent, wat ook wreedheid, hooghartigheid, vooroordele en snobbisme sou raaksien nie.
In hierdie paranoïese terrie-agter-elke-bos dae, is hierdie ongelukkig ook die eienskappe waarmee baie immigrante die meeste te doen kry.
Die man op straat gaan nie juis deur 'n eksistensiële krisis om te besluit waar sy kulture fondamente lê nie. Waar dit vir ons biltong en Mrs Balls is, is dit hier geroosterde biefstuk, Yorkshire pudding en vis en tjips – soos wat 73% (uit 1000 Britte) in 'n onlangse studie besluit het. Vyfde op die lys van wat hul die meeste as 'n nasie definieer, was tee drink.
En tog was die volk baie ontstelt toe ‘n nuwe DK Eyewitness reisgids besoekers aan Britanje waarsku dat die land elke middag vir tee en scones sluit. En skilder ‘n prentjie van Britte wat middae 4-uur vir delikaat gesnyde vissmeer- en komkommerbroodjies aansit.
Komkommerbroodjies? Is dit waarom elke tweede kind ‘n pokkel is en die meerderheid van die volk vetsug het? Die enigste komkommer wat jy hier tussen twee broodjies sal kry, is as dit bo-op twee patties met ekstra kaas lê. En dan noem jy dit ‘n gherkin.
Maar wat's die storie met die tee? vra jy. Daar is nie een nie. Hulle het net eenvoudig ‘n onversadigbare dors daarvoor. Of dit nou vir hot water with a spot of milk, ‘n gewone cuppa, peppermint, of deesdae ook Rooibos is.
Ek het die volgende teorieë oor die ongewone gewildheid van tee op 'n Amerikaanse webblad gesien:
- Tee is die bron van hulle superkragte - mislikheid en slegte tande. Ek behoort te weet, my tannie is ‘n Brit.
- Buitestaanders weet dit nie, maar Britse tee bevat eintlik ‘n ligte hallusineermiddel wat hulle help om Britse komedie te waardeer.
- Hulle hou van alles waaruit jy alle lewe kook, en dan eet.
Gelukkig, met 'n aweregse sin vir humor en selfspot as hul allerbeste bate, kan 'n mens lekker met die Britte mors. Jy kan, om die waarheid te sê, mors met 'n guv’, yob, geezer, bloke, lad, Scouser, Brummy, bird, Geordie, love, tosser, nutter, Cockney, slapper of selfs 'n poncey bastard. Maar moenie sukkel met sy vlag nie. Dan sal jy sien hoe wonderlike patriotisme met genoeg provokasie in iets morsigs kan ontaard. En reeds het, as jy kyk hoe immigrante daagliks in sommige koerante gestereotipeer word.
(Klets - Mei 2004)
Thursday, April 22, 2004
Tube
Dit sou propvol toeriste wees en Engelse van elders. Almal oppad Oxford Circus of Tottenham Court Road toe. Die meeste sou gaan inkopies doen. Daar sou ‘n opgewondenheid op die trein wees, wat jy nooit in die week sou kry nie. ‘n Middeljarige Amerikaanse vrou sou besef hulle ry in die verkeerde rigting en haar trawante sou dink dis die snaakste ding wat hulle nog ooit gehoor het. Mense wat elke dag die tube gebruik sou onbelangstellend voortlees, ‘n bietjie geïrriteerd wees met die geraas en weer wens daar was ‘n alternatief.
Toe ek pas in Londen was, het ek traag werk gesoek. Daar was te veel wat ek wou sien. My tubekaart was my kosbaarste besitting. Ek kon vir ure daarna staar.
Die eerste dag wou ek eers Leicester Square (dis Lester nie Laaaisester nie!) toe, want mens kon die TNT daar kry en dis waar ‘n mens begin werk soek.
Daarna kon ek vir my beloning die stad gaan verken. Eers Piccadilly Circus toe. Loop daar rond met ‘n oop mond en kyk die groot advertensieborde en luister na komieklike Skotte met doedelsakke. En toe’s ek sommer weer by Leicester Square stasie! Van daar, meer dapper, loop ek sommer in ‘n ander rigting en No Way! Daar’s dié leeus. So’t dit aangegaan vir ‘n week of twee.
Vir senuweeagtige bestuurders soos ek, is die tube die antwoord wat hulle elke dag soek wanneer hulle ten hemele skrou as hulle ‘n gap moet vat op die N1. Hier kon ek net die gap mind. Hiervoor alleen is ek ‘n beter mens het ek gedink. Maar toe moet ek begin werk, en is saam met derduisende ander tot ‘n kuddedier verdoem.
In die ure tussen 7-9vm en 4-7nm is alles wat ondergronds gaan boos.
‘n Gewone dag op die tube beteken:
8.30vm en klaar laat. Ek pluk my kaartjie soos ‘n wafferse tube cowboy uit my handsak, maar dit registreer ‘n fout. Ek waai dit voor die beampte. Hy gebruik syne. Go! go! sê ‘n vrou in my nek, haar aktetas in my dy. Sy kan sien dis onmoontlik dink ek, en kners op my tande. By die roltrap stamp sy in my lae rug met haar sambreel. In ‘n vlaag van irritasie beduie ek sy moet verbygaan. Die onverwagse gebaar vang haar onkant en sy spring verleë om my en storm links by die roltrappe af. Op die regterkant staan die korporatiewes bankvas agter mekaar. Die vrou hardloop koes-koes en vorder niks. Ons klim in dieselfde trok. Ons stasie is die eerste stop op die Victoria lyn, maar dis reeds stampvol. Daar is ag stoppe tot by Oxford Circus waar die meeste mense wil wees. By King’s Cross sal ‘n paar afklim - by elke stop sal nog mense inbeur. As jy gelukkig is duur die hele rit 35 minute. Niemand maak oogkontak nie. Niemand praat nie. Almal druk en almal loop vinnig. Jy moet – dis beter so. Jy doen niemand ‘n guns deur gaaf te wees nie. As die trein stop en daar’s nie plek nie, moet jy plek maak - daar gaan ook nie plek wees op die volgende vyf treine nie.
Die konstante, jarelange geveg om oorlewing het gemaak dat Engelse amptelik die skerpste elmboe en vuilste kyke in die wêreld het.
Op die Tube is naasteliefde ‘n ondenkbare konsep. Hoe later jy is, hoe meer mense haat jy. Die toeris met sy rugsak. Die knoffeleters. Die kougomkouers met minidisc players waarvan jy net die basnote kan hoor. Die vrouens met hulle swart rompies, swart baadjies swart kouse, en wit tekkies(!) (Hulle dra hulle kantoorskoene in hul handsakke, want hulle wil eerder deelneem aan die resies vir Die Oop Sitplek as om waardig te lyk.)
Soms stop die trein in ‘n tonnel tussen twee stasies. Na twee minute begin mense vroetel. Na vyf of 10 minute broei daar ‘n ligte paniek. Veral in die somer. Mense kyk rond om te sien saam met wie hulle hulle laaste oomblikke in hierdie lewe deurbring. Jy sit in ‘n donker, nou tonnel, Daar’s nerens om heen te gaan nie. Jy weet jy gaan daar uitkom, maar wanneer? Die treinbestuurder weet ook nie. Dan beweeg die trein, en almal val weer in hul hoorniks-sienniks-weetniks houding. Jy wonder hoe iemand 8-uur in die oggend reeds kan stink. Teen die tyd wat jy moet afklim voel jy self nie meer te vars.
In die aand is dit stiller waar ek opklim. Daar’s ‘n man wat elke aand oor en oor U2 se One sing. Hy lyk ‘n bietjie soos ‘n rot. Iemand skree vir hom Have! You! No! Shame! Die rot gooi sy kitaar neer en gil vir die giller iets onhoorbaars. Dan haal hy sy blikkie uit en loop al langs die perron, verby die onwillige gehoor.
Op die trein kom sit ‘n man oorkant ons. Ek kyk af. Sy kaal voet peul bo-oor sy skoen. Ek druk my neus in my vriend se trui. E’ga naar raak, sê ek en hy kan sien ek bedoel dit. Die man trek sy skoene uit en strek sy bene. Daar’s ‘n diep keep regoor sy voet. Vet en vleis peul uit die wond. Die reuk is ondraaglik. (Veral as jy 'n hangover het.)
Ons staan op en loop tot by die verste sitplekke. Kort na ons staan twee ander vrouens op. Jeeeeeeezis sê die een. ‘n Kind skuins oorkant die man sit en eet chips en staar nuuskierig na die wond. Nuwe mense wat opklim gaan sit onbedag naby die griller. Na ‘n ruk sien en/of ruik hulle die wond. ‘n Netjiese vrou sit en snuif die binnekant van haar leerhandskoen, dat dit op- en afblaas soos 'n kartonsak. ‘n Ander gaan staan weer by die deure en klim by die volgende stasie af. Die kind is gefassineer met die voet. ‘n Gypsy klim deur die nooddeure van die ander trok. Hy speel ‘n konsertina. Hy lyk niks ouer as sewe nie.
Daar sit ‘n vrou met ‘n blink oop gesig soos ‘n gospelsanger. Sy kyk rond. I must die, I must die gil sy met ‘n glimlag. En mompel iets van iemand wat moet bel.
Dis net toeriste wat opkyk. Die vrou lees verder. Dit het nooit gebeur nie.
Mense in Londen het ‘n vreemde verhouding met die tube. Almal haat dit. Maar hulle hou daarvan om dit te haat. Tuberyers het immers altyd verskonings en stories en bowenal nog iets om oor te kla.
- "Please let the passengers off the train first. Let the passengers off the train FIRST! Oh go on then, stuff yourselves in like sardines, see if I care, I'm going home."
- "Ladies and Gentleman, upon departing the train may I remind you to take your rubbish with you. Despite the fact that you are in something that is metal, fairly round, filthy and smells, this is a tube train for public transport and not a bin on wheels"
- "I am sorry about the delay, apparently some nutter has just wandered into the tunnel at Euston. We don't know when we'll be moving again, but these people tend to come out pretty quickly...usually in bits."
(Klets - April 2004)
Sunday, April 18, 2004
Dertigduisend drawwers
Maar ek wou nie eintlik oor atletiek praat nie, ek wou net sê dis nog 'n gebeurtenis wat elke jaar plaasvind wat my laat wonder hóé dit gebeur het dat nog 'n jaar verby is. Ek kan regtig nie glo dis ‘n jaar sedert die vorige marathon nie. Verlede jaar het ‘n outjie in ons huis daar gewerk as deel van ‘n span wat barriers moet pak om die skare op hul plek te hou. (Hulle noem dit “event management” vir CV-doeleindes.) Laat die aand kom hy toe by die huis met bokse vol oorskiet geskenkpakke wat hulle vir die vroulike deelnemers gegee het. Dit was soos krismis. Ons het die medaljes en T-shirts en sanitêre produkte vir liefdadigheid geskenk. Die energybars en koeldrank het eerste verdwyn. Toe die pasta met die lekker sous. Ek weet nie wat van die haarjel geword het nie. En die bruinsuiker hou nou nog. ‘n Hele jaar later.
(Klets - April 2004)
Vreemder as fiksie
Die volgende was alles April-gek stories in die koerante:
- Een van die poniekoerante het 'n foto geplaas van die Koningin met 'n Racing Post onder die arm en vier corgis om haar hakke, besig om op 'n perd in die Grand National te wed. Sedert haar hulp in 1969 op die verkeerde perd gewed het, dring sy glo daarop aan om dit self te doen.
- ‘n Advertensie in die Guardian het beweer dat BMW-bestuurders met behulp van nuwe tegnologie (soos ‘n oond webkamera) nou hul aandetes kan begin kook terwyl hulle huistoe bestuur.
- Die Sun het berig dat die Thames Valley polisie spoedkameras aan arende gaan vasmaak en hulle leer om op motoriste wat die spoedgrens in Oxfordshire oortree af te pyl.
- Die Times het storie gehad met inligting wat hul van die nasionale argiewe gekry het oor Britse planne om hoender-aangedrewe kernbomme tydens die Koue Oorlog te gebruik.
Ha ha. Ek jok! Die laaste storie is die reine waarheid. Dit lyk miskien soos ‘n grap, sê Tom O'Leary, hoof van opvoedkunde en interpretasie by die argiewe, "but it most certainly is not. The civil service does not do jokes."
Brittanje se gunsteling April-gek grappie is die 1957 Panorama-program waarin kykers vertel is dat Switsers boere weens gunstige weersomstandighede ‘n uitmundende spaghetti oes sou hê. Hordes mense het ingebel en wou weet hoe hulle hul eie spaghetti kon plant.
(Klets - April 2004)
Ek kan verkeerd wees, maar
Die meerderheid van die gestremde bejaardes wat daar aangekom het, was gewoonlik uiters onbeskof as jy nie van myle ver af kon sien dat hulle die sticker het nie, en ek wou onnodige konfrontasie vermy. Maar die kar het bly staan en iemand binne-in het met my begin praat. Ek moes buk en soortvan binnetoe leun om die man in die verste hoek agter in die kar te sien. Die ander mense met hul deftige klere het net vinnig na my gekyk en toe weer voor hulle gestaar. Die man het entoesiasties begin beduie en vertel hoe alles verander het sedert hy laas daar was. En hoe wonderlik dit was. Die mense in die kar het begin rondskuif en op hul horlosies gekyk. Ek het nie veel gesê nie en ek kan ook nie onthou wat nie, maar hy het baie aandagtig en meelewend geluister. Terwyl hy gepraat het, het ek besef hy’s bekend, maar ek kon glad nie op sy naam kom nie. David? Het ek gewonder Nee. Richard? Attenborough? Dalk. Maar ook nie. Iets van Rusland, het ek gedink. From Russia with Love? James Bond? Q? En toe hulle uiteindelik om die draai verdwyn besef ek dit was Peter Ustinov.
(Klets - April 2004)