Londen is lekker, dreunsang ons almal met bultende beursies. Arm was ons gister, maar nou's ons ryk. Die begin was moeilik. Maar dit was lank terug en wat maak dit saak - hier verkoop mens jou siel vir bangers en mash.
Moenie in Rande dink nie, sê jy vir jouself as jy groot oë en vol verwagting jou eerste dapper tree op die Eiland gee. Jy voel effens onbevoeg - jy't dit immers
nog nie hier gemaak nie. Maar jy gaan, glo jy. Daar's plekke om te sien, vis en tjips om te eet, pints om te drink… Die Engels sal weldra regkom.
Die tweede Sondag wens jy jy was net 'n toeris. Jou geld is op. Jy's gatvol vir brood, bang vir boontjies en jy kry nie die son nie. Waar's Wes dan? En Suid-Afrika?
Dit voel of jy agter 'n witgordyntjie lewe. As die wind die wit vlies effens lig, spoel 'n flouerige son deur, wat beklemtoon hoe bleek alles is. Die geboue, die mense, die gemoedere…
Jy soek angstig na mooi goed in jou omgewing om die draaglik te maak. Behalwe vir die buurman se varkblomme en die moontlikhede wat die lucky penny pond in Hyde Park inhou, is daar weinig.
Almal dra seëlringe en soveel as moontlik goud. Meisies dra oorbelle waardeur opgeskote maltesers kan spring. Al dra 'n aap 'n goue ring, dink jy en wonder
hoe soveel lelike mense sonder skaamte op een plek versamel kan wees.
Gffppt skraap 'n man iets diep uit sy keel en spoeg nog 'n geelgroen slymbal op die sypaadjie. Solank jy net nie jou ongemak in stilte verduur nie, blyk dit. Die kabaal van die buurkinders kan egter net regverdig word met vermoedens dat hul ma (wat ook as iets minder vleiends bekendstaan) gereeld hul koppe teen die mure slaan.
As jy laat in die Tube spring, ry jy onder iemand se blad werk toe. Alles voel slymerig. As jy by die werk kom voel jy klaar nie meer vars nie. As dit 30 grade
Celsius is, gaan staan 'n stampvol Tube tussen twee stasies. Jy raak gou bewus van die geïrriteerde mense rondom jou. Jy ruik uie, marmite en motballe. Na 15
minute skuif almal angstig rond. Hulle is kortasem en sweet verwoed. Na 'n halfuur wil jy iemand slaan en almal beledig. Noodwendig is daar een wat ongesteurd voortbabbel. Al die opgeboude agressie word teen hom
gerig. Dis iemand se skuld en iemand gaan gemoer word want as iemand net minder praat sal dit draagliker wees. 'n Dreigend konvulsie laat jou
ore suis. Jou oë traan en jy sluk onheilspellende swaar slukke. Kry alternatiewe vervoer, hoor jy as die trein begin beweeg. O, ons is jammer vir die ongerief.
Daar was 'n insident (dis wat 'n selfmoord op die spore is) en mind tog die gap, hoor.
Dis dan wat selfbejammering jou hart laat kramp. Hoekom nou weer?
Terwyl jy nog staan en wonder, veeg iemand jou Excuuuse me! met oë vol haat en 'n geoefende regterhaakhou uit die pad. Want hier is almal haastig en almal laat. Die ry by Macdonald's raak nie korter nie!
Maar dan verdien jy jou eerste pond - die lewe is lekkerrrr. Jy stap nie meer om 70p te spaar nie. Frankryk lyk bekostigbaar en die Verre Ooste naby. Gun
droom lyk absurd nie. Jy's oorweldig deur al die ongelooflike moontlikhede wat 'n paar pond inhou. Jy begin snork vir die stoopit toeriste en loop ingedagtes uit die pad. Jy't dinge om te doen. Soos om 'n vark te word. Jy kry 'n uitdrukkinglose Tube-gesig. Jy lees jou koerant en staan net jou sitplek vir mense bo 97 af.
Werk is maar werk. Geen uitdaging of glorie meer nie. Die swart Tube-stof wat jy saans uit jou neus blaas, is maar een van daai dinge. Jy sê yeah soos ‘n Cockney en nie meer ja, hey soos 'n Nataller nie. Soggens ruik jou buurt na seelug en saans soet na kerrie. Jou neus raak verslaaf aan Chick Inn en Chinese. Jy begin tuisvoel in jou omstandighede en noem die plek huis. Maar dit beteken nie jy gaan 'n tattoo kry of Donderdae karaoke nie. Want hier sien jy steeds nie sterre nie en Spur-sous kry jy net op een plek.
(Klets 2002)
Monday, June 17, 2002
Subscribe to:
Posts (Atom)