Thursday, August 01, 2002

Hei, Mrs Balls (dit gaan goed)

Mens weet dit nie as jy die Saterdagoggend van UKkasie soos Harry Potter verward op King's Cross-stasie rondhol en die geheime platform na Stevenage soek nie. Jy't gemengde gevoelens. Jy vermoed jy's opgewonde en honger. Maar jy sou nooit kon raai dat heimwee die oorweldigende fees-emosie sou wees nie.

Want, soos Valiant Swart agterna gesê het, die grootste gemene deler van UKkasie ís waarskynlik sentimentaliteit.

Laasjaar met UKkasie was ek maar pas in Engeland en het ek dit nie behoorlik waardeer nie. Ek het agter my neus aangeloop om die fees in Wembley te kry, deur 'n paar worsies en 'n paar shows gewerk en weer huistoe gegaan. Beeskraal, byvoorbeeld, was lekker, maar ek het nog vasgekyk in die Voortrekkerkappies.

Vanjaar sou ek verstaan wat die fees vir mense wat al lank uit Suid-Afrika is, beteken.
Die meeste is tydelik hier. Baie is Britse burgers. Maar almal mis die plek waar, ten spyte van dinge om te doen en plekke om te sien, jy weet jy hoort. En as dit nou 'n doilie gaan vat om jou vir 'n paar selfsugtige ure te verplaas, dan is dit so.

Niemand beplan egter om onbeskaamd sentimenteel te wees nie. Dis net, as jy ver van die huis af is voel mens baie vinnig so selfbejammerend soos 'n Maandagoggend-koshuiskind. Net soms ruik die laagwater Teems-modder skielik oorbekend. Of herinner 'n skaap in 'n park in die middel van Londen jou skielik aan een van daai kanniemerie etes van ouds.

Tog vreemd, skryf Martie Meiring in Die Burger, hoe kos 'n mens se heimwee na jou wortels bepaal. Wat praa' jy vrou, hoor ek 'n koor van feesgangers.

Ek het met die geduld van 'n Pommie op die National Health Service se waglys in die bierry gestaan. Maar met daai einste ingelsman se geweldadige dis-die-laaste-trein-wat-OOIT-hier-gaan-verbykom houding in die worsrolry gedruk. Suid-Afrikaners in London eet seker 21 keer 'n week boerewors, maar dis nie waaroor dit gaan nie. En wie tel in elk geval.

Elkeen se heimwee het sy eie katalisator gehad. Jy kon maar net kyk in die waserige kyke van sommige vetkoekkopers. Daar was definitief 'n dieper dors in die Castle-drinkers se oë en baie stemmetjies wou breek as hulle vir Cream Soda of Fanta Grape vra. En omdat ek nie aan selfkastyding glo nie, kon ek myself nie sover kry om deur 'n boek oor die Weskus te blaai
nie.

So, vir sommige was dit die biltong, vir ander bier. Vir derduisende koeksisters en melktert. Maar dis oor die musiek wat die volk se trane gespat het. Hulle het diep in die bottels Roodeberg gekyk, maar dis die liedjies wat hulle swak gemaak het.

Laurika sing Blouberg se Strand en dóér trek die mense se onthou's. Groot branders, koue koue water (en waar gaan jy piepie?), ander mense wat jou visse vang, Noot vir Noot op 'n Saterdagaand en iemand wat al die antwoorde uitskree. Ai, ek wens ek was nou daar, sing
Lucas. Amen, kreun die 800+ gehoor. Valiant hoef nie eens Stellenganga te sê nie of ek kry
eksamenstres en mis die dae toe Koos Kombuis nog vir R5 (of bloot op versoek) in Upstairs gespeel het en die relatief onbekende Pierre Nolte op Sondagaande net om die draai in Gallery. Onthou jy nog die aande daar in Birdstraat, sou Koos sing. Maar natuurlik. Daai tyd kon klein Robert nog skaars 'pa' sê, wat nog te sê van 'my pa is tog 'n rock-ster'.

UKkasie is miskien soos Valiant sê 'n "hardcore-kerkbasaar" en sommige mense wil weet
hoekom, as ons dan só voel oor boerewors en Mrs Balls, het ons hoegenaamd hiernatoe gekom. Maar gestel van die duisende mense wat in Londen bly wat iets uit dié skoolsisteem, gesondheidsorg en openbare vervoer leer, na van die wêreld se beste konserte gaan kyk, kritiese pers lees, self vir 'n minimum loon en geen waardering werk, in 'n tipe plakkerskamp tussen rotte woon, 'n rykdom van kulture leer ken, tradisies uitdaag en
moontlikhede beproef ...

Gestel van hierdie duisende mense raak vol heimwee by 'n fees soos UKkasie, en weet dat hulle eendag weer moet huistoe gaan - dan's dit mos goed.

(Klets 2002)