Wednesday, April 18, 2007

Jedzcie, pijcie i popuszczajcie pasa

Oftewel: Eet, drink en maak los jou belt, soos die Pole sou seg, want deesdae het hulle selfs hul eie rak in al wat 'n supermark is.
(En ons was opgewonde om rooibostee en Mrs Balls in 'n winkel te sien.)



Met die kan niemand meer die massiewe Poolse immigrasie ontken nie. Toe die advertensies vir Poolse produkte 'n paar jaar gelede begin verskyn het, het mense (Britte, meen ek) dikwels die "Polish" verwysing op advertensieborde buite winkels met skoenpolitoer verwar. ("Wat bedoel hulle met Skoenpolitoer Kafee binne?") Lankal nie meer nie. Deesdae is die Pole amper soos die VK se vyfde nasie. Hulle is so gretig om te integreer, dat hulle selfs onlangs hulle eie tartan in Skotland gekry het. En dit sal seker ook nie lank wees voor die Britte gaan maak of hulle self beetsop uitgedink het nie.

Ingelegde Poolse kos word al lankal in kafees verkoop, maar niemand (behalwe Pole) het 'n idee gehad wat dit is nie. Die worsies, ja. Die's ons al moeg voor. Maar ons het by die ingelegde bottels verbygehou. Die prentjies lyk meestal soos afval, sien. So jy kan nie daarop gaan nie. Maar nou dat dit in Sainsbury's te koop is, het alles vertalings by. Dit IS, blyk dit, meestal afval. Maar dit het mooi, aptytlike, name soos Hunter's stew, en so.

Die Britte was aanvanklik bang vir al die immigrante. Nou, vermoed ek, weet hulle nie hoe hulle voorheen sonder hulle klaargekom het nie.

120A

Hier's (ongeveer 80% van) die mense saam met wie ons die afgelope paar jaar 'n huis gedeel het.
Sommige was net daar vir twee weke. Ander vir twee jaar.



Vlnr: Andre, Janine, Audrey, John, Christiaan, Conrad, John, Werner Z., Christiaan, Ella, Janine, Helen, Lauren, Greg, Lisette, Sarah, Jason, Steve, Michelle, Tania, ek, Werrie, Tamara, Werner Z., Yolandie, Flippie, Werner Z., Anne (wat nie daar gebly het nie, maar wel baie op die bank geslaap het), Alice, Greg, John, Wium, ek, Greg, Corey, Anne, Tamara, Steve, Michelle, Tim, ek, Werner, Stephan, Werrie, Andre, Audrey, Tamara, John, Greg, Shane, Helen, Brad, Nadine, Christiaan, Janine, ek, Andre, Stephan, Werrie.

Ons boor vooruit

Ons deelhuis-dae is mos nou uiteindelik iets van die verlede. Dit gaan baie goed in die nuwe plek. Ons het 'interessante' bure. En selfs 'n spit om goeters op te braai. Kyk:



Monday, April 16, 2007

Vat jou shots soos 'n prins

Ek het 'n jaar of wat gelede een Saterdagmiddag vir 'n vriend van ons die restaurant gaan wys waar Werner werk. Ons was lekker flou, want ons het heeldag in die stad rondgeloop. (Ag, ek's eintlik permanent lewensmoeg. Maar mense wil altyd redes hĂȘ.) Elk geval, net voor ons weer daar weg is, het die barman vir ons sy signature drink, Crackshot Baby, gegee. Of Crack Baby shot. Ek kan nie die naam onthou nie. Ek onthou wel die nul-tot-honderd-in-30-sekondes effek daarvan. Want in plaas daarvan om huistoe te gaan en te gaan slaap, was ons dadelik ongelooflik lus vir 'n verskriklike partytjie.

Die barman werk deesdae by Boujis, 'n klub waar die jong prinse graag uithang. Die dag waarop hierdie storie in al die koerante was, kry ons hom toevallig in die stad en, ja, dis hy wat vir die gemors verantwoordelik was.

Die koerante was gaaf genoeg om die resep te publiseer. Probeer dit gerus by die huis, maats: vodka, passion fruit, Chambord en champagne.