Thursday, April 22, 2004

Tube

Die Saterdag wat die trein van die spore geloop het by Chancery Lane, kan ek my goed voorstel, maar ek wil nie.

Dit sou propvol toeriste wees en Engelse van elders. Almal oppad Oxford Circus of Tottenham Court Road toe. Die meeste sou gaan inkopies doen. Daar sou ‘n opgewondenheid op die trein wees, wat jy nooit in die week sou kry nie. ‘n Middeljarige Amerikaanse vrou sou besef hulle ry in die verkeerde rigting en haar trawante sou dink dis die snaakste ding wat hulle nog ooit gehoor het. Mense wat elke dag die tube gebruik sou onbelangstellend voortlees, ‘n bietjie geïrriteerd wees met die geraas en weer wens daar was ‘n alternatief.

Toe ek pas in Londen was, het ek traag werk gesoek. Daar was te veel wat ek wou sien. My tubekaart was my kosbaarste besitting. Ek kon vir ure daarna staar.
Die eerste dag wou ek eers Leicester Square (dis Lester nie Laaaisester nie!) toe, want mens kon die TNT daar kry en dis waar ‘n mens begin werk soek.

Daarna kon ek vir my beloning die stad gaan verken. Eers Piccadilly Circus toe. Loop daar rond met ‘n oop mond en kyk die groot advertensieborde en luister na komieklike Skotte met doedelsakke. En toe’s ek sommer weer by Leicester Square stasie! Van daar, meer dapper, loop ek sommer in ‘n ander rigting en No Way! Daar’s dié leeus. So’t dit aangegaan vir ‘n week of twee.

Vir senuweeagtige bestuurders soos ek, is die tube die antwoord wat hulle elke dag soek wanneer hulle ten hemele skrou as hulle ‘n gap moet vat op die N1. Hier kon ek net die gap mind. Hiervoor alleen is ek ‘n beter mens het ek gedink. Maar toe moet ek begin werk, en is saam met derduisende ander tot ‘n kuddedier verdoem.
In die ure tussen 7-9vm en 4-7nm is alles wat ondergronds gaan boos.

‘n Gewone dag op die tube beteken:
8.30vm en klaar laat. Ek pluk my kaartjie soos ‘n wafferse tube cowboy uit my handsak, maar dit registreer ‘n fout. Ek waai dit voor die beampte. Hy gebruik syne. Go! go! sê ‘n vrou in my nek, haar aktetas in my dy. Sy kan sien dis onmoontlik dink ek, en kners op my tande. By die roltrap stamp sy in my lae rug met haar sambreel. In ‘n vlaag van irritasie beduie ek sy moet verbygaan. Die onverwagse gebaar vang haar onkant en sy spring verleë om my en storm links by die roltrappe af. Op die regterkant staan die korporatiewes bankvas agter mekaar. Die vrou hardloop koes-koes en vorder niks. Ons klim in dieselfde trok. Ons stasie is die eerste stop op die Victoria lyn, maar dis reeds stampvol. Daar is ag stoppe tot by Oxford Circus waar die meeste mense wil wees. By King’s Cross sal ‘n paar afklim - by elke stop sal nog mense inbeur. As jy gelukkig is duur die hele rit 35 minute. Niemand maak oogkontak nie. Niemand praat nie. Almal druk en almal loop vinnig. Jy moet – dis beter so. Jy doen niemand ‘n guns deur gaaf te wees nie. As die trein stop en daar’s nie plek nie, moet jy plek maak - daar gaan ook nie plek wees op die volgende vyf treine nie.

Die konstante, jarelange geveg om oorlewing het gemaak dat Engelse amptelik die skerpste elmboe en vuilste kyke in die wêreld het.

Op die Tube is naasteliefde ‘n ondenkbare konsep. Hoe later jy is, hoe meer mense haat jy. Die toeris met sy rugsak. Die knoffeleters. Die kougomkouers met minidisc players waarvan jy net die basnote kan hoor. Die vrouens met hulle swart rompies, swart baadjies swart kouse, en wit tekkies(!) (Hulle dra hulle kantoorskoene in hul handsakke, want hulle wil eerder deelneem aan die resies vir Die Oop Sitplek as om waardig te lyk.)

Soms stop die trein in ‘n tonnel tussen twee stasies. Na twee minute begin mense vroetel. Na vyf of 10 minute broei daar ‘n ligte paniek. Veral in die somer. Mense kyk rond om te sien saam met wie hulle hulle laaste oomblikke in hierdie lewe deurbring. Jy sit in ‘n donker, nou tonnel, Daar’s nerens om heen te gaan nie. Jy weet jy gaan daar uitkom, maar wanneer? Die treinbestuurder weet ook nie. Dan beweeg die trein, en almal val weer in hul hoorniks-sienniks-weetniks houding. Jy wonder hoe iemand 8-uur in die oggend reeds kan stink. Teen die tyd wat jy moet afklim voel jy self nie meer te vars.

In die aand is dit stiller waar ek opklim. Daar’s ‘n man wat elke aand oor en oor U2 se One sing. Hy lyk ‘n bietjie soos ‘n rot. Iemand skree vir hom Have! You! No! Shame! Die rot gooi sy kitaar neer en gil vir die giller iets onhoorbaars. Dan haal hy sy blikkie uit en loop al langs die perron, verby die onwillige gehoor.

Op die trein kom sit ‘n man oorkant ons. Ek kyk af. Sy kaal voet peul bo-oor sy skoen. Ek druk my neus in my vriend se trui. E’ga naar raak, sê ek en hy kan sien ek bedoel dit. Die man trek sy skoene uit en strek sy bene. Daar’s ‘n diep keep regoor sy voet. Vet en vleis peul uit die wond. Die reuk is ondraaglik. (Veral as jy 'n hangover het.)

Ons staan op en loop tot by die verste sitplekke. Kort na ons staan twee ander vrouens op. Jeeeeeeezis sê die een. ‘n Kind skuins oorkant die man sit en eet chips en staar nuuskierig na die wond. Nuwe mense wat opklim gaan sit onbedag naby die griller. Na ‘n ruk sien en/of ruik hulle die wond. ‘n Netjiese vrou sit en snuif die binnekant van haar leerhandskoen, dat dit op- en afblaas soos 'n kartonsak. ‘n Ander gaan staan weer by die deure en klim by die volgende stasie af. Die kind is gefassineer met die voet. ‘n Gypsy klim deur die nooddeure van die ander trok. Hy speel ‘n konsertina. Hy lyk niks ouer as sewe nie.

Daar sit ‘n vrou met ‘n blink oop gesig soos ‘n gospelsanger. Sy kyk rond. I must die, I must die gil sy met ‘n glimlag. En mompel iets van iemand wat moet bel.
Dis net toeriste wat opkyk. Die vrou lees verder. Dit het nooit gebeur nie.

Mense in Londen het ‘n vreemde verhouding met die tube. Almal haat dit. Maar hulle hou daarvan om dit te haat. Tuberyers het immers altyd verskonings en stories en bowenal nog iets om oor te kla.
***************************
Hierdie is glo ware tubedrywer-aankondigings:

  • "Please let the passengers off the train first. Let the passengers off the train FIRST! Oh go on then, stuff yourselves in like sardines, see if I care, I'm going home."
  • "Ladies and Gentleman, upon departing the train may I remind you to take your rubbish with you. Despite the fact that you are in something that is metal, fairly round, filthy and smells, this is a tube train for public transport and not a bin on wheels"
  • "I am sorry about the delay, apparently some nutter has just wandered into the tunnel at Euston. We don't know when we'll be moving again, but these people tend to come out pretty quickly...usually in bits."

***************************

(Klets - April 2004)

Sunday, April 18, 2004

Dertigduisend drawwers

Op 18 April is dit weer die London Marathon. Jy sal my nie naby daai spul hyg-elaars kry nie. Ek glo alle vorms van draf en hardloop (behalwe as dit vir ‘n bus is) is belaglik en onnodig. En masochisties! Het jy al gesien hoe ongelukkig lyk mense wat draf? Al wanneer hulle glimlag is wanneer hulle ‘n mollige dogtertjie op haar fiets teen ‘n bult verbysteek en oor hul skouers vra of sy OK is. In die jare toe ons nog verplig was om aan atletiek deel te neem, was daar mos altyd sulke kinders wat gatoorkop kon val en drie vingers en ‘n knie vergruis en dan met tenspytevan-determinasie opstaan om die wedloop onder staande applous (en Jannie is our hero!) te voltooi. Nie ek nie. Ek het bly lê en gewonder wat my in die eerste plek besiel het. Nee, ek sou eerder na die Albaster Wêreld Kampioenskappe op Goeie Vrydag gaan kyk as na die Londen Marathon.

Maar ek wou nie eintlik oor atletiek praat nie, ek wou net sê dis nog 'n gebeurtenis wat elke jaar plaasvind wat my laat wonder hóé dit gebeur het dat nog 'n jaar verby is. Ek kan regtig nie glo dis ‘n jaar sedert die vorige marathon nie. Verlede jaar het ‘n outjie in ons huis daar gewerk as deel van ‘n span wat barriers moet pak om die skare op hul plek te hou. (Hulle noem dit “event managementvir CV-doeleindes.) Laat die aand kom hy toe by die huis met bokse vol oorskiet geskenkpakke wat hulle vir die vroulike deelnemers gegee het. Dit was soos krismis. Ons het die medaljes en T-shirts en sanitêre produkte vir liefdadigheid geskenk. Die energybars en koeldrank het eerste verdwyn. Toe die pasta met die lekker sous. Ek weet nie wat van die haarjel geword het nie. En die bruinsuiker hou nou nog. ‘n Hele jaar later.

(Klets - April 2004)

Vreemder as fiksie

Die volgende was alles April-gek stories in die koerante:

  • Een van die poniekoerante het 'n foto geplaas van die Koningin met 'n Racing Post onder die arm en vier corgis om haar hakke, besig om op 'n perd in die Grand National te wed. Sedert haar hulp in 1969 op die verkeerde perd gewed het, dring sy glo daarop aan om dit self te doen.
  • ‘n Advertensie in die Guardian het beweer dat BMW-bestuurders met behulp van nuwe tegnologie (soos ‘n oond webkamera) nou hul aandetes kan begin kook terwyl hulle huistoe bestuur.
  • Die Sun het berig dat die Thames Valley polisie spoedkameras aan arende gaan vasmaak en hulle leer om op motoriste wat die spoedgrens in Oxfordshire oortree af te pyl.
  • Die Times het storie gehad met inligting wat hul van die nasionale argiewe gekry het oor Britse planne om hoender-aangedrewe kernbomme tydens die Koue Oorlog te gebruik.

Ha ha. Ek jok! Die laaste storie is die reine waarheid. Dit lyk miskien soos ‘n grap, sê Tom O'Leary, hoof van opvoedkunde en interpretasie by die argiewe, "but it most certainly is not. The civil service does not do jokes."

Brittanje se gunsteling April-gek grappie is die 1957 Panorama-program waarin kykers vertel is dat Switsers boere weens gunstige weersomstandighede ‘n uitmundende spaghetti oes sou hê. Hordes mense het ingebel en wou weet hoe hulle hul eie spaghetti kon plant.

(Klets - April 2004)

Ek kan verkeerd wees, maar

‘n Paar jaar gelede het daar een aand ‘n blink motor by my gestop. Almal wat voor die konsertgebou waar ek gewerk het wou parkeer moes, sien. Die motor het ‘n gestremdheidsplakker opgehad, en ek het net beduie dat hulle kon deurry.
Die meerderheid van die gestremde bejaardes wat daar aangekom het, was gewoonlik uiters onbeskof as jy nie van myle ver af kon sien dat hulle die sticker het nie, en ek wou onnodige konfrontasie vermy. Maar die kar het bly staan en iemand binne-in het met my begin praat. Ek moes buk en soortvan binnetoe leun om die man in die verste hoek agter in die kar te sien. Die ander mense met hul deftige klere het net vinnig na my gekyk en toe weer voor hulle gestaar. Die man het entoesiasties begin beduie en vertel hoe alles verander het sedert hy laas daar was. En hoe wonderlik dit was. Die mense in die kar het begin rondskuif en op hul horlosies gekyk. Ek het nie veel gesê nie en ek kan ook nie onthou wat nie, maar hy het baie aandagtig en meelewend geluister. Terwyl hy gepraat het, het ek besef hy’s bekend, maar ek kon glad nie op sy naam kom nie. David? Het ek gewonder Nee. Richard? Attenborough? Dalk. Maar ook nie. Iets van Rusland, het ek gedink. From Russia with Love? James Bond? Q? En toe hulle uiteindelik om die draai verdwyn besef ek dit was Peter Ustinov.

(Klets - April 2004)

Wednesday, April 14, 2004

Die Voet van Klei en Juffrou SkaamteLoos

Die afgelope week moes Osama sy stem uit die woestyn laat hoor voor terrorisme weer belangriker nuus as David Beckham se beweerde t*kskepades was. Alles wat in die Midde Ooste gebeur, blyk dit, is meer voorspelbaar as wat David Beckham se feilbaarheid was.

Behalwe om te sê dis 'ludicrous' het, die Beckhams nog nie eintlik die bewerings ontken nie. Maar mens kan aflei uit die pragtige foto's waar hulle in die sneeu speel dat alles OK sal wees. Me Loos, daarenteen, kan nie ophou praat oor die kamtige affair nie.
Sy moet ook maar haar stories verkoop terwyl sy kan - waar gaan sy weer 'n werk kry? Sy reken sy weet van 'n intieme detail op Becks se liggaam waarvan slegs vroue wat al met hom geslaap het sal weet. Jy kan selfs by Ladbrokes gaan wed oor wat presies sy gesien het. Van die opsies is glo dat dit puisies op sy rug of ‘n tattoo op sy boude is. (Of is dit nou andersom?) Watookal. Dit skeel my min. Selfs al is dit Goldenballs. Al wat my van die hele storie ontwrig het was toe ek sien klein Romeo dra ‘n oorbel!

(Klets - April 2004)