Friday, July 30, 2004

Afrikaanse Proms se geboortepyne

Ek hou van mense wat groot dink. Hulle het passie en guts. En Suid-Afrika het meer van hulle nodig. Mense wat byvoorbeeld eers op 85 uit openbare diens tree, of op 100 atletiekrekords slaan. Mense wat sê "Vandag Benoni, môre Hollywood!"

Of mense wat droom van 'n Afrikaanse Proms in die manjifieke Royal Albert Hall - en dit laat gebeur.

'n Paar maande gelede het die meeste mense wat van dié plan vir Ukkasie gehoor het, seker gedink: "No Way!" Maar Saterdagaand het die Taal, soos Stephan agterna gesê het, inderdaad weergalm in die Ingelse bastion van kuns en kultuur.
Vanjaar se hoofkonsert het definitief die potensiaal om 'n skouspelagtige jaarlikse produksie te wees. Ja, dit was nie sonder haakplekke nie, maar neem gerus in ag dat die BBC Proms (wat dié Ukkasie geïnspireer het) vir ongeveer 40 uit sy 110-jarige bestaan finansieel gesukkel het (!).

Die idee met Ukkasie was, raai ek, om (soos met die Proms) vir 'n groot gehoor 'n wye spektrum van musiek aan te bied in 'n produksie van hoogstaande gehalte. Die program sou in die eerste helfte ernstig wees, en geleidelik opbou na 'n uitbundige klimaks. Tydens die Britse Proms verseker die volkslied en "Auld Lang Syne" normaalweg maksimum baldadigheid. En tydens Ukkasie sou dit die volkslied en, vermoedelik, "Her Time Has Come" wees.

Op papier lyk alles dus goed. Maar al was daar genoeg groot geeste wat die vertoning absoluut die moeite werd gemaak het, het ons in realiteit net kort duskant euforie gedraai.

In die toekoms sal iemand betrokke moet wees wat die produksie se leisels heelwat stywer vashou. Want sien, net soos dié perd spoed gekry het, het hy in die verkeerde rigting geneuk. Iemand moes met 'n sweep agter die hele storie gestaan het en dit van agter gelooi het sodat die gehoor behoorlik tot 'n sportbyeenkoms-histerie opgewerk kon word. Totdat selfs die teësinnigste lekker-ligteliedjie-saamsinger (ek) met oorgawe sou begin deelneem.

Ironies genoeg was die persoon wat (klaarblyklik) in beheer van alles was, ook verantwoordelik vir die program se tekortkominge. Francois le Roux was seremoniemeester, samesteller, verwerker van oa Sarie Marais (soos briljant uitgevoer deur Zanta Hofmeyr), en multi-instrumentalis. Baie indrukwekkend en baie begaafd. Nou weet ek nie of hy oor die algemeen dink ons moet hóm vir ons daaglikse brood bedank, en of hy dalk net te begeesterd was nie. Maar ongelukkig was hy konstant (behalwe as hy stilgebly en agter sy tjello bly sit het) 'n taamlike irriterende teenwoordigheid op die verhoog. Dis eintlik so maklik om Suid-Afrikaners in die buiteland op te sweep. Ons kry gou daai bars-van-trots-gaan-nóú-my-tasse-pak-gevoel. Ons was byvoorbeeld almal hoogs begeesterd na Pieter-Dirk Uys se skitterende Elections and Erections. Maar Francois het dit probeer forseer. Ek glo ook hy's baie stimulerende geselskap, maar hy't nie die persoonlikheid gehad om iets van so 'n skaal aan te bied nie. Hiervoor het ons 'n Soli of Nataniël nodig!

Vir my was die laagtepunt van die aand die rap-liedjie (wat nogals na 'n rip-off van Fat Boy Slim se "Right About Now" / The Funk Soul Brother, "Check It Out Now", ens geklink het). Die't gelui: "Nogge vyf jaar! Vat hom SA nogge vyf jaar!" En toe nogge 10 jaar, 20 jaar, 30, 40, 50 tot by 100. En dis tóé dat ek gewens het daar was 'n Wilgenhoffer in die gehoor wat kon skree: "Haal hom af, Menere! Hy maak dit nie!"

In hierdie fantasie het Dozi (wat 'n man!) net ná hy vir John Jacobs (die mimiekmeester) grappenderwys oor sy skouer gegooi en uitgedra het, teruggekom om vir Francois le Roux ook te kom haal.

Oor John Jacobs … dis moeilik om iemand wat 'n baksteen hoog is, behoorlik van ver agter in die saal te sien. Sy toertjies het deurgaans die spoed gebreek, en het veral tydens DNA Strings se vertoning gesteur.

Die George Mannekoor was oor die algemeen lekker flou. Ek sien in die SA Times skryf iemand dit het gelyk of hulle "jet lag" het. Daar was ook probleme met al die kore se klank. En in so 'n groot saal kan 'n mens verskriklik alleen voel as jy nie lekker kan hoor nie. Maar dit was steeds hoogs vermaaklik om te hoor hoe die Britse Fishpond-koor "sy roer haar koffie met haar groottoon om" sing.

Dit was baie jammer dat van die Anglo Gold-manne se items gesny moes word, want soos julle seker reeds weet, het die konsert vrek lank aangehou. Die meeste van ons sou vier en 'n half uur lank na Laurika Rauch alleen kon luister, maar in Londen vergeet mens van etiket as dit laaste tube-tyd raak. So, toe die "hoogtepunt" van die aand aanbreek, toe stroom die mense uit. Want as daar nou een ding is wat nugter mense wil vermy, is dit die nagbus (sidder). Soos een vrou - wat haar tubekaart net buite die saal uitgepluk en stasie toe begin nael het - gesê het: "Hulle kon al die goeie goed in twee uur ingedruk het. Maar toe moet mens deur nog twee uur worstel!" En in die verbygaan hoor ek nog hoe sy vir Heinz Winkler 'n lelike p-woord noem. "Jaaa!" beaam 'n meisie agter haar dit. "Hy IS 'n pampoen! Hy is!" Arme Heinz. Die mees entoesiastiese reaksie wat sy "Kom Suid-Afrika!" en "Groet gou vyf mense langs jou!" ontlok het, was 'n moedelose "Ag, fok, ou!"

Die res van die kunstenaars was uiters professioneel en van hoogstaande gehalte.
As Dozi sy Zoeloe "Jantjie" sing, voel ek soos daai meisie in Pulp Fiction nadat hulle die adrenaliennaald in haar hart gedruk het.

Nianell, wat tot onlangs relatief onbekend was hier, gee wêreldklas koue rillings.
Laurika en Lucas is die beste vir die heimwee. Iemand het tereg agter uit die saal ná hulle duet gegil: "Julle is sterre!"

Ek het my voorgeneem om heeltemal objektief na Laurika te luister om te sien of sy elke jaar se bohaai regverdig. Maar dis tevergeefs. As sy haar mond oopmaak, is dit soos 'n Pavlov-eksperiment vir onthou's. Mense wat normaalweg alles saamsing, doen dit nie met haar nie. Dis moeilik met 'n knop in die keel.

Ook Steve Hofmeyr is deurgaans met oorverdowende gejuig begroet. Jy kan sê van sy skoene wat jy wil, maar daai ou kan met 'n gehoor werk!

Die gehoor verdien self 'n pluimpie. Ek sou enige dag weer saam met daardie 3 000 mense paartie. Ek's seker die meeste van hulle maak klaar wenslysies vir volgende jaar se show, want een ding is vir seker: hierdie was nie die laaste een nie - dit was hopelik net die eerste een.

(Klets - Julie 2004)

Monday, July 19, 2004

Allersoorte dossers

Ons bestuur al vir 'n jaar of wat 'n vierslaapkamer deelhuis. Met die dat daar ag mense in kan bly, kom en gaan daar allerhande soorte mense deur. Mense wat orals post-it notas los, of vir 24-uur aaneen Playstation speel. Mense wat allergies is vir neute of vir werk. Oor die algemeen gee hulle nie om om 'n bietjie op te offer om goedkoper te bly nie. Dis meestal mense wat hard kan werk en ewe hard kan kuier.
Toe't ons onlangs 'n tydelike kamer beskikbaar, en toevallig bel iemand wat vir haar en 'n vriendin blyplek soek vir drie weke. Ons kies baie selektief mense wat intrek, en vra die res wat hulle dink. Maar jy weet nooit. Die twee het egter baie goed ingepas. Hard werk gesoek. Nie heeltemal so hard gekuier nie. Brood gesteel. Weer vir almal gekoop. Die een was die onverskrokke-tipe wat al vir haar tweede jaar onwettig hier werk (nadat sy twee jaar onwettig in Israel was). Die ander was meer onseker, want dit was haar eerste keer. Sy was ook, soos ons aan die begin, bang en onseker oor die werksoekery en alles wat anders is. Sy't ook maar gesukkel met die wit leuens in onderhoude - soos om nié te sê sy gaan al weer oor drie maande huistoe nie. Hulle het uitstekend met almal oor die weg gekom. Hulle was, om die waarheid te sê, presies soos die ander. Net, die een se dogter trou binnekort, en die ander is amper 'n ouma.
Kom kyk, sê die ander in die huis, die stoof het nog nooit so geblink nie.

(Klets - Julie 2004)

Friday, July 16, 2004

Tennis the Menace

As jy by die huis sit en kyk hoe die mense aarbeie en room op die hoofbaan by Wimbledon eet, het jy nie 'n idee van die ontberinge waardeur hulle moes gaan om daar te kom nie. Sien, as jy nie honderde ponde vir 'n kaartjie betaal nie, moet jy die nag voor die tyd al op 'n groot rugbyveld begin queue. Die meeste mense kampeer in die ry. En daar's dit elke man vir homself.

Ronel en Faan sou hul vriende daar kry, en hulle moes ook dié se tente saamvat. Hulle twee het self nie 'n tent gehad nie, maar het geglo hulle vriende sou hulle ontferm. Almal het lekker gekuier, maar toe dit slaaptyd word is almal se tente 'vol'.

Ronel vertel:
"Nou stap ons oor die rugbyveld. Die tent-ry loop so zig zag oor die veld. Toe gaan staan Faan in die middel van die veld en skree: Dis f****n lekker hier in Wimbledon, né!
En dis tjoepstil. Ek sê Uhm, Faan, jissie jong, ko’s stap nog ‘n bietjie aan.
Nee, die d***, sê hy, ons bring vir hulle tente, en nou't ons nie 'n tent om in te slaap nie. As ons nie kan slaap nie, slaap niemand nie!

"Die mense raak baie kwaad. Almal wat hom ken ook. Ek sê, ko's loop nog 'n bietjie aan. Toe sit daar 'n klomp Australiërs wat bier drink, en kitaar speel, en alles. Ons sit toe 'n rukkie daar. Maar Faan sê hy gaan terug. Hy gaan die Suid-Afrikaners almal wakker hou - de laaste f***** een!

"Hy't nog so 'n lang reënjas van sy oom aangehad. Toe gaan sit ons op 'n bankie. En nou's dit net glad nie meer so lekker nie.
Later is hy stormdronk. Hy't heelaand whiskey gedrink. Ek dink hy't 'n bottel whiskey skoon uitgedrink. En so raak dit oggend. Hulle sê Ok, wakker word, wakker word.
Almal word wakker, lekker uitgerus. So queue ons weer, seker vir 'n uur. Maar ek sien hierdie bottel whiskey is besig om sy tol te eis. En ek's baie kwaad want ek wil baie graag Wimbledon kyk.
Daar loop 'n klomp Suid-Afrikaners verby ons. Maar hy vloek hulle. Hy vloek vir hulle laag. Ek sê Luister maat, jy't my laat wakker bly. Jy sál hierdie tennis kyk.
Kyk, dit was 'n pragtige dag, maar daai son steek vir jou stukkend. Ons het nie 'n hoed nie. Niks nie.

"So stap ons maar aan met die tou. Die ding is, die eerste honderd of wat kry 'n kaartjie vir Centre Court. En oral waar ons gaan, hoor ons net: As ek daai bliksemse ou met daai jas kry, maak ek hom vrek! Faan sê net Ja, ek ook.
Ons stap so – dis baie militaristies – kom by die hoofhekke. Al die sekuriteitswagte is Suid-Afrikaners. Ons stap deur. Maar hierso skei ons paaie toe. Ek sê jy sál wag!
Toe skree'n sekuriteitswag Iemand het sy bandjie verloor!
Ons was van die gelukkiges om 'n Centre Court kaartjie te kry. Ek draai om en sê Huh-uh, ek weet wie s'n is dit. Roep sommer daar uit Fransoa Fourie.
Toe't hy sy bandjie afgeruk, want as jy nie 'n bandjie het nie kan jy nie ingaan nie. Maar hy wou nie ingaan nie. Hy was babelaas. Die son was verskriklik warm. En hy’t ‘n bottel whiskey gedown. Daar's nie 'n manier wat hy dit van 8vm tot 5nm sou maak nie.
Hulle roep toe sy naam. En almal ken hom, en hulle skree Hier's hy, hier's hy!
Toe't dit nou nie gewerk nie. Daar sit ons toe op die Centre Court. Dis die eerste jaar wat Venus gewen het. Ons sien hoe sy deurdring na die semi-finale. Of finale. Ons het vir Tim Henman ook gekyk. Elk geval, die mense skree! Jy raak verskriklik opgewonde. Ek sou nooit vir Tim Henman skree nie, maar die Britte is so agter hom, jy skree later net so hard. Dan slaap Faan. Ek sê Word wakker - ék moes die hele nag wakker bly. Dan skree almal hom wakker. Almal is op hulle voete. Maar hy sit net só. Sjym, ons het eers sewe-uur daai aand geloop."

(Klets - Julie 2004)