Monday, October 18, 2004

Fluit fluit

Sedert ek in Londen is, het ek al sewe posadresse gehad, en ten minste 12 base. Die 'werk' wat ek die langste gehou het, was om nou en dan, as Org my vriendelik herinner, iets vir Klets te stuur. Alles moes gewoonlik onder groot druk gebeur, en ek kan net dankie se vir Org wat my 'gedwing' het om so nou en dan stil te sit en hierdie snaakse mense te probeer verstaan. Ek dink nie ek sal hulle ooit verstaan nie, maar ten minste weet ek nou hoekom elke twee een met homself praat. Klets was nie altyd so maklik om net aanmekaar te slaan nie en Org verdien 'n vet pluimpie. Ek hoop julle't iets geleer oor ander nasies. En ek sal julle laat met 'n herhaling van my goudste raad: Hardloop vir die bus! Jy weet nie wanneer die volgende een weer kom nie.

(Klets - Okt 2004)

Vreemder as fiksie (alweer)

Ons kan regtig nie kla oor 'n gebrek aan insig in die doen en late van die gemiddelde Brit nie. Elke tweede mens is deesdae op TV in een of ander realiteitsprogram. Dis nie ALS gemors nie.

Ek kyk graag (How Clean is Your House) hoe hulle die vullis in ander mense se sitkamers laat ontleed en dan vir hulle vertel van al die houtwurms en luise en vleisvretende goeters wat een van die dae die baba gaan wegdra as daar nie dadelik skoongemaak word nie.

Ek stel altyd belang om te hoor (Too Posh To Wash) dat sekere ryk mense se kinders in hul neuse krap, dit in hul broeksakke bêre en nooit hul broeke was nie. Ek stel hoofsaaklik belang omdat ek elke keer verstom is dat hierdie mense hulself vrywillig laat afneem. Dat hierdie walgworse van die samelewing bereid is om hul vuil onderklere vir die wêreld te wys.

Van die beter programme was Faking It waar hulle byvoorbeeld 'n koekerige rekenmeester vat en hy binne drie weke moet leer om branderplank te ry. Na drie weke neem hy dan deel aan 'n kompetisie saam met twee ander met jaaaare se ondervinding. En dan moet 'n paneel die faker uitwys.

Dan was daar die hoogs suksesvolle en emosionele Wife Swap (wat verban is in Frankryk), waar twee uiteenlopende gesinne se moeders vir twee weke moet plekke ruil. Daar's al 'n opvolgreeks gemaak van How Wife Swap Changed My Life, en tereg ook. Want as een vrou wie se man heeldag lank rekenaarspeletjies doenig is en nooit met die kinders nie, by 'n huis intrek waar die man na die kinders kyk en oor die algemeen weet hoe om haar ogies weer te laat blink, dan's daar oorlog as sy by die huis kom.

Daar's ook What Not To Wear waar twee supertewe vir 'n klomp trolle vertel hoe lelik is en hoe walglik hul smaak (as hul enige het). Dan probeer hulle om vir Suzie te vertel dat sy regtig nie 'n T-hemp met horisontale strepe by 'n stywe broek met kolle op moet dra nie. Na 'n maand gaan kuier hulle onverwags by Suzie, en dan dra sy maar weer haar standaarduitrusting. Dis vernederend en aaklig en wonderlik.

Toe kry die polisie in Hampshire nou die dag 'n blink idee. Hulle skryf briewe vir 'n klomp mense met uitstaande boetes, of mense wat hofbevele ignoreer. Ons maak 'n nuwe TV-storie seg hulle. Wil jy deelneem? Jy kan 'n groot prys wen. Op TV!

Hulle kies toe 20 vir die finaal. Groot opgewondenheid. Die deelnemers word deur 'n bekende en beminde paartjie verwelkom. Agter die gordyn hoor hulle ('n opname van) 'n histeriese gehoor en die aankondigings van 'n histeriese aanbieder, Dan word hulle een vir een deur die gordyne gelei deur die rook en ongelooflike ligte, en hoor die mense! En dan word hulle in hegtenis geneem. Sewentien van hulle. Altesaam 144 mense (wat sekerlik baie ontsteld is oor hulle nie ook op TV kon verskyn nie) het vir die polisie genoeg inligting gegee sodat hulle ook vervolg kan word.

Is dit nou nie baie interessanter as die nuus nie?

(Klets - Okt 2004)

Saturday, October 16, 2004

'n Jammerlike affêre

Die eerste woord wat jy uit enige volbloed Britse baba se mond sal hoor is nie pint of bingo soos wat algemeen aanvaar word nie. nee. Dis sorry.

Jammer, hoe laat is dit? Jammer, weet jy waar's die stasie?

As die bus op jou voet stil hou, sê jy jammer. As iemand jou uit die grond uit loop, is jy jammer.

Niks vreems vir Suid-Afrikaners nie. Ons is immers ook lief vir Jammer. Jammer dat ek leef, en so. Dis te blameer op die ingebore Calvinistiese skuldgevoelens, maar natuurlik ook op Antjie "Jammer mamma dat ek nie is wat ek so graag vir jou wil wees nie" Krog.

As ek of Rudi ons oudste broer se verkeerde knoppies gedruk het (soos deur hom te spot omdat hy 'n sekere reël uit 'n Antjie Krog gedig in 'n Moedersdagkaartjie gebruik om punte te wen), het hy gewoonlik gesê: Ooo, jy gaan jammer wees! En gewoonlik was ons. Maar al het ons vir tien minute lank ekisjammerekisjammerekisjammer geskree, het die houe wat op ons gereën het nie minder simpatiek geword nie. So, soms beteken jammer net mooi niks.

Tog, in die groter wêreld kan jammer wel 'n impak hê. Die meeste mense kan 'n verskoning baie effektief gebruik om hulself te verontskuldig.

Die Nazi's het probeer. Die Britte, die Afrikaners... Hierdie week het Beckham dit gedoen omdat hy aspris 'n geel kaart gekry het. Maar, o wee, Tony Blair het volstrek geweier om die J-woord te sê. Hy't om verskoning gevra, ja. Maar nie jammer gesê nie. (Nee ek weet ook nie wat die verskil is nie.)

Maar hoekom moet hy jammer sê as hy nie is nie? 'n Mens moet tog sê wat jy dink en nie wat jy dink jy moet nie. Dit verstom my ook dat die Britte skielik nie die reëls van hul eie etiket ken nie. Ek meen as iemand sy drank oor jou mors moet JY sê jy's jammer. Dus, as jy die Irakis gaan bom, is dit mos hulle wat moet jammer sê? Ek's seker Saddam sit vanaand iewers dikbek in 'n kamer terwyl iemand 'n skerp wit lig in sy gesig skyn en sê: Sê jy's jammer! En bedoel dit!

(Klets Oct 2004)