Tuesday, December 12, 2006

2000 Dae in ‘n Deelhuis

In die afgelope vyf jaar het ek saam met ongeveer 60 mense, by sewe adresse, gebly. Dis seker nie ‘n rekord nie, maar ek dink tog ek verdien ‘n medalje vir uithouvermoë.

Sommige mense vind dalk die blote idee van ‘n deelhuis traumaties, maar glo my, dit was lekker tye. Van die beste. Nie altyd sonder insident nie, maar beslis nooit vervelig nie.

Maar nou voel dit of die einde van hierdie era binnekort gaan aanbreek. Hoofsaaklik omdat ek dit so wíl, maar ook omdat daar sedert April vanjaar nuwe wette op HMO's (Houses in Multiple Occupation) van toepassing is, wat beteken dat baie mense se deelhuis-dae dalk getel is. (Veral die’s wat ‘n bietjie sku is vir konfrontasie met die gereg.)

‘n HMO is wanneer drie of meer mense, wat minstens twee huishoudings vorm, 'n eiendom deel. Die nuwe reëls stel sekere vereistes daar ten opsigte van die aantal badkamers, toilette en wasbakke relatief tot die aantal mense per eiendom. In die vervolg moet groter HMO's - van drie of meer vloere, met vyf of meer mense - 'n lisensie by die plaaslike owerheid kry. Indien eienaars versuim om vir een aansoek te doen, kan hulle 'n boete van tot £20,000 opgelê word, en gedwing word om huur terug te betaal.

Die doel van HMO lisensies is om verblyf-standaarde in gehuurde eiendomme te verbeter. Dit kan dus net voordelig wees vir mense wat uitgebuit word en in haglike omstandighede moet bly, want voortaan sal jy vir ‘n feit kan weet dat die plek wat jy wil huur geskikte geriewe bied.
Die probleem met die nuwe reëls is egter dat minder eienaars bereid gaan wees om aan 'n groep van vier of meer mense 'n huis te huur. Baie eienaars gaan van sulke huise ontslae raak. So bekostigbare behuising gaan dalk al hoe skaarser word, of deelhuise al hoe duurder.

Maar: dan jy kry die deelhuise wat óns ken. Waar een of twee mense die huurkontrak teken, en dan weer onderverhuur aan ses tot ag ander. Hierdie tipe huis is ‘n essensiële deel van die meeste jong Suid-Afrikaners se Londen-ontgroening. Die meeste begin immers daar. Sommige bly so tot hulle visas opraak, of totdat hulle - wilde oë en al - "‘n sekere punt" bereik. Ander trek weer uit kort nadat hulle vierde frankfurter gesteel is. Party mense kán net nie so bly nie. Soos die Siamese paartjie wat saans langs mekaar op die bank, in hul bypassende Cape Union Mart sweetpakbaadjies, móét TV kyk. En dan, as hulle pogings futiel is (want die res voel mos 'n phok), omdraai en dikbek in hulle kamer gaan sit, of vir Mamma gaan bel en vertel hoe aaaaak-lig! dit hier is.

As jy van 'n deelhuis praat, sien die meeste mense in hul geestesoog ‘n 19-jarige laaitie wat in die sitkamer uitgepass het. Ek kan jou verseker dis ‘n belaglike stereotiep!
Dis bloot toevallig dat ons twee nuutste huismaats 19 is. En dat, toe ons Saterdagaand by die huis kom, een van hulle vriende op sy maag voor die TV, met sy kop onder die verwarmer gelê en rus het. (Gelukkig nie in die superglue-muisval nie!)
Maar regtig, mens kry iets van alles in 'n deelhuis. Of dit nou 'n wannabe aktrise is wat 'n ekstra in Holby City is, of 'n skaam Kiwi wat lang rompe dra, verslaaf is aan Nicorettes en 'n online gaming kampioen is.

Sommige Suid-Afrikaners maak 'n lewe uit die onderverhuring van tot 20 huise. Die meeste het ‘n uitstekende verhouding met die mense by wie hulle huur. Die eienaar weet die huis word onderverhuur, maar gee nie regtig om nie want volgens die kontrak bly daar maksimum vier mense – wat tog aanvaarbaar is. Almal word bevoordeel deur hierdie oogklap-metode: die eienaar se verband word afbetaal; die onderverhuurder maak 'n klein ekstra inkomste; en huurders hoef hulself nie vir maande vas te teken nie, plus hulle kry allerhande ekstras wat mense wat, byvoorbeeld, in 'n eenslaapkamer woonstel in Clapham bly nie kan bekostig nie (soos dubbellaag toiletpapier).

Daar’s ook eienaars wat totaal onbewus is van wat in hul huis aangaan, en steeds nie omgee nie. Solank die huur net betaal word. Van ons housemates gaan kuier soms by 'n chaotiese (Australiese) deelhuis in Shepherd's Bush. Die persoon op wie se naam die huur is, het jare gelede uitgetrek. Niemand het ‘n deposito betaal nie, die voordeur kan net op 'n spesiale manier oopmaak, en hulle het 'n Steve Irwin memorial-muur in die sitkamer geverf.

Ek dink die meeste deelhuise (soos ons dit ken) gaan maar net so aanploeter. Die eienaar moet in elk geval eers 'n waarskuwing kry, voor hy beboet kan word. Totdat iemand seerkry of kla, gaan die nuwe reëls seker nie 'n verskil maak nie. En die eerste en enigste reël in ‘n deelhuis is mos om nie te kla nie.

My lewe sou aansienlik armer gewees het, as ek nie in deelhuise tyd gedoen het nie. Jy leer wonderlike mense ken wat nooit andersins jou pad sou kruis nie. Jy leer ook bowenal, deur beproewing, om te chill.
Maar ek dink tog die einde het aangebreek. Ek sê dit elke Desember as ons vriende uittrek om terug te gaan huistoe, maar ons móét nou aanbeweeg. Nie omdat ons nie meer kan nie, maar omdat dit tyd is. Dis soos ek voel na ek ‘n hele gaar Sainsbury’s hoender geëet het: dit was lekker, maar dis verby, en ek hoop om nie gou weer een te sien nie.

So hopelik teen dié tyd volgende jaar bly ons in ons eie huis – een wat ons, bygesê, nie sou kon koop as ons nie tot onlangs gedeel het nie. Dit sal ook nie 'n oomblik te gou wees nie. Ek het gister 'n mushroom agter die toilet gepluk. En, kyk, iets wat dwarsdeur Dettol se Mould and Mildew Remover groei, is iets wat nie sommer gaan tou opgooi nie. Ek weet nie of dit 'n geveg is waarvoor ek kans sien nie.

(SA Times, Desember 2006)

Wednesday, December 06, 2006

'n Grappie (vir die wat glo dat God 'n sin van humor het)

The three wise men arrived to visit the child lying in the manger.
One of the wise men was exceptionally tall and smacked his head on the low doorway as he entered the stable.

"Jesus Christ!" he exclaimed.

"Write that down, Mary," said Joseph

"It's better than Derek."

Thursday, November 30, 2006

Monday, November 27, 2006

'Sop vir jou, man!

Een van my gunsteling Seinfeld-episodes is die een waarin 'n kwaai immigrant, met welige snor en swaar aksent, die eienaar van 'n uiters gewilde sop-winkel is. Hy stel soveel irrasionele eise aan sy kliënte, dat hulle hom die "Soup Nazi" noem. Wieookal iets doen wat hom nie geval nie, word dadelik uit sy winkel verban met 'n wysvinger-saluut, en "No soup for you!"

Jerry se raad aan sy vriende was eenvoudig: Bestel net. Moenie uitbrei nie. Moenie kommentaar lewer nie. Moenie vrae vra nie. Moenie komplimente gee nie.

Maar toe vind Elaine dit tog nodig om vir die Soup Nazi te vra of hy weet hoe baie hy na Al Pacino lyk.

"Soos in Scent of a Woman!" sê sy. "Hoo-haaa! Hoo-haaa!"

Dis nice, glimlag die eienaar. "Maar weet jy wat? No soup for you! Come back – one year!"

George maak weer die fout om vir brood te vra.

"Brood is $2 ekstra", sê die eienaar

"$2?" vra George. "Maar almal voor my het verniet brood gekry!"

"Wil jy brood hê? Dis $3!"

"Wat…!?"

"No soup for you!"

As George dan Jerry se sop wil deel, sê Jerry: "Nee. Dis jou eie skuld jy't die reëls ignoreer. Jy kan nie van my verwag om my sop met jou te deel nie."
"Luister na jouself!" sê George histeries.
"Jammer", sê Jerry. "Maar dis hoe dit werk onder 'n Nazi-regime."

En so, voel dit vir my, werk dit as jy 'n Britse paspoort wil hê.

Nie dat ek wil insinueer ons bly onder 'n Nazi-regime nie. Maar dis wel 'n geval van: Bly stil. Staan links. Kry waarvoor jy gekom het. En beweeg aan.

Ek het eintlik glad nie 'n probleem met die sisteem nie. Ek speel graag volgens die reëls (selfs al verander dit die heeltyd). Brittanje is immers steeds veel meer toeganklik as die res van Europa, en ons sou in elk geval nog 'n paar jaar hier rondgehang het. Maar soms, terwyl ek so gedweë vir my sop wag, kan ek nie help om 'n bietjie bitter te raak en die reëls te bevraagteken nie.

Vroeër vanjaar is die immigrasie-wetgewing gewysig sodat dit in die toekoms 'n jaar langer gaan vat voor jy vir Indefinite Leave to Remain kwalifiseer. En gister hoor ek dat jy dalk binnekort twee jaar op 'n permanente verblyfpermit sal moet wees voordat jy vir Britse burgerskap kan kwalifiseer. Dit is dalk net 'n gerug, maar in die afgelope paar jaar het al hierdie tipe gerugte tog realiseer. So, waar die hele proses tot onlangs slegs vyf jaar geduur het, gaan dit voortaan ses jaar vat. En as die nuwe gerugte waar is, kan dit binnekort tot sewe jaar duur.
Die Regering het boonop aangekondig, soos ek verstaan, dat 'n punte-sisteem vanaf volgende jaar gaan geld, en dat die huidige werkspermit-stelsel afgeskaf gaan word. Wat hopelik nie beteken dat almal op werkspermitte na 'n ander stelsel sal moet oorskakel nie. Dit klink baie soos: Nóg 500 pondjies asseblief. Of No soup for you!

Gestel die nuwe gerugte is waar - dan sal Werner teen die tyd wat ons vir Britse burgerskap kwalifiseer reeds 10 jaar in die land wees. (Omdat hy in sy eerste drie jaar nie op 'n werkspermit was nie, tel dit nie. En toe mis ons die afsnypunt vroeër vanjaar met 'n paar maande.)
Wyle Alexander Litvinenko, aan die ander kant, het in 2000 as asielsoeker in Engeland aangekom, en met sy dood was hy alreeds in besit van 'n Britse paspoort. Nie dat ek hóm hoegenaamd beny nie! Dat hy sy laaste maal saam met 'n skollie by Itsu moes geniet - sjym. As hy maar net voor die tyd die plek ge-Google het, sou hy op hierdie resensie van 'n gas afgekom het: "They don't serve real sushi! What a dissapointment! I am Japanese, and trust me this is very far from being a good place to have real Japanese food. Very fancy and modern but it was the worst food I have ever tried!"

Maar om terug te kom by ons lot: Ons kon in die afgelope drie plaaslike verkiesings stem, en Werner is al opgeroep vir Jury duty (wat hy baie geniet het, toegegee). Maar dit tel vir niks. Omdat ons die afsnydatum met 'n paar maande gemis het, het ons weer die maandelange drama gehad om die werkspermit verleng te kry. Dit behels nie net 'n klomp ekstra onkostes nie, dit fnuik ook enige reis-reëlings (met die dat jy tot drie maande voor die werkspermit verval nie 'n Schengen-visa kan kry nie).

Toe lees ek van 'n website (www.vbsi.org.uk) waar hulle mense (veral die wat net-net die afsnydatum gemis het) aanmoedig om petisies te teken en hul Parlementslid te kontak. Ek doen dit toe, net om te sien wat gebeur. En toe skryf hy trug - binne twee dae. Nou wel nie met goeie nuus nie, maar ek was verstom dat mens so vinnig 'n antwoord uit 'n Parlementslid kan kry.

"This is a matter I have already just taken up with the Home Office on behalf of another constituent, and I enclose a copy of the response I received…" skryf hy. "As you can see, the Minister explains the background to this change which I appreciate you will find disappointing."

Talle ander mense het hul harte op die VBSI-webblad uitgestort, waarna Andrew Dismore, 'n Arbeidersparty LP, hulle gesamentlike griewe in die Parlement gelug het. Een 'slagoffer' is ene Nirvani, 'n onderwyser van Suid-Afrika. Sy het ook die afsnydatum vir Indefinite Leave to Remain gemis. Toe sê haar skool dis te laat om weer vir 'n werkspermit aansoek te doen en vir goedkeuring te wag, want hulle wil vooraf weet wie in die nuwe skooljaar op die personeel gaan wees. "Nirvani and her husband left good jobs in South Africa and their children were uprooted. Her husband resigned as a captain in the police force and is now working as a security guard because he cannot join the police here. He would have been able to do so in September when the four years were up."
Sover ek weet mag jy wel werk terwyl jou aansoek hangende is. So ek weet nie eintlik wat die probleem is nie. Klink my haar man is suur omdat hy (uit eie keuse) as 'n sekuriteitswag moet werk.

Die Immigrasie-Minister was nie oortuig deur al die sob-stories nie. En wie kan hom kwalik neem. Dis immers sy turf. Hy kan maak wat hy wil.

(SA Times)

Tuesday, November 14, 2006

Die Groot Laer-trek

Verlede week het die SA Times berig oor twee Suid-Afrikaanse ondernemings wat beveel is om hul webwerwe te wysig aangesien dit, volgens die Kommissie van Rassegelykheid, diskriminerend is (UK-based SA housing companies accused of racism, 8 November 2006).

Die kommissie meen die Afrikaanse teks op Ultimate Housing en Homes Africa se webwerwe diskrimineer teen mense wat nie Afrikaans verstaan nie. Volgens hulle kan 'n tweetalige webblad nie regverdig word nie, omdat enige Afrikaanse persoon wat Engeland toe kom 'n goeie verstandhouding van Engels behoort te hê. 'n Afrikaanse vertaling dui gevolglik op die bedoeling om te diskrimineer. En volgens die wet op rasseverhoudings is enigiets wat jy publiseer, of wat deur jou toedoen publiseer word, onwettig as dit dui op 'n bedoeling (uit 'n ander se oogpunt gesien) om te diskrimineer.

Ek wonder wie't gaan kla?

Daar's soveel webwerwe en koerante waarin jy blyplek kan soek – as iets jou nie aanstaan nie, kan jy mos elders gaan soek. As daar gestaan het "Slegs Blank!" of "Geen Gays!" kan ek verstaan dat dit 'n probleem is. Maar volgens my beteken die feit dat hulle noem dis vir jong Suid-Afrikaners dat voornemende huurders 'n aanduiding kan kry van die tipe mense waarmee hulle 'n huis moet deel. 'n 57-jarige Britse makelaar kan raai dis 'n kinders wat elke tweede aand partytjie hou. Tensy hy daarmee kan saamleef, sal hy nie tyd mors om aansoek te doen nie.

Moet Gumtree, as 'n publiseerder, dan ook aangekla word van diskriminasie? Gaan kyk 'n bietjie hoe baie advertensies is nie in Engels nie, en andersins diskriminerend. Meeste advertensies sê byvoorbeeld iets soos: ons is twee Australiërs op soek na 'n like-minded huismaat. Ek weet ek sal met hulle kan deel, want ons het vermoedelik soortgelyke prioriteite, maar 'n middeljarige Bulgaar met twee kinders sal sukkel. Almal sal oor die weg kom, maar dis nie die ideale saambly-situasie nie.

Ons adverteer self gereeld kamers op die Gumtree. Dis nie soos om van iets, soos 'n tweedehandse motor, ontslae te probeer raak nie. Dis blyplek in 'n huis waarin ons wil hê almal moet oor die weg kom, en so min as moontlik moan. Ons noem gewoonlik dat dit (tans) 'n Suid-Afrikaanse/Antipodean huis is, en dat dit ideaal sou wees vir mense wat geld wil spaar om te travel. Daarmee wil ek hoofsaaklik 'n groot persentasie huurders ontmoedig om hul tyd te mors.

Ons gee almal 'n kans (behalwe mense wat vra "Wat beteken Antipodean?", of versoek dat ek hulle meer van "die ou plekkie" vertel, en dit nodig vind om hulle akademiese kwalifikasies te lys), en ons kry navrae van 'n wye verskeidenheid mense. Byvoorbeeld twee 18-jarige studente. Ek sal noem dat daar nie juis 'n studie-atmosfeer in die huis heers nie, of dat almal bo 27 is. As hulle steeds belangstel, moet hulle kom kyk. En dan kan hulle (en ons) besluit of hulle sal inpas.
'n Ander navraag was van 'n 36-jarige programmeerder:
"My name is X, my wife, a lovely lady, name is Y, we have bought plane tickets, if not delay, it will arrive Heathrow Airport at 3pm on london time. We are from china, my wife is house wife, we are very friendly, good manners, no smoking, easy going, serious and responsible people. I'm a HSMP work permit Visa holder, I will find a new job in london and begin our new life in UK. We are very interesting to your adverts, we want to find a true home in london, Could my wife and I join your, thanks!"
Ek het vermoed ons huis is nie wat hulle in gedagte gehad het nie, al was die huisvrou-deel aanloklik ('n vorige advertensie waarin Werner gevra het vir twee blonde Sweedse meisies wat hou van skoonmaak, het niks opgelewer nie). Ek het gesê hulle moet kom kyk as hulle land, tensy dit reeds gevat is, en hulle gevra hoe hulle voel oor die feit dat daar net een badkamer is? Ek het nie weer van hulle gehoor nie. En dit is een ding wat Suid-Afrikaners - asook Australiërs, Nieu-Seelanders en (teen die tyd) Oos-Europeërs weet: goedkoperige huur beteken sekere opofferinge.

Mens moet tog wonder wat sommige Afrikaanse advertensies op Gumtree impliseer. Byvoorbeeld: "Sorry, but this is a 'South African' home only". (Die res van die advertensie is in Afrikaans.) Wat bedoel hulle met 'South African'? Vir my laat voel die aanhalingstekens dit so "wink nudge, jy weet wat ons bedoel". Asof ek welkom sou wees, maar nie my kêrel as hy van Ghana was nie.

Of: "Ons is 7 'stabiele', net lekker, gemaklike, skoon en Christelike Suid-Afrikaners wat saam bly." Wat beteken stabiel as dit tussen aanhalingstekens staan - dat hulle eintlik 'n klomp weirdos is? Of dat ander uitlanders meestal onstabiel is?

Daar's altyd een wat eis dat "Geen Kansvatters!" aansoek doen nie. Wat's kansvatters? ProNutro-diewe? (Die kamer is seker nou nog leeg.)

'n Ander advertensie op Gumtree bied kamers aan "in Suid-Afrikaanse deelhuise wat jou ma sal laat lekker slaap". Maar hulle soek nie "swernote of skerminkels" nie.
Die grootste skerminkels waarvan ek al gehoor het, is die Afrikaanse ouens wat vir Ronel weke se huur geskuld het, en toe "soos diewe in die nag" met die selfoon verdwyn het wat sy hulle geleen het om met die werksoekery te help.

Daar's ook heelwat advertensies wat kamers het om te deel met 'n "oulike Suid-Afrikaner". In die dae toe ek 'n kamer met 'n oulike Suid-Afrikaner moes deel, kon jy permanent 'n kloppende aar op my voorkop sien. Ek kan nie daarmee deal nie.
Sy was geweldig nice, maar net té. Elke sin het begin met Jammer. "Jammer dat ek so hoes!", "Jammer vir die geraas!" Haar eerste woord in die oggend was "Jammer!" Gevolg deur 'n onophoudelike geklets as sy my gekreun as 'n teken sien dat ek luister.
"Het ek jou wakker gemaak? Het jy lekker geslaap? Jis, acks niks lus vir werk nie. Acks vodde. Dink jy ek moet 'n sambreel vat? Hmmm…? Dink jy dit gaan reën?"
"Hoe lyk dit buite?"
"Na reën."
"So, wat dink jy?"
"Ek sal maar 'n sambreel vat."
"Goed."

Ek weet ook nie hoekom Suid-Afrikaners soms so bloedskanderig eksklusief wil wees nie. Ons het al saam met wonderlike mense van ander lande gebly. Waar in die wêreld sal jy byvoorbeeld die geleentheid kry om met die nasionale dambord-kampioen van Tsjeggo-Slowakye 'n huis te deel (soos wat Ronel en Faan doen)? Daarenteen was van die grootste losers met wie ek al gebly het, van die Slegs Afrikaans-tipe Afrikaners. Mense wat elke Vrydagaand huil want "hier's darem nie 'n plek soos Shooters nie".

(SA Times, 15 November 2006)

Friday, November 10, 2006

Toe die Hamster Dance nog cool was

'n Paar weke gelede is 'n man skuldig bevind aan Brittanje se eerste sogenaamde webwoede-aanval. (En ek bedoel nie die soort waartydens jy jou eie voorkop teen jou rekenaar kap nie. Dit mag jy na hartelus doen.)

Paul Gibbons het ná 'n rusie in 'n Yahoo!-kletskamer, wat Islam as fokus het, na John Jones se huis gegaan en hom herhaaldelik met 'n byl-steel geslaan. Jones het homself met 'n mes probeer beskerm, maar Gibbons het dit gegryp en amper Jones se keel met sy eie mes afgesny.

Nou waarsku die polisie internet-gebruikers om hul identiteit te beskerm, aangesien Gibbons maklik Jones se adres kon opspoor met behulp van persoonlike inligting wat hy op die internet geplaas het.

Ek is oor die algemeen onnodig paranoïes, maar ek kan nie verstaan hoekom mense dink dis 'n goeie idee, of hoegenaamd nodig, om al hulle persoonlike inligting op die internet te sit nie. 'n Paar jaar terug kon jy nog mense hul onkunde vergewe. Maar met alles wat jy deesdae weet en hoor, is dit mos lekker stoopit om jou details orals te los. Soveel temeer as jy mense gaan beledig op 'n forum met 'n godsdienstige tema. Maar daar sal seker altyd sulke suckers wees. Nie dat dit noodwendig 'n slegte ding is nie – 'n mens kan mos lekker 'n ander se naïwiteit vir jou eie vermaak uitbuit...

My eerste werk, sewe jaar gelede, was by 24.com, wat op daardie stadium Naspers se nuwe inligtingsportaal was. (Die't met die draai van die eeu gesneuwel, maar intussen weer uit sy virtuele graf herrys.)

Soos enige behoorlike portaal betaam, het 24.com het ook sy eie chat server gehad. Dit was natuurlik 'n wonderlike speelplek vir almal in Naspers wat nie lus was vir werk nie, maar besig wou lyk. 'n Minder opsigtelike smoke break, kan jy maar sê. Mense van buite die maatskappy kon ook daar gesels, maar dit was oorwegend Naspers-werknemers wat daarvan geweet het. So het ek, Jomarié wat haar internskap by Insig oorkant die pad gedoen het, en Chris, wat saam met my by 24.com was, mekaar gereeld aanlyn ontmoet. Gewoonlik vyf minute nadat ons mekaar gegroet het (want ons het saam gery van Stellenbosch af), en totdat ons mekaar weer 'n paar uur later vir middagete sou sien.

Elke dag het dieselfde mense aangemeld met Hallo julle!! Amper naweek!! Sandraaaa!! ((hugs)) of iets dergeliks.

Op daardie stadium het ek al baie gechat, so ek het 'n ordentlike bynaam gehad. Iets soos, seg maar, Stoomboot. Maar die meerderheid het name gehad soos Johan, Karen of Tania. Ek en my vriende het meestal met mekaar gepraat, maar ook gevolg wat in die channels aangaan. Ons is ryklik beloon. Want terwyl almal so gretig hulle biografiese inligting uitruil, kon ons vir toekomstige verwysing hul profiele bou. Dan sal ons byvoorbeeld uitgaan, en inlog as iemand van wie hulle pas gepraat het (byvoorbeeld Annatjie Louw saam met wie hulle by Sanlam in Bonnievale gewerk het). Met genoeg agtergrondinligting, kon mens hulle lekker uitfreak.

Een vrou (kom ons noem haar Leonie, want dit was haar naam) het in Die Burger se argief-afdeling gewerk. Toe log ek eendag in as Ebbe Domisse, Die Burger se hoofredakteur. Leonie klets nog so lekker met haar maters in Pretoria, toe sê ek "Haai, Leonie, kan jy gou vir my 'n foto bring van Milo ('n Jack Russell wat die koerant gehaal het oor hy 'n opehartoperasie ondergaan het)? En Leopold Scholtz soek 'n foto van die régte Jan van Riebeeck." (Want daar was 'n storie dat die standbeeld in Kaapstad dalk nie van onze Jan was nie.) Dan sou my vriendin inlog as Leopold Scholtz, gesoute koerantman en historikus. En ons sou oor die sake van die dag klets.

Leonie ignoreer my eers. Ek sê: "Leonie? Kom jy reg?"

Stilte.

"Leonie?"

"Meneer…"

"Maak maar gou, jong. Ons het nie heeldag tyd nie. Leopold moet nog Stellenbosch toe ry."

"Meneer, iemand sê dis nie regtig Meneer nie."

"Leonie, Ons almal moet die nuwe tegnologie omhels. Dit help nie ek sit net heeldag in my kantoor en beproef nie die nuwe komminikasiekanale wat so geredelik beskikbaar is nie. Nou maak nou gou, toe. Ons wag."

"Goed Meneer, ja Meneer."

En daar log sy af. Ons wou iemand biblioteek toe stuur om te kyk of sy rondhol op soek na foto's. En ons het gebars om te weet hoe Ebbe sou reageer as sy by sy kantoor sou instorm en sê Jammer Meneer, ek kry nie 'n foto van die regte Jan van Riebeeck nie.

Ag, dit was pret. (Ek het nog nie iemand met 'n byl-steel geslaan nie, so weet nie of mens dit kan vergelyk nie.)

En terwyl ek nou nostalgies raak oor die ou dae van die nuwe media – daar't het destyds ook 'n paar emails die rondte gedoen waarmee eenvoudige tuisblaaie binne enkele dae kult-status bereik het. Een daarvan was die Hamster Dance, waarvan jy 'n weergawe kan sien by www.webhamster.com. (Probeer gerus om daai tune uit jou kop te kry.)

Die ander was Mahir Cagri, die Borat van die 90's. Ek het al vergeet van hom, totdat iemand opgemerk het hoe baie Sacha Baron Cohen se karakter en Mahir in gemeen het.
Op Mahir se webblad word mens begroet met "Welcome to my Home Page!!!!!!! I Kiss You!!!!!"

Dan deel hy sy belangstellings: "I like music, I have many many music enstrumans my home I can play." Asook: "I like sex."

Volgens Mahir het 'n hacker hierdie stukkie bygelas as 'n grap, en is dit waarskynlik die rede hoekom hy binne 'n week miljoene hits gekry het, en jy die gelag vir drie maande daarna nog kon hoor.

Daar's ook 'n aksie-foto van Mahir wat tafeltennis speel. En een waar hy met 'n piepklein rooi Speedo op die rotse lê. Maar dis nie net heeltyd speeltyd nie. "My profession jurnalist, music and sport teacher. I like to take foto-camera (amimals, towns, nice nude models and peoples)."

En as jy nog nie voor sy sjarme geswig het nie: "I live alone!!!!!! Who is want to come Turkey I can invitate… She can stay my home."

Wat 'n man!

So gewild was hy, dat 'n jong internet-maatskappy hom betaal het om vir promosie-doeleindes deur Amerika te toer. Mense oral oor die wêreld het foto's van hulself geneem met die slagspreuk I Kiss You! en dit vir Mahir gestuur. (Toe een van my kollegas die maatskappy verlaat, het hy dit onderaan sy afskeids-email geskryf.)
Sacha Baron Cohen het glo gesê hy ontwikkel die Borat-karakter (wat by die MTV Europe Music Awards geskree het: I like sex!) al sedert 1995 – vier jaar voor Mahir bekend geraak het. Wie gee om. Borat is briljant in eie reg. En wie weet, dalk is Mahir ook die vrug van iemand se verbeelding. Maar hy was wel een van die eerste, onverwagse sterre van die internet – 'n ster wat mense self geskep het, nie een wat aan hulle verkoop is nie.
(Kyk na 'n kopie van die oorspronklike Mahir-blad by www.istanbul.tc/mahir/mahir/.)

(SA Times, 1 November 2006)

Thursday, October 19, 2006

Battersea Power Station

Ek was nog altyd gefassineerd met die Battersea Power Station - soos die meeste mense wat van Pink Floyd hou en/of in Londen bly.



Toe ek in Battersea gebly het, was dit so deel van die landskap, dat ek nie die stad daarsonder kan voorstel nie. Dis my gunsteling baken.

Die hele kompleks gaan binnekort ontwikkel word in hotelle, woonstelle, 'n auditorium, ens. maar vir eers hou die Serpentine Gallery 'n kunsuitstalling daar (China Power Station: Part I) - jou laaste kans om die gebou te sien soos dit is. (Kyk hier hoe dit gaan lyk.)

Die meeste mense sien die Power Station gewoonlik só - deur 'n treinvenster, oppad Gatwick toe:



Dit was 'n wonderlike idee om dit oop te stel aan die publiek. Die kuns self is interessant, maar sekerlik nie die hoofrede hoekom mense wou gaan nie. Jy kon ook nie die kuns afneem nie, slegs die gebou:














Thursday, October 12, 2006

'n Drol-loos lewe's net 'n droom...

http://users.iafrica.com/c/ca/casperde/frameset.htm

Click op nr 6 links bo.

Niemand’s nog dood van harde werk. Van vervelige werk wel

Verlede week het 'n berig in die Metro ons versoek om vir 'n wyle aan Keith Jackson te dink. As jy dink jou werk is vervelig, het dit beweer, het jy nie 'n benul deur watse hel Jackson daagliks gaan nie - die arme drommel word betaal om te kyk hoe verf droogword.
Jackson dink self sy werk is taamlik opwindend, veral die deel waar hy met sy vinger teen die verf moet druk om dit te toets. Mens is geneig om hardop te wonder of hy nie te veel dampe ingeasem het nie (en wie sou hom kwalik neem!), maar ek stem saam – dis glad nie so erg nie.
Is daar énigiets meer bevredigend as om te wag tot verf droog is om te sien of dit onslae geraak het van hardnekkige blou wondergomvlekke en mufkolle...? Goed, daar is seker. Maar al is dit nie die wêreld se gewildste adrenalien-sport nie, kan ek sien dat daar 'n mate van satisfaksie betrokke is. Omdat Jackson se maatskappy verf vir die London Underground vervaardig, moet dit wonderlik wees om te sien hoe mense 5vm vir die laaste oop sitplek kan resies hardloop, bo-oor iets wat 3vm geverf is.
Die Metro lys 'n paar ander mense wat kamtig sieldodende werk het, o.a. soldate op die Groot Muur van China, wagte by Buckingham Paleis, en ski-lift operateurs.
In die Middeleeue, moes offisiere glo elke minuut van hul lewens op die Groot Muur van China spandeer, met 'n kort breuk om in 'n grot te gaan slaap. Hoe sleg kan dit wees? Die muur is amper 6,500km lank – genoeg ruimte vir 'n leeftyd se vermaak. Party mense betaal om daar te wees!
Buckingham Paleis wagte sal dink: Hulle is gelukkig! Ons moet - selfs tydens die warmste Julie in menseheugenis – emosieloos rondstaan met hoedens van (bykans uitgeroeide) Kanadese bruinbere se basvelle, en dit terwyl toeriste ons koggel. Dis 'n geweldige uitdaging - hoe kan hulle verveeld wees?
Ski-lift operateurs het ook glad nie 'n slegte lewe nie. Hulle kan (en sal) aan die onderkant lekker lag vir die losers wat voor 'n aankomende lift val en dan vir die vale moet koes vir die volgende een. En aan die bokant kry hulle ongeëwenaarde werksbevrediging as hulle iemand - wat in die eerste plek nie op die lift wou klim nie en gevolglik onwaardig afrol en hul wind uitval (sjym) - uit die pad skop sodat die volgende mense grasieus kan afskaats.
In teenstelling met die Metro se idee van die verveligste werke, het die regering se Training and Development Agency vroeër vanjaar 'n behoorlike opname onder 2,100 gegradueerdes gedoen. Daarvolgens blyk dit asof sekretaresses die wêreld se verveligste werk het. Dis glo meer vervelig as om op 'n produksie-lyn in 'n fabriek te werk. Kyk, ek weet nie wie aan die studie deelgeneem het nie, maar 'n mens wat in 'n produksielyn werk en sê sy werk is nie só vervelig nie, is natuurlik reeds in 'n koma en kan nie verantwoordelik gehou word vir sy uitlatings nie.
Van die minder ondraaglike werk is glo in gesondheidsdiense en in die gasvryheids- en toerisme-industrie.
Ek kan dit beaam. Ons ken iemand wat 'n op-en-wakker ou tannie oppas wat in haar laaste jare die indrukwekkende vrug van haar arbeid (of erfporsie) wil geniet. So moet Estelle gereeld vir maande op 'n keer in vyf-ster hotelle op die Amalfi-kus gaan bly, in die naam van werk.
Werner, wat 'n sjef is, werk weer lang, antisosiale ure. Dis 'n stresvolle beroep, maar 'n hoogs bevredigende een. Niemand sal byvoorbeeld ooit so blinkogig na my kyk as ek klaar iets vir hulle afgerol het, as na hom nadat hy hulle gevoer het nie.
Die gevolgtrekking van die studie was dat onderwysers die mees stimulerende werk het, dat beroepe met die grootste werksbevrediging nie die bes betaalde is nie, en dat mens moet onthou dis nooit te laat vir 'n loopbaan-verandering nie. 'Toevallig' het Engeland 'n tekort aan onnies en lei die agentskap wat die navorsing gedoen het hulle op. So die studie is moontlik uit 'n PR-duim gesuig.
Vir my sou die verveligste werk wees om in 'n kunsgallery rond te staan en om met mense te raas as hulle selfone lui. Sien (en dit skok altyd my vriende wat dink ek's 'n formidabele intelektueel), sodra ek by ‘n kunsgallery instap, voel ek koorsig en onstabiel. Ek dink dis 'n eksistensiele krisis oor ek heeltyd dink What the?, in plaas van om die kuns te waardeer. Die hele proses van baklei om die miniskule inligtingsbordjie te lees, en dan om vir twee sekondes 'n ononderbroke uitsig op die werk te hê, maak my net bitter. En lewensmoeg.

Ook maar goed ek doen dit nie, want blykbaar is die verveligste werk op aarde ook een van die gevaarlikstes - jy kan jou letterlik dood verveel.
'n Men's Health-artikel het al beweer vervelige werk is geweldig nadelig vir mans se gesondheid. (Vrouens kan mos swanger raak om te ontsnap.) Volgens die Universiteit van Londen se navorsing, is mans met repeterende, onuitdagende werk meer geneig om hartaanvalle te kry.
Die ding is, party mense kan dit doen. Hulle gee nie om vir die repetisie en die roetine nie Ek was byvoorbeeld eendag in 'n hardeware-winkel in die noordelike voorstede van Kaapstad, en terwyl my vriend na 'n tappet gesoek het (daar's baie in die noordelike voorstede), het ek gehoor hoe die vrou agter die till vrolik sê sy werk al 17 jaar daar. SEWENTIEN! Ek was hoogs ontsteld. Mens kan mos nie? Ek dag sy’s verseker van haar trollie af.
Sedertdien het ek al saam met baie mense soos sy gewerk. Hulle kom elke dag dieselfde tyd by die werk aan. Maak 10-uur en 3:30nm tee. Eet 1nm hul M&S toebroodjie. En 'n appel. Stap 'n draai om die blok. Sit 5nm hul rekenaars af. Eet aandete na Eastenders. Kla oor die regering en die bure. En gaan slaap 10-uur. Nag, Mammie. Môre doen ons dit weer. Dieselfde.
Die waarheid is, hulle is die gelukkiges. Ek gaan die res van my lewe suffer. Die roetine waarop hulle so floreer, dryf my teen die mure uit. Sodra als bekend begin voel, wil ek laat spaander. Ek versamel werksadvertensies soos wat ander mense coupons versamel. Dis 'n helse foltering.
So, ek dink wel aan Keith Jackson wat vir 'n lewe lank verf snuif en kyk hoe dit droog word. Ek lag ook vir hom, soos wat van my verwag word. Maar ek beny hom. Hy is tevrede.

(SA Times, 10 Oktober 2006)

Tuesday, October 03, 2006

Just do it! (Nadat jy alle opsies oorweeg het en drie aande daaroor geslaap het)

Wat word van die wêreld? Ons ikone sneuwel een na die ander. Eers Steve Irwin, toe Zandberg Jansen... Wie’s volgende? The Hoff?

Op die oog af het die Krokodiljagter van Australië en die mees omstrede rugby-kommentator in SA se geskiedenis dalk weinig in gemeen, maar hulle was – volgens my – albei helde: Steve Irwin wat altyd met sy waansinnige entoesiasme tussen allerhande daaaangerous animals rondgespring het, en Zandberg Jansen wat hulle konstant met sy voorspellings en uitlatings beledig het.

Gewone sterflinge kan maar net wonder wat mense soos dié besiel, maar ten spyte van die potensiële gevaar wat hul in die gesig staar, hits ons hulle onbewustelik verder aan. Jy kan eenvoudig nie glo hoe hulle die noodlot so doelbewus kan tart nie.

Wel, ék kan nie. Hulle het die tipe guts wat ek nooit sal hê nie. Ek het vroeër vanjaar na 'n weeklange ski-vakansie besef dat ek nie daardie spesifieke doen-voor-jy-dink geen in my DNA-samestelling het nie.

Ek meen as Irwin vir 'n oomblik kón stilstaan, sou die realiteit van sy sterflikheid dalk insink. En as Jansen sy gedagtes laat gaan het voor hy sy mond oopgemaak het, sou hy dalk in ag neem hoe massief rugbyspelers is en hoe hard hul kan slaan, en besef het dis nie so ‘n goeie idee om enigiemand name te noem nie. Maar hulle doen wat hulle moet, en hulle dra die gevolge. Ek, daarenteen, dink in onnodig veelkleurige detail oor die moontlike gevolge van my dade, en kry gevolglik niks uitgerig nie.

My gebrek aan ‘n vreesloosheidsfaktor was tot en met die ski-vakansie eintlik nie so opvallend nie. Maar toe sou ek vir sewe dae daarmee gekonfronteer word.
Drie van ons geselskap was ingeskryf by ‘n ski-skool vir beginners. Teen die einde van dag een is my twee vriende in die gevorderde beginnersklas geplaas, en ek in die spesiale klas - saam met die pensioenarisse, en die ma's wat nie hul tieners alleen op vakansie wou stuur nie. Teen die einde van dag twee, het die res van die beginners al op die red slopes (vir bo-gemiddelde skieërs) baljaar, terwyl die spesiale klas weer moes doen wat hulle op dag een gedoen het - leer briek. Dit het my geesdrif en selfvertroue aanvanklik ‘n bietjie van ‘n knou gegee, maar toe ek die hellings (met die klem op hel) sien waarteen Stephan en Elisna moes ski, toe's ek uiters verlig ek is ‘teruggehou’.

Aan die einde van elke dag se klas, het hulle my probeer weglok van die nursery slopes af – sodat ek myself “‘n bietjie kan push”.
Geniet jy dit darem? sal hulle besorg vra. Is jy bly jy't gekom?
Dan sukkel ek vir die res van die dag om hulle te oortuig dat ek nie ‘n behoefte het om myself by ‘n krans af te gooi nie. Ek kan mos in elk geval huis toe gaan en sê ek het by ‘n black slope (vir gevorderde skieërs en ander malles) afgeski, maar ek gee regtig nie om nie. Ek kan aan min onaangenamer dinge dink as om bo-op 'n berg te staan en te wonder hoe de hel ek onder gaan kom.
Die verskil tussen mense wat so afneuk teen ‘n berg en mense soos ek, sou ek verduidelik, is dat dapper mense nie 'n goeie verbeelding het nie. Ek, aan die ander kant, kan bo-op 'n berg staan en sien hoe ek en sewe stukke onder aankom. Ek het selfs voor die vakansie my hare gekleur sodat, wanneer (nie as!) ek my polse sou breek, ek nie oor my grys wortels hoef te kommer nie.
Ek geniet dit op die nursery slopes. Wat miskien vir ander soos gelyk-grond voel, is vir my semi-vreesaanjaend. So, hoekom kan ek nie daar bly nie?
Maar hoekom wil jy nie net probeer nie? hou hulle aan.
Omdat ek realisties is, seg ek. Dís hoekom.
O, sê Stephan, maar wat help dit jy's realisties, en jy't nie balls nie?

Nou ja. Niemand wil graag hoor, of erken, dat hulle nie balls het nie. Maar dis nie altyd 'n slegte ding om nie daai tipe balls te hê nie. Ter illustrasie: op die bus vanaf die lughawe na die hotel, het daar twee ouens agter ons gesit. Hulle het so van black slopes en off piste en Kanadese ski-vakansies gepraat, dat ek my verbeel het Chuck Norris is op die bus, maar toe ek omdraai, kyk ek vas in David Brent en sy identiese makker. 'n Week later, oppad huistoe - terwyl ons vir ag ure in die Bye Bye Café (ja, regtig) by Toulouse se lughawe gestrand was - het ek weer een van hulle gesien. Toe hoor ek iemand vra hom of hy dan alleen kom ski het.
Nee, seg hy, my vriend lê in intensiewe sorg, met ten minste vier gebreekte ribbes.
Sien!

Ek besef nou ek was nog altyd so versigtig (of lamsakkig, as jy wil). Die gevaarlikste ding wat ek nog gedoen het (behalwe om my broer te tart terwyl hy 'n krieketkolf in die hand het) is om twee-twee by trappe af te hol. Dit verduidelik ook my onindrukwekkende sport-loopbaan. As ek byvoorbeeld deur 'n boelie (van Vredendal) op die netbalbaan gepootjie is, sou ek nie die teer-klippe in my oop wond ignoreer, en die noodhulp en reserwes uit die pad vee en deur my saamgeknersde tande sê Ek's fine! nie. Nee, ek sou hartverskeurend huil en die oomblik melk vir elke moontlike greintjie aandag en simpatie.

Toe ek leer bestuur het, was dit ook duidelik dat ek iets skort wat, seg maar, 'n minibusbestuurder het. Ek was byvoorbeeld vir lank vreesbevange om in spitsverkeer op die N1 van baan te verwissel. Ek sou vir tye teen 20km/h agter ‘n vragmotor sit. As ek dit uiteindelik swetsend verbygesteek het, sou ek in die vinnige baan bly sit met my flikker wat wys ek wil oorgaan stadige baan toe, maar te versigtig om dit te doen. 'Mense' sou hulle brights agter my flits en dan uiteindelik met gebalde vuiste aan my linkerkant verbysteek. My Baan! sal ek dan trugskree. En eers oorsteek wanneer die pad agter my heeltemal skoon is.

En so leer ‘n mens maar oor jouself. Ek weet byvoorbeeld nou hoekom ek nooit in Johannesburg sal gaan bly nie. Ek het nie die guts nie.

(SA Times - 09/06)

Thursday, July 27, 2006

Ek moan nog oor ek nie 'n Schengen-visa kan kry vir 'n Europese vakansie nie...

Toe gee die TNT Magazine my 'n trip deur Engeland vir hierdie foto.



Christine writes that Koba was more interested in the digital camera and was not aware the photo was being taken. As a result, the subject is relaxed, natural and Christine has been able to take time to compose carefully. The eyes are on the rule of thirds, the face fills the frame and the background is not distracting. The soft side light offers a wonderful tonal range that shows every detail from the delicate lines in the shirt to the lines in the woman’s face. Technically, it’s a portrait a professional would be proud of and Chrisitne’s work really shows the importance of getting a good rapport with your subject.
Christine wins a seven-day adventure of England, Wales and the Scottish Borders, valued at £149, from Haggis Britain.


Ha ha

(Uhm, wil iemand dit nie dalk by my koop vir £75 nie?)

Friday, July 21, 2006

Tuesday, June 27, 2006

Almal (behalwe Sisi) is seuns van vroulike honde!

Die onlangse wysiging van die immigrasie-wetgewing beteken dat ons ook nou 'n ekstra jaar moet 'doen' voor ons Indefinite Leave to Remain kan kry.
Dit pla ons nie juis nie, aangesien ons in elk geval nog die volgende twee jaar in die land sou bly. Dit maak mens net bietjie bitter as jy laat op 'n Sondag-aand by die lughawe kom en die ry vir non-EU mense lyk so:

In die 1.5 uur wat die ry dan voortkruip, het mens baie tyd om jou lot te bedink - veral as jy jou boek in die eerste vyf minute klaar lees. Dit help nie eens jy down die bottel wyn wat jy op die vliegtuig gekry het nie. Dalk sou dit, as dit meer as drie slukke was.
Dit help ook nie as een of anner Suid-Amerikaanse drol oor en oor dieselfde tune fluit nie - ongeag of dit die grootste song van die somer is. Oor hy op vakansie is, dink hy seker dis 'n avontuur. En oor hy so groot is, mag hy seker maar doen wat hy wil. Ek kan maar net dink wat ek wil. En dis nie mooi nie.
Intussen giggel die 3500 Chinese studente onophoudelik vir elke vraag wat die immigrasie-beamptes hulle vra. Ek is groot op Britse humor, maar SO snaaks is hulle nou wragtag ook nie.
Teen die tyd wat ek voor in die ry is, het ek so 'n twisted kyk in my bloedbelope oe, dat ek lus is om klein stukkies van my stink Franse kaas oral agter stoele in te druk.
Boonop voel ek nog elke keer soos 'n krimineel ook. Eerstens as ek deur paspoort-kontrole gaan, met: Van waar kom jy? En: Wat doen jy hier? En: Waar's jou man (op wie se permit jy so lekker travel), hmmm? Hy braai lekker by die huis, ok! Hy braai lekker, terwyl ek hier staan en resepte uitruil met JOU. TEEF!
En dan weer as ek deur customs gaan, waar ek altyd (voel of ek) lyk soos iemand wat 'n vetplant en 'n halwe slagding probeer deursmokkel.
Om trug te kom by die punt: Teen die tyd wat ons Britse paspoorte gaan kry, sal Werner reeds 10 jaar in die land wees - ons sal waarskynlik ons Britishness test saam met mense skryf wat slegs vier jaar langer, wettig of onwettig, in die land was.
Dis moeilik om te begryp (as mens soms so bitter raak): Ons kon in die afgelope drie plaaslike verkiesings stem en Werner is al opgeroep vir Jury duty, maar omdat hy in sy eerste drie jaar op drie verskillende tipes visas gewerk het, tel dit nie. En nou. omdat die timing bietjie uit is, gaan dit ons 'n jaar langer vat. Daar's weer die drama om die werkspermit verleng te kry (wat natuurlik nie 'n gegewe is nie), plus al die onkostes wat dit behels, asook die gemors met Schengen-visas (soos dat ons drie maande voor die werkspermit verval nie Schengens kan kry). Maar ons moet seker dankbaar wees dat ons wel hier kan werk. En ons is. Dis immers nog steeds makliker in Engeland as enige ander plek in Europa.

Toe lees ek van hierdie website waar hulle mense aanmoedig om petisies te teken en vir jou MP te mail. En omdat ek soms 'n bietjie bitter is, doen ek dit toe, net om te sien wat gebeur. En toe skryf hy trug binne twee dae. Nie met goeie nuus nie, maar ek's nou nog verstom dat mens actually 'n antwoord van 'n MP kan kry. Ons is mos nie so grootgemaak nie.

Wie weet, dalk kom hulle later mense soos ons tegemoet. Vermoedelik eers oor 'n jaar, as ons dit nie meer nodig het nie.

Taste of London

Beteken ek kan eet en drink en vrolik wees terwyl Werrie moet werk.

Wednesday, June 07, 2006

Vir al die Guy-fans

Guy Goma het toe nie die werk by die BBC gekry nie. En dis nie net ek wat spyt is nie - iemand het 'n petisie opgestel waarin hulle by die BBC pleit om hom aan te stel. Ongeveer 6060 mense het alreeds die petisie onderteken en jy kan ook.

Intussen het Guy besluit om sy blou hemp vir liefdadigheid op te veil. Jy kan tot 27 Junie daarop bie. Hou net in gedagte dat hy noodwendig baie erg daarin gesweet het.

Maar sy glorierykste oomblik sedert die traumatiese TV-onderhoud is beslis sy verskyning op Jonathan Ross se chat show, waarna jy hier kan kyk.

Thursday, May 04, 2006

Wrong Guy

Deesdae weet gegradueerdes hulle moet op allerhande 'kreatiewe' (lees: kak) vrae voorbereid wees tydens werksonderhoude. Byvoorbeeld: As jy ‘n boom was, watter soort boom sou jy wou wees? Of: As jy ander mense kon hoor sleg praat oor jou, wat sou hulle sê? En so.

Guy Goma was seker bewus hiervan, anders sou hy hardop gewonder het hoekom hy voor sy onderhoud, vir ‘n werk in die BBC se IT-afdeling, eers gegrimeer moes word. En toe hulle hom op ‘n TV-stel voor 'n kamera sitmaak, het hy gedink dis deel van ‘n vreemde inisiasie-proses.

Hy't wel onraad vermoed (soos jy hier kan sien) toe die onderhoudvoerder hom as Guy Kewney, redakteur van newswireless.net, voorstel en vir sy opinie oor die hofsaak tussen Apple Computers en die Beatles se Apple Corps vra, maar hy't sy pose herwin en homself met die grootste gesag, in erg gebroke Engels, oor die onderwerp uitgelaat.

Intussen het die regte Guy Kewney vergeefs elders in die gebou sit en wag vir iemand wat hom na die stel sou lei.

Kyk hier na die hele onderhoud.

(Goma wag nog om te hoor of hy die werk gekry het.)

Wednesday, March 22, 2006

Op Trafalgar Square se vierde paal was daar

Hierdie standbeeld pryk alreeds ses maande op Trafalgar Square se "fourth plinth", maar ek het dit nou die dag vir die eerste keer gesien.



Alison Lapper Pregnant, deur Marc Quinn, is een van twee werke wat in 2004 uit ‘n kortlys van ses kunstenaars gekies is om hier geinstalleer te word. Thomas Schütte se Hotel for the Birds sal dit in April 2007 vervang.

Daar was (ouder gewoonte) ‘n groot en uitgerekte debat oor wat op hierdie platform moes kom. In Maart 2003 het Wendy Woods, weduwee van 'n anti-apartheid joernalis, 'n dapper poging aangewend om £400,000 in te samel om vir ‘n standbeeld van Nelson Mandela deur Ian Walters te betaal. Dit sou baie relevant wees, met die dat Suid-Afrika Huis, waar baie anti-apartheid demonstrasies gehou is, ook op Trafalgar Square is. Maar dit het toe nie so uitgewerk nie.

Marc Quinn se standbeeld, seg een of ander ou in bevel, "considers questions of idealism, heroism, femininity, prejudice and identity,"
Behalwe vir die femininity, is dit seker presies wat 'n standbeeld van Madiba sou uitbeeld.
Maar dis die Britte se paal. Laat hulle daarop sit wie hulle wil.

Dalk het die Amerikaner Larry Adler die beste idee gehad toe hy voorgestel het dat hulle 'n standbeeld van Moby Dick oprig, wat hulle dan die "Plinth of Whales" sou kon noem.

Hoe lank vat 'n toeris om sy tube-kaart te kry?

Ongeveer drie jaar.

Sunday, February 19, 2006

Minki trek Londen toe - soortvan

Minki van der Westhuizen gaan glo voortaan vir vier maande per jaar in Londen bly. Sy sal gou regkom, seg haar agent - sy's in elk geval een maal 'n maand hier, so sy behoort nie aanpassingsprobleme te hê nie.
Hoe gelukkig. En sy spring nie slegs die aanpassingsprobleme vry nie. Ek vermoed ook dat mense soos sy nooit die geleentheid kry om vir (wat voel soos) ure laat in die nag vir 'n trein te wag wat verseker vol gaan wees teen die tyd wat hy opdaag nie. Sy mis nie uit nie, maar dis regtig nie altyd oninteressant nie. Aag, OK, dit suig. Maar vir haar en die res wat dit nooit sal beleef nie, hier's 'n uittreksel.

Jy kan oor ander mense se skouers koerant lees:

Jy kan die muise wat onder die spore rondhol dophou:

Jy kan luister hoe mense langs jou die advertensies met dialoog dramatiseer:

Of jy kan tel hoeveel mense hul Sudoku klaarmaak voor hulle in 'n koma gaan (antwoord: nie baie nie):


Die pers in SA is natuurlik verheug oor Minki se skuif. Want met die volgende ramp wat die stad tref kan hulle na hartelus hoofopskrifte soos SA Model Oorleef Terreur-hel, of Minki se Noue Ontkoming uitdink. Hulle kan ook dramatiese tonele uitbeeld van wat kon gebeur as sy die bus sou vat wat sy nooit vat nie, na 'n plek waar sy nog nooit was nie.

Friday, February 17, 2006

Morgan Freeman IS Madiba

Dit lyk my sommige mense is nie oortuig dat Morgan Freeman die ooglopende en enigste keuse vir A Long Walk to Freedom se hoofrol is nie.
Van my beste vriende lyk soos Mandela, maar Freeman het werklik geen kompetisie nie.

(Photo: www.anc.org.za)

(Photo: Steve Granitz, WireImage.com)

Net so is daar slegs een persoon wat die rol van George W Bush kan vertolk:


(Photo: www.askmen.com)

(Photo: www.leconcombre.com)

Die rokers wat moet uitgaan in die koue

Vanaf volgende somer gaan rook in alle openbare geboue in Engeland (en dalk Wallis) verban wees. Die wetgewing wat dit bepaal begin so:

"Be it enacted by the Queen’s most Excellent Majesty, by and with the advice and consent of the Lords Spiritual and Temporal, and Commons, in this present Parliament assembled, and by the authority of the same, as follows:— ..."

'n Indrukwekkende sin wat enige voornemende regsstudent twee keer moet laat dink oor hul loopbaankeuse. Dis die tipe paragraaf wat gemaak het dat ek (soos my Deliktereg-handboek dit gestel het) gereeld in die nette van my eie begripsverwarring vasgevang geraak het.

En mense kan gerus sommer nou al ophou rook - dis nie lekker vir nie-rokers om heeltyd alleen in 'n restaurant te sit terwyl al die rokers buite paartie nie.

Wednesday, February 15, 2006

Vir aandag: Alle Afrikaanse nannies en supply teachers met advertensies in die Evening Standard - ontrek dit nou!

In vandag se Evening Standard (ongeveer 800,000 lesers daagliks), skryf een van die mees gerespekteerde en gevreesde restaurant-kritici in Engeland, Fay Maschler, die volgende:
"There used to be a South African fish restaurant called Fish Hoek but I never made the Great Trek to Chiswick to try it out. Something about the Afrikaans sound of hoek caught in my throat.
"Fish Hoek closed last summer and in its place is Fish Hook where chef/proprietor is Michael Nadra, who graduated from Glasgow University with an honours degree in engineering..."

Buy a donkey, Fay. Buy a bye a donkey.

Tuesday, February 14, 2006

Freeman honoured by Mandela request ... ?

Morgan Freeman was glo oorstelp van vreugde toe hy hoor Mandela het hom vir die hoofrol in 'n Long Walk to Freedom voorgestel. Dis nie asof hy enige kompetisie gehad het nie! Dit was sekerlik 'n ooglopende besluit. Brad Pitt, aan die ander kant, sou verbaas kon wees as hy die eerste keuse was.
Madiba kan ook maar bly wees hy lyk soos 'n voormalige Oscar-wenner en nie soos, seg maar, Adam Sandler (vir wie Bush dalk sal nader) nie.

Sunday, February 05, 2006

Drie deel £125 miljoen EuroMillions lottery jackpot

Ek, daarenteen, het slegs £8.90 gewen, en sal vir die volgende 5953 jaar moet werk om £125 miljoen te maak. Van my innige beloftes om 'n groot persentasie van my wen-geld te deel gaan daar niks kom nie. Jammer.

Februarie is die langste maand

Want elke dag lyk so:

Wednesday, February 01, 2006

Die dag toe ek amper 'n KP was

Iemand het my laat weet "Calvinia is blykbaar die enigste kiesafdeling in SA waar die KP in die komende verkiesing gaan staan".

As ek 'n KP was, en in Calvinia gebly het, sou ek seker bly wees vir die geleentheid om bietjie dorp toe te gaan om te stem. Maar, soos dit is, raak dit my nie regtig nie.
Maar daar was wel 'n dag in Calvinia toe ek gedog het ek's KP.

Ek was 8, toe, en in die koshuis. Het die aand, soos meeste ander aande, voor aandete (5.30pm) saam met my mater Annemarie gebad. Toe kom een van die groot kinders (Thea, 9) in die badkamer en vra of sy ook in die bad kan spring, want haar pa-hulle kom na ete (5.32pm) vir haar kuier, en daarna gaan sy nie genoeg tyd hê om voor stilte-tyd (5.35pm) te bad nie. Ek het 'n heilige ontsag vir die groot kinders gehad en het onmiddellik ja gesê, en vir Annemarie beveel om op die prop te sit, sodat Thea die beste spot agter in die bad kan kry. Ek sou in die middel sit om 'n afstand tussen Annemarie en Thea te hou, want anders as vir my was dit dalk nie binne Annemarie se vermoe om hierdie uiters sensitiewe situasie met die nodige takt te hanteer nie.

"Nou wat kom maak jou ma-hulle op die dorp, ha?" vra Annemarie toe sommer.
En ek kyk haar met 'n KAN JY NIE SIEN SY BAD NIE! kyk. Maar ek draai toe self na Thea, want sy't immers (uit karakter vir iemand groter) nie gegil Vir my om te weet en vir jou om uit te vind nie!
En sy was immers op ons turf.
"Hulle kom vir 'n NP-vergadering," sê Thea.
"NP?" sê Annemarie. "Is julle NP?"
"Ja," sê Thea. "Is julle nie?"
"Nee," sê Annemarie gebelgd. "Ons is KP!"
"En ons is NP," sê Thea.
En na 'n gelaaide stilte (gelaai vir my, want ek breek my kop om uit te figure waaroor hulle praat), vra hulle gelyk vir my: Wat's julle?
Ek weet nie, sê ek benoud. Wat 'n gemors. My beste vriendin (op daai oomblik) is KP, maar THEA is NP.
"Ek weet nie," sê ek weer. Maar ek voel tog verplig om te kies. "Seker maar KP."
Dis teleurstellend, maar mens word immers aan jou vriende geken.
"Ja, meeste mense is KP", sê Annemarie triomfantlik.
"Wel, al die onderwysers is NP", sê Thea, met die benydenswaardige kalmte en selfvertroue van iemand ouer en wyser. En met dié klim sy uit die bad.
"AL die onderwysers?" vra ek.
"Yup."
"Nee, maar ... dan's ons ook NP", sê ek - merkbaar verlig dat ek en Thea op die ou end tog in dieselfde span is.
Annemarie gee my 'n vieslike kyk. En toe Thea weg is: "Al die onderwysers is nié NP nie!"
"As Thea so sê dan IS hulle!"
"Maar hoe weet jy dat JULLE is?"
"As HULLE is, dan's ons!"
"Ek dink nie so nie!"
"Ek sal my ma-hulle vra, ok?"
"Ok. En het jy nou gesien - Standerd 1's hét borste!"

Tuesday, January 31, 2006

EK LEWE! soos Annelie sou sê. Maar die walvis is daarmee heen.

Ek het boonop geen blywende wonde opgedoen nie. Dis moeilik om hard te val op die nursery slopes. Ek het wel my wind uitgeval van die ski-lift af, bo-op 'n stuk ys (teen die einde van die lift waar jy grasieus moet afskaats, nie in die middel bo die afgrond nie). As jou wind uit is, vir die wat nie weet nie, voel dit presies soos wanneer 'n ouer broer met geweldadige presiesie 'n regtervuishou tussen jou blaaie plant.

In elk geval. Mens raak vinnig agter met die nuus as jy weggaan. Ek was byvoorbeeld baie spyt om te hoor dat die Teems-walvis gesneuwel het, o.a. weens dehidrasie, spierskade en nierprobleme. Alles legitieme redes om te sneuwel.
Teen Saterdagaand het die walvis glo baie vinnig gedisorienteerd en gespanne geraak. En dis toe, seg Dr Paul Jepson, dat hulle besluit het om die walvis vir sy eie beswil uit te sit.
Dis mos nie reg nie? Ek was vir my eerste 18 maande in Londen gedisorienteerd en gespanne - moes iemand my ook miskien uitgesit het?
Ek vermoed die walvis is uitgesit net omdat hy 'n lekker stew sal maak. En ek hoef julle nie twee raaie te gee wie vir die gemors verantwoordelik is nie. Nee, nie die asylum seekers nie. Die koninklikes, dis wie!

Volgens 'n wet van 1324 (uit die tyd van Koning Edward II): "... the King shall have ... whales and sturgeons taken in the sea or elsewhere within the realm."

Hierdie wet is steeds geldig en walvisse, byvoorbeeld, word as Fishes Royal beskou. As hulle binne drie myl van die VK se kuslyn gevang word, of dood of lewendig op die land uitspoel, mag (en sal!) die Koningin dit opeis. Die walvisse, byvoorbeeld, moet gerapporteer word aan die Receiver of Wreck wat belonings vir die Fishes Royal mag betaal, as die vis vir verbruik verkoop kan word, of vertoon kan word in 'n museum. Beloning? Nóú sê jy my.

Daar's besluit om die walvis uiteindelik vir die Natural History Museum te gee na al die toetse afgehandel is (en Charles en kie hul volgestamp het aan walvis-tong, walvis-bredie, walvis-sop, walvis-blad, walvis-sashimi...), en die museum sal dan die bene skoonmaak en bewaar vir navorsing.
Ek's seker die museum sal nie nodig hê om die bene skoon te maak nie. Daar sal beslis nie 'n sening of 'n murgie van die walvis oorbly nie.
Die Koninklikes het immers seker 'n paar lekker resepte uit Arthur Boyt, 66, van Davidstow, se nuwe roadkill kookboek gekry. Boyt (wat sekerlik laasnaweek een van die geesdriftige walvisredding-vrywillers was) het al op 13 sy eerste roadkill verorber, en hy kook al vir die afgelope 30 jaar eksotiese geregte van dooie eekhorings, jakkalse, vlermuise, kraaie, hase, bokke, ystervarke, muishonde ens. (Sy vrou is 'n vegetarier.)

Gepraat van roadkill. Toe my veearts-neef in die platteland gewerk het, is hy dikwels ingeroep as mense bokke of ganse raakry. Dan toon hy noodwendig die nodige simpatie, maar as die barmhartige samaritane huiswaarts keer is hy dikwels om professionele redes genoop om die verpulpte gans se nek om te draai, of om die verlamde bok vir sy eie beswil uit te sit.
Toe vra sy baas hom eendag, waar's daai bok wat hulle gister hier aangebring het?
In die vrieskas, sê my neef.
Uhm, seg die baas, want hy dink my neef bedoel die afval-yskas. Jong, as daar weer so 'n bok kom, moet hom nie weggooi nie. Mens kan iets doen met die vleis. Regtig.
Ja, sê my neef dis hoekom ek hom in die 'goeie' yskas gesit het. En ek sal later vir jou van die biltong bring. (En hy het. En dit was lekker.)
Hy't ook eenkeer 'n Suid-Afrikaanse nurse (wat van 'n plaas af kom) gevra om 'n gans te pluk. Wat sy toe baie knap doen, maar so dat die vere en bloed teen al die mure spat. Die Engelse verpleegsters was taamlik histeries toe hulle daarop afkom, want mens maak mos nie so nie. Maar min weet hulle wat hulle eie geliefde koningin agter die skerms pleeg.

Ek het bietjie van die punt afgedwaal maar, ja, so het die walvis toe omgekom. Eintlik was sy kanse om gered te word uiters skraal.

Gelukkig, darem, vir die blye tyding uit SA dat niemand minder nie as The Hoff vir Kaapstad van 'n helse vlammedood kon red.



Terloops, as jy ooit toenemend gedisorienteerd en gespanne voel, hier's iets wat jou vinnig beter sal laat voel. Let wel: as jy tog so voel, en jy lyk bietjie soos 'n walvis, dolfyn of waterskilpad - bly weg van die Teems-paadjie. Jy het die vars lug so nodig soos wat jy 'n dodelike inspuiting het. Ek sê maar net.

Nag ou grote.

Saturday, January 21, 2006

Ons gaan ski (of probeer)

Die Spaanse ambassade kon hulself uiteindelik sover bring om vir my 'n single-entry visa te gee. En dit terwyl ons in elk geval net daar MOET land (hierdie keer; die laaste keer) om na Andorra te gaan. Volgende keer sal ons weer deur Frankryk (ons geliefste ambassade) aansoek doen vir ons visas. Werner het darem 'n multi-entry visa vir drie maande gekry. Maar ek dink nie dit sal wys wees as hy sonder my op vakansie gaan nie! So, in effek het hy eintlik ook net 'n single-entry visa.
Maar ons hét nou die goed, en dit beteken ons gaan vir die volgende week in Andorra in die sneeu baljaar en probeer om heel anderkant uit te kom. Ek het darem my hare gedye, net in geval ek my polse breek en dalk vir die volgende ses weke met grys roots moet rondloop.
Tot later dan.

Die Teems-walvis

Met die dat mense nou in Londen na walvisse kan kyk, wie gaan al die pad Hermanus toe wil travel?

Ek het nie gedink die walvis gaan dit maak nie. Die Teems-water is immers nie skoonste in die wêreld nie. En terwyl Japanese kos nou so gewild is, is daar seker ten minste een restaurant wat begin naderstaan het met 'n kettingsaag en 'n ekstra dis, soos deep-fried walvis-burger, vir die spyskaart beplan het. Of walvis-sop. Of walvis-stew. Walvis-wors. Walvis-pastei...
Maar, soos ek seg, dit lyk of hy dit gaan maak. (Walvis-biltong! Walvis-rib.)

Die ding met die walvis is dat soiets Londenaars opnuut opgewonde maak om hier te woon, want mense besef weereens dat wragtag alles hier moontlik is. En DIT help mens deur die winter.

Sunday, January 15, 2006

Siriyas? Si-ri-yas!

Die beste ding wat ek op TV gesien het toe ek laasjaar in Suid-Afrika was, was 'n advertensie van polka.co.za.

Dis soos SA se eie Little Britain, en ook iets wat beter is om self te sien as om oor te vertel. Nie dat dit my gekeer het om tot vervelens toe (te oordeel aan die leë uitdrukkings om my) Siriyas? te sê nie.
Maar nou kan julle self kyk (oor en oor en oor), want ek het die spesifieke advertensie, en nog twee ander, raakgesurf. (Los mar as jy 'n stadige konneksie het. Siriyas.)

1. Siriyas
2. Izzit?
3. Doesn't sound Jewish

Friday, January 13, 2006

Die laaste maal

Ek gaan nie verder my kop breek oor wat ek vir 'n laaste maal sou bestel nie. Ek het besef dit kom basies daarop neer dat ek myself so te sê sal dood vreet, of ten minste 'n dapper poging sou aanwend.
Ek's ook bly om te sê niemand het my nog verstoot nadat ek my ongesonde belangstelling in terdoodveroordeeldes (daar's 'n lekker woord vir Scrabble) met die wêreld gedeel het nie. Ek het selfs intussen ontdek dat derduisende mense (of tientalle, ten minste) hierdie belangstelling deel - wat, ek gee toe, dit nie minder ongesond maak nie.
Hierdie mense (soos ek) word glo daarvan beskuldig dat hulle 'n grap maak van ander se laaste oomblikke, en dus geen respek vir hulle lewens het nie. Maar dan beweer sommige wat laaste maaltye bestudeer dat ons geintereseerd is om 'n konneksie te kry met die misdadigers. Hulle bestel goed soos kaasburgers of hoenderpastei of roomys, en omdat ons dit ook eet, het ons meer simpatie met hul lot.
Ek weet nie. Gaan soek self die redes. Ek het nie 'n behoefte om te lees hoe iemand karaktertrekke en simptome, soortgelyk aan my eie, beskryf as tipies die van 'n freak nie.

So kom ek toe af op 'n lys met die top tien laaste maaltye.
Nr. 9 was Thomas Grasso, wat die volgende bestel het: a dozen steamed mussels, a Burger King double cheeseburger with mustard, mayonnaise, lettuce and tomato, a can of Franco-American spaghetti with meatballs, a mango, half of a pumpkin pie with whipped cream, and a strawberry milkshake.
Maar Grasso het eintlik vir SpaghettiOs gevra - nie vir die spaghetti en meatballs wat hy uiteindelik gekry het nie. En dis toe ook wat hy in sy laaste statement sê: "I did not get my SpaghettiOs. I got spaghetti. I want the press to know this!"

Nr. 6 is Timothy McVeigh, die Oklahoma bomber. Hy het twee pints mint chocolate chip roomys gevra. (Toe ek dit vier/vyf jaar terug gelees het, het ek vir drie dae lank koue rillings gekry.)

By nr. 5 word twee ouens gelys wie se laaste versoeke nie toegestaan is nie.
Robert Madden wou hê sy maal moes aan 'n hawelose persoon gegee word. En Odell Barnes, Jr. het gevra vir Justice, Equality, en World Peace.

Nr. 1 is Robert Buell, wat gevra het vir 'n enkele swart olyf, ongpit. Hy het dit bestel ter ere van Victor Ferguer, wat 40 jaar vantevore presies dieselfde bestel het. Ferguer het glo gesê hy hoop daar groei 'n olyfboom uit hom, as 'n teken van vrede.

Wednesday, January 11, 2006

Stanley "Tookie" Williams

Ek vind dit baie interessant (op 'n grillerige en dalk psycho manier) wat mense op death row se laaste woorde en maaltyd was.
Tookie Williams wou glo niks sê of eet nie. Maar hy het wel melk gedrink in die ure voor sy dood.
Iemand wat 'n paar jaar voor hom die inspuiting gekry het, het die volgende (by die Restaurant at the End of the Universe) bestel: "Two grilled cheese sandwiches (American cheese), one pint of cottage cheese (plain, no fruit), Hominy/corn mixture (regular hominy, regular corn), one piece of peach pie, one pint of chocolate chip ice cream, and radishes."
En toe die Warden hom vra of hy enige laaste woord het, "...Mr. Anderson was very adamant that he did not".
Beteken dit hy het net heftig sy kop geskud?

Ek het nie 'n clue wat ek sou sê nie. Tien teen een: Dit was nie ek nie.
Ek sal meer gepla wees oor wat ek moet eet. Vermoedelik sal die kos bietjie in 'n mens se keel vassit, maar veronderstel mens kon dit geniet en enigiets op aarde bestel, dink ek ek sou die volgende bestel:
(To be continued... Moet gaan eet. Vrek honger.)

Saturday, January 07, 2006

Nie altyd iets nuuts uit Afrika

Hoekom is dit so dikwels vir Suid-Afrikaners aanvaarbaar om net alles te copy wat ander mense doen? En hoekom moedig die meerderheid van Suid-Afrikaners sulke kreatiewe luiheid aan deur dit te ondersteun?
En dit geld vir alles van aaklige ou liedjies waarvoor aaklige nuwe lirieke geskryf word, tot nuwe ontwikkelings met name soos Villa D'Algarve of Streatham Hill(!).
Kyk byvoorbeeld hoe's Alex Tew se briljante idee om 1,000,000 pixels teen $1 elk te verkoop, deur SA se eie jong entrepreneurs in die Million Rand Idea gena-aap.

Dis baie indrukwekkend, julle! En so slim! Hoe op aarde het julle aan die idee gekom?
"So we came across this little idea the other day. We were trying to think of interesting ways to make some cash here in England so we thought - lets try a crazy idea, by selling 1,000,000 pixels, for R1 each...
"We thought, this could be something crazy enough to work! Because we think people like crazy/quirky ideas... The way we see it though: We've got nothing to lose by trying. And we're sure it'll be fun."
Hulle het darem die decency om later na Tew en die Million Dollar Homepage te verwys (sonder om daarheen te link). Nie dat Tew omgee nie. Hy't met die skryf van hierdie post reeds $999,000 gemaak. (Hy gaan die laaste 1,000 pixels op eBay verkoop, en die hoogste bod is tans meer as $150,000.)
En ons twee vriende? Hulle trek by R34,400.
Dis darem (effens) beter as niks. Dis in elk geval meer as wat ek het. Maar toemaar, ek het ook 'n crazy/quirky idee waarmee ek baie geld kan maak. Ek gaan 'n meesterlik beplande, intelligente (of dit sal so voorkom) riller skryf wat basies gaan draai om 'n internasionale moordstorie en verwysings na die afgelope 2,000 jaar se Westerse geskiedenis. Die moord sal in die nag plaasvind, in 'n belangrike geskiedkundige gebou soos die Voortrekkermonument of dalk die Louvre. Die moord gaan 'n geheim aan die lig bring wat sedert Jesus se tyd deur 'n geheime organisasie bewaar word. Die slagoffer sal 'n belangrike persoon in hierdie geheime organisasie wees. En hy gaan net voor sy dood 'n paar clues los wat alleenlik deur my Tom Hanks-tipe held en 'n mooi jong dame opgelos kan word. My held gaan baie gekultiveerd wees, en van so 'n hogere intelligensie dat hy onder die ergste druk nogsteeds 'n volledige toerverslag kan gee van waar hy homself bevind. Dit mag dalk sommige lesers verveel, maar 'n paar sal wel daardeur beindruk wees. Ek glo so, ja.

Maar ek dwaal af. Ek raak nog so paniekerig oor hierdie idee-gestelery, toe ontdek ek hierdie cool site op WatKykJy?: NuL - Afrikaanse Elektroniese Rewolusiemusiek, deur Adriaan Pelzer wat in Singapoer bly.
My gunsteling songs van NuL se moontlike tweede CD, TweE, is Online Superstar, Swart, Jiroum Jimbovsky, en Laan van Smarte.
Jy kan al die songs, asook die wat op die eerste CD, EeN, was download.
Copy dít gerus, as jy kan.

Thursday, January 05, 2006

Cool tjoons


Dit vat bietjie lank om te download. Maar dis die moeite werd, ek belowe.
Byvoorbeeld:
Stem 1: "Ek het 'n pens."
Stem 2: "Ja. Ja. Ja."
Stem 1: "Van oppie yaat sit."
Stem 2: "Ja. Ja. Ja."
Ammal saam: "Ons sit net oppie yaat en syp."

Die langste winter van ons lewens (vermoedelik)

Verlede jaar was daar 'n advertensie op TV waarin 'n verskrikte familie om die eettafel sit. Hulle is te bang om 'n woord te sê, dit lyk of hulle weke laas geslaap het, en die ma veral lyk of sy die marteling nie 'n dag langer kan verduur nie. Dan brul die boiler skielik uit die hoek en die familie bevuil hulleself. "Hi, supermodel," sê die boiler vir die pokkelrige tienerdogter. "Got a boyfriend yet? Don't hold your breath!"
En dan probeer hulle iets aan jou verkoop met: "Is your boiler behaving badly?"

Dit was geweldig snaaks. Absoluut histeries.

Dis nou tot ons boiler op 'n ysige dag vir my skree: "Jy moet ten minste 8 ketels water kook om genoeg te hê vir 'n bad. Check mar! Check mar elke dag vir die volgende 13 dae. MUHAHAHAHA."

Hoezit, grootseun

Ons gunsteling kerskaartjie van 2005 het gekom van twee Chinese chefs wat saam met Werner werk.