Tuesday, May 01, 2007

Party Frouens het meer Issues as Ander

Dis nie algemene kennis nie, maar ek het (lank gelede) een Saterdagmiddag hier in Engeland vir Dozi ge-stalk. Dit was nadat ek hom die eerste keer hoor sing het - spesifiek die Zoeloe-weergawe van Jantjie kom huis toe.
Ek was geweldig homesick daai tyd, en ek dink hy het eenvoudig op daardie oomblik alles voorgestel wat ek van Suid-Afrika gemis het.
Sedertdien dink ek nog altyd hy's cool. En niemand kon my anders oortuig nie.

Dis nou tot ek hierdie berig gelees het. Ek weet nie hoe waar dit is nie, maar Dozi het glo die volgende vir een of ander flerrie op 'n plakaat geskryf: "Liewe, liewe, liewe Zonique. Jy mag maar my meisie wees, en dan later my Frou (sic)."

En nét daar verander my opinie oor hom. Hoe absoluut ongelooflik teleurstellend. In hierdie twee sinne, doen hy net mooi NIKS reg nie.
Dit het my laat dink aan my eerste verhouding wat gesneuwel het nog voor dit begin het.
Een Dinsdag by Kinderkrans het 'n seuntjie 'n brief in my hand gestop en gesê dis van 'n ander seuntjie, wat toevallig al die vorige naweek by kleureatletiek laat weet het wat sy intensies is. So ek het geweet wat daarin staan, maar het gewag tot ons terug was by die koshuis voor ek die brief eenkant gaan lees het. Dit was baie opwindend, natuurlik. Alles was perfek. Die papier het hy vermoedelik uit 'n skryfblok van sy suster gesteel, en die spray by sy pa.
Maar, ai. Die eerste sin. Waarin hy my vra om te 'case'.
'Case'?!
Hoekom ek? dag ek. Ek meen, hoekom moes dit SO met my gebeur? Hoe moeilik is dit om kys te spel? Of hoekom kon ek die relatief klein oortreding nie oorsien nie?
Ag, dis beter so. As dit uitgewerk het, was ek dalk nou 'n enkelmoeder iewers op die platteland, wat moes spaar vir my eersteling se Matriekafskeidsrok.

Maar, om terug te kom by Dozi. Ek (en die liewe, liewe, liewe Zonique) is nie die enigstes wat al agter hom aangeloop het nie.
Ons vriend Kobus het ook een aand na 'n konsert in Bloemfontein vir Dozi by die bar opgesoek.
Dozi, seg hy, ek laaik jou musiek baie. Kan ek in jou band speel?
Watse instrument speel jy? vra Dozi.
Blokfluit, sê Kobus.
O, sê Dozi. En watse songs ken jy?
Kom alle getroues, sê Kobus. En daai liedjie van die perd.