'n Mens hoef nie versot te wees op sokker om vriende te maak in Engeland nie. Maar dit help.
Weinig mense hier gee om oor die gevolge van 'n kernoorlog of bedreigde paddaspesies. Hier moet jy weet wat (voor en na die nuus) op TV aangaan. Toepaslike gorrelgeluide is meestal genoeg en mens kan ver kom met die bluftruuks wat jy in voorgraadse Politieke Wetenskap-modules leer. Ek's bevrees met sokker sal jy jou huiswerk moet doen. (As jy hoegenaamd omgee).
Dis welbekend dat Britte die algemene kennis van 'n kluit het. Soos die Big Brother deelnemer wat dink Rio de Janeiro is 'n mens, en wou weet of 'Heinstein' en Moeder Theresa familie is. Tog, kan jy enige Brit vra wat op die derde Saterdag in April 1954 op Old Trafford gebeur het. Maar moet liewer nie - hy sal vir 90 minute, plus ekstra tyd, daaroor praat.
Al was ek nog altyd soortvan lojaal aan Manchester United, omdat die Huisgenoot destyds berig het dat Jason, my gunsteling van die Watsenaamkowitz-sesling, 'n ondersteuner was, was ek totaal onbewus van die plaaslike sokker-obsessie.
Een Saterdag, kort nadat ek in Walthamstow aangekom het, het ons verby 'n tubestasie geloop. Hoor jy die magtige dreuning? het my vriendin gevra. Die stasie onder ons het letterlik vibreer van die krygsliedere
en die massa eenderse serpe en truie. Ons het terstond besluit om na 'n voetbalwedstryd gaan en deel te wees van die ooglopend grootse ervaring.
Andrew, 'n Britse kollega van 'n huismaat, moes die uitstappie reël. Wie ondersteun julle? het hy gevra. Seker maar Spurs, het ons na 'n ruk besluit. Dis
toevallig die naaste. Andrew het senuweeagtig begin rondkyk en die kortste
pad uit die huis gesoek. Toe besluit hy om ons eerder te bekeer: Julle behoort West Ham te ondersteun. Dis my span - dié span.
En van toe af, totdat ek Ealing toe getrek het, was ek kamtig 'n West Ham-ondersteuner. Met die intrapslag daar vra my nuwe huismaats, waaronder twee Britte, watter span? West Ham, seg ek. Nee, rêrig? lag hulle.
Arsenal, sê ek sonder om 'n oog te knip. Ek het toevallig die vorige aand Fever Pitch van Nick Hornby gesien, waarin Arsenal die uitverkorenes is. Ons ook, sê hulle bly. En vra of ek wil koffie hê, of 'n bier, of enigiets.
Toe trek ek meer suid. Nou moes ek glo vir Chelsea skree - al bly ek nie daar nie. Dit was 'n ongeskrewe reël. Toevallig het hulle die mooiste truie. Ek kon
nie stry nie.
Intussen het Arsenal fenomenaal vertoon. By die werk was ek Arsenal, by die huis Chelsea.
Ek is 'n sokkerverraaier, maar dit maak mense gelukkig as jy hulle spanne ondersteun. Kan jy bekostig om nié verskillende truie, na gelang van omstandighede, te dra nie?
Met die Wêreldbeker het ek egter my voet neergesit en vir almal behalwe Engeland geskree. Ek het dit selfs openlik uittartend gedoen. Als was goed en wel tot op 'n punt. Al die nasietrots was mooi - so saam met die Jubilee. St George-vlaggies orals. Op elke voertuig en hyskraan; amper elke voordeur en boot. Handdoeke, T-hemde, keppies - orals. Ten spyte van sy simpel haarstyl, het Die Voet in Voetbal goddelike status verkry. Kantore het groot skerms laat opsit en gratis ontbyt uitgedeel. Daar was minder suur gesigte op die busse. Mense het glad met mekaar gepraat. Het jy daai doel gesien? Waar't jy gekyk? Haai, lekker!
Maar toe raak dit TE.
Nog voor die kwarteind-wedstryd teen Brasilië het hulle al in die parlement versoek dat die dag na die finaal 'n vakansiedag moes wees. Vir daardie einste
kwarteind-wedstryd sou derduisende mense afvat by die werk. Dit was soos 'n Sondag in die strate. Net vrouens en uitlanders op die busse. In Oxford straat
was 'n verdwaalde rolbos.
Langs die pad kry ek 'n besielende sms, Brasilië loop 2-0 voor. Ek het gesmaail soos die Cheshire kat. Ek was wreedaardig bly oor die verloop van sake. O, hoe't
ek my verlustig as die bus verby oorvol pubs gery het. Nooit het soveel mans na aan trane soveel vreugde verskaf nie. Ek het self gevoel ek hoort in 'n pub,
maar ek wou vroeg by die werk wees vir die gratis ontbyt. Dis tog al wat belangrik is.
By die kantoor het die dag se Mirror gelê - die toppunt van arrogansie. 'n Skoon, wit voorblad, met 'n klein St Georges-vlaggie in die middel en slegs die volgende: This page is cancelled. Nothing else matters. Slim, het ek gedink, Goddank hulle verloor!
En toe, die volgende dag se voorblad: Anyone for Tennis?
Naskrif: Ek het van die begin af vir Brasilië geskree.
Klets 2002
Thursday, July 04, 2002
Subscribe to:
Posts (Atom)