As jy nog iets na David Blaine se perspex box wou gooi, beter jy jou litte roer. Die 44 dae wat die New Yorker alleen in die 7x7x3 ruimte saam met slegs ‘n kussing, mat, dagboek, penne, lipsalf en doeke wil deurbring is amper om.
Selfs al beplan jy dit nie, vat maar ‘n gooiding saam. Die teiken is regtig uitlokkend as jy eers daar is. Hou in gedagte dat hy, toe hy aan die einde van sy eerste week ‘n vuil doek in ‘n sak tussen die mense laat val het, een van die eerstes was om goed te begin gooi. Onthou ook, as jy beplan om dit met verfbomme of gholfballe of eiers te doen, jy nie die eerste sal wees nie. O, en moet hom nie gaan soek “onder” die Tower Bridge, “bo-oor” die Teems, soos daar wyd en syd geadverteer is nie. Soek so ‘n entjie anderkant die brug, weg van die rivier – hy hang daar iewers aan ‘n hyskraan.
As jy gaan, moenie eetgoed vergeet nie. Mens raak onbeskryflik honger as jy so kyk na die man. Dit kan dalk wees omdat daar so baie hotdog toeriste-trollies geparkeer is. En daar is immers min dinge so onweerstaanbaar soos die reuk van gebraaide uie.
Hulle het ‘n opname onder Londenaars gemaak oor tien goed wat jy eenvoudig hier moet doen. Een daarvan was glo om – al weet jy van beter – ‘n hotdog by so ‘n trollie te koop. Daarna nooit weer nie – dis een van daardie lesse wat jy op ‘n onaangename manier na ‘n lang aand in jou toilet se teenwoordigheid leer. Maar, die reuk van gebraaide uie is onweerstaanbaar, en toeriste weet natuurlik nie van beter nie. Hulle sien nie hoe die eienaars van daardie trollies dit soggens vroeg onder ‘n brug of afdak uitsleep, vlugtig die duifstront met ‘n vuil lap afvee en dan begin uie braai om ‘n strik vir almal met reuksintuie te stel nie.
“Let’s go watch him DIE” sê ‘n pokkel voor my, en prop twee derdes van die euwel in haar kieste.
Dit is "the most extreme exercise in isolation and physical deprivation ever attempted" seg die man na wie daar ook as ‘n hedendaagse Houdini verwys word van sy eie toertjie.
Dis duidelik dat hy nog nooit in lieflike Desember-weer alleen in ‘n koshuis wat na sonbrandolie en draairoomys ruik moes agterbly om ‘n her te skryf nie.
Dis ook nie asof ander mense nie werklik deur hierdie proses gaan nie. Hulle kies dit net nie. En hulle word nie (‘n beweerde) £4 miljoen daarvoor betaal nie. Dit lyk ook aansienlik minder traumaties in sy geval, soos hy daar flouweg vir die mense lê en wuif.
As ek ooit die begeerte kry om my liggaam en gees tot die uiterste te beproef, sal uithongering die laaste manier wees.
Ek en my maters Estelle en Sonika het immers tydens een eksamen tot die besef gekom, en terstond ‘n eed gesweer, dat ons nooit honger of dors sou wees nie. Ongeag die omstandighede. As die taak dan laat moet in wees, dan moet dit. Dat jy in daardie 20 minute ‘n ekstra langvraag sou kon leer, is nie ter sake nie.
En so was dit dan dat ons in eksamentye 10-uur sou opstaan – goed uitgerus vir ‘n produktiewe dag. Teen 10.30 staan ons voor in die ry vir doughnuts en tee, sodat ons teen 11.30 kan gaan stort om reg te wees vir die middagete om 12.30. Daarna pak ons ons boeke reg, en doen als wat bevorderlik sou wees vir die studieproses, soos om kaste reg te pak, vloere te vee, ‘n 200 000-stuk legkaart te pak en notas te bedel. Dié moet ons dan in die biblioteek gaan afrol. Maar die druk is groot, want ons moet 4-uur terug wees as die snoepie oopmaak. En sodra jy dan jou sit voor jou boeke kry lui die 5.30 aandete-klok. Teen die tyd is mens al so suf gedink, dat Egoli ‘n essensiele breuk is. Deur die loop van die aand ondersteun ons nog twee keer die snoepie. En (as dit toevallig die aand voor ‘n eksamen is) word die wekkers vroegaand al vir 3vm gestel, rol die eerste trane om 0.30 en ontwikkel jy om 1.15vm ‘n dodelike koors waarteen jy dapper probeer veg (met ‘n bietjie boerbeskuit en rooibostee).
As Blaine nie glukose saam met sy water inkry of cereal bars tussen sy doeke wegsteek nie, beteken dit eenvoudig hy weet nie hóé nodig ‘n mens wat daagliks strawwe intellektuele inspanning moet verduur ‘n ou stukkie kos het nie. So, hy’s of dom of hy’s ‘n cheat. En so ‘n mens stel ek nie aan een van my enkellopende vriendinne voor nie.
(Nota aan my ouers: ek oordryf gewoonlik vir dramatiese effek.)
(Klets 2003)
Friday, October 17, 2003
Subscribe to:
Posts (Atom)