Tuesday, July 28, 2009

Budapest

Heroes' Square, Budapest

Die Hősök tere (Heroes' Square) in Pest is bedags baie bedrywig, so dit was (glo ek) 'n aansienlik aangenamer ervaring om dit net na middernag te sien. Behalwe vir 'n paar bergies, was dit net ek, Rudi, Jozsef, Viki en Bolazs wat daar rondgehang het. Die dansers het almal (onder ligte dwang) 'n paar toertjies voor die besienswaardighede gedoen, voordat Bolazs (wat die coolste naam in menseheugenis het) ons na die volgende bar gelei het, waar ons ons vyf-'n-dag in die vorm van kersie- en aarbei Palinkas ingekry het.

Immergroen

Immergroen festival

Ek weet nie of ek die fees of die bohaai daarvoor of daarna op die Internet meer geniet het nie. Ek dink tog die fees wen, maar net oor ek permanent 'n biltong in die een hand en 'n papsak in die ander gehad het.
Dit was eintlik ook soos 'n reunie van die ou Walthamstow crowd (spesifiek die Lorne-denaars), so die musiek was 'n bysaak. Dis ook nie asof ons so uitgehonger is vir boerewors of Afrikaanse musiek dat ons gebroke was toe daar nie chutney of kunstenaars was nie.
Maar dit verander nie die feit dat Immergroen 'n mislukking van epiese proporsies was nie.
Die organiseerder, Cr**g l* R**x ("Sy naam is nou 'n vloekwoord!"), bly seker nog nie lank genoeg in Engeland nie, want anders het hy nou al lankal herhaaldelik Sorry! gese. Dis nou as hy nog kan praat. Want as 'n paar van die mense wat gedreig het om hom te verwurg hom wel bygekom het, is hy nie meer van hierdie wêreld nie.
As die kunstenaars ook maar net soos die res van ons hulle diensplig in Engeland gedoen het, kon hulle ook al Britse paspoorte gehad het, en was dit nie nodig dat die derduisende honderde feesgangers troos in die naaste bottel moes soek om hulself te geniet nie. Martin moes maar aan 'n paar NikNaks suig en met 'n tartrazine kick tevrede wees. (Hy was nie.)

Wednesday, July 08, 2009

Karen en Bill

Karen & Bill


Die blog-koma duur voort. Intussen...

Hier is 'n slideshow van 'n paar van Karen & Bill se troufoto's. Click op HQ, regs onder. (Musiek deur Moby.)

Dit was die tweede troue waar ek fotograaf gespeel het. Stresvol, maar groot pret. Dis waansinnig om soiets as 'n amateur aan te pak (en dit met 'n gehuurde lens wat enige tyd kan oppak, en 'n kamera wat jy nog net een keer gebruik het), maar ek dink tog mens leer die gouste as jy by die diep kant ingegooi word. En, asof een cliché nie genoeg is nie, onkunde is salig.
Al is ek oor die algemeen heel tevrede met die foto's, kan ek ook nie help om daarna te kyk en alles raak te sien wat ek anders/beter kon doen nie. Maar ek het dit immers met 'n mangelontsteking-koors gedoen, so daarvoor kan ek myself heelwat vergewe!