Die wêreld is bietjie vreemd, sê hulle, as die beste rapper wit is en die beste gholfspeler swart. As Duitsland traag is om oorlog te maak en die Franse die Britte beskuldig van arrogansie.
Min Britte regverdig die stelling dalk soveel as die Koningin. Eers spandeer sy derduisende belastingbetalersponde op ’n totaal onnodige “panic room” in die paleis; nou is daar gerugte dat sy die oorlog teen Irak in Skotland wil deurbring. Dis soos om ’n hamburger voor Rik “Groter as die lewe self” Waller neer te sit! As die Skotte van haar Hoogheid praat, is hul sinne besmet met ’n ander woord vir hond-met-tepels. Hulle sal haar verskeur.
Mens moet ook wonder hoekom sy (of Charles, wat Nr 10 gereeld met briefies bombardeer) nog geen opinie oor die oorlog gelug het nie. Ja, sy praat soldate moed in en korrespondeer met klein dogtertjies sodat die volgende generasie ook haar foto bo die kaggel kan hang. Ja, sy het as staatshoof eintlik net ’n simboliese rol. Maar volgens die koninklike webblad is haar hoofrol as ’n fokus van nasionale eenheid. En natuurlik mag sy iets sê.
Dalk hou sy net té veel van Bush. Sy’s immers met iemand van sy presiese intellektuele kaliber getroud. Verder is Bush is ook nie regtig verkies nie, maar beide glo dat hulle en hul makkers die uitverkorenes van hul onderskeie koninkryke is. In Bush se geval (want aardrykskunde is nie sy sterk punt nie) sommer van die wêreld.
Of dalk meen sy die oorlog hou die potensiaal vir die grootste oomblik van haar termyn in. Na ’n enkele besoek aan die East End tydens die Blitz het die volk immers geglo haar moeder kon op water loop.
Maar genoeg oor haar.
Ék voel uiters gegrief dat ons almal so in hierdie oorlog geboelie word, en dit net omdat Alfred E Neuman toe tog president geword het. Dom mense wat dink hulle is slim — het ’n wyse klasdroster eendag gesê — is ’n baie gevaarlike groep mense.
Blair is nog ordentlik genoeg om te lyk of hy empatie met ander se oortuigings het. Dis asof hy sê: Jy vra waarom moet jy groente eet? Dis ’n baie goeie vraag en een waaroor ek … ons … al baie gepraat het. Jy hou nie van groente nie. Ek weet! Glo my, ek weet. Maar, maar … jy moet verstaan. Dis góéd vir jou. Dit is!
Bush is egter soos ’n bedorwe brok wie se speletjie jy volgens sy reëls moet speel as jy in die somer na sy huis met die swembad genooi wil word. Sy reëls verander heeltyd op grond van sy prestasie. Party sal later langlip skree: “DUS! ON!REG!VER!DIG!” Maar hy hoor nie. Die res sê verraaierig: Ag, dis net ’n speletjie. Maar hulle weet dit is nie.
As jy in een mens se oë kyk wie se lewe vir ewig deur oorlog geraak is, sukkel jy om redes te kry wat sulke drastiese aksie regverdig.
Soos Matthew. Ek het op ’n stadium by die Royal Festival Hall gewerk wat tydens die 1951 Festival of Britain as ’n na-oorlogse “Tonic to the Nation” opgerig is. Onder in die koffiewinkel naby die kaartjieskantoor het Matthew heeldag, elke dag gewag vir ’n vriend wat nooit opgedaag het nie. Elke uur of twee het hy nog geld gaan trek, nog ’n kaartjie bespreek. Saans het sy jong Chinese vrou by hom aangesluit. En die volgende dag was hy weer daar.
“Daai man is drek,” beduie hy.
“Ekskuus?” sê ek, versigtig om enigiets te beaam voor my salaris inbetaal is.
“Ek sê daai man is ’n direkteur. Hy sê ek mag nie heeldag in die koffiewinkel sit nie. Waarvoor het ons miskien geveg?”
Of: “Hoor wat speel hulle daar,” sal hy kwaad tydens een van die gratis middaguurkonserte sê.
“Jazz?”
“Ja, Jazz! Hulle moet klassieke musiek speel! Waarvoor dink jy het ons geveg!”
En dan vertel hy weer van sy reargunner-dae en wys hy weer sy littekens.
Hy behoort steeds aan ’n reargunner-vereniging. “Maar,” sê hy afwesig, “baie van hulle is dood. Die meeste van hulle is regtig dood … Ek gaan gou kyk wat daar buite aangaan.”
Hy sal van ’n wonderlike loopbaan vertel van meer as ’n dekade in die Ooste en daarna in Amerika. Dan onthou hy weer “daardie vyf jaar … “ En iets skuif oor sy gesig wat jou koue rillings gee.
Daar’s ook Omar, ’n Bosniër, wat vir sewe weke Londen toe sou kom om Engels te leer. Teen die tyd wat hy moes huis toe gaan, was daar oorlog en moes hy politieke asiel verkry. Hy’t vir ’n jaar geen kontak met sy familie gehad nie. Na sewe jaar het hy skaars sy tingerige ouers herken. Hulle het alles verloor, maar ten minste was hul enigste kind veilig elders. Nie, soos baie van sy klasmaats, in ’n begraafplaas in Sarajevo nie.
“Hulle maak elke jaar ’n film van die oorlog sodat niemand vergeet nie,” sê hy intens. “Niemand mag vergeet nie.”
Gestel die oorlog tref die Eiland ...
Ek kan my nie uitlaat oor “haglike” oorlogsomstandighede nie, maar ek’s bevrees as ek in ’n klein vertrek saam met ’n klomp Heinz Baked Beans-eters vasgekeer gaan wees, gaan dit nie mooi wees nie. Ek het vinnig deur die koskaste van ons deelhuis gekyk en gelukkig is daar net een geblikte sjokolade-sponskoek.
Ons gaar nie kos op nie en ons koop nie gasmaskers nie. Maar nie omdat ons dit probeer ignoreer nie. Om die waarheid te sê, nog voor die WB-finaal (beter bekend as die krieket-&*%$£$), kyk almal al 24 uur ’n dag Big Brother-staail oorlog. Ons sit vasgenael voor hierdie ultimate realiteit-show deur die grootste jackass van almal.
Ons kan nie meer die oorlog keer nie. Ons kan net aanpas as die omstandighede dit vereis. Soos my Kanadese kollega met haar whatif-paranoias. Een oomblik kondig sy beslis aan sy gaan ophou rook want sy’t keelseer; 45 minute later gaan koop sy sigarette, want “I’m dying of oesophagus cancer anyway.”
Ns: Wil iemand nie asseblief vir Bush ’n Playstation koop vir Kersfees nie?
(Litnet 2003)