Friday, March 21, 2003

Die Prins, ’n paar Bacardi Breezers en ’n nat hond

As Suid-Afrikaners van die Engelse (en spesifiek Londenaars) praat, is dit nooit baie vleiend nie. Hierdie is immers ’n nasie wat kweel “Lekker lekker barbie woohoo” en dan binne staan en kyk hoe ’n enkele Suid-Afrikaner teen ’n poolwind stoei om klam charcoal aan die brand te kry. Maar my moeder seg altyd, as jy niks goeds oor iemand te sê het nie, bly liewer stil.

Stilbly is egter ook nie ’n opsie nie. So na twaalf en ’n half minute se kwaliteit-dinkwerk moet ek erken dat Britte darem drie bewonderenswaardige eienskappe het. Boaan die lys is hulle geweldige kapasiteit vir tee. Die tweede is hulle ongeëwenaarde gawe om, behalwe tydens voetbalwedstryde, hoegenaamd geen emosie te toon nie; en die derde is hulle absolute blinde geloof in hul eie vermoëns.

Die koninklikes verskaf oudergewoonte ’n paar ooglopende voorbeelde, maar ek sal volstaan by prins Charles. Hy glo hy’s die groot filosoof, kunstenaar, sportman en Don Juan van sy generasie. Omdat hy met bome gesels (die ooreenkoms met sommige van sy familielede kan enigeen ontsenu), reken hy hy’s die grootste natuurman sedert Rolf Harris kangaroes nageboots het. Hy maak gereeld onsamehangende filosofiese uitsprake waaroor sommige mense oooeee en aaah, en omdat hy niks minder verwag nie, moedig dit hom net verder aan. Dis jammer, veral omdat hy eintlik ’n ondergemiddelde skepsel is. Sy universiteitspunte is immers beskryf as iets wat slegs die “terminally lazy or the very stupid indeed” kry. (Myne ook, terloops, maar ék dink nie ek’s die volgende Laurens van der Post nie.) Die man wat moet koning word, het ook al die wens uitgespreek om as ’n sanitêre produk gereïnkarneer te word, en glo gebieg dat hy soms wonder “if two thirds of the globe is covered in red carpet”. Kommerwekkend. Veral omdat daar agter sy peinsende uiterlike geen realistiese waddehelnou-selfbeeld skuil nie. O, nee. Hierdie man se grootste verleentheid is dat hy daagliks sy pêrels voor swyne soos Tony Blair moet gooi.

En dan die plebs. Omdat almal se Bacardi Breezer-geïnspireerde vriende elke Donderdagaand hulle karaoke-pogings encore, glo 97 persent van die bevolking hulle kan sing. Iedereen dink hy’s ’n Pop Idol. Mense het ’n obsessie om op realiteitsprogramme te wees, want almal dink hulle het ’n persoonlikheid wat hulle eenvoudig met die wêreld moet deel. Dis ook hoekom groepe soos S Club 7 dit kon regkry om vir jare sonder skaamte ’n hoëprofiel-bestaan te voer.

Kyk ook byvoorbeeld na die volgende onvergeetlike lirieke van die Spice Girls:

La la la la la la la la la
La la la la la la la
La la la la la la la la la
La la la la la la la.

Mens wil jou verbeel dat terwyl hulle “Spice up your life” geskryf het, iemand sou voorstel: “Hie hie, kom ons sing net la la la vir, like, ewig en kyk of mense daarvoor val.” En hoe hulle sou dink dis histeries. Maar nee, hulle glo opreg dis lirieke wat iemand se lewe gaan raak.

En dit het! Na alle waarskynlikheid is die Spice Girls nie uitmekaar oor hulle gedink het die grap gaan nou te ver nie, maar eerder omdat elkeen onderskeidelik gevoel het hulle kan nie langer hul besonderse talente langer laat onderdruk deur die ander wat dalk goed is, maar nie geniaal nie.

Dit bring my by die Olimpiese Spele. Toe Suid-Afrika destyds die Spele wou aanbied, het derduisende Suid-Afrikaners begin verskoning maak. (Behalwe natuurlik daardie beminde spotprent-bergie met sy “Athens se ma”-plakkaat). Die skade! Die skande! Vervoer, vuil, sê nou dit reën …

Die Britte, daarenteen, is vol selfvertroue vir hul bod om die Olimpiese Stadion in Hackney te bou. En ek het nog bittermin mense hoor sê “Jy’s nie ernstig nie.” Dis seker mooi, die ideaal van oplewing in ’n area wat slegter lyk en meer stink as ’n nat hond. Maar dis regtig ’n vergesogte idee. Daar’s min treine en baie moorde. Daar bly soveel nasionaliteite, jy sal sukkel om iemand te kry wat in Engels kan verduidelik waar die derde uitdunronde van die gesinchroniseerde swem plaasvind. Hackney het “karakter”, seg hulle, maar dis net ’n ander woord vir “lewensgevaarlik en vol mense wat heeldag met hul imaginary friends baklei”.

Tog, hierdie ingesteldheid van die Engelse is iets wat ons nie het nie. As ons vir, seg maar, ’n sekretariële pos aansoek doen, sal ons nog sê ja, ek tik 75 woorde ’n minuut. En dan, al probeer keer ons hoe, daar glip altyd nog ’n “maar” uit. Maar … dit … was … lank terug. Jammer om te hoor, sê die onderhoudvoerder, en gee die werk vir ’n blasé Brit wat 14 woorde ’n minuut tik, met 100 persent spelfoute.

En dit bring my by die eintlike punt van die storie, liewe leser: dít is die rede waarom duisende jong Suid-Afrikaners in Londen sekuriteitswagte is. (Dink ek.)

(Litnet - 2003)

No comments: