Friday, July 30, 2004

Afrikaanse Proms se geboortepyne

Ek hou van mense wat groot dink. Hulle het passie en guts. En Suid-Afrika het meer van hulle nodig. Mense wat byvoorbeeld eers op 85 uit openbare diens tree, of op 100 atletiekrekords slaan. Mense wat sê "Vandag Benoni, môre Hollywood!"

Of mense wat droom van 'n Afrikaanse Proms in die manjifieke Royal Albert Hall - en dit laat gebeur.

'n Paar maande gelede het die meeste mense wat van dié plan vir Ukkasie gehoor het, seker gedink: "No Way!" Maar Saterdagaand het die Taal, soos Stephan agterna gesê het, inderdaad weergalm in die Ingelse bastion van kuns en kultuur.
Vanjaar se hoofkonsert het definitief die potensiaal om 'n skouspelagtige jaarlikse produksie te wees. Ja, dit was nie sonder haakplekke nie, maar neem gerus in ag dat die BBC Proms (wat dié Ukkasie geïnspireer het) vir ongeveer 40 uit sy 110-jarige bestaan finansieel gesukkel het (!).

Die idee met Ukkasie was, raai ek, om (soos met die Proms) vir 'n groot gehoor 'n wye spektrum van musiek aan te bied in 'n produksie van hoogstaande gehalte. Die program sou in die eerste helfte ernstig wees, en geleidelik opbou na 'n uitbundige klimaks. Tydens die Britse Proms verseker die volkslied en "Auld Lang Syne" normaalweg maksimum baldadigheid. En tydens Ukkasie sou dit die volkslied en, vermoedelik, "Her Time Has Come" wees.

Op papier lyk alles dus goed. Maar al was daar genoeg groot geeste wat die vertoning absoluut die moeite werd gemaak het, het ons in realiteit net kort duskant euforie gedraai.

In die toekoms sal iemand betrokke moet wees wat die produksie se leisels heelwat stywer vashou. Want sien, net soos dié perd spoed gekry het, het hy in die verkeerde rigting geneuk. Iemand moes met 'n sweep agter die hele storie gestaan het en dit van agter gelooi het sodat die gehoor behoorlik tot 'n sportbyeenkoms-histerie opgewerk kon word. Totdat selfs die teësinnigste lekker-ligteliedjie-saamsinger (ek) met oorgawe sou begin deelneem.

Ironies genoeg was die persoon wat (klaarblyklik) in beheer van alles was, ook verantwoordelik vir die program se tekortkominge. Francois le Roux was seremoniemeester, samesteller, verwerker van oa Sarie Marais (soos briljant uitgevoer deur Zanta Hofmeyr), en multi-instrumentalis. Baie indrukwekkend en baie begaafd. Nou weet ek nie of hy oor die algemeen dink ons moet hóm vir ons daaglikse brood bedank, en of hy dalk net te begeesterd was nie. Maar ongelukkig was hy konstant (behalwe as hy stilgebly en agter sy tjello bly sit het) 'n taamlike irriterende teenwoordigheid op die verhoog. Dis eintlik so maklik om Suid-Afrikaners in die buiteland op te sweep. Ons kry gou daai bars-van-trots-gaan-nóú-my-tasse-pak-gevoel. Ons was byvoorbeeld almal hoogs begeesterd na Pieter-Dirk Uys se skitterende Elections and Erections. Maar Francois het dit probeer forseer. Ek glo ook hy's baie stimulerende geselskap, maar hy't nie die persoonlikheid gehad om iets van so 'n skaal aan te bied nie. Hiervoor het ons 'n Soli of Nataniël nodig!

Vir my was die laagtepunt van die aand die rap-liedjie (wat nogals na 'n rip-off van Fat Boy Slim se "Right About Now" / The Funk Soul Brother, "Check It Out Now", ens geklink het). Die't gelui: "Nogge vyf jaar! Vat hom SA nogge vyf jaar!" En toe nogge 10 jaar, 20 jaar, 30, 40, 50 tot by 100. En dis tóé dat ek gewens het daar was 'n Wilgenhoffer in die gehoor wat kon skree: "Haal hom af, Menere! Hy maak dit nie!"

In hierdie fantasie het Dozi (wat 'n man!) net ná hy vir John Jacobs (die mimiekmeester) grappenderwys oor sy skouer gegooi en uitgedra het, teruggekom om vir Francois le Roux ook te kom haal.

Oor John Jacobs … dis moeilik om iemand wat 'n baksteen hoog is, behoorlik van ver agter in die saal te sien. Sy toertjies het deurgaans die spoed gebreek, en het veral tydens DNA Strings se vertoning gesteur.

Die George Mannekoor was oor die algemeen lekker flou. Ek sien in die SA Times skryf iemand dit het gelyk of hulle "jet lag" het. Daar was ook probleme met al die kore se klank. En in so 'n groot saal kan 'n mens verskriklik alleen voel as jy nie lekker kan hoor nie. Maar dit was steeds hoogs vermaaklik om te hoor hoe die Britse Fishpond-koor "sy roer haar koffie met haar groottoon om" sing.

Dit was baie jammer dat van die Anglo Gold-manne se items gesny moes word, want soos julle seker reeds weet, het die konsert vrek lank aangehou. Die meeste van ons sou vier en 'n half uur lank na Laurika Rauch alleen kon luister, maar in Londen vergeet mens van etiket as dit laaste tube-tyd raak. So, toe die "hoogtepunt" van die aand aanbreek, toe stroom die mense uit. Want as daar nou een ding is wat nugter mense wil vermy, is dit die nagbus (sidder). Soos een vrou - wat haar tubekaart net buite die saal uitgepluk en stasie toe begin nael het - gesê het: "Hulle kon al die goeie goed in twee uur ingedruk het. Maar toe moet mens deur nog twee uur worstel!" En in die verbygaan hoor ek nog hoe sy vir Heinz Winkler 'n lelike p-woord noem. "Jaaa!" beaam 'n meisie agter haar dit. "Hy IS 'n pampoen! Hy is!" Arme Heinz. Die mees entoesiastiese reaksie wat sy "Kom Suid-Afrika!" en "Groet gou vyf mense langs jou!" ontlok het, was 'n moedelose "Ag, fok, ou!"

Die res van die kunstenaars was uiters professioneel en van hoogstaande gehalte.
As Dozi sy Zoeloe "Jantjie" sing, voel ek soos daai meisie in Pulp Fiction nadat hulle die adrenaliennaald in haar hart gedruk het.

Nianell, wat tot onlangs relatief onbekend was hier, gee wêreldklas koue rillings.
Laurika en Lucas is die beste vir die heimwee. Iemand het tereg agter uit die saal ná hulle duet gegil: "Julle is sterre!"

Ek het my voorgeneem om heeltemal objektief na Laurika te luister om te sien of sy elke jaar se bohaai regverdig. Maar dis tevergeefs. As sy haar mond oopmaak, is dit soos 'n Pavlov-eksperiment vir onthou's. Mense wat normaalweg alles saamsing, doen dit nie met haar nie. Dis moeilik met 'n knop in die keel.

Ook Steve Hofmeyr is deurgaans met oorverdowende gejuig begroet. Jy kan sê van sy skoene wat jy wil, maar daai ou kan met 'n gehoor werk!

Die gehoor verdien self 'n pluimpie. Ek sou enige dag weer saam met daardie 3 000 mense paartie. Ek's seker die meeste van hulle maak klaar wenslysies vir volgende jaar se show, want een ding is vir seker: hierdie was nie die laaste een nie - dit was hopelik net die eerste een.

(Klets - Julie 2004)

No comments: