Ek kan nie beskryf hoe opwindend die afgelope verkiesing hier in Londen was nie. Ek kan nie, want dit was nie. Dit was sieldodend. En om daaroor te praat is nét so eentonig – terwyl ek hierdie paragraaf tik het ek al drie keer gegaap. Nee, vier!
Dis seker maar hoe 'n verkiesing in een van die oudste demokrasieë in die wêreld veronderstel is om te wees, maar in vergelyking met verkiesings in Suid-Afrika is dit erg oninspirerend. Waar's die drama? Die histerie? Die stilstuipes? Die enigste ding waaroor ek mense 'n bietjie opgewonde hoor raak het, was om na die verkiesingsuitslae op TV te kyk.
In Suid-Afrika is die hele aanloop tot die verkiesing interessant, selfs vermaaklik. Die uitslag is vanselfsprekend; 'n bysaak. Maar hier, hoor ek toe, kyk mense van 10-uur die aand na die verkiesingsuitslae op TV – aangebied deur die Dimbleby-broers op BBC1 en ITV - en vat Vrydag verlof. En dis dan die somtotaal van die avontuur. Ek dog toe, as dít is waaroor dit gaan mág ek dit nie mis nie. When in Rome, en als. En so tref Werner my een-uur die oggend toe hy van die werk af kom, in 'n koma op die ongemaklikste bank in die huis aan. Glo my gerus – as die verkiesing 'n mens was, sou hy 'n martelaar wees en mense geleidelik dood verveel.
Ek het wel bietjie gekroek en oorgeskakel na ‘n ander kanaal tydens die martelsessie. Daar het hulle ‘n klomp mense gekry wat kommerwekkend baie soos die politieke hoofrolspelers lyk, en dan ‘n kamtige dokumentêr gemaak van wat agter die skerms gebeur. Byvoorbeeld David Blunkett wat met 'n perverse grynslag staan en vroetel met sy gidshond se leiband, terwyl dié met 'n skrapsgeklede Kimberly Quinn (die vrou met wie hy 'n verhouding gehad het) op die grond rondrol.
Om te stem, lyk dit my, is soos om te braai. Vir ons beteken dit om vir ure rondom die vuur te staan en met stokke daarin te krap, dronk te word, en laataand eers te braai. Maar as Britte na 'n braai toe gaan, moet die patties reeds gebrand wees as hulle daar aankom. So, blyk dit, is die aanloop tot die verkiesing hier glad nie belangrik nie. Hulle sal net by aanhoor van die uitslag sug, en sê: Right. Jolly good. Tea? En wieookal aan bewind is blameer vir die treine wat laat is.
Dis ook vreemd dat iemand hier kan sê hy's 'n Tory en sy meisie ‘n lid van die Arbeidersparty, maar dan leef hulle nog in vrede saam nie. Dis so ongelooflik belaglik beleefd! En wêrelde verwyder van Suid-Afrika waar - soos Ronel vertel - hulle (NPs) altyd kortpad deur die buurman ('n KP) se erf kon loop, behalwe in verkiesingstye. Dan span hy 'n draad tussen hulle erwe en laat sy Rottweiler die grens patrolleer.
Weinig Britte (behalwe die Dimbleby-broers en hulle onderskeie ateljeegaste) het iets oor die verkiesing te sê gehad. Maar toe ek Saterdag, twee dae ná die verkiesing, by ‘n klomp Suid-Afrikaners gaan kuier, toe’s dit nie lank voor een (‘n vurige Liberaal Demokraat-ondersteuner) sê: Ek hoop nie julle het Labour gestem nie!? En ‘n ander sê: Ek het!
En eersgenoemde sê Jy’s mal! En: Hoekom gaan slaap jy nie sommer by Tony nie? En die ander sê Miskien sál ek! Dan kom twee ander in en ontken nie dat hulle nie vir die Tories gestem het nie. En die res insinueer dis net oor hulle dalk in die hoë inkomstegroep val en nie so baie belasting wil betaal nie. ‘n Ander sê: Ek wóú vir die Liberaal Demokrate stem, maar toe stem ek eerder vir die Arbeidersparty, téén die Konserwatiewes. En: Die Arbeidersparty het in elk geval beter kraamvoordele. En dan kyk die vurige Lib Dem ondersteuner haar aan asof hy wonder hoekom vrouens hoegenaamd stemreg gekry het.
Hier in Brittanje is die mense ook maar lui om te gaan stem. Veral vir diegene wat meen die uitslag gaan nie veel aan hulle lot verander nie. (Want al die partye se basiese beleide is mos basies dieselfde.) In Liverpool, byvoorbeeld, stem baie min mense – vir hulle was die belangrikste uitslag daardie week die een tussen hulle span en Manchester United.
Vir my is om te kan stem meer 'n voorreg as 'n plig. Ek dink dis omdat 1994 ook die eerste jaar was waarin ek kon stem. Ons was eerstejaars, toe, en 100% oortuig van die opwindende toekoms wat voorlê. Vir ons, dink ek, sal verkiesings ook altyd ‘n feestelike konnotasie hê. Die eerste kwartaal het hoofsaaklik om die verkiesing gedraai. Ag, dit was goeie tye. Ten minste een kaas-en-wyn geleenthied per week soos die party-kandidate probeer stemme werf het. Ons het nie diskrimineer nie, ons het na almal gaan luister. Maar die NP het die meeste freebies uitgedeel. FW-borsspelde, plakkers, plakkate. En perm-kamme.
In elk geval, hier het daar vanjaar toe op die ou end meer mense gaan stem as in die vorige verkiesing. Een nuusleser sê hy stem al vir die afgelope 30 jaar by dieselfde plek, en dit was die eerste keer wat daar 'n ry was. Maar besef die mense dan nie – dít is die geheim om meer mense by die stemlokale te kry. As jy in hierdie land (en julle kan dit gerus probeer!) iewers gaan stilstaan en iemand dalk agter jou, sal daar binne sewe minute 'n redelike lang en gedweë tou agter jou vorm.
Die mense by die werk hang aan my lippe as ek hulle vertel van die rye tydens verkiesings in Suid-Afrika. En dan kry hulle daai ons-wil-op-safari-gaan kyk in hul oë.
Christine van der Merwe kon nie kies tussen die Vote for Yourself Rainbow Dream Ticket Party of die Monster Raving Loony Party nie. (Litnet Aug 2005)
[Stemdag is (glo) op Donderdae, want (in die dae voor vrouens kon stem) het mans op Vrydae begin drink sodra hulle betaal is. Saterdae het hulle by die huis rondgelê en Sondae was hulle in die kerk. So, om te keer dat drank, die pantoffel of die kerk hul keuse beïnvloed is vasgelê dat verkiesings altyd op Donderdae sou wees.]
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment