[Hierdie is n bogstorie van epiese proporsies. Ek pleit sonsteek.]
Ek wil ’n waarskuwing wat Voetstoots van Tonder vroeër vanjaar in hierdie koerant geopper het herhaal: moet op prinse nie vertrou nie. As jy ’n held wil hê, laat dit verkieslik ’n fiktiewe een wees, soos (in Voetstoots se geval) Fritz Deelman of (in myne) Pippie Langkous.
Die ding is, almal probeer jou om elke hoek en draai bevark. Die een oomblik ry jy nog sewe dae te perd, met vier ham-en-kaas toebies en ’n paar hardgekookte eiers, agter jou gunsteling span of speler aan; die volgende oomblik hoor jy die ware verhaal en moet jy druipstert huis toe ry met die wete dat jou kosbare belegging van tyd en emosies minder werd is as ’n Zimbabwiese dollar.
Vir die meeste Suid-Afrikaners is die voorbeeld wat uitstaan bo alle ander die dag toe Hansie sy "oë van Jesus afgehaal" het. Maar die afgelope week alleen was daar die storie met die tennis, waarin dit uit ongereelde weddenskapspatrone geblyk het asof sekere inligting oor ’n tennisspeler se mediese toestand, en gevolglik die waarskynlike uitslag van die wedstryd, voor die tyd versprei is.
Die speler was vermoedelik nie self betrokke nie, maar – en dis die belangrike deel – dis 'n moontlikheid. En iewers in die land moet ’n jong seuntjie nou sy Huisgenoot-plakate van Davydenko van die mure afruk.
Die verneukspul is natuurlik nie beperk tot sport nie. In Julie het ons gehoor hoe mense deur die BBC, ITV, Channel 4 en Five se radio en TV-inbelprogramme mislei is. Dan was daar die dokumentêre programme waarin sekere insidente vir dramatiese effek omgedraai is, of selfs opgemaak is.
Die waarheid het natuurlik nog nooit in die pad van ’n goeie storie gestaan nie. In ’n dokumentêr wat destyds oor Suid-Afrikaners in Londen gemaak is, is Elzabet gevra of sy al dagga gerook het.
"Moenie hierdie uitsaai nie," seg sy toe, "maar ja, ek het al dagga gerook. Een keer in Amsterdam."
Dit is geredigeer tot: "Ek het al dagga gerook."
Die effek was baie beter, natuurlik. Maar die skokgolwe wat deur haar klein tuisdorpie getrek het is legendaries – en die dominee se kinders het ook nog nie weer aangebied om vir haar ’n pakkie van haar ma te bring nie.
Geen van die bogenoemde insidente het my werklik in my siel geruk nie. Maar ek moet erken dat dit wat jaarliks in die Tour de France ontbloot word altyd ’n bietjie van ’n gatslag is.
Ek sal nooit ophou om die Tour te kyk nie. Solank as wat ek Sky+ het en die mense vir wie ek skree (Juan Mauricio en Robbie Hunter) "skoon" is, is dit die beste, skou-spelagtigste, eksentriekste sport op aarde.
Maar as jy vir ’n dag lank saam met derduisende mense vir iemand soos Vinokourov skree omdat hy met knieë wat aan steke hang soos ’n stoomtrein (geborg deur Kazakhstan Railway) verby sy opponente storm en ’n skof wen, in die geloof dat jy een van die ongelooflikste voorbeelde van vasberadenheid aanskou het, net om later te hoor hy’s kort daarna gediskwalifiseer is vir die gebruik van opkikkers, dan voel ’n mens tydelik ontnugter.
Ek is nie Vino se grootste aanhanger nie – hy sal immers nooit die podium haal in die Meneer Joviaal-kompetisie nie – maar mens moet respek hê vir sy vermoëns. Nou (as ons dramaties wil wees), hang daar deur sy eie waansin ’n wolk van suspisie oor sy hele loopbaan.
Ons almal vat kanse, dis net of jy daarmee kan wegkom wat saakmaak – as die hulpmiddels wat jy gebruik ’n stappie voor die toetse is. Wie, inderdaad, het nog nie vir ’n ander ’n vuilstreep getrek om self voor te kom nie?
Ek het in Standard 2 my beste vriendin se breipen gevat, want die kwaaiste juffrou in die skool sou my sweerlik onthoof as ek sou bieg dat ek een van myne verloor het. Maar toe, in my plek, rol my vriendin se kop.
Ek sal nooit die kyk in haar verwarde blou oë vergeet terwyl sy na my twee breipenne staar wat glad nie bymekaar pas nie.
Daar geld natuurlik verskillende toetse vir verskillende mense. Dis goed en wel dat JK Rowling vir Star Wars en Lord of the Rings naboots, en sy mag espressos drink tot die son opkom om haar volgende deadline te haal, maar kaffeine is eers sedert onlangs ’n wettige hulpmiddel in fietsry.
In sekere sporte mag jy ook meer hulpmiddels gebruik as in ander. En in die meeste is daar nie naastenby soveel toetse soos in fietsry nie. Gevolglik is dit dalk een van die skoner sporte – wie weet.
Die gebruik van opkikkers in die Tour de France bestaan al ongeveer sedert die begin van die resies ’n eeu gelede.
Vroeër was dit vermoedelik meer om die pyn te verdoof as enigiets anders, want destyds moes hulle dikwels langer roetes (ongeveer 2500km) oor ’n korter periode (in ses skofte, sommige deur die nag) in een rat aandurf.
In die vroeë 1900's was die hele resies soos iets uit ’n Wile E Cayote en Road Runner cartoon: die bewonderaars het spykers gelos in die pad van hul gunstelinge se teenstanders; baie van die deelnemers het vir ’n deel van die roete op ’n trein gespring of geryloop; en teenstanders het mekaar probeer vergiftig.
Toe dinge te erg raak, wou die organiseerders die resies kanselleer, maar hulle besluit toe eerder om die reëls strenger te maak.
Die roete was later 5 500km lank, met talle nagskofte. Ryers mag nie hulp ontvang het om wiele om te ruil of fietse reg te maak nie. Hulle moes so te sê met drade en stokke wat hulle in die veld opgetel het hulle eie fietse regmaak. Hulle kon eers in die laat 30's fietse met ratte begin gebruik. Stel jouself bietjie voor hoe jy by die Alpe opry met ’n plaasfiets.
Die eise wat aan die ryers gestel is, was geweldig – nie net deur die roete nie, maar ook deur borge en bestuurders. En dit het indirek daartoe gelei dat die Britse ryer, Tom Simpson, in 1967 op Mont Ventoux beswyk het. Deels aan hitte-uitputting, maar ook aan ’n dodelik kombinasie van amfetamines en alkohol.
Dit is toe wat die toetsery in fietsry begin het. En sedertdien word daar onverpoosd vir ’n skoner Tour de France baklei.
So, vir enigeen van julle (belastingontduikers, roofkopie-besitters of straatnaamdiewe) wat iets te sê het oor die sogenaamde "Tour de Farce" – speak to the hand.
(SA Times, 8 Aug.)
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment