Saturday, April 11, 2009

Dag 87 - Put People First, G20 Rally

87/365 - Put People First, G20 Rally
Hierdie foto is by 'n G20 rally geneem - 'n paar dae voor 1 April se moles. Volgens wat ek kon sien, het die oorgrote meerderheid van die betogers SO gelyk: onskadelik. Daar was enkele aggressiewe opinies, maar ek twyfel of enigiemand wat daar was op enige stadium bedreig gevoel het.
Ek het talle verveelde polisiemanne sien rondsit - gereed vir 'n konfrontasie wat nooit plaasgevind het nie. Dis natuurlik beter om voorbereid te wees, so dis als goed en wel. Dit was net vir almal 'n bietjie van 'n anti-klimaks. Vir die polisie ook.

Die 1e April se betogings sou nie so rustig wees nie, daarvoor het 'n grootskaalse opswepery en bangpratery voor die tyd goed gesorg. Mense wat in die Stad werk is aangese om informeel aan te trek om te voorkom dat hulle teikens word. (Maar dit was net pienk hemde en ontwerpershandsakke oral waar jy kyk. Vir wie moes dit flous?)
Die polisie wou skade beperk en het 'n kordon rondom die betogers gevorm ('n 'kettle') en vir die volgende vyf ure niemand in of uit gelaat nie. Dit is iets wat die meeste mense aggressief en paniekerig sal maak. Baie mense is rondgestamp en onnodig hardhandig hanteer, maar die polisie het (en kon) nie onderskei tussen vredeliewende betogers, iemand wat oppad was na 'n vergadering, en 'n skollie wat spesiaal van Duitsland af gekom het om 'n paar bakstene te gooi nie. Tog - as Ian Tomlinson nie na so 'n onderonsie met die polisie aan 'n hartaanval dood is nie, sou niemand waarskynlik die polisie se metodes bevraagteken het nie.

No comments: