Saturday, November 28, 2009

'n Fotojoernalistiek-erige workshop

Ed Terakopian workshop

Ek het Ed Terakopian se blog begin volg nadat ek vroeer vanjaar 'n foto van hom by 'n persfotografie-uitstalling gesien. Toe ek sien hy bied 'n workshop vir 15 pond aan, het ek dadelik 'n plek bespreek. Dit was die eerste workshop wat hy aangebied het, en die eerste een wat ek bygewoon het, so niemand het regtig geweet wat om te verwag nie. Sy volgende een sal waarskynlik meer gefokus wees, maar ook aansienlik duurder.
Dit was baie interessant om te hoor hoe hy werk en so, maar ek kan nie juis se ek het waardevolle nuwe tegnieke geleer nie. (O, behalwe die volgende: moenie trainspotter grappies maak waar 'n groot groep fotograwe bymekaarkom nie!)
Dis natuurlik altyd handig om mense in die industrie te ontmoet (veral sulkes soos hy, wat gretig is om hulle kennis te deel), en om bietjie uit jou gemaksone te beweeg. Ook om weereens te besef dat mense met goeie tegniese kennis nie noodwendig goeie fotograwe is nie, of andersom.
Tussen 1 en 3 moes ons rondloop en 'n paar foto's neem. Ek was heeltyd onder die indruk die tema was 'street photography', maar blykbaar het ek dit gedroom, en was daar geen tema nie. Ons kon eintlik afneem wat ons wou. Dit sou geen verskil gemaak het aan wat ek afgeneem het nie, maar dit sou dalk beter wees (uit meeste van die ander kursus-gangers se oogpunt) as daar wel 'n tema was. Ek sukkel oor die algemeen met opdragte wat te vaag is. (Wat ook verduidelik hoekom my bloggery so 'n gesukkel is.)
Ek en Johnny het eers in Soho ingevaar, en uiteindelik by die South Bank gaan draai. Ons moes toe almal een foto kies wat dan bespreek sou word. Op die ou end was Johnny se foto onder die top vyf. Maar ek dink hy's van die eerste prys beroof!

No comments: