‘n Ruk gelede was daar ‘n rubriek in die SA Times (UK) waarin die skrywer ‘n aantal goed lys wat Londen vir haar spesiaal maak. Die lysie het my so gegrief, ek het verplig gevoel om dit met almal te deel.
Kan jy dit glo? seg ek vir my een vriend.
Nee, sê hy en probeer my ontsteltenis ewenaar, hoe kon sy vergeet om na my indrukwekkende bates te verwys?
Uhm, ja-wel, sê ek. Maar die punt is, sy waag dit om te sê as haar vriende by die huis haar leedvermakerig vertel van etes in die wynlande en pieknieks op die strand, sy (verbeel jou!) dit sou kon troef met 'n lysie van kamtige Londen-lekkertes. Die sluit o.m. die salige gevoel van 'n pond in jou hand in. Of ‘n cappuccino van Prêt a Manger. Of Harvey & Nichols se vertoonvensters vol verrassings.
Wie dink sy fool sy? braak ek gal. Ons was mos almal daar. Daar is nét móói níks op hierdie aarde wat beter as dit is nie!
Wat presies het hierdie tirade ontlok? vra my vriend versigtig (want hy ken sy plek).
Ek wonder met 'n dodelike uitdrukking op my gesig, hoekom ons hoegenaamd vriende is. Maar ek dink tog vir 'n sekond daaroor - nee, dit is nie PMS nie, en ja, ek verlang 'n bietjie huis toe.
Jy verstaan nie! probeer ek met hernude aggressie. AS jy hoegenaamd kan vergelyk, is daar dan niks beter in Londen nie?
Goeie vraag, dag ek. Ook maar goed ek het dit eerste gevra, want as dit aan my gerig was, sou dit my bietjie van stryk gebring het.
Ek meen, daar moet tog beter goed wees, want as daardie 'n tipiese lys is, wat soek ek hier? Ek kan mos nie hier bly vir daardie oppervlakkige redes nie? Sy noem wel dat almal hul eie lysies moet maak, maar hare het my ontstel, vermoed ek, omdat ek doodbang was ek kan nie 'n beter een saamstel nie. En dan hang daar 'n groot vraagteken oor my lewe hier.
Ek stem saam met haar dat 'n mens as jy daar op vakansie is, snaaks genoeg, terug verlang na die plek. Dis dan ook die rede hoekom sy haar lysie opgestel het - sy kon nie verstaan hoekom sy Londen so mis nie. Ek het self so uitgesien na my vakansie by die huis, ek’t vermoed ek sou glad nie weer wil terugkom nie. Tog, na ‘n paar weke daar, begin jy wel goed mis. Klein dingetjies en roetines wat deel van jou lewe geword het. En jou lewe is, hetsy tydelik of nie, hier. En jy mis dit.
Londen is aaklig aan die begin veral as jy alleen hier is, en boonop werkloos. Die konstante gril en stres is uitstekende materiaal vir erge trauma. Dis nie dat dit op ‘n dag skielik beter raak nie. ‘n Mens raak net gewoond daaraan. Die groen snot en slymballe lê nog steeds die wêreld vol, elke tweede mense loop jou nog steeds uit die grond uit, die lug is nog steeds grys, mense glimlag nog steeds net twee keer ‘n jaar as die son uitkom … maar dit is soos dit is en jy aanvaar dit so. Die oomblik wat jy ophou baklei en ophou vergelyk en ophou trugwens, het jy reeds wortel geskiet. Jou huis het saam met jou grense geskuif.
Party mense hier se gesprekke is besmet met Ja, maar by die huis….
Daardie alewige absurde kompetisie. Dis tog uiters dwaas om te vergelyk. Dit geld nie net vir die wisselkoers nie - alles is anders. Maar dis in ons natuur, want ons voel ons moet heeltyd die redes waarom ons hier is regverdig. ‘n Mens sukkel soms om te verduidelik wat jou hier hou. Baie is amper verskonend daaroor, maar jy wil konkrete redes gee, want jy voel (of eerder, word laat voel) soos 'n verraaier.
Ek weier om ‘n lysie met London-pluspunte te maak. Ek skaar my net eerder by Samuel Johnson wat meen When a man is tired of London, he is tired of life, as by die snuiter wat eendag gese het Aaaag nee wat, hierie plek het niks wat ekkie by die huis kan kry nie. Daar’s ‘ammie ‘n plek soos Shooters hier nie.
Maar gestel iemand druk nou ‘n weapon of mass destruction teen my kop en seg Wys My Jou Lys! dan sal ek baie vinnig ‘n boerseun se naam op die naaste stukkie papier skryf.
(Klets 2003)
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment