'Is dit nie gevaarlik nie?' vra mense gewoonlik as hul hoor jy doen sekuriteit. Dis nou as hulle ophou lag het. 'Ja', sê jy, 'jy kan jou dood verveel'.
Maar soms tart jy eerder die voorsienigheid as jou landlord.
Suid-Afrikaners, spesifiek diegene wat in jou opvoeding belê het, toon gewoonlik reaksies van skok en ontkenning as hul hoor waarmee jy jou langlewe-brood verdien. Suid-Afrikaners in Londen is meer simpatiek. Dié uniform hang om 'n geraamte in baie se kas.
Almal wat sekuriteit doen het 'n goeie verskoning. Niemand stel belang in jou redes nie, maar jy wil dit nogtans regverdig. Mens kan nie bekostig om te trots te wees nie. As jy kon, sou jy tog eerder heeldag Kubaanse sigare rook. Die beroep is ondankbaar en vernederend. Mense kyk na jou soos hulle maar altyd na die werkersklas kyk. Langs die neus af. Of glad nie.
Soggens vroeg en saans laat sien jy baie grys broeke en wit hemde op die treine. Jy knik maar in erkenning met mekaar se lot. Dis nou as moegheid jou nie oorval en jy myle anderkant jou bestemming, met 'n kwylkol op jou bors, by die see wakker skrik nie.
As sekuriteitswagte hulle op 'n partytjie in dieselfde geselskap bevind, kompeteer hul noodwendig oor wie dit nou eintlik die ergste het:
'Ek staan heeldag op dieselfde plek! Elke dag! Vir sewentien maande al!'
'Aaaag, dis niks!' sal iemand snork. 'Ek moet 12 uur 'n dag ses geboue met 43 verdiepings elk patrolleer … met ingroei-toonnaels.'
'Jy's gelukkig!' kom die troef: 'Ek deel 'n piepklein kantoortjie met 'n tipiese geezer.' En asof dit nie genoeg is nie… 'Hy bad glo een keer in ses maande. Maar ek dink hy oordryf.'
'Oooooo' sê almal grootoog en effens aangedaan, drink hul biere klaar en gaan slaap op die hoogtepunt van die gefuif. Môreoggend moet hulle weer vyfuur opstaan.
Jy voel so skuldig dat jy maar nog 'n Stella drink en almal se halwes leegmaak. Jy's régtig gelukkig en dit kan mos nie! Jou kollegas is nie stereotiep nie. Hulle dra net een ring aan elke hand, is intelligent en snaaks. Walglik soms, maar die dae raak lank en daar kom baie boeings oor.
Jy kyk elke aand wêreldklas konserte na werk. Van Buddy Guy tot die Royal Philharmonic Orchestra. Jy's nooit moeg of verveeld nie. Joanna Lumley sal onverwags langs jou stop en sê 'Hallo, ek's Joanna Lumley.' (Jy sal agterna nie onthou of sy ooit fabulous darling gesê het nie. Maar dit was.) Jy het die Koningin van té naby gesien, teësinnig met Prins Charles skouers geskuur, Emma Thompson deur die gange begelei, en met 'n (baie) oud-Eerste Minister oor die weer gesels.
Daar kom hordes gemoedelike toeriste na jou gebou wat dink jy's 'n rigtingwysers vir die toilet, die stasie, ditse gallery en datse brug. Jy ontmoet talle van die energieke en eksentrieke pensioenarisse wat Londen soveel karakter gee.
Soos Matthew wat heeldag in die grondvloer restaurant sit, mense kyk en wag vir 'n vriend wat nooit opdaag nie. 'Moenie van die grondboontjies eet nie,' waarsku hy 'n oorgewig Amerikaanse toeris ongevraagd. 'Dit gaan jou net nog vetter maak!'
Oppad om vir nog 'n konsert te bespreek, beduie hy onbeskaamd 'Daai man is drek.'
Ekskuus?
'Daai man is 'n direkteur.'
Um, hoe dan so?' vra jy besorgd.
'Hy sê ek mag nie heeldag in sy restaurant sit nie! Waarvoor het ek miskien geveg?'
Dan sal hy weer van sy vyf jaar in die RAF vertel. Hoe sy been gewond en sy oog uitgeskiet is. En terloops noem dat jy heelwat beter sou lyk as jy net 'n slag ordentlike klere sou aantrek.
Daar's die 80-jarige Amerikaner wat vir jou Sarie Marais sing, soos hy dit jare gelede in Londen gehoor het. En die groepie wat dikwels die eintlike vermaak tydens etensuurkonserte verskaf. Die lywe werk nie meer so lekker saam nie, maar dis pers hare en bont rokke wat doer draai dat jy net (ekstra ekstra groot) onderklere sien.
Jy staan soggens langs 'n massiewe borsbeeld van Madiba (met die aanhaling 'The struggle is my life') en besin. Jy tuur saam met hom na die manjifieke wiel wat voor julle in die pienk oggendlug troon, regs oor die Teems na Big Ben en Westminster, en links na Waterloo-stasie waaruit die kwaai korporatiewes begin stroom. Almal wil 'n huisie by die see hê. Almal hoop die struggle is verby… Ongetwyfeld. Maar jy het dit glad nie te sleg nie, en dit sal wys wees as jy by partytjies liewer stilbly as om, in stryd met tradisie, nie oor die trauma van die beroep te kompeteer nie. Jý is immers net gelukkig.
(Klets 2003)
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment