Monday, August 18, 2003

Glastonbury is een boerse paartie

Joe Strummer, oorlede hoofsanger van The Clash – een van Brittanje se suksesvolste groepe ooit, het dit glo gehaat om by die Glastonbury Festival op te tree. Hy wou eerder tussen die mense rondhang. En sedert die musiekfees (die grootste in Europa) se ontstaan in die ‘70s, sou jy hom glo jaar na jaar iewers op die Lost Vagueness veld - waar daar nou vir hom ‘n groot gedenksteen opgerig is - kry.

Waar hý was, sê hulle, was die paartie. Maar meer as dit, hy’t met al wat ‘n karakter is gesels en hom ontferm oor almal wat koud of nat of sonder drank is. Hy’t glo eenkeer vir amper twee dae geluister na iemand se geteem oor sy horlosie. Uiteindelik vra hy toe om gou na die horlosie te kyk. Dié gooi hy toe terstond in die vuur en sê vir die ou “Fokkof nou!” En dit som vir my nie net die die karakter van die man op nie, maar ook die van die fees. Meestal onvoorspelbaar, maar altyd onweerstaanbaar.

As een van die sogenaamde Glastonbury virgins was ek maar skrikkerig vir wat sou voorlê. Die hele bus het stil geraak toe ons reeds ‘n ent van die plaas die massiewe £1 miljoen omheining sien wat diegene sonder kaartjies moet uithou. (In 2000, het derduisende mense ingestroom. En weens die gevolglike chaos het die fees amper sy lisensie verloor.)

Dit voel behoorlik of jy op ‘n weermagkamp gaan – so met die vooruitsig van afsondering en gebrek aan fassiliteite. Die longdrops is boonop legendaries. En, ja, dit wat ek hierdie naweek gesien het behoort niemand op ‘n leë of vol maag te sien nie. Wat dalk verklaar waarom die meeste feesgangers deurentyd op een of ander manier hulle sinne benewel.

Iemand wat nog nooit daar was nie, weet nie wat om te verwag nie. Almal wat gereeld gaan kyk jou net met ‘n as-jy-maar-geweet-het glimlag aan en sê “Dis regtig moeilik om te beskryf”. Maar as jy vroeg Vrydagoggend jou uitgewerkte program saam met jou vooropgestelde idees opfrommel en begin om dit te vat soos dit kom, dan verstaan jy, man. Jy gee sonder enige protes aan die Glastonbury spirit - wat iets tussen ‘n Bybelse ideaal en Fear and Loathing in Lost Vagueness is - oor. En, ek is bevrees, dit ís regtig moeilik om te beskryf.

Hierdie naweek aan die einde van Junie op melkboer Michael Eavis se Worthy Farm is moontlik die weirdste en wonderlikste wat enigiemand ooit kan hê. Daar’s ‘n oneindige verskeidenheid goed om te beleef. Maar dis asof almal so min as moontlik doen en nie regtig kan onthou of hulle gesien het wat hulle dink hulle het nie. Soos die ou wat angstig op ‘n boodskapbord vra of iemand anders ook laasjaar ‘n Spaanse skip sien verbydryf het. (Iemand het gelukkig).

Alles is so absurd jy kan later nie onderskei tussen wat ‘regtig’ is en wat nie.

Daar’s die Healing Fields waar mense heeldag besig is met meditasie en massering, shiatsu of aromaterapie. En iemand wat wil weet hoekom jy nog nie jou tone name gegee het nie.

Op die Lost Field is daar ‘n Casino wat van middernag tot 5vm ‘n kabaret aanbied, waarvoor jy ‘n uitrusting moet huur. Maar as jy byvoorbeeld nie hiervan weet nie, en jy stap een oggend 6-uur slaapbeneweld daar verby en jy sien 30 mense in die eienaardigste uitrustings wat lyk of hulle dit elke dag doen, dan voel dit of jy per ongeluk soos Alice in die rabbit hole geval het.

Die hart van die fees lê in die Sacred fields rondom die Stone(d) circle. Daar’s dag en nag iemand wat tromme speel en begeesterde crusties wat in kringe dans. Sommige wat lyk of hulle al sedert die ‘70s daar kamp. Heelnag deur sit groepies mense om fakkels en kerse en gesels of slaap of staar in die niet – en as die son opkom is daar ‘n oorverdowende gejuig.

En dan die musiek: Ongeveer 200 groepe om uit te kies. R.E.M, Radiohead, Moby, Manic Street Preachers, David Gray en Suede op die Pyramid Stage alleen. Ook Fat Boy Slim, Röyksopp, Chemical Brothers, Doves… Die meeste mense loop maar doelloos van een veld na die volgende. As jy byvoorbeeld afkom op Har Mar Superstar met sy blink bokserbaadjie en manjifieke mullet en dis jou tipe ding, dan vergeet jy maar vir eers van die Inspiral Carpets.

Na afloop van hierdie mal naweek kry almal glo ‘n bietjie van die gevreesde Glastonbury down - elke doodgewone aktiwiteit verg skielik bonatuurlike inspanning, totdat jy genoegsaam herstel om vir die volgende fees te begin beplan. Want een ding is vir seker – jy gaan weer.

Dis nie net die wannabe-hippies van hierdie wêreld wat deur die gogga gebyt word nie: Daar’s so ‘n ongelooflike energie in ‘n Glastonbury-gehoor dat supersterre soos Michael Stipe en Paul McCartney baie mooi vra om daar te speel en dit boonop vir peanuts sal doen. As die energie positief is, kan ‘n optrede hier glo tot ‘n relatief onbekende groep se uiteindelike sterstatus lei – wat wel die geval was vir o.a. Pulp, Oasis en Robbie Williams (na sy breuk met Take That).

Dit blyk egter nou Robbie Williams se ‘sterstatus’ was maar net ‘n mite. Terloops, dieselfde Glastonbury-mites duik jaarliks op, soos dat iemand wat in ‘n toilet geval het net betyds gered is, of dat Cliff Richard tragies gesterf het.

Maar die vreemdste van alles is dalk dat party mense kies om eerder Wimbledon toe te gaan.

(SA Times 2003)

No comments: