Op 18 April is dit weer die London Marathon. Jy sal my nie naby daai spul hyg-elaars kry nie. Ek glo alle vorms van draf en hardloop (behalwe as dit vir ‘n bus is) is belaglik en onnodig. En masochisties! Het jy al gesien hoe ongelukkig lyk mense wat draf? Al wanneer hulle glimlag is wanneer hulle ‘n mollige dogtertjie op haar fiets teen ‘n bult verbysteek en oor hul skouers vra of sy OK is. In die jare toe ons nog verplig was om aan atletiek deel te neem, was daar mos altyd sulke kinders wat gatoorkop kon val en drie vingers en ‘n knie vergruis en dan met tenspytevan-determinasie opstaan om die wedloop onder staande applous (en
Jannie is our hero!) te voltooi. Nie ek nie. Ek het bly lê en gewonder wat my in die eerste plek besiel het. Nee, ek sou eerder na die Albaster Wêreld Kampioenskappe op Goeie Vrydag gaan kyk as na die Londen Marathon.
Maar ek wou nie eintlik oor atletiek praat nie, ek wou net sê dis nog 'n gebeurtenis wat elke jaar plaasvind wat my laat wonder hóé dit gebeur het dat nog 'n jaar verby is. Ek kan regtig nie glo dis ‘n jaar sedert die vorige marathon nie. Verlede jaar het ‘n outjie in ons huis daar gewerk as deel van ‘n span wat barriers moet pak om die skare op hul plek te hou. (Hulle noem dit “event management” vir CV-doeleindes.) Laat die aand kom hy toe by die huis met bokse vol oorskiet geskenkpakke wat hulle vir die vroulike deelnemers gegee het. Dit was soos krismis. Ons het die medaljes en T-shirts en sanitêre produkte vir liefdadigheid geskenk. Die energybars en koeldrank het eerste verdwyn. Toe die pasta met die lekker sous. Ek weet nie wat van die haarjel geword het nie. En die bruinsuiker hou nou nog. ‘n Hele jaar later.
(Klets - April 2004)
No comments:
Post a Comment