Die meerderheid van die gestremde bejaardes wat daar aangekom het, was gewoonlik uiters onbeskof as jy nie van myle ver af kon sien dat hulle die sticker het nie, en ek wou onnodige konfrontasie vermy. Maar die kar het bly staan en iemand binne-in het met my begin praat. Ek moes buk en soortvan binnetoe leun om die man in die verste hoek agter in die kar te sien. Die ander mense met hul deftige klere het net vinnig na my gekyk en toe weer voor hulle gestaar. Die man het entoesiasties begin beduie en vertel hoe alles verander het sedert hy laas daar was. En hoe wonderlik dit was. Die mense in die kar het begin rondskuif en op hul horlosies gekyk. Ek het nie veel gesê nie en ek kan ook nie onthou wat nie, maar hy het baie aandagtig en meelewend geluister. Terwyl hy gepraat het, het ek besef hy’s bekend, maar ek kon glad nie op sy naam kom nie. David? Het ek gewonder Nee. Richard? Attenborough? Dalk. Maar ook nie. Iets van Rusland, het ek gedink. From Russia with Love? James Bond? Q? En toe hulle uiteindelik om die draai verdwyn besef ek dit was Peter Ustinov.
(Klets - April 2004)
No comments:
Post a Comment