Tuesday, May 18, 2004
Op 'n Eiland
Toevallig moes ek ook in die week my Yahoo! mailbox skoonmaak, want hulle gee my heeltyd histeriese waarskuwings dat dit 113% vol is. Met dié kry ek toe ‘n paar ou e-posse van mense in SA, met my oorspronklike e-pos onderaan. Presies drie jaar gelede, blyk dit, het ek gedink alles is suf en stink en ruik na kerrie en motballe. Ek kon vir maande nie marmite eet nie, want alles wat verwaarloos gelyk het, het daarna geruik.
Ten minste drie Italianers het my in een week voorgekeer en met my begin Italiaans praat. (Na 'n lang somer in SA het ek seker soos Sophia Loren gelyk! Of soos 'n dwelmhandelaar.)
Huh? Sê ek dan.
> En hy sê: Ek dog jy’s van Italië?
> Ek sê nee, ek issie. Wat's jou f****n probleem? (Die laaste stukkie is 'n leuen.)
> En hy sê: You wanna walk together?
> (Kan jy dit glo? Dis die tweede ou, dieselfde gesprek!)
> Toe sê ek: NO. Actually, I DON'T!
> En toe hardloop ek weg, en hy mompel iets obskuurs in my rigting.
> Gelukkig was dit naby al daai guards.
> Maar dink jy hulle sou 'n aks beweeg het as daai pastabreath my wou lem?
Ek was toe nog geweldig opgewonde oor al die gratis presente (soos U2 CDs) wat jy binne in 50p koerante kon kry. (Ek is steeds, maar nie meer so geweldig nie.) En ek het gedink EastEnders is beter as Egoli. "Seker omdat ons hier meer kan relate met die skom van Noord-Oos Londen, as met die yuppies van Gauteng."
En ek onthou die desperaatheid nadat ek aanvanklik vir drie weke werkloos was.
> Ammal hier is so sad en depressief. Ek's bang dis aansteeklik.
> Die stad is vuil en grillerig. Ek twyfel of ek die winter nog hier gaan wees.
> Ek sal sterf van verdriet.
> Dis regtig nie altyd so lekker nie. Goddank vir nice mense en mooi parke
> en mooi geboue en mooi kuns.
> Dalk gaan ek sommer Ooste toe.
> Of dalk raak ek so lief vir die plek dat ek nie meer maaind nie.
> Of liewerster, comfortably numb. Of skizo soos die res.
> Ek sal 100% meer positief wees as ek ponde maak.
En ek was. 100% meer positief én comfortably numb. En toe ontmoet ek vir Werner, saam met wie die hele lewe soos 'n kinderpartytjie is.
(Klets - Mei 2004)
Hoe lykkit my bra
Maar die absurdheid raak alledaags. Die man met sy vertikale strepe broek en horisontale strepe baadjie verdien nie eens ‘n tweede kyk. Ook nie die bejaarde vrou in Hari Krishna‑gewaad wat elke dag in Sloane Street (die een met al die ontwerperswinkels) afry met ‘n skopfiets nie.
Dalk nog die man met 'n hoed gemaak uit die onderste helfte van ‘n bruin A4‑koevert vol algebra‑probleme, en papierkabels om sy ore. Maar eintlik meer omdat hy stukkies gemors by jou voete wil optel.
En so kom ek noudie aand laat by die huis. Trek uit, gooi my klere oor die stoel. Werner kom later by die huis, trek uit, gooi sy klere oor die stoel. Volgende dag waai ek vroeg, los my klere van gister net so op die stoel. (Nee, ek’s nie so grootgemaak nie.) Werner waai ‘n bietjie later, gryp sy baadjie van die stoel, kry ‘n bus van Colliers Wood na South Wimbledon, en stap nog ‘n ent in die besige hoofstraat na die bank. ‘n Meisie loop na hom toe. Hy dog sy wil rigtings vra. Sy sê jy gan nou baie embarrassed wees, mar ek moet jou net sê – daar hang 'n bra onder by jou baadjie uit.
(Klets - Mei 2004)
Friday, May 14, 2004
Witamy naszych polskich przyjaciól w europejskiej rodzinie
Op 1 Mei het 10 nuwe lande by die EU aangesluit. Daai dag het dit 'n bietjie soos met SA se eerste demokratiese verkiesing gevoel. Die groepies blas Oos-Europeërs wat deur die strate loop en sing, en die groepies wittes wat met onsekerheid en 'n ligte paniek na hulle staar. Vroeg in Mei reeds was daar aansienlik meer Oos-Europeërs op die busse en treine. Hulle lyk merkwaardig baie soos Suid-Afrikaners. En reageer ook nogal dieselfde. Partykeer as een op die telefoon praat, sien jy op 'n ander plek in die bus twee ander wat vinnig vir mekaar kyk, en glimlag en probeer hoor wat daardie een sê. Net soos wat die Suid-Afrikaners doen. En as die foon lui en hulle voel nog nie so vertroud met die Engels nie, bloos hulle ook diep rooi, gryp met hul hande in die lug na woorde, en sug uitasem as die gesprek verby is.
Ek wonder net - as die Engelse sukkel om Lalla of Ronel te sê, hoe gaan hulle maak met Ksawery Duhacek of Alojzy Djindjic?
(Klets - Mei 2004)
Pommies vir beginners
Britsheid, sê Martin Bell (verslaggewer en UNICEF ambassadeur), is die ordentlikheid om by elke moontlike geleentheid oor die weer te praat. Dis ook ‘n neiging om, wanneer ‘n vreemdeling op jou voet staan, om verskoning te vra.
Dit sit nie in enigeen se Burberry-broek om die Britte in 'n paar sinne op te som nie, maar ek sou dit self nie beter kon sê nie!
Sien, dis moeilik om ‘n nasie te beskryf as jy skaars ‘n handvol van hulle baie goed ken. Aanvanklik het ek gedog die mense vermy my oor my biltongasem, maar die feit is, daar’s nooit genoeg tyd om hegte bande met enige van hulle te smee nie. As hulle nie besig is om iemand met vuil kyke te vernietig en te pletter te loop nie, kyk hulle EastEnders, hou vakansie by die Costa del Sol of wag hulle geduldig vir 'n bus of in 'n tou by MacDonalds, of vir 'n afspraak by die NHS. Die ongelooflike talentvolle, gasvrye en snaakse mense wat my vriende sou kon wees maak voltyds musiek of programme soos Bo Selecta en Phoenix Nights. Die res van die volk drink iewers tee.
Die meeste Suid-Afrikaners wat ek ken het ook nie juis Britte op hulle verjaardagkalenders nie. Waarskynlik sou dit makliker wees om vriende buite Londen te maak, maar in die stad is dit elke man met sy vooroordele vir homself. Hulle dink ons is hier vir die paartie en ons help hulle miskien nie reg nie. Dan is daar nog goed soos beginselsake. Vir Ronel, ‘n selferkende worsfanatikus byvoorbeeld, is dit maar ‘n gesukkel. Hulle wors suck, se sy. Én dis ‘n toonbeeld van Engelse mans – bleek, kort en sonder smaak!
Dis asof ons hulle (Londenaars) verdeel in dié wat orraait is, maar hulle afstand hou; die chinless wonders wat in een sin kan sê okiedoke, jolly good, cheerio, en dink als wat vreemd is, is dom en ‘n bedreiging; of die trainer- en tracksuit tappets (soos Amelia sê), wat 15cm-radius goue hoepels deur hul ore werk en na elke derde woord yeah sê.
Pogings om Britsheid te definieer het veral vanjaar baie aandag in die media geniet. Dit het als begin toe David Blunkett verlede jaar voorgestel het dat almal wat Britse burgers wil word 'n Britsheid-toets moet skryf waarin hulle moet toon dat hul ‘n goeie begrip van die VK se taal, wette en waardes het.
Maar jy kán tog nie Britsheid definieer nie? het almal oorbluf gesê, en onmiddellik gekyk wie dit die beste kan doen.
Linda Colley, ‘n geskiedkundige, het soortvan impliseer dat die volk 'n identiteitskrisis het deur te sê die gesprek is juis daar omdat Britte nie meer verenig is in ‘n behoefte om oorlog te maak nie. Hulle is ook nie meer almal Protestante nie, en daar’s nie meer die self-belang om aan ‘n massiewe globale koninkryk te behoort nie.
Die skrywer en regisseur Richard Eyre het 'n baie raak beskrywing van die Brit-psige gegee, en ek sal weereens sukkel om dit beter te stel. Volgens hom hou hulle daarvan om as ‘n bron van kreatiewe energie in mode, musiek en TV komedies gesien te word. Hulle is soms trots op (en dikwels skaam vir) hul sporthelde. Hulle hou nie daarvan om slegs vir HP sauce, Marmite, rooi busse en posbusse, vrot tande, en Cool Britannia lof te kry nie. Hulle hou van hul reputasie as ‘n ietwat eksentrieke volk, met eeue-oue tradisies, wat glo in vryheid en demokrasie. Hulle sien hulleself as prakties, ordentlik en regverdig. Tog, voeg hy by, hierdie kwaliteite sou 100 jaar gelede op die eiland erken word, maar nie deur die Boere of Zulus of die meeste Indiërs op die sub-kontinent, wat ook wreedheid, hooghartigheid, vooroordele en snobbisme sou raaksien nie.
In hierdie paranoïese terrie-agter-elke-bos dae, is hierdie ongelukkig ook die eienskappe waarmee baie immigrante die meeste te doen kry.
Die man op straat gaan nie juis deur 'n eksistensiële krisis om te besluit waar sy kulture fondamente lê nie. Waar dit vir ons biltong en Mrs Balls is, is dit hier geroosterde biefstuk, Yorkshire pudding en vis en tjips – soos wat 73% (uit 1000 Britte) in 'n onlangse studie besluit het. Vyfde op die lys van wat hul die meeste as 'n nasie definieer, was tee drink.
En tog was die volk baie ontstelt toe ‘n nuwe DK Eyewitness reisgids besoekers aan Britanje waarsku dat die land elke middag vir tee en scones sluit. En skilder ‘n prentjie van Britte wat middae 4-uur vir delikaat gesnyde vissmeer- en komkommerbroodjies aansit.
Komkommerbroodjies? Is dit waarom elke tweede kind ‘n pokkel is en die meerderheid van die volk vetsug het? Die enigste komkommer wat jy hier tussen twee broodjies sal kry, is as dit bo-op twee patties met ekstra kaas lê. En dan noem jy dit ‘n gherkin.
Maar wat's die storie met die tee? vra jy. Daar is nie een nie. Hulle het net eenvoudig ‘n onversadigbare dors daarvoor. Of dit nou vir hot water with a spot of milk, ‘n gewone cuppa, peppermint, of deesdae ook Rooibos is.
Ek het die volgende teorieë oor die ongewone gewildheid van tee op 'n Amerikaanse webblad gesien:
- Tee is die bron van hulle superkragte - mislikheid en slegte tande. Ek behoort te weet, my tannie is ‘n Brit.
- Buitestaanders weet dit nie, maar Britse tee bevat eintlik ‘n ligte hallusineermiddel wat hulle help om Britse komedie te waardeer.
- Hulle hou van alles waaruit jy alle lewe kook, en dan eet.
Gelukkig, met 'n aweregse sin vir humor en selfspot as hul allerbeste bate, kan 'n mens lekker met die Britte mors. Jy kan, om die waarheid te sê, mors met 'n guv’, yob, geezer, bloke, lad, Scouser, Brummy, bird, Geordie, love, tosser, nutter, Cockney, slapper of selfs 'n poncey bastard. Maar moenie sukkel met sy vlag nie. Dan sal jy sien hoe wonderlike patriotisme met genoeg provokasie in iets morsigs kan ontaard. En reeds het, as jy kyk hoe immigrante daagliks in sommige koerante gestereotipeer word.
(Klets - Mei 2004)