Ek en Werner het pas ons eerste huweliksherdenking gevier. (In ‘n Michelin‑ster restaurant nogal.) Dit is ook nou presies drie jaar sedert ek Londen toe gekom het. Een van die belangrikste oorlewingstegnieke wat ek in die tyd geleer het (en as iemand wat uit die Hantam kom was dit nie maklik nie), is om nie heeldag na die lug te kyk om te sien wat die wolke maak nie. Ek weet hoe dit gaan lyk. Ek verwag nie meer dat dit ‘n mooi of lekker dag moet wees, net omdat dit somer is nie. Ek waardeer dit net wanneer dit daar is. (Ditto vir werk, mense, ens.) Ek het ook geleer mense wat die maklikste en gelukkigste deur die lewe gaan, is dié wat hulle nie deur nostalgie laat lam lê nie.
Toevallig moes ek ook in die week my Yahoo! mailbox skoonmaak, want hulle gee my heeltyd histeriese waarskuwings dat dit 113% vol is. Met dié kry ek toe ‘n paar ou e-posse van mense in SA, met my oorspronklike e-pos onderaan. Presies drie jaar gelede, blyk dit, het ek gedink alles is suf en stink en ruik na kerrie en motballe. Ek kon vir maande nie marmite eet nie, want alles wat verwaarloos gelyk het, het daarna geruik.
Ten minste drie Italianers het my in een week voorgekeer en met my begin Italiaans praat. (Na 'n lang somer in SA het ek seker soos Sophia Loren gelyk! Of soos 'n dwelmhandelaar.)
Huh? Sê ek dan.
> En hy sê: Ek dog jy’s van Italië?
> Ek sê nee, ek issie. Wat's jou f****n probleem? (Die laaste stukkie is 'n leuen.)
> En hy sê: You wanna walk together?
> (Kan jy dit glo? Dis die tweede ou, dieselfde gesprek!)
> Toe sê ek: NO. Actually, I DON'T!
> En toe hardloop ek weg, en hy mompel iets obskuurs in my rigting.
> Gelukkig was dit naby al daai guards.
> Maar dink jy hulle sou 'n aks beweeg het as daai pastabreath my wou lem?
Ek was toe nog geweldig opgewonde oor al die gratis presente (soos U2 CDs) wat jy binne in 50p koerante kon kry. (Ek is steeds, maar nie meer so geweldig nie.) En ek het gedink EastEnders is beter as Egoli. "Seker omdat ons hier meer kan relate met die skom van Noord-Oos Londen, as met die yuppies van Gauteng."
En ek onthou die desperaatheid nadat ek aanvanklik vir drie weke werkloos was.
> Ammal hier is so sad en depressief. Ek's bang dis aansteeklik.
> Die stad is vuil en grillerig. Ek twyfel of ek die winter nog hier gaan wees.
> Ek sal sterf van verdriet.
> Dis regtig nie altyd so lekker nie. Goddank vir nice mense en mooi parke
> en mooi geboue en mooi kuns.
> Dalk gaan ek sommer Ooste toe.
> Of dalk raak ek so lief vir die plek dat ek nie meer maaind nie.
> Of liewerster, comfortably numb. Of skizo soos die res.
> Ek sal 100% meer positief wees as ek ponde maak.
En ek was. 100% meer positief én comfortably numb. En toe ontmoet ek vir Werner, saam met wie die hele lewe soos 'n kinderpartytjie is.
(Klets - Mei 2004)
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment