Londen is soos ‘n Monty Python skets. As jy jou neus by die deur uitsteek is dit asof daar ‘n stem uit die posbus kom wat sê And now for something completely different!
Maar die absurdheid raak alledaags. Die man met sy vertikale strepe broek en horisontale strepe baadjie verdien nie eens ‘n tweede kyk. Ook nie die bejaarde vrou in Hari Krishna‑gewaad wat elke dag in Sloane Street (die een met al die ontwerperswinkels) afry met ‘n skopfiets nie.
Dalk nog die man met 'n hoed gemaak uit die onderste helfte van ‘n bruin A4‑koevert vol algebra‑probleme, en papierkabels om sy ore. Maar eintlik meer omdat hy stukkies gemors by jou voete wil optel.
En so kom ek noudie aand laat by die huis. Trek uit, gooi my klere oor die stoel. Werner kom later by die huis, trek uit, gooi sy klere oor die stoel. Volgende dag waai ek vroeg, los my klere van gister net so op die stoel. (Nee, ek’s nie so grootgemaak nie.) Werner waai ‘n bietjie later, gryp sy baadjie van die stoel, kry ‘n bus van Colliers Wood na South Wimbledon, en stap nog ‘n ent in die besige hoofstraat na die bank. ‘n Meisie loop na hom toe. Hy dog sy wil rigtings vra. Sy sê jy gan nou baie embarrassed wees, mar ek moet jou net sê – daar hang 'n bra onder by jou baadjie uit.
(Klets - Mei 2004)
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment