Verlede jaar het ek eers ‘n maand voord die einde van die Big Brother-spektakel begin belangstel. Teen daai tyd kan ‘n mens dit nie meer vermy nie, maar toe het ek myself ingeleef soos een van daai anties wat jy langs ‘n stoeikryt sien. Nie dat ek wil hê enigiemand moet my as ‘n antie langs ‘n stoeikryt visualiseer nie – ek kan net met hul meelewendheid assosieer. In elk geval, vanjaar se reeks is nog skaars drie weke aan die gang, maar ek’s kommerwekkend goed ingelig oor die klomp se doen en late. Ek was aanvanklik geinteresseerd omdat ek gehoor het daar gaan ‘n Suid-Afrikaner (met Britse ouers) in wees. En, soos julle weet, as jy eers begin kyk kan jy nie ophou. Jy sal vir ‘n halfuur na iemand kyk wat slaap, besef wat jy besig is om te doen en dan aggressief raak oor die k*k op TV. Dan werk jy binne vyf minute deur die hele satellite-skedule, en is betyds terug om te sien hoe iemand omdraai.
Vanjaar se groep is gekies vir optimale konfrontasie. Daar’s ‘n biseksuele haarkapper, ‘n lesbiese aktivis, ‘n meisie wat op bladsy drie wil pronk, ‘n posh kunsstudent, ‘n voormalige Mr Best Buttocks South Lanarkshire, ‘n Somaliër wat as vlugteling Engeland toe gekom het, ‘n gay man wat homself as die “biggest bitch on the planet” beskryf, ‘n hoofseun-tipe, ‘n uitbundige Portugees wat ‘n geslagsverandering ondergaan het, en ook (soos die Mirror na hulle verwys) die “pig-like squealing Emma and Michelle … two sophisticated products of the underclass”, “thick-as-a-plank Victor” wat van ‘n council estate kom, “supremely idiotic Emma”, en so aan. Niks, dus, wat mens nie elke dag op die bus sien nie. Maar hierdie mense moet vir ‘n paar maande in ‘n redelike klein huis saambly. Bloot toevallig hou die “biggest (en mees histeriese) bitch on the planet” nie van asielsoekers of mense wat van council estates kom nie, en is die asielsoeker en Mr Best Buttocks beide homofobies.
Die spul het nou die aand so baklei dat die polisie en sielkundiges ingeroep is. Dis die drank, het almal besluit. Die posh een was so ontsteld oor die geweld en beledigings, dat sy fisies naar geword het. (Ek het dit baie op Stellenbosch gesien – studente wat kniel voor die groot wit telefoon en skree Dis die geweeeeld! Ek gaan nooit weer TV kyk nieee!)
Dis altyd (erken dit maar) interessant om te wonder wie dit na die tyd gaan maak. Die eerste een wie se potensiaal raakgesien is, is Michelle wat graag vir almal haar “baps” wys. Haar droom om ‘n voorbladmeisie te word kan glo waar word. Die boerdery-tydskrif Practical Poultry wil haar gebruik, as gevolg van haar obsessie om almal “chicken” te noem.
Daar is ook natuurlik ‘n eienaardige satisfaksie daarin om hulle almal vir als wat dom en sleg is af te maak. (As jy gaaf is.) Maar, soos die Mirror sê, mens moet onthou “the unfortunate contestants whose emotions are being so blatantly played with are, loosely speaking, human beings”.
(Klets - Junie 2004)
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment