Monday, June 14, 2004

MIELIES!! VISAS!!

Teen die tyd het almal al seker die een gehoor van hoe 120 ouens van Scotland Yard vroeg een oggend by 12 huise ingebars en 20 mense arresteer het, oor ‘n studentevisa bedrogspul waarby meer as 1000 Suid-Afrikaners betrokke is? Snaaks, né?
Die polisie keer mos elke nou en dan so ‘n paar mense aan vir immigrasie-oortredings. Dan was dit só ‘n groot operasie, en sóveel duisende ponde daarby betrokke. En almal kan nou ontspan want nou kan julle sien (want tydens die operasie was daar “toevallig” ‘n paar fotograwe en joernaliste van die voorste dagblaaie by) ons is in beheer van die situasie. Vir die res: Watchit!

Daardie 20, en daardie 1000 is seker nie eens ‘n druppel in die dodgy visa emmer nie. Volgens die polisie is die 1000 Suid-Afrikaners onbewustelik in die lokval gelei, en “sal hulle asseblief vorentoe kom as getuies?”
‘n Paar is dalk onskuldig, maar definitief nie almal nie. Wie sal uit Suid-Afrika aansoek doen om by ‘n onbekende kampus in Suid-Londen te swot? Uit ‘n 1000 - ek sou sê 100%. Maar dan alleenlik omdat dit ‘n (taamlik maklike) manier is om in die land te kom. Eintlik wil ek waag om te sê nie een van daardie 1000 wou regtig hier kom swot nie. Nie dat ek dink daar’s iets daarmee verkeerd nie! As ek 34 was en ‘n bietjie die Pomme se skottelgoed wou was of hul verstopte dreine wou regmaak sou ek dit ook oorweeg. Ek meen net hulle is baie gelukkig dat die polisie hulle die voordeel van die twyfel gee.

Sien, om te kwalifiseer vir ‘n studentevisa moet jy ten minste 15 uur gedurende die week op die kampus deurbring, en kan jy dus nie meer as 20 uur per week werk nie. En teen die minimum loon, sou jy daarvoor ‘n hool van ‘n kamer met drie ander (gesinne) moes deel. Dit is hopeloos te min vir mense wat gewoonlik tussen 48 en 84 uur ‘n week werk. Sodra ‘n jaar om is, en hulle nie eksamens geskryf of punte gekry het en gevolglik nie weer vir ‘n studentevisa aansoek kan doen nie, is hulle basies gestrand op die Eiland, maar vir baie is dit nie so ‘n slegte vooruitsig nie. Hulle bly tot hulle nie meer wil nie, en dan gaan hulle terug waar hulle vandaan kom. Of hulle koop nog ‘n visa, waarvan die prys gewoonlik ook ‘n uitslagadvies en ‘n sertifikaat insluit!

Tog, ek sien die polisie se punt in. Een outjie met ‘n “vals” visa is nie naastenby so ‘n probleem soos, seg maar, ‘n opportunis van Suid-Afrika wat al vir ten minste drie jaar lank studievisums vir £1000 en ancestral visas of werkspermitte vir tot £4000 verkoop nie. En, al slaap hulle nie meer so lekker nie, loop daar nog baie van hulle daarbuite in hulle Prada-skoene rond.

(Klets - Junie 2004)

No comments: