Die Engelse praat graag oor die weer. Jy sal nog dink dis iets wat hul doen om ongemaklike stiltes te vermy, maar nee. Hulle wil daaroor praat. Onophoudelik.
Nou het ons mos die langste winter in menseheugenis gehad. In hierdie mens se heugenis, in elk geval. Ons het darem vier dae sonskyn gehad. (Waarop almal wat nog hulle tone kan sien, gedink het dis verpligtend om hulle deurskynende, drillerige lywe vir die wereld te wys.)
En tussendeur het dit gebliksem en gedonder vir die vale. Dit stormreën so, dit lyk of iemand die badwater oor ons uittap. En in 'n stad wat tot stilstand kom in temperature hoër as 30 en laer as vyf, kan jy jou die chaos voorstel.
Wel, nie al die chaos nie. Want hoeveel van julle sou byvoorbeeld raai dat die oorwerkte Victoriaanse dreine nie onder sulke druk kan presteer nie, en dat meer as 'n miljoen ton onbehandelde rioolwater in die Teems geloop het. Derduisende visse het gesneuwel. Wat 'n nare, aaklige dood. Dis soos om jou kop in 'n verstopte toilet te druk en dit daar te hou. (Kry visse konvulsies?)
Die Teems was reeds nie so vars nie. My neef Dirk moes eenkeer 'n hond behandel wat met 'n klein seerplekkie in die Teems gaan speel het, en met 'n etterige wond op die operasietafel geëindig het.
Maar daar is meer as net 'n paar allemintige groot drolle in die drinkwater.
Ek's die afgelope tyd besonder vrolik, en dag toe dis oor die vier son-dae. Of oor ek bedank het. Nee, seg die omgewingsguru's. Dis oor jy so baie water drink as gevolg van jou alewige en allemintige na-dors. Sien, Prozac word deesdae vir so baie mense voorgeskryf dat tekens daarvan in die (behandelde) drinkwater bespeur word.
Maar, lag hulle emosieloos, hulle dink nie dit hou enige nadele in nie.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment