Thursday, October 12, 2006

Niemand’s nog dood van harde werk. Van vervelige werk wel

Verlede week het 'n berig in die Metro ons versoek om vir 'n wyle aan Keith Jackson te dink. As jy dink jou werk is vervelig, het dit beweer, het jy nie 'n benul deur watse hel Jackson daagliks gaan nie - die arme drommel word betaal om te kyk hoe verf droogword.
Jackson dink self sy werk is taamlik opwindend, veral die deel waar hy met sy vinger teen die verf moet druk om dit te toets. Mens is geneig om hardop te wonder of hy nie te veel dampe ingeasem het nie (en wie sou hom kwalik neem!), maar ek stem saam – dis glad nie so erg nie.
Is daar énigiets meer bevredigend as om te wag tot verf droog is om te sien of dit onslae geraak het van hardnekkige blou wondergomvlekke en mufkolle...? Goed, daar is seker. Maar al is dit nie die wêreld se gewildste adrenalien-sport nie, kan ek sien dat daar 'n mate van satisfaksie betrokke is. Omdat Jackson se maatskappy verf vir die London Underground vervaardig, moet dit wonderlik wees om te sien hoe mense 5vm vir die laaste oop sitplek kan resies hardloop, bo-oor iets wat 3vm geverf is.
Die Metro lys 'n paar ander mense wat kamtig sieldodende werk het, o.a. soldate op die Groot Muur van China, wagte by Buckingham Paleis, en ski-lift operateurs.
In die Middeleeue, moes offisiere glo elke minuut van hul lewens op die Groot Muur van China spandeer, met 'n kort breuk om in 'n grot te gaan slaap. Hoe sleg kan dit wees? Die muur is amper 6,500km lank – genoeg ruimte vir 'n leeftyd se vermaak. Party mense betaal om daar te wees!
Buckingham Paleis wagte sal dink: Hulle is gelukkig! Ons moet - selfs tydens die warmste Julie in menseheugenis – emosieloos rondstaan met hoedens van (bykans uitgeroeide) Kanadese bruinbere se basvelle, en dit terwyl toeriste ons koggel. Dis 'n geweldige uitdaging - hoe kan hulle verveeld wees?
Ski-lift operateurs het ook glad nie 'n slegte lewe nie. Hulle kan (en sal) aan die onderkant lekker lag vir die losers wat voor 'n aankomende lift val en dan vir die vale moet koes vir die volgende een. En aan die bokant kry hulle ongeëwenaarde werksbevrediging as hulle iemand - wat in die eerste plek nie op die lift wou klim nie en gevolglik onwaardig afrol en hul wind uitval (sjym) - uit die pad skop sodat die volgende mense grasieus kan afskaats.
In teenstelling met die Metro se idee van die verveligste werke, het die regering se Training and Development Agency vroeër vanjaar 'n behoorlike opname onder 2,100 gegradueerdes gedoen. Daarvolgens blyk dit asof sekretaresses die wêreld se verveligste werk het. Dis glo meer vervelig as om op 'n produksie-lyn in 'n fabriek te werk. Kyk, ek weet nie wie aan die studie deelgeneem het nie, maar 'n mens wat in 'n produksielyn werk en sê sy werk is nie só vervelig nie, is natuurlik reeds in 'n koma en kan nie verantwoordelik gehou word vir sy uitlatings nie.
Van die minder ondraaglike werk is glo in gesondheidsdiense en in die gasvryheids- en toerisme-industrie.
Ek kan dit beaam. Ons ken iemand wat 'n op-en-wakker ou tannie oppas wat in haar laaste jare die indrukwekkende vrug van haar arbeid (of erfporsie) wil geniet. So moet Estelle gereeld vir maande op 'n keer in vyf-ster hotelle op die Amalfi-kus gaan bly, in die naam van werk.
Werner, wat 'n sjef is, werk weer lang, antisosiale ure. Dis 'n stresvolle beroep, maar 'n hoogs bevredigende een. Niemand sal byvoorbeeld ooit so blinkogig na my kyk as ek klaar iets vir hulle afgerol het, as na hom nadat hy hulle gevoer het nie.
Die gevolgtrekking van die studie was dat onderwysers die mees stimulerende werk het, dat beroepe met die grootste werksbevrediging nie die bes betaalde is nie, en dat mens moet onthou dis nooit te laat vir 'n loopbaan-verandering nie. 'Toevallig' het Engeland 'n tekort aan onnies en lei die agentskap wat die navorsing gedoen het hulle op. So die studie is moontlik uit 'n PR-duim gesuig.
Vir my sou die verveligste werk wees om in 'n kunsgallery rond te staan en om met mense te raas as hulle selfone lui. Sien (en dit skok altyd my vriende wat dink ek's 'n formidabele intelektueel), sodra ek by ‘n kunsgallery instap, voel ek koorsig en onstabiel. Ek dink dis 'n eksistensiele krisis oor ek heeltyd dink What the?, in plaas van om die kuns te waardeer. Die hele proses van baklei om die miniskule inligtingsbordjie te lees, en dan om vir twee sekondes 'n ononderbroke uitsig op die werk te hê, maak my net bitter. En lewensmoeg.

Ook maar goed ek doen dit nie, want blykbaar is die verveligste werk op aarde ook een van die gevaarlikstes - jy kan jou letterlik dood verveel.
'n Men's Health-artikel het al beweer vervelige werk is geweldig nadelig vir mans se gesondheid. (Vrouens kan mos swanger raak om te ontsnap.) Volgens die Universiteit van Londen se navorsing, is mans met repeterende, onuitdagende werk meer geneig om hartaanvalle te kry.
Die ding is, party mense kan dit doen. Hulle gee nie om vir die repetisie en die roetine nie Ek was byvoorbeeld eendag in 'n hardeware-winkel in die noordelike voorstede van Kaapstad, en terwyl my vriend na 'n tappet gesoek het (daar's baie in die noordelike voorstede), het ek gehoor hoe die vrou agter die till vrolik sê sy werk al 17 jaar daar. SEWENTIEN! Ek was hoogs ontsteld. Mens kan mos nie? Ek dag sy’s verseker van haar trollie af.
Sedertdien het ek al saam met baie mense soos sy gewerk. Hulle kom elke dag dieselfde tyd by die werk aan. Maak 10-uur en 3:30nm tee. Eet 1nm hul M&S toebroodjie. En 'n appel. Stap 'n draai om die blok. Sit 5nm hul rekenaars af. Eet aandete na Eastenders. Kla oor die regering en die bure. En gaan slaap 10-uur. Nag, Mammie. Môre doen ons dit weer. Dieselfde.
Die waarheid is, hulle is die gelukkiges. Ek gaan die res van my lewe suffer. Die roetine waarop hulle so floreer, dryf my teen die mure uit. Sodra als bekend begin voel, wil ek laat spaander. Ek versamel werksadvertensies soos wat ander mense coupons versamel. Dis 'n helse foltering.
So, ek dink wel aan Keith Jackson wat vir 'n lewe lank verf snuif en kyk hoe dit droog word. Ek lag ook vir hom, soos wat van my verwag word. Maar ek beny hom. Hy is tevrede.

(SA Times, 10 Oktober 2006)

1 comment:

Do Kwang said...

Jammer ek was so lanklaas hier.
In die Middeleeue was daar 'n job genaamd "Master of the Stool" - dit was die ou wat die koning se stoelgang moes deursoek vir bloedklonte. Dit was 'n moerse gesogte posisie, blykbaar.