Tuesday, October 03, 2006

Just do it! (Nadat jy alle opsies oorweeg het en drie aande daaroor geslaap het)

Wat word van die wêreld? Ons ikone sneuwel een na die ander. Eers Steve Irwin, toe Zandberg Jansen... Wie’s volgende? The Hoff?

Op die oog af het die Krokodiljagter van Australië en die mees omstrede rugby-kommentator in SA se geskiedenis dalk weinig in gemeen, maar hulle was – volgens my – albei helde: Steve Irwin wat altyd met sy waansinnige entoesiasme tussen allerhande daaaangerous animals rondgespring het, en Zandberg Jansen wat hulle konstant met sy voorspellings en uitlatings beledig het.

Gewone sterflinge kan maar net wonder wat mense soos dié besiel, maar ten spyte van die potensiële gevaar wat hul in die gesig staar, hits ons hulle onbewustelik verder aan. Jy kan eenvoudig nie glo hoe hulle die noodlot so doelbewus kan tart nie.

Wel, ék kan nie. Hulle het die tipe guts wat ek nooit sal hê nie. Ek het vroeër vanjaar na 'n weeklange ski-vakansie besef dat ek nie daardie spesifieke doen-voor-jy-dink geen in my DNA-samestelling het nie.

Ek meen as Irwin vir 'n oomblik kón stilstaan, sou die realiteit van sy sterflikheid dalk insink. En as Jansen sy gedagtes laat gaan het voor hy sy mond oopgemaak het, sou hy dalk in ag neem hoe massief rugbyspelers is en hoe hard hul kan slaan, en besef het dis nie so ‘n goeie idee om enigiemand name te noem nie. Maar hulle doen wat hulle moet, en hulle dra die gevolge. Ek, daarenteen, dink in onnodig veelkleurige detail oor die moontlike gevolge van my dade, en kry gevolglik niks uitgerig nie.

My gebrek aan ‘n vreesloosheidsfaktor was tot en met die ski-vakansie eintlik nie so opvallend nie. Maar toe sou ek vir sewe dae daarmee gekonfronteer word.
Drie van ons geselskap was ingeskryf by ‘n ski-skool vir beginners. Teen die einde van dag een is my twee vriende in die gevorderde beginnersklas geplaas, en ek in die spesiale klas - saam met die pensioenarisse, en die ma's wat nie hul tieners alleen op vakansie wou stuur nie. Teen die einde van dag twee, het die res van die beginners al op die red slopes (vir bo-gemiddelde skieërs) baljaar, terwyl die spesiale klas weer moes doen wat hulle op dag een gedoen het - leer briek. Dit het my geesdrif en selfvertroue aanvanklik ‘n bietjie van ‘n knou gegee, maar toe ek die hellings (met die klem op hel) sien waarteen Stephan en Elisna moes ski, toe's ek uiters verlig ek is ‘teruggehou’.

Aan die einde van elke dag se klas, het hulle my probeer weglok van die nursery slopes af – sodat ek myself “‘n bietjie kan push”.
Geniet jy dit darem? sal hulle besorg vra. Is jy bly jy't gekom?
Dan sukkel ek vir die res van die dag om hulle te oortuig dat ek nie ‘n behoefte het om myself by ‘n krans af te gooi nie. Ek kan mos in elk geval huis toe gaan en sê ek het by ‘n black slope (vir gevorderde skieërs en ander malles) afgeski, maar ek gee regtig nie om nie. Ek kan aan min onaangenamer dinge dink as om bo-op 'n berg te staan en te wonder hoe de hel ek onder gaan kom.
Die verskil tussen mense wat so afneuk teen ‘n berg en mense soos ek, sou ek verduidelik, is dat dapper mense nie 'n goeie verbeelding het nie. Ek, aan die ander kant, kan bo-op 'n berg staan en sien hoe ek en sewe stukke onder aankom. Ek het selfs voor die vakansie my hare gekleur sodat, wanneer (nie as!) ek my polse sou breek, ek nie oor my grys wortels hoef te kommer nie.
Ek geniet dit op die nursery slopes. Wat miskien vir ander soos gelyk-grond voel, is vir my semi-vreesaanjaend. So, hoekom kan ek nie daar bly nie?
Maar hoekom wil jy nie net probeer nie? hou hulle aan.
Omdat ek realisties is, seg ek. Dís hoekom.
O, sê Stephan, maar wat help dit jy's realisties, en jy't nie balls nie?

Nou ja. Niemand wil graag hoor, of erken, dat hulle nie balls het nie. Maar dis nie altyd 'n slegte ding om nie daai tipe balls te hê nie. Ter illustrasie: op die bus vanaf die lughawe na die hotel, het daar twee ouens agter ons gesit. Hulle het so van black slopes en off piste en Kanadese ski-vakansies gepraat, dat ek my verbeel het Chuck Norris is op die bus, maar toe ek omdraai, kyk ek vas in David Brent en sy identiese makker. 'n Week later, oppad huistoe - terwyl ons vir ag ure in die Bye Bye Café (ja, regtig) by Toulouse se lughawe gestrand was - het ek weer een van hulle gesien. Toe hoor ek iemand vra hom of hy dan alleen kom ski het.
Nee, seg hy, my vriend lê in intensiewe sorg, met ten minste vier gebreekte ribbes.
Sien!

Ek besef nou ek was nog altyd so versigtig (of lamsakkig, as jy wil). Die gevaarlikste ding wat ek nog gedoen het (behalwe om my broer te tart terwyl hy 'n krieketkolf in die hand het) is om twee-twee by trappe af te hol. Dit verduidelik ook my onindrukwekkende sport-loopbaan. As ek byvoorbeeld deur 'n boelie (van Vredendal) op die netbalbaan gepootjie is, sou ek nie die teer-klippe in my oop wond ignoreer, en die noodhulp en reserwes uit die pad vee en deur my saamgeknersde tande sê Ek's fine! nie. Nee, ek sou hartverskeurend huil en die oomblik melk vir elke moontlike greintjie aandag en simpatie.

Toe ek leer bestuur het, was dit ook duidelik dat ek iets skort wat, seg maar, 'n minibusbestuurder het. Ek was byvoorbeeld vir lank vreesbevange om in spitsverkeer op die N1 van baan te verwissel. Ek sou vir tye teen 20km/h agter ‘n vragmotor sit. As ek dit uiteindelik swetsend verbygesteek het, sou ek in die vinnige baan bly sit met my flikker wat wys ek wil oorgaan stadige baan toe, maar te versigtig om dit te doen. 'Mense' sou hulle brights agter my flits en dan uiteindelik met gebalde vuiste aan my linkerkant verbysteek. My Baan! sal ek dan trugskree. En eers oorsteek wanneer die pad agter my heeltemal skoon is.

En so leer ‘n mens maar oor jouself. Ek weet byvoorbeeld nou hoekom ek nooit in Johannesburg sal gaan bly nie. Ek het nie die guts nie.

(SA Times - 09/06)

No comments: