Tuesday, December 12, 2006

2000 Dae in ‘n Deelhuis

In die afgelope vyf jaar het ek saam met ongeveer 60 mense, by sewe adresse, gebly. Dis seker nie ‘n rekord nie, maar ek dink tog ek verdien ‘n medalje vir uithouvermoë.

Sommige mense vind dalk die blote idee van ‘n deelhuis traumaties, maar glo my, dit was lekker tye. Van die beste. Nie altyd sonder insident nie, maar beslis nooit vervelig nie.

Maar nou voel dit of die einde van hierdie era binnekort gaan aanbreek. Hoofsaaklik omdat ek dit so wíl, maar ook omdat daar sedert April vanjaar nuwe wette op HMO's (Houses in Multiple Occupation) van toepassing is, wat beteken dat baie mense se deelhuis-dae dalk getel is. (Veral die’s wat ‘n bietjie sku is vir konfrontasie met die gereg.)

‘n HMO is wanneer drie of meer mense, wat minstens twee huishoudings vorm, 'n eiendom deel. Die nuwe reëls stel sekere vereistes daar ten opsigte van die aantal badkamers, toilette en wasbakke relatief tot die aantal mense per eiendom. In die vervolg moet groter HMO's - van drie of meer vloere, met vyf of meer mense - 'n lisensie by die plaaslike owerheid kry. Indien eienaars versuim om vir een aansoek te doen, kan hulle 'n boete van tot £20,000 opgelê word, en gedwing word om huur terug te betaal.

Die doel van HMO lisensies is om verblyf-standaarde in gehuurde eiendomme te verbeter. Dit kan dus net voordelig wees vir mense wat uitgebuit word en in haglike omstandighede moet bly, want voortaan sal jy vir ‘n feit kan weet dat die plek wat jy wil huur geskikte geriewe bied.
Die probleem met die nuwe reëls is egter dat minder eienaars bereid gaan wees om aan 'n groep van vier of meer mense 'n huis te huur. Baie eienaars gaan van sulke huise ontslae raak. So bekostigbare behuising gaan dalk al hoe skaarser word, of deelhuise al hoe duurder.

Maar: dan jy kry die deelhuise wat óns ken. Waar een of twee mense die huurkontrak teken, en dan weer onderverhuur aan ses tot ag ander. Hierdie tipe huis is ‘n essensiële deel van die meeste jong Suid-Afrikaners se Londen-ontgroening. Die meeste begin immers daar. Sommige bly so tot hulle visas opraak, of totdat hulle - wilde oë en al - "‘n sekere punt" bereik. Ander trek weer uit kort nadat hulle vierde frankfurter gesteel is. Party mense kán net nie so bly nie. Soos die Siamese paartjie wat saans langs mekaar op die bank, in hul bypassende Cape Union Mart sweetpakbaadjies, móét TV kyk. En dan, as hulle pogings futiel is (want die res voel mos 'n phok), omdraai en dikbek in hulle kamer gaan sit, of vir Mamma gaan bel en vertel hoe aaaaak-lig! dit hier is.

As jy van 'n deelhuis praat, sien die meeste mense in hul geestesoog ‘n 19-jarige laaitie wat in die sitkamer uitgepass het. Ek kan jou verseker dis ‘n belaglike stereotiep!
Dis bloot toevallig dat ons twee nuutste huismaats 19 is. En dat, toe ons Saterdagaand by die huis kom, een van hulle vriende op sy maag voor die TV, met sy kop onder die verwarmer gelê en rus het. (Gelukkig nie in die superglue-muisval nie!)
Maar regtig, mens kry iets van alles in 'n deelhuis. Of dit nou 'n wannabe aktrise is wat 'n ekstra in Holby City is, of 'n skaam Kiwi wat lang rompe dra, verslaaf is aan Nicorettes en 'n online gaming kampioen is.

Sommige Suid-Afrikaners maak 'n lewe uit die onderverhuring van tot 20 huise. Die meeste het ‘n uitstekende verhouding met die mense by wie hulle huur. Die eienaar weet die huis word onderverhuur, maar gee nie regtig om nie want volgens die kontrak bly daar maksimum vier mense – wat tog aanvaarbaar is. Almal word bevoordeel deur hierdie oogklap-metode: die eienaar se verband word afbetaal; die onderverhuurder maak 'n klein ekstra inkomste; en huurders hoef hulself nie vir maande vas te teken nie, plus hulle kry allerhande ekstras wat mense wat, byvoorbeeld, in 'n eenslaapkamer woonstel in Clapham bly nie kan bekostig nie (soos dubbellaag toiletpapier).

Daar’s ook eienaars wat totaal onbewus is van wat in hul huis aangaan, en steeds nie omgee nie. Solank die huur net betaal word. Van ons housemates gaan kuier soms by 'n chaotiese (Australiese) deelhuis in Shepherd's Bush. Die persoon op wie se naam die huur is, het jare gelede uitgetrek. Niemand het ‘n deposito betaal nie, die voordeur kan net op 'n spesiale manier oopmaak, en hulle het 'n Steve Irwin memorial-muur in die sitkamer geverf.

Ek dink die meeste deelhuise (soos ons dit ken) gaan maar net so aanploeter. Die eienaar moet in elk geval eers 'n waarskuwing kry, voor hy beboet kan word. Totdat iemand seerkry of kla, gaan die nuwe reëls seker nie 'n verskil maak nie. En die eerste en enigste reël in ‘n deelhuis is mos om nie te kla nie.

My lewe sou aansienlik armer gewees het, as ek nie in deelhuise tyd gedoen het nie. Jy leer wonderlike mense ken wat nooit andersins jou pad sou kruis nie. Jy leer ook bowenal, deur beproewing, om te chill.
Maar ek dink tog die einde het aangebreek. Ek sê dit elke Desember as ons vriende uittrek om terug te gaan huistoe, maar ons móét nou aanbeweeg. Nie omdat ons nie meer kan nie, maar omdat dit tyd is. Dis soos ek voel na ek ‘n hele gaar Sainsbury’s hoender geëet het: dit was lekker, maar dis verby, en ek hoop om nie gou weer een te sien nie.

So hopelik teen dié tyd volgende jaar bly ons in ons eie huis – een wat ons, bygesê, nie sou kon koop as ons nie tot onlangs gedeel het nie. Dit sal ook nie 'n oomblik te gou wees nie. Ek het gister 'n mushroom agter die toilet gepluk. En, kyk, iets wat dwarsdeur Dettol se Mould and Mildew Remover groei, is iets wat nie sommer gaan tou opgooi nie. Ek weet nie of dit 'n geveg is waarvoor ek kans sien nie.

(SA Times, Desember 2006)

5 comments:

Do Kwang said...

Daai wette klink moerse teenproduktief.

Maksideem said...

Goeie skrywe Stinkie!!!

Christine said...

Do Kwang: Dis hoekom die meeste mense dit gaan ignoreer.

Christine said...

Thanks Roelie :-)

Christine said...

Do Kwang: Dis hoekom die meeste mense dit gaan ignoreer.r.