Ek het onlangs 'n reisgids gekoop. Maar dit sal nie weer gebeur nie.
Reisgidse is dalk goed vir agtergrondinligting of toevallige wenke oor gebruike en tradisies, maar nadat ek deur die gids vir Thailand gewerk het, was ek so paranoïes oor alles wat verkeerd kon loop, dat ek eers op dag drie van my vakansie (ná 'n paar Singha-biere) behoorlik ontspan het.
Ek was oortuig elke tweede Europeër wat naby ons verbygeskuur het wou dwelms in ons rugsakke druk, en dat ons moontlik ons laaste dae saam met kindersmokkelaars en ander torre in 'n Thai-tronk sou deurbring. Dit sou my ook nie verbaas as 'n tuk-tuk (drie-wiel taxi), met 'n I love Farang-plakker op sy truspieëltjie, ons wou ontvoer nie. Dis geen aangename gedagte nie, maar beslis verkieslik bo die ander scenario waarin ek met 'n kombinasie van dengue-koors en maaggriep die vakansie oorwegend op my hurke op 'n Thai-styl toilet deurbring. Ek kon ook voorstel hoe ek hondsdol-troeteldiere met 'n stok van my sou moes weghou, terwyl ek bloedsuiers tussen my tone soek en probeer om nie op pylsterte of giftige slange te trap nie. Dat ek 'n paar ernstige beserings in motorfietsongelukke sou opdoen was 'n gegewe.
My paranoia is aanvanklik verder aangehelp deur die feit dat almal in Thailand só vriendelik is dat dit amper verdag is nie. Toe besef ek dis Londen wat my so maak. Alles word hier vir jou voorgesê. Staan links. Kyk regs. Hier moet jy gedurig jou handsak vasklou (tensy jy 'n terrie is), en word jy konstant deur een van duisende kameras dopgehou. Jy kan niemand vertrou nie en gevolglik nie vir 'n oomblik ontspan nie. (Of is dit net ek?)
Reisgidse is seker spesifiek vir mense wat van sulke plekke af kom, want hulle wil álles weet. Ek het besef ek wil nie. Dit maak my net gespanne. Jy sal dit tog weldra uitvind as dit belangrik is. Gevolglik het ek amper my eerste en enigste reisgids vir die spul jong Amerikaners gee wat, die oomblik toe hulle by ons blyplek aankom, alles by die personeel wou weet. Wat's die nooddiensnommer? Waar kan ons petrol ingooi? Hoe lank vat dit om die wasgoed te laat doen?
'n Groot hoeveelheid inligting in reisgidse (selfs die nuutste uitgawes) is boonop verouderd en irrelevant. Verouderde inligting is vergeefbaar, meestal – die produksie-proses is immers te blameer. Maar dan kry jy byvoorbeeld die volgende onder Algemene Woorde en Frases: "What is this called in Thai?"
Hoekom sou mens iets in Thai wou vra as jy in elk geval nie die antwoord sou verstaan nie?
Hulle moes eerder goed insit soos: "Watter deel van die hoender is dit?" Of: "Waar kan ek toiletpapier kry, want ek wil nie my boude met 'n tuinslang skoonspuit en heeldag met 'n nat broek rondloop nie?"
Die een wenk wat ons lewens sou vergemaklik, was nie in die boek nie: "Laat weet vooraf jou bank jy gaan op vakansie, anders raak hulle paniekerig oor 'n bedrogspul en blok enige verdere onttrekkings." Dis 'n taamlike gesukkel as jy jouself in die middel van die bos, 50 kilometer van die naaste kitsbank, in 'n plek bevind waar kontant koning is.
Dit sou dalk ook help as daar inligting was oor wat jy op reënerige dae kan doen. Ek praat van emmers reën – nie ligte buie nie. Maar dit sal jy ook tog uitvind as jy daar is en dit vir drie dae aaneen reën. Die antwoord is: daar's nie veel wat jy kan doen nie (behalwe om te kla oor die onregverdigheid). Jy sal gelukkig nooit ver van 'n kroeg af wees nie. En die meeste blyplekke het 'n versameling boeke wat ander reisigers daar gelos het, so jy kan vir ure en dae in jou hangmat lê en lees. Dis gewoonlik dan wanneer tyd se rol onbelangrik raak, en jy vergeet watter dag dit is. (Wat verklaar hoekom soveel mense vir maande of jare daar vashaak.)
As jy deur die karige biblioteek gewerk het, kan jy altyd na die naaste groterige dorp toe trek, en elke dag (roof-kopieë van) die nuutste films by een van die talle restaurante kyk, terwyl die mozzies jou voete onder die tafel vreet. As jy hardhorend is, of andersins op die onderskrifte staatmaak, gaan dit 'n onbevredigende ervaring wees. Ek weet nie wie vir die onderskrifte verantwoordelik is nie, maar ek wil weet wat hulle rook. Rocky sal byvoorbeeld kla: "I'm so tired." Dan lees die onderskrif: "I'm constipated."
Hoe langer ons in Thailand was, hoe meer het die reisgids my irriteer, want ek het besef hoe agterdogtig en versigtig dit my maak. Op die ou end was al my verbeeldingrykste vrese (soos gewoonlik) ongegrond. Die enigste wonde wat ek opgedoen het was tydens Thai-massering-sessies.
Ek wens wel hulle het my teen die legendariese Buckets, wat jy vir ongeveer £2 kan koop, gewaarsku – dis 'n sandkasteelemmer waarin hulle, byvoorbeeld, 'n bottel Thai whisky, Coke en Red Bull met ys meng. Ek weet nie of daar iets in die ys was nie, maar ek vermoed ek sou beter voel na 'n motorfietsongeluk, as wat ek die volgende oggend gevoel het toe ons op 'n rowwe see met 'n boot na die buur-eiland moes ry. Nie. Lekker. Nie.
Ek reken die beste reisgids oor Thailand is een waarin jy slegs wenke plaas van mense wat 20 jaar gelede Thailand toe is vir vakansie, en steeds daar bly.
Andersins kan jy alles wat jy wil weet op boodskapborde op die internet kry. Of jy nou wil weet hoe om van Surat Thani tot by Koh Tao te kom, of wil sien wat mense van 'n spesifieke blyplek dink. Al is jou planne hóé ambisieus, daar's altyd mense wat voor jou daar was en dieselfde gedoen het, en pryslose raad soos die volgende kan gee: "Ladies, the dreads you will be tempted to get upon arrival at Khao San Road make you look butt. White girls cannot pull this off, no matter what they think, so please don't try. Of course this is just my opinion, but I know I am not alone. Really, really bugs me."
Reisgidse is dus vir die voëls. (En mense wat nie ure by die werk op die internet kan spandeer nie.)
(SA Times, 24 Januarie 2007)
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment