Monday, February 26, 2007

Moenie vra nie

Daar's 'n groot moontlikheid dat julle gaan begin dink ek's die SA Times se deelhuis-korrespondent as ek nog een storie oor die onderwerp skryf. Maar ek is al erger dinge genoem, so ek gebruik graag die geleentheid om vir oulaas iets daaroor te sê.

Ek en Werner het albei vir minstens ses jaar in deelhuise gebly. Ons het selfs op verskillende tye in dieselfde huis gebly, en uiteindelik ook daar ontmoet. As alles volgens plan verloop gaan ons binnekort uittrek, wat beteken die einde van 'n era het aangebreek. Noodwendig dink ek nou oor wat, indien enigiets, ek in die tydperk geleer het – soos wat 'n mens maar doen voor die volgende fase aanbreek. Ek het dit gedoen toe ek my Mary Jane-skoene en bobby socks vir oulaas uitgetrek het aan die einde van my kleuterskool-loopbaan. Weer op my laaste dag in die laerskool. Aan die einde van matriek. Na my laaste her op universiteit. En nou.

Een ding wat 'n mens gou in deelhuise agterkom, en seker ewe vinnig vergeet as jy eers daar uit is, is dat ons op 'n sekere, eienaardige manier met mekaar kommunikeer en dat retoriese vrae spesifiek 'n groot rol daarin speel. Dis nie iets wat 'n geweldige indruk op enigiemand hoef te maak nie, en iets wat my sekerlik sou ontgaan as die volgende insident my nie daaroor laat dink het nie:

In my vorige rubriek (SA Times, 7 Februarie) het ek reageer op 'n berig wat uitsluitlik oor die slegte gedrag van jong Suid-Afrikaners gehandel het. Ek het onder andere gewonder: "… wie is hierdie Charl Vinger-op-die-Pols van Rooyen wat hom met soveel gesag oor die jong Suid-Afrikaners uitlaat?"

Dit was, volgens my, eintlik 'n retoriese vraag. Maar toe kontak Charl my nou die dag, en sê: "Ék is Charl van Rooyen. Maar wie is jy?" Hy het glo vir Valentynsdag 'n uitknipsel van die rubriek, tesame met die boodskap "Iemand hou van jou" in die pos gekry.

Nadat ons toe 'n bietjie familie uitgelê het, vra hy of die kwetsende aanmerkings wat ek oor hom gemaak het regtig nodig was. Dít was natuurlik ook 'n retoriese vraag, want ons weet mos dit was, streng gesproke, onnodig. En dit is presies wat ek toe erken. "Dit was onnodig", sê ek. "Ek erken dit." Want ek het mos eintlik 'n probleem met die eensydige beriggewing gehad. Ek is jammer dit het aanstoot gegee, sê ek toe, maar dis 'n rubriek – mense kan seerkry.

Dis ongeveer toe (dink ek) wat ek begin wonder oor die rol wat retoriese vrae in ons lewens speel. Enigiemand wat al deur hulle werk op 'n Persoonlike Ontwikkeling Deel 1 (Kommunikasievaardighede) kursus gestuur is, behoort te weet dis nie altyd goeie kommunikasie om retoriese vrae te vra nie. Natuurlik wil jy nie altyd 'n antwoord hê nie, maar retoriese vrae beteken dikwels jy insinueer goed wat mense verkeerd kan opvryf - selfs, of veral, as dit waar is. Dis beter om vrae te vra wat antwoorde verg. Dis die volwasse ding om te doen.

Deelhuis-gesprekke floreer op retoriese vrae. In ander omstandighede gebruik mense soms post-it notes om hul griewe te lug. Maar retoriese vrae is meer subtiel. Ek bespreek graag 'n paar van die gewildstes, asook die antwoorde wat mense daarop sou kon gee (as dit nie implisiet was nie):
  • Wie se skottelgoed is die?

Ek weet dat jy nie regtig omgee wie s'n dit is nie. Jy wil net duidelik maak dat dit nie joune is nie. Wel, ek het die pan gebruik, maar dit behoort nie aan my nie. Dis tog óns pan. En ek sou dit gewas het, maar iemand het 'n vuil mes daarin gesit, en ek kan fisies nie die pan was voordat die mes nie verdwyn nie.
  • Kan ek van jou melk leen?

Jy't klaar die prop afgehaal - verwag jy regtig 'n nee vir 'n antwoord? As ek nie hier gesit het nie, sou jy dit in elk geval gebruik het. En dis nie asof jy dit gaan truggee nie, so hoekom wil jy daarvan "leen". Hoekom vra jy nie of jy daarvan kan "kry" nie? Whatever. Help jouself. Ek gebruik in elk geval altyd jou melk vir my Weet-Bix.
  • Moet ons die heeltyd Scrubs kyk?

Natuurlik nie. Maar niemand anders stel belang in 'n storie waarin moordlustige tamaties die wêreld probeer oorneem nie.
  • Sal een van julle 'n slag die vullissakke uitdra?

Een van ons? Jy bedoel seker een van hulle? Ek's seker een van hulle sal, eendag. En daarna is dit weer jou beurt.
  • Het iemand daai bier gesien wat in die yskas was?

Watter bier? Na die sesde een kan ek regtig nie meer onthou wát ek gesien het nie.
  • Is dit soveel moeite om 'n leë toiletrol in die drom te gooi?

Dis minder moeite (en aangenamer) om 'n dubbeldekkerbus wat 370 kilometer op 'n stofpad gery het skoon te lek as om 'n toiletrol om te ruil. Hoekom vra jy?

Ten spyte van al die blootstelling wat deelhuis-bewoners daaraan kry, is dit soms steeds verwarrend om tussen regte en retoriese vrae te onderskei.

Ons het saam met 'n ou gebly wat nooit 'n moordkuil van sy hart gemaak het nie. Hy't verplig gevoel om al sy begeertes en (tot ons spyt) behoeftes met die wêreld te deel. As hy die toilet wou gebruik, moes dit onmiddellik beskikbaar wees – en die hele E17 het gewoonlik geweet wat hy binne die volgende vyf minute móés doen. Dit kan natuurlik 'n probleem afgee as daar net een toilet in die huis is. Eendag het hy weer 'n dringende behoefte gekry terwyl die badkamer beset was. Hy't op en af met die trappe loop en swets, en gesug, en gesweet, en elke paar minute met sy vuis teen die badkamerdeur gehamer.
Hoe lank nog? het hy gebulder. En: Waddehel maak jy daarbinne? En toe, desperaat: Wank jy?
Waarop die seun in die badkamer (gedagtig aan sy meisie se toorn) benoud geantwoord het: Moenie vir Sandra sê nie!

Die vraag waarmee ek steeds sukkel, is menige Brit se gunsteling: You alright?
Waar sal ek begin? dink ek altyd. Maar voor ek kan antwoord, is hulle klaar om die draai, besig om na iemand anders se welstand te verneem. Hoe lank, wonder ek dan, gaan ek nog daarvoor val?

(SA Times, Feb 2007)

No comments: