Ag, ek jok sommer. Jy sal (ongelukkig) presies die teenoorgestelde dink. Wat dalk verklaar hoekom - as ek deesdae my mond oopmaak om te praat - mense kriewelrig raak en flouweg begin beduie, asof hulle wil sê: hoor jy daai kar-alarm wat daar afgaan? Dis myne! En hulle dan uit die voete maak.
Jy sien, vir die afgelope maand of wat het ek net een ding op die brein – die Tour de France wat Londen toe kom. Dis ál waaroor ek praat. Soms dwing ek myself om oor iets anders te gesels, soos die weer (wat my terloops binnekort gaan breek, so swak is ek van die vitamien D-tekort), maar hoofsaaklik is dit net Vive La Tour De France! van die oggend tot die aand. Mense verstaan nie. Hulle kan dit eenvoudig nie bymekaar bring nie. Dis soos as Mike Schutte obsessief sou begin praat oor Swan Lake wat vir die eerste keer in Pretoria opgevoer gaan word.
Ek begryp die reaksie. Ek kon byvoorbeeld nooit verstaan hoekom Kobus Burger, wat jare gelede in die WP-span was, laslappiewerk doen nie. Ek verstaan dit nou nog nie. Ek weet nie eens of dit waar is nie! Laslappiewerk!? Dit kan mos nie ‘reg’ wees nie? Die man is dan ‘n rugbyspeler! Ons verhouding, of die een wat sou kon wees, was dadelik gedoem.
Nou bly ek eerder stil en deel my entoesiasme met mense wat belangstel. (Hallo? Waar ís julle?) Met dié stilswye, het ek skielik ongelooflik baie tyd om te dink. Ek wens ek kon dit produktief gebruik, maar nou dink ek net aan een ding. Wel, twee. Die fantastiese feit dat die Tour de France Londen toe kom (hoera!). En dan: dat die reën dit gaan ruïneer.
Maar ek het tog ook bietjie probeer vasstel waar dit vandaan kom - hierdie obsessie wat kamtig nie by my pas nie. En ek sou verkies as ons dit nie 'n obsessie noem nie, maar eerder 'n onwaarskynlike belangstelling.
Vir my gaan dit glad nie oor die tegniese aspek van fietsry nie. Almal wat Tour de France aanhangers is (en nie noodwendig fietsryers nie) sal dit beaam. Al weet Ouma Stienie (92) byvoorbeeld wie die afgelope paar jaar in die geel trui (of soos sy sou seg "maillot jaune") in Parys (Frankryk) geeïndig het, is dit nie waarom sy saans vasgenael voor die hoogtepunte sit nie. Nee, die meeste van ons volg die Tour as gevolg van Phil Liggett. Hy was jare gelede, en is seker steeds, die aanbieder van die hoogtepunte wat ons saans op M-Net kon sien. Hy't fietsry toeganklik en vermaaklik gemaak vir die leek. Die program was 'n mengsel tussen 'n reisjoernaal en 'n sport-uitsending. Daar was eweveel eksentrieke humor as intense drama.
Phil het deur die jare 'n kultus-figuur geword. Ek kan byvoorbeeld nie aan die Tour dink sonder om sy stem te 'hoor' nie. En as jy kyk hoeveel webbladsye vol "Liggetisms" daar is, is ek nie alleen nie:
Deur Phil het ons vertroud geraak met hierdie veeleisendste sport in die wêreld. Met 'n roete van 3,000-4,000km, is dit gelykstaande daaraan om verskeie dae 'n week 'n marathon te hardloop, vir drie weke aaneen. Die vertikale afstand wat hulle oor die Alpe en Pirenees klim, is soos om drie keer Everest te klim. Ons het terloops geleer van die etiket binne so 'n resies. En antwoorde vir essensiële vrae gekry soos hoe eet hulle, hoe verlig hulle 'n nood, en so aan.
Dis nie asof ek 'n fietsry-sluiper is wat al die statistiek van die ryers uit my kop ken nie. Wat ek wel weet is dat dit 'n groot jaar vir Suid-Afrika is. Dis die eerste keer dat 'n Suid-Afrikaans-geborgde span, Team Barloworld, deelneem, met Robbie Hunter (verjaardag: 22/04/1977; lengte: 179cm; gewig: 72kg; rustende harttempo: 38-42bpm; maksimum harttempo: 192bpm; gunsteling kar: Porsche 911 Carrera), een van die wêreld se beste sprinters, as kaptein. Behalwe Robbie, sal daar moontlik ook 'n tweede Suid-Afrikaner – John Lee Augustyn – in die span wees.
Robbie was verlede jaar in die span wat Floyd Landis gehelp het om die algehele oorwinning te behaal. (Die oorwinning is terloops hangende, aangesien Landis steeds veg om sy naam skoon te kry na verlede jaar se dwelmskandaal - 'n boek waarin hy sy onskuld aanvoer het pas op die rakke verskyn.)
Hy was ook die eerste Suid-Afrikaner om aan die Tour deel te neem en dit te voltooi. En hopelik word hy vanjaar die eerste een om 'n skof te wen.
Die Tour de France is die grootste toeskouersport in die wêreld. Een van die redes, sekerlik, is omdat honderde publisiteits-voertuie (die "caravan") daagliks 'n uur of wat voor die peloton uitry, en bykans 15 miljoen freebies langs die pad uitdeel.
Londen spandeer baie geld om die openings-naweek (wat bestaan uit 'n kort Prologue, en die eerste skof tussen Londen en Canterbury) die beste ooit te maak – hoofsaaklik as advertensie vir die 2012 Olimpiese Spele. As daar op Saterdag, 7 Julie, minder as 2 miljoen mense langs die Prologue-roete is (waartydens jy elke ryer individueel sal kan sien), sal Ken Livingston dit as 'n mislukking beskou. As ek nie een Suid-Afrikaanse vlag daar sien nie, sal ek dit as 'n godskreiende skande beskou.
(SA Times, 2 July 2007)
2 comments:
En het jy toe 'n Suid-Afrikaanse vlag gesien? Indien nie, moes jy maar een geswaai het.
daar was glo duisende. wel, honderde. of meer as 10, in elk geval. (so seg robbie en die suid-afrikaners wat ek ontmoet het.)
Post a Comment