More4 het verlede week 'n omstrede dokumentêr oor misdaad in Suid-Afrika uitgesaai. Die program, getiteld Murder Most Foul, is aangebied deur die Suid-Afrikaans gebore akteur Antony Sher, en bevat glo (want ek het dit nie self gesien nie) ontstellende tonele wat die geweld in Suid-Afrika uitbeeld. Dit ondersoek ook spesifiek die moord op 'n jong Suid-Afrikaanse akteur, Brett Goldin.
Sher het van Goldin bewus geraak toe laasgenoemde in 2006 in Stratford-upon-Avon in 'n Baxter Teater-produksie sou optree, maar nooit opgedaag het nie, omdat hy kort voor die geselskap se vertrek na Engeland vermoor is. Hy en 'n vriend is ontvoer kort nadat hulle 'n partytjie verlaat het. Hulle lyke is die volgende oggend in Mowbray ontdek: beide was kaal, vasgebind en in die agterkop geskiet.
Sher skryf die afgelope naweek in die Guardian dat Goldin se moord hom diep geraak het, omdat dit netsowel hy kon wees, 40 jaar gelede: 'n jong, ambisieuse Suid-Afrikaanse akteur, oppad na Engeland.
Dit het later 'n obsessie by Sher geraak om agter die motief van die moorde te kom. En hy's saam met sy vriend, Jon Blair, Suid-Afrika toe om dit te gaan ondersoek. (Dit blyk Goldin was bloot op die verkeerde tyd op die verkeerde plek.) Hulle moes uiteindelik vroeër na SA reis as wat hulle beplan het, want daar was sprake dat Denise Goldin, Brett se ma, so erg getraumatiseer was deur sy dood, dat sy dit nie sou oorleef nie. Sher het ook haar man Peter en dogter Samantha ontmoet, en skryf: "They both had the same look in their eyes as Denise: a particular, dark tiredness."
Beide Blair en Sher was destyds aktief betrokke in die stryd teen apartheid, maar albei het gevoel dis nou tyd om iets te sê oor die misdaad-statistiek – soos dat daar 18,500 moorde was in 2006, in vergelyking met 750 in England en Wallis.
Ek het self nie die dokumentêr gesien nie, maar het in 'n hele paar Suid-Afrikaanse blogs daarvan gelees. Die meerderheid van die bloggers se reaksie was iets in die lyn van: ons hou nie van wat ons sien nie, en sou ook nie wou hê ons oorsese vriende moet dit sien nie; tog, ons het afgestomp geraak oor misdaad en, ja, miskien sal so iets ons weer laat wakker skrik.
Ek's verstom dat mense sê hulle is afgestomp. Ek kan regtig nie gewoond raak aan die stories wat ek daagliks lees nie. Lees mense dalk bo-oor dit, omdat hulle andersins sou mal raak as hulle empatie moes toon met elke enkele slagoffer in die koerante? Is mense afgestomp want hulle vermoed hulle beurt kom nog, en dat hulle dán daarmee sal deal?
Dalk. Daardie "particular, dark tiredness" wat Sher in Denise Goldin en haar gesin se oë gesien het, is presies die gevoel wat ek ook kry as ek Suid-Afrikaanse koerante lees. Miskien lees ander mense dit eenvoudig nie meer nie.
Maar as gewone mense afgestomp raak oor die misdaad, hoe kan ons die regering kwalik neem as hulle die probleem ontken?
'n Ander stelling wat 'n hele paar van die bloggers maak, is: ons almal moet/wil iets doen. In die verlede het ons gewag en gepleit en gehoop. Maar mense is gatvol. Almal voel brandgestoot om self iets te doen.
Die dokumentêr was Blair en Sher se "iets". Sal dit 'n verskil maak? Wie weet. Maar ten minste laat dit mense oor die probleem praat.
Die probleem is dat die meeste van ons nie weet waar om te begin of wat om te doen nie. Dalk het ons inspirerende leiers nodig – soos 'n jong Steve Biko – om die regering aan te vat. Of mense wat vir ons kan sê hoe en waar om 'n verskil te maak. Maar is daar genoeg van 'n motivering om vir iets te veg? Of moet ons eerder nog van ons "vryheid" verloor?
In die Guardian skryf 'n 39-jarige Burmese man na die afgelope week se optogte in Rangoon: "I woke up feeling more depressed and less optimistic than I have all week, but I felt it was my duty to carry on protesting. I was frightened, but aren't we all? If everybody hid indoors, nothing will ever change, and we will never be able to draw attention to the hopeless situation our country is facing. I need to stand and be counted."
Ongeveer 3000 mense is tydens die laaste groot optog in Burma in 1988 deur regeringstroepe vermoor toe hulle 'n verandering in die regering geëis het. Wat keer ons?
Baie van ons wat oorsee is sou dalk minder ongeërg wees as ons nie kon staatmaak op 'n alternatiewe paspoort nie. En die mense in Suid-Afrika wat so handjies gevou sit? Dink hulle dis maar net nog 'n gevolg van apartheid wat hulle moet verduur? Dit is dalk, maar dit skeld nie die regering vry van hulle plig om na hulle mense om te sien nie.
Ek was 'n paar weke gelede by die optog wat Act4SA gereël het. Almal wat daardie dag daar was, het begeesterd daar weggegaan. Dit sou lekker wees, maar onprakties, om elke Saterdag in die Strand af te stap. (Zimbabwiërs hou al vir vyf jaar lank op Saterdae 'n vigil buite Zimbabwe House.) Maar daar's derduisende ander projekte om by betrokke te raak, byvoorbeeld Starfish, Habitat for Humanity, ens. – en ek moet tot my skaamte erken ek het eers regtig na die optog begin notisie neem.
Persoonlik voel ek geïnteresseerd om betrokke te raak by Nicro se werk in tronke en met die jeug. Want soos my ma altyd gesê het: as jy al die energie wat jy gebruik om kreatiewe verskonings uit te dink om jou verpligtinge te vermy, in jou skoolwerk sou aanwend, wie weet wat jy kon vermag!
Na Brett Goldin se dood, het die Royal Shakespeare Company (RSC) en die Baxter 'n beurs gestig, sodat 'n jong Suid-Afrikaanse akteur jaarliks Brett se droom kan volg, en na Engeland kan reis vir opleiding by die RSC.
Die eerste ontvanger, Omphile Molusi, het onlangs sy tyd in Stratford voltooi. Sher skryf in die Guardian dat toe Molusi die dokumentêr by die RSC sien, het hy heeltyd sy oë toegehou. Toe Sher hom vra of hy identifiseer met die slagoffers, sê hy: "Nee, nee, met die gangsters. Ek was vir 'n rukkie een van hulle – tot ek die teater ontdek het."
(SA Times, 1 Oct 07)
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment